Kerk kan moreel groei

Kyk ook:

Anton van Niekerk sê in “Kerk kan moreel groei” hieronder dat die kerk moreel kan groei. Dis nou weer ’n nuwe een wat nadenke vra.

Hy baseer sy stelling op die feit dat die Bybel nie slawerny verbied het nie en dat vrouestemreg eers onlangs ’n werklikheid geword het. Hy meen die kerk moet ook op dieselfde wyse groei in sy standpunt oor homoseksualiteit. Hy is terselfdertyd ook sommer baie verwytend teenoor die kerk ten opsigte van die 2016-besluit. Hy praat van die konserwatiewe drukgroep wat die kerk altyd aan die rokspante van die tradisie laat vasklou. Is dit werklik waaroor die debat gaan – vasklou aan tradisie?

Ons moet ons afvra wat is regtig “moreel” in hierdie gebroke werklikheid. Is ’n demokratiese samelewing waar alle mense stemreg het noodwendig ’n morele samelewing? Ek het ’n tyd gelede na ’n internasionale debat op TV geluister waarin ’n sterk saak uitgemaak is daarvoor dat demokrasie nie noodwendig ’n oplossing vir alle gemeenskappe is nie. Die komplekse samelewing van ons tyd in SA word met stemreg toevertrou aan mense wat dikwels nie ’n benul het van wat in die wêreld aangaan nie. Mense wat die groter prentjie sien hou maar net asem op daaroor.

Die kwessie van slawerny in die Bybel wat wat Van Niekerk te berde bring was in die antieke samelewing net ’n meer diskriminerende weergawe van die moderne werkersklas (kyk ook Die Bybel oor slawe). Die werkers handhaaf hulle self vandag deur vakbonde. Daar het egter ’n tyd gekom dat Margareth Thatcher vir die vakbonde gevra het wie regeer Brittanje nou eintlik en sy het die vakbonde se magte aan bande gelê. Was dit ’n immorele daad van Thatcher? In SA is dit ’n redelik algemeen aanvaarde feit dat die vakbonde in ons tyd ook verantwoordelik is vir die dilemma met kragvoorsiening wat ons nou beleef. Wat sou die morele pad hieroor vorentoe wees?

Die samelewing van Israel staan uit bo alle samelewings van destyds wat betref die beskerming en menswaardigheid van mense. In Eksodus 21 kry ons baie pertinente voorskrifte oor die beskerming van slawe. Verder moes menseroof (een van die maniere waarop slawerny in stand gehou is) met die dood gestraf word (Eksodus 21:16).

Daar is ’n algemene gedagtegang dat vroue ’n minderwaardige plek in die Bybelse tyd gehad het. Dit rym nie met die talle opdragte  wat God ter beskerming van wese en weduwees gegee het nie. Selfs die wet oor ’n skeibrief was daar om vroue te beskerm. Israel word in die ballingskaptyd as ’n vrou uitgebeeld oor wie God Hom ontferm (Jesaja 54). Die kerk word in die NT as ’n bruid voorgestel. Baie meer kan oor die onderwerp gesê word. (Kyk ook Vrouens en hoede.)

Die homoseksuele kwessie van vandag gaan oor sedelike gedrag by die mense. Daaroor is daar geen onduidelikheid in die Bybel nie. Dit kan nie ongedaan gemaak word deur die Bybel net “reg te lees” soos Van Niekerk meen nie.

*******************

Kerk kan moreel groei | Netwerk24

Deur Anton van Niekerk

19 Maart 2019

Die NG Kerk bly ’n enigma. Die jongste teenspoed wat dié kerk in die hof gekry het, spruit direk voort uit sy duistere en uiters onverstandige besluit om in 2016 ’n spesiale algemene sinode (’n soort kerklike “appèlhof”) te hou met slegs een item op die agenda.

Dié item was die 2015-sinodebesluit wat gemeentes die vryheid gegee het om self te besluit oor die kerkraadlidmaatskap van gay persone, asook die reg van predikante van gemeentes wat so besluit, om gay te wees en gay egpare in die eg te verbind.

In 2015 was daar euforie in die geledere van verstandige lidmate oor hierdie besluit, want uiteindelik het dit gelyk asof die NG Kerk ’n sensitiwiteit begin ontwikkel vir die kultuur van menseregte wat so suksesvol beliggaam word in Suid-Afrika se Grondwet.

Maar toe gebeur wat al verskeie kere in die NG Kerk se veelbewoë geskiedenis gebeur het: Die konserwatiewe drukgroep wat die kerk altyd aan die rokspante van die tradisie laat vasklou, kry die oorhand.

Daar is, wat my betref, drie sentrale insigte wat die NG Kerk (of dan ten minste die konserwatiewe drukgroep in die kerk) nie na behore verstaan nie.

Ten eerste moet ons moeite doen om die Bybel reg te lees en te verstaan. Dis geen orakelboek met direkte morele voorskrifte vir elke aspek van ons huidige lewe nie.

Die “voorskrifte” wat die Bybel bied, moet gelees word in die konteks van die totale heilsgeskiedenis waarvan die Bybel grootliks die getuie is – ’n geskiedenis wat sy kulminasie vind in die finale openbaring in Christus en die vrymakende heil (ook op sedelike terrein) wat daarin vir alle mense aanbreek.

Hoe ons die Bybel lees en verstaan, is ’n funksie van wie ons self is en watter waardes, norme en beginsels ons aanvaar.

Om dit net kortliks te illustreer: Martin Luther se insig dat die “regverdige alleen deur die geloof, en nie deur die werke van die wet nie” verlossing vind (’n aanspraak wat in Luther se tyd reeds 15 eeue lank op drie plekke in die Bybel gestaan het), spruit direk voort uit sy renons in die aflaatstelsel, wat ’n uitvinding van sy (Luther se) eie tyd was.

Wat ons in die Bybel raaklees, korreleer met wie en wanneer ons is wat ons is.

Hiermee saam kom die insig dat morele groei in die geskiedenis plaasvind.

Ons verag almal deesdae die praktyk van slawerny, terwyl slawerny as sodanig nie in die Bybel verbied word nie.

Paulus stuur die bekeerde slaaf Onesimus terug na sy eienaar, Filemon, om sy slawediens (weliswaar nou as Christen) voort te sit.

Die idee dat vroue sou kon stem of universiteit toe gaan, was tot relatief onlangs ’n absurde idee. Net so wat betref selfdegeslagverhoudings.

Daar is morele groei in die wêreld, en die meeste daarvan reflekteer in die morele kodes van godsdienste.

Laastens, en miskien ook die heel belangrikste: Die kerk van Christus is iets radikaal anders as die volk, ook al is die meeste lidmate van ’n bepaalde kerk afkomstig uit een volk.

By al die positiewe wendinge wat die NG Kerk die laaste drie dekades ondergaan het, is daar steeds te veel lidmate en ampsdraers wat die kerk as spreekbuis en eiendom van die volk beskou.

Dít sit essensieel agter die betreurenswaardige verhaal van die 2016-sinodebesluite.

Die kerk het ’n ander identiteit as die volk. Hoe gouer die NG Kerk dit ten volle begin besef, hoe minder sal hy in die openbaar ontmasker word deur siviele howe.

Van Niekerk is professor in filosofie en direkteur van die Sentrum vir Toegepaste Etiek aan die Universiteit Stellenbosch.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui