Die 2011-verklaring van die NG Kerk se Algemene Sinode bevat rondom die bediening van bevryding en demone die volgende stelling:
7. Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.
NG Doornkloof se kerkraad het die volgende wysiging daarop voorgestel en aan die Algemene Sinode gestuur vir dringende aandag:
7’. Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is beslis ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is tog ook ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer, maar eersgenoemde is die NG Kerk se standpunt gegewe die inligting in die Bybel en die belydenisskrifte.
Bykomend tot die voorstel, is die volgende motivering aan NG Doornkloof se gemeente deurgegee per skriftelike aankondiging:
Hierdie voorstel bevat ’n belangrike klemverandering, en ons glo dit is baie meer in lyn met die inligting oor die aangeleentheid in die Bybel en die belydenisskrifte as die betrokke punt in die huidige Algemene Sinode-verklaring, soos onder andere blyk uit die volgende:
• Gen. 3, Job, Mat. 4, Luk. 4, Joh. 8:38-59 en Judas 1,
• asook die volgende gedeeltes in die Belydenisskrifte (3 Formuliere van Eenheid):
o Die Heidelbergse Kategismus: Vraag en antwoord: 1, 9, 32, 34, 112, 123, 127, en
o die Nederlandse Geloofsbelydenis: Artikels 12, 13, 14 en 37 (Byvoorbeeld, in die Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 12, staan: “Daarom verfoei ons ook die dwaling van die Sadduseërs, wat ontken dat daar geeste en engele is”).
Bogenoemde het gelei tot die volgende reaksie van ’n belangrike NG-kerkleier (ter wille van sy wens om onbekend te bly, noem ek hom verderaan BNGL). Hy het dit gestuur aan die kerkraadsvoorsitter, myself en nog 3 ander kerkraadslede. Hy was grotendeels beswaard daaroor dat bogenoemde Bybel- en belydenisskrifgedeeltes ter motivering aan die gemeente deurgegee is. My antwoorde op sy skrywe is hieronder in [swart vetletters in blokhakies].
BNGL: Die voorbeeld wat aangehaal word vir die beredenering, naamlik die dwaling van die Sadduseërs, is buite konteks, en het absoluut niks met die wesenlike of persoonlike van die duiwel te doen nie.
[Die teenkanting in die NGB teen die dwaling van die Sadduseërs het wel beslis met die saak te doene, want dit verklaar dat geeste en engele bestaan (dus gevalle engele ook, en omdat hulle bestaan is hulle wesens, en omdat hulle wesens is bevestig dit hul wesenlike aard). Let daarop dat die oorspronklike punt 7 dit so stel dat dit net so aanvaarbaar is dat mense in die NG Kerk eintlik enige interpretasie van die duiwel kan hê, met ander woorde selfs ook dat hy nie bestaan nie. Die oorspronklike bewoording is dus sonder twyfel onvoldoende en het gelei tot verklarings in die media dat NG-lidmate nou maar kan glo dat die duiwel nie bestaan nie.]
BNGL: Indien die tekste en artikels uit die belydenisskrifte een vir een tydens die vergadering beredeneer is, sou weinig van hulle ter ondersteuning van die aanbeveling gehandhaaf kon word.
[Dit glo ek vir geen oomblik nie – lees maar net verder.]
BNGL: Om ’n paar te noem: Genesis 3 praat van die duiwel as ’n slang met ’n stem. Is die duiwel nou, as ’n mens hierdie lyn van argumentering wil volg, nou ’n dier of ’n persoon? Eers aan die einde van die Bybel word die slang in verband met die duiwel gebring, spesifiek rondom die dood.
[BNGL se argument is hier bietjie moeilik om te volg, want Gen. 3 praat van die slang, sonder om dit direk in verband met die duiwel te bring. BNGL probeer dus waarskynlik hier sê dat sou mens die slang van Gen. 3 in verband met die duiwel bring, daar die probleme is wat hy hier uitlig. My antwoord is dat Skrif met Skrif mag en moet vergelyk word. Opb. 20 verklaar dat die “ou slang” die duiwel is. Die woord “ou” kom ook in die oorspronklike Grieks voor. Gen. 3 het dus na die duiwel verwys. Die duiwel het dus die mens verlei om teen God te sondig. Die duiwel is nie ’n dier of ’n mens nie, maar ’n geestelike wese, wat homself kan huisves binne ’n dier of ’n mens. Dit maak nie van hom ’n dier of ’n mens nie. Het die duiwels dan nou varke geword toe Jesus hulle in die varke ingejaag het? Sekerlik nie. Slange is dus nie duiwels nie, maar hulle dra steeds sekere merktekens wat ons as mense herinner aan die vloek wat God op hulle geplaas het weens hul huisvesting van die duiwel in die Paradys.]
BNGL: In HK Sondag 4 Antwoord 9 staan: “Maar die mens het homself en sy hele nageslag as gevolg van die aanhitsing van die duiwel “ van hierdie gawes beroof. Vir laasgenoemde gee die HK twee skrifverwysings: Genesis 3 vers 6 en Romeine 5 vers 12. In nie een van hierdie twee verse word na die duiwel verwys nie. Hoe kan die belydenis nou hier gebruik word om die wesenlike of persoonlike aard van die duiwel te bevestig, gegewe die feit dat ons met ons belydenis op die Bybel staan? Waaroor dit eintlik gaan, is gou duidelik: HK Antwoord 9 wil geen bewys of begronding vir die wesenlike of persoonlike aard van die duiwel gee nie; dit vertel ons hoe sonde deur menslike toedoen in die wêreld gekom het.
[Die woorde in die HK “as gevolg van die aanhitsing van die duiwel” weerspreek alreeds BNGL se argument dat volgens die HK die duiwel nie ook aandadig is nie. Laasgenoemde bewering doen BNGL net subtiel deur slegs te skryf “hoe sonde deur menslike toedoen in die wêreld gekom het” sonder om na die duiwel te verwys. Sy bespreking deur slegs na Gen. 3:6 te verwys terwyl hy Gen. 3:4 ignoreer wat spesifiek na die slang verwys, wat sekerlik die logiese rede is waarom die HK wel skryf “as gevolg van die aanhitsing van die duiwel”, is verstommend. Hoekom so selektief tekste gebruik sonder om enigsins wyer in die betrokke Skrifgedeelte te kyk? Hierdie gedeeltes bevestig die bestaan van die duiwel as ’n wese – daarom ondersteun dit tenminste die woorde “wesenlike aard” in die uitdrukking “wesenlike en persoonlike aard”. Ja, Rom. 5:12 verwys net na Adam se toedoen, maar dit ontken geensins die duiwel se aandeel nie – dit word net nie daar genoem nie. Eenvoudig gestel – betreffende hierdie aspek word meer inligting in Gen. 3 gegee (met inagneming van Opb. 20) as in Rom. 5. Dit is presies hoe die Bybel werk – al die inligting oor ’n betrokke saak word dikwels nie net op een plek gegee nie – ons moet verskillende dele kombineer om die volle geopenbaarde waarheid oor ’n spesifieke saak te kry.]
BNGL: In HK Sondag 12 Antwoord 32 word gesê: “.. en in hierdie lewe met ’n vrye gewete teen die sonde en die duiwel kan stry ..” Die teksverwysings hiervoor is I Petrus 2 vers 11 (gaan oor sinlike begeertes), Romeine 6 vers 12 en 13 (gaan oor ons sondige liggame), Galasiërs 5 vers 16 en 17 (gaan oor die begeertes van die sondige natuur), Efesiërs 6 vers 11 (gaan oor die listige aanslae van die duiwel) en I Timoteus 1 vers 18 en 19 (onderdrukking van die gewete). Slegs Efesiërs 6 vers 11 verwys na die duiwel, maar gee geen bewys of begronding vir die persoonlike bestaan van die duiwel nie. Inteendeel, die volgende vers kwalifiseer vers 11 met die woorde: “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie maar teen die bose magte van hierdie sondige wêreld, teen die bose geeste in die lug.” Die vraag kan dus gevra word of die duiwel nie juis hier as ’n “Bose Gees” beskryf word nie. Omdat ons Bybelboeke in geheel moet lees, kom ook ter sprake Efesiërs 1 vers 21 (“[Christus is] hoog bo alle bose magte en enige ander vorm van gesag waarvan daar sprake mag wees ..”) en 2 vers 2 (“julle het gelewe soos hierdie sondige wêreld en julle laat lei deur die vors van die onsigbare bose magte ..” Dat die duiwel hier ’n vors genoem word, beteken nog geensins dat die duiwel persoonlik van aard is nie. Letterlik staan daar dat die duiwel “die owerste van die mag van die lug” is. J H Roberts in sy kommentaar op Efesiërs praat van die duiwel as ’n geestelike wese wat sy setel in die lug het. In die antieke wêreld het die wydverspreide opvatting bestaan dat bose geeste rondom mense in die lug hang. Dan sê Roberts, allermins ’n vrysinnige teoloog: “In hierdie verband maak dit duidelik dat ons met ’n bonatuurlike mag (let wel: nie persoon) en nie met aardse bewindvoerders nie, te doen het.”
[Weereens bevestig hierdie gedeeltes dat die duiwel ’n wese is (bv. Roberts wat praat van ’n geestelike wese), dus dit bevestig die “wesenlike aard” van die duiwel. Dit raak nou al duideliker dat BNGL eintlik ’n probleem met die “persoonlike aard” van die duiwel het, nie noodwendig met die “wesenlike aard” nie. Hy maak egter met sy redenasies ’n logiese beredeneringsfout. Die kerkraad het goedgekeur dat dit reg is om te praat van die “wesenlike en persoonlike aard” van die duiwel – dieselfde woorde wat die Algemene Sinode gebruik het. BNGL kan die teks- en belydenisskrifverwysings dus nie kritiseer as dit die wesenlike aard bevestig, maar nie die persoonlike aard nie. As sekere verwysings ’n gedeelte van die besluit bevestig, is dit geldige motiverings vir die besluit, te meer nog as ander verwysings die ander gedeelte bevestig, soos ek hier ondertoe noem. Let net daarop dat “persoonlike aard” nie noodwendig “fisies” beteken nie.]
BNGL: By HK Sondag 13 Antwoord 34 staan: “ … uit die heerskappy van die duiwel .. verlos en vrygekoop het.” Die teksverwysings is I Petrus 1 vers 18,19 en 2:9, I Kor 6 vers 20, I Timoteus 2 vers 6 en Johannes 20 vers 28. Daar is nie ’n enkele verwysing, direk of indirek, na die duiwel in hierdie verse nie.
[So BNGL weet beter as die HK wat hier self na die duiwel verwys? Of verwerp BNGL hierdie woorde van die HK? En selfs al is BNGL hier reg en die HK verkeerd, sal hy sal eers met ’n gravamen die HK verkeerd moet bewys. Sy argument is tog sekerlik nie dat omdat die HK hier na die duiwel verwys, maar die betrokke Skrifgedeeltes nie, die duiwel daarom nie bestaan nie?]
BNGL: In HK Sondag 43 Antwoord 112 word lieg en bedrieg as die duiwel se werk beskou. Die teksverwysing is Johannes 8 vers 44: “… hy is ’n leuenaar en die vader van die leuen.” Dat leuens van die duiwel kom, maak nog nie van die duiwel iemand persoonliks nie.
[Nog dieselfde logiese beredeneringsfout – die duiwel is ’n wese word hierdeur bevestig, dus is dit reeds geldige motivering. Maar ek dink in ieder geval dat die beskrywing van die duiwel as ’n leuenaar hom ’n persoonlike aard gee. Normaalweg word met persone mense bedoel. Enige menslike eienskap wat aan die duiwel toegeken word is dus na my mening ondersteuning vir die persoonlike aard van die duiwel.
’n Goeie predikantsvriend van my het dit soos volg verduidelik aan iemand wat ook getwyfel het aan die persoonlike aard van die duiwel:
“Jy het sekerlik “geloof in die Persoon” van die God van die Bybel – d.w.s. dat God ’n werklike (alhoewel ’n geestelike, metafisiese) Persoon is. God word nêrens in die Bybel as ’n persoon bely nie, maar die Nederlandse Geloofsbelydenis maak so ’n baie logiese en geregverdigde afleiding. Waarom? Omdat God inisiatiewe neem, besluite neem, handelend optree, praat, werke doen. Hy het persoonlikheidseienskappe soos goedheid, liefde, genade, barmhartigheid, regverdigheid ensovoorts. Volgens hierdie kriteria is die duiwel (met die naam Satan) ook ’n metafisiese, geestelike persoon met persoonlikheidseienskappe soos boosheid, vyandigheid ensovoorts. Hy tree ook handelend op, doen werke, neem inisiatiewe, praat woorde (NGB Art.14), staan tussen die hemelinge, word in toom gehou (NGB Art.13), sal saam met sy engele in die ewige vuur beland (NGB Art.37) en hy is die vader van die leuens en van dié wat sy wil doen, en hulle is sy kinders (Mat.13:38). Die duiwel is net so “persoonlik” as God self (maar natuurlik nie gelyk aan Hom nie). Waarom sou jy dan vir God ’n Persoon noem, maar die “persoonlikheid” van Satan ontken?”]
BNGL: HK Sondag 52 Antwoord 127 noem die duiwel, saam met die wêreld en ons eie sondige natuur, ons doodsvyande. Nog die wêreld of ons eie sondige natuur is persoonlik. Die teksverwysings vir die duiwel is I Petrus 5 vers 8 en Efesiërs 6 vers 12. Oor laasgenoemde het ek reeds iets gesê. Oor eersgenoemde die volgende: by wyse van vergelyking of metafoor word die duiwel ’n leeu genoem. ’n Leeu is ’n dier wat op instink handel. Ons noem nie diere “persone” nie, al ken ons persoonlike name soos “Simba” aan ’n leeu toe. Maak hierdie teks van die duiwel sonder meer iemand met persoonlike aard? Nee!
[Weereens argumenteer BNGL hier oor die woord “persoonlik”. Dat die duiwel soos ’n leeu is in sekere opsigte, bevestig dat hy ’n wese is. Daarom is ook hierdie verwysings geldige motiverings want dit ondersteun tenminste die wesenlike aard van die duiwel.]
BNGL: Hoe word daar dan gesê: “Gemeet aan onder andere die volgende gedeeltes in die Bybel … asook in die Belydenisskrifte … stel ons voor: “Daar is beslis ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo … [dit is die NG Kerk se standpunt gegewe die inligting in die Bybel en die belydenisskrifte.” Hoe beslis kan ons regtig hieroor wees? Johannes 8 vanaf vers 38 tot 59 kan allermins gebruik word vir ’n Bybelse en/of teologiese bewys dat die duiwel ’n eie persoonlikheid, ’n eie individualiteit en ’n eie karakter het. Dat hy “mensemoordenaar” en “vader van die leuen” genoem word, maak nog nie van die duiwel ’n persoonlike wese nie.
[Dit maak tenminste van hom ’n wese – BNGL is nog steeds besig met die verkeerde argument! ]
BNGL: Wat in die Bybel oor die duiwel gesê word, het met die sonde en die dood te doen. Daarom skryf H Bavink, een van die groot Gereformeerde teoloë: “… Satan is geen oorspronklike wese, maar ’n gevalle engel … Satan is ’n hoë, heerlike ryke gees .. Die geloof aan (let wel: nie in) Satan se bestaan is geen element van die saligmakende geloof in Christus nie; maar dit hang tog wel daarmee saam. Daar lê waarheid in die uitdrukking: Nullus diabolus, nullus redemptor! … Uit alles wat die Skrif van die engele getuig, blyk tog dat die sedelike lewe by hulle (ook die duiwel) ’n ander karakter dra as by die mense.”
[Hierdie bevestig juis dat die Satan ’n wese is, of bevraagteken BNGL dat engele wesens is? Bavink se woorde “[indien] geen duiwel, [dan] geen Verlosser” bevestig ook die bestaan van die duiwel, met ander woorde hy is ’n wese. Met die woorde “geen oorspronklike wese” bedoel Bavink nie dat Satan nie ’n wese as sulks is nie, maar dat hy nie oorspronklik as die bose wese wat hy nou is, geskep is nie. Ek dink darem nie BNGL verskil hieroor van my nie, tensy hy dink dat ’n gees nie ’n wese kan wees nie.]
BNGL: Om die boek Judas by die argument vir die persoonlike bestaan van die duiwel te betrek, gaan voorstanders van hierdie argument nog dieper in die modder en troebel water laat beland. Judas vers 9 haal uit ’n apokriewe boek, naamlik die Hemelvaart van Moses, aan. Die apokriewe word nie in die Gereformeerde tradisie as gesaghebbend ten opsigte van leerstellige sake beskou nie. As die voorstanders van die duiwel se persoonlike aard hierdie gedeelte vir hulle argument wil gebruik, moet die gebeure wat hier vermeld word steeds by ons eie dood afspeel (as dit nie by gelowiges s’n is nie, dan minstens nog by ongelowiges se dood). In die Joodse tradisie het die opvatting bestaan dat by die dood van ’n vrome mens die engele hom na die hemel neem, en as die sondaars sterf (wat ons almal is), kom die handlangers van die duiwel jou haal. Die oorlewering sê dat toe Moses gesterf het, die Satan op sy liggaam aanspraak gemaak het omdat Moses ’n Egiptenaar doodgeslaan het en dus ’n moordenaar was. Die aartsengel Migael het egter die Satan weerstaan en die liggaam van Moses veilig bewaar.
[Slegs BNGL is tot dusver in die moeilikheid, sover ek kan sien. Weereens, ek hoef nie die “persoonlik” te verdedig nie, net die “wesenlike”. As BNGL hier wil argumenteer dat Judas onbetroubaar is, omdat dit uit ’n apokriewe boek aanhaal, ken hy skynbaar nie die standaard antwoord op so ’n bewering nie. Al die kanonieke boeke, Judas ingesluit, word deur gereformeerdes as die Woord van God beskou (dit is net ’n gedeelte van die antwoord). Ek dink nie enigiemand kan regtig ontken dat die beskrywing van die duiwel in Judas hom voorstel as tenminste ’n wese nie. Dus is dit weereens bevestiging dat die gegewens in Judas die kerkraadsbesluit ondersteun en dus geldige motivering is.]
BNGL: Hier is nie nou plek en tyd om oor die band tussen die duiwel en Kain te praat nie, en Genesis 6 vers 1 tot 5 se verband met die gebeure in Sodom nie. Ook nie oor Bileam en sy donkie wat praat nie. Ook nie I Kronieke 21 vers 1 waar staan “Satan was teen Israel. Hy het Dawid aangehits om ’n sensus van Israel te hou”, gelees saam met (en teenoor) 2 Samuel 24 vers 1 wat lees: “Op ’n keer was die Here vertoorn op Israel. Hy het Dawid teen hulle aangehits en gesê: ‘Gaan tel die Israeliete en die Judeërs.” Is die Satan nou die aanhitser hier, of is dit die Here self? Matteus 4 en Lukas 4, wat oor die versoeking van Jesus in die woestyn handel, gaan ook nie help om die persoonlike bestaan van die duiwel te bewys nie. Wat word eerstens bedoel dat Jesus deur die Gees die woestyn ingely is om deur die duiwel versoek te word. Jesus in volledig mens in hierdie verhaal. Hy word honger. Tog “vlieg” die duiwel met Jesus rond. Die volgende oomblik is hulle saam op die tempel se dak, dan weer op ’n baie hoë berg. Uiteindelik versorg die engele vir Jesus. In Lukas vlieg hulle eers saam na die hoë berg en dan na die tempel. Wat sou die betekenis en implikasie vir die duiwel se bestaanswyse wees as hy in ’n oogwink vir Jesus al die koninkryke van die wêreld wys. Is die duiwel alomteenwoordig? Wie is die duiwel? Het enigiemand, buiten God, hom al regtig so gesien dat ons met sekerheid oor sy bestaanswyse kan getuig? Nie dat hy nie regtig is en/of regtig werksaam is nie. Is die duiwel aan ons geopenbaar vir wie of wat hy regtig sou wees? Die versoeking in die woestyn gaan oor versoeking – nie om te bewys dat die duiwel van persoonlike aard is nie.
[Die duiwel wat met Jesus in die woestyn gepraat het, wys sy persoonlike aard. So ook die duiwel wat in Job se tyd met God gepraat en probeer onderhandel het. Die kerkraadsbesluit het geensins al die eienskappe van die duiwel probeer vaspen of uitspel nie. Bogenoemde is interessante opmerkings, met in sommige gevalle ’n paar moontlike antwoorde waarvan ek weet, gegewe ander gegewens in die Bybel, maar heelwat daarvan is eintlik ontoepaslik vir die kwessie van die motiverings vir die kerkraadsbesluit wat op die aankondigings verskyn het.]
BNGL: Mens staan verstom dat daar in ons tyd mense is wat al die antwoorde het, maar nie regtig weet wat die vrae is nie! Miskien is dit net ’n aanduiding hoe teologies arm en gebrekkig Bybels geskool van ons kerk se lidmate is, as hulle praat van “glo-die-Bybel”, maar nie regtig die Bybel ken waarin hulle wil glo nie. Teologie word nie op persepsies en teksies gebou nie. ’n Individu mag wyser as ’n kerkvergadering wees, maar in die reël van ons Gereformeerde tradisie word die waarheid altyd saam gesoek, ook saam met die ander kerke oor die ganse wêreld.
[Vir dié wat nie weet nie, www.glodiebybel.co.za is die webwerf waar ek nogal baie plasings maak. Ek noem dit maar sodat julle nie BNGL se belediging hier dalk nie ten volle begryp nie. Ek staan verstom en geskok dat ’n predikant met ’n doktorsgraad in teologie met sulke redenasies soos hierbo vorendag kan kom. En sy vernederende verwysing na teksies, wat liberale teoloë graag doen, is ook tot sy skande. Ek sou eerder daarop wil wys dat die gereformeerde tradisie die waarheid in die Bybel soek, eerder as saam met ander kerke oor die ganse wêreld nogal. Hoeveel vals kerke bestaan daar nie in die ganse wêreld nie? Die dwaalleer wat tans toenemend in die NG Kerk ingevoer word, onder andere deur die sogenaamde ontluikende kerk-beweging, waarvan die moderator Nelus Niemandt ’n groot aanhanger is, of tenminste was (ek weet nie of hy intussen beter insig gekry het nie), is duidelike voorbeelde van hoe skadelik dit kan wees om te veel die sogenaamde waarheid saam met ander kerke te soek, in plaas van in die Bybel.]
BNGL: Hierdie is net ’n skrywe om ’n ander, na my mening ’n beter gefundeerde Bybelse en Belydenisstandpunt oor die duiwel te stel. Ek gaan nie verder in debat met enigiemand oor die aangeleentheid tree nie.
[Hierdie is ’n sluwe en verregaande manier van argumentering.
BNGL lê sy vertolking van bogenoemde Bybel- en belydenisskrifgedeeltes aan die kerkraadsvoorsitter en nog 3 ander kerkraadslede voor, en gebruik dit as motivering om hulle te probeer oortuig dat ek teologies arm en gebrekkig Bybels geskool is. Kyk sy woorde: “Miskien is dit net ’n aanduiding hoe teologies arm en gebrekkig Bybels geskool van ons kerk se lidmate is, as hulle praat van “glo-die-Bybel”, maar nie regtig die Bybel ken waarin hulle wil glo nie. Teologie word nie op persepsies en teksies gebou nie.” Ek het reeds daarop gewys dat sy verwysing na “glo-die-Bybel” nog ’n bevestiging is dat hy hier spesifiek na my verwys.
BNGL lê ook sy vertolking aan genoemde mense voor om die geloofwaardigheid van die motiverings in die aankondiging te probeer afskiet. En dan probeer hy die verregaande ding te doen om enige antwoord hierop te stop deur te skryf: “Ek gaan nie verder in debat met enigiemand oor die aangeleentheid tree nie.”
Hy inkrimineer dus sy opponent, en val sy opponent se standpunte aan, en wil dan van die spesifieke kwessie afstap sonder enige geleentheid vir reaksie daarop! Dis soos om in ’n hofsaak te staan en iemand van allerlei dinge te beskuldig, en dan vir almal te sê: “Glo dit net eenvoudig want ek gaan niemand toelaat om verder hieroor te praat nie”. Hy probeer dus advokaat en regter speel, maar dan sommer inderdaad nog die onregverdige regter!
En na sy hele betoog, met sy genoemde poging tot diskreditering van ’n ander mens op beledigende wyses, kom hy met die vroom verklaring: “Hierdie is net ’n skrywe om ’n ander, na my mening ’n beter gefundeerde Bybelse en Belydenisstandpunt oor die duiwel te stel.” Dis onsin – dis baie meer as dit! Dis ook ’n blatante poging om ’n bepaalde mens en sy standpunte af te kraak.
En so terloops – om ’n bepaalde standpunt te probeer afskiet is nie dieselfde as om ’n beter standpunt daar te stel nie. Van ’n beter standpunt was daar weinig sprake in BNGL se betoog.]