Gay-dominees: 3 stemme

(Van Kerkbode-aanlyn gekopieer.)

**************

Gay-dominees: 3 stemme

2012-01-19

Die Algemene Sinode van 2007 het besluit gay predikante wat selibaat leef, is welkom om hulle roeping uit te leef. Maar toe steek dié besluit einde verlede jaar ’n stokkie voor Lulani Vermeulen, student aan die Universiteit Stellenbosch (US), se aansoek om gelegitimeer te word omdat sy in ’n vaste verhouding met ’n vrou leef. Kerkbode plaas me Vermeulen, prof Louis Jonker, lid van die NG Dosente­raad aan die US, en dr Coenie Burger, voorsitter van die Kuratorium tot einde verlede jaar, se indrukke oor die verloop van hierdie saak.

Louis Jonker
Nadat die NG Kuratorium geweier het dat ’n gay student van Stellenbosch gelegitimeer word, het ek – in my persoonlike hoedanigheid, maar ook as lid van die NG Dosenteraad – ’n brief aan Die Burger geskryf ter ondersteuning van die betrokke student, Lulani Vermeulen. Dié brief het ten doel gehad om meer te sê oor Lulani as om haar te reduseer tot haar seksualiteit – soos wat in heelwat van die reaksies in die pers gebeur het. Ek het getuig van my baie positiewe ervaring tydens haar proefpreek op Somerset-Wes, asook van haar gehalte en verbintenis as teoloog en voornemende predikant.

Maar my steun aan haar het ook met die wyer saak van homoseksuele mense in die predikantsamp te make. Die NG Kerk se Algemene Sinode het reeds in 2007 onomwonde verklaar dat alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, tot die ampte toegelaat word. Die knelpunt is egter die teenstrydigheid van die besluit wat ook in ’n subafdeling bepaal dat homoseksuele verbintenisse nie as ’n alternatief tot die huwelik aanvaar kan word nie. Die implikasie is dat homoseksuele gelegitimeerdes wat nie bereid is om hulleself tot selibaatheid te verbind nie, nie tot die predikantsamp toegelaat kan word nie. Hierdie besluite bly teoreties totdat ’n gay student wat aan al die akademiese en geloofsvereistes voldoen, maar nie haar- of homself tot selibaatheid verbind nie, gelegitimeer wil word. Dan blyk dit dat die 2007-besluit nie net prakties onuitvoerbaar is nie, maar ook met ’n onaanvaarbare siening van menslike seksualiteit werk. Hoewel daar geen vereistes oor die selibaatheid van heteroseksuele ampsbekleërs gestel word nie, word dit ’n sjibbolet by homoseksuele predikante. Hieroor, meen ek, moet die NG Kerk nog verder dink.

’n Verdere aspek wat my tot my brief aangespoor het, is die feit dat die mees onlangse Algemene Sinode wel bemoedigende besluite geneem het oor die Belydenis van Belhar. Hierdie belydenis se Artikel 4 handel baie duidelik oor die kwessie van geregtigheid, en die belydenis stel dit onomwonde dat enige ideologie wat vorme van verontregting legitimeer, verwerp moet word. My opgewondenheid oor die NG Kerk se omarming van die beginsels van Belhar het vervaag in die lig van hoe Lulani se legitimasie hanteer is.

Watter voorstelle sou ek vir die pad vorentoe wou maak? Die NG Dosenteraad se herhaalde versoeke aan die Kuratorium se dagbestuur in die afgelope jare om saam te werk aan voorstelle vir verdere gesprek by die  Algemene Sinode in 2011, het ongelukkig op niks uitgeloop nie. Die NG Kuratorium het hulleself egter in die mees onlangse Kuratoriumvergadering tot verdere gesprek verbind. Ek glo onwrikbaar daarin dat die Gees die kerk lei waar daar gesprek gevoer word. Die pad vorentoe moet dus gesprekmatig wees: tussen Kuratorium en Dosenteraad, tussen die NG Kerk en gay ampsdraers en gelegitimeerdes, tussen die NG Kerk en teenstanders van die toelating van gay persone in die amp.

Maar die pad vorentoe moenie ’n gesprek oor die “geval” Vermeulen wees nie. Lulani se nie-legitimasie was maar net die sneller wat die gesprek weer in die openbare ruimte geplaas het. Die gesprek moet eerder handel oor die NG Kerk se verstaan van menswees (wat nie in die geval van homoseksuele mense bloot tot hulle seksualiteit gereduseer kan word nie), van menslike seksualiteit (hetero- en homo-), en oor die huwelik as kulturele instelling (hetero- en homo-). Mag die volgende Algemene Sinode van die NG Kerk dan ’n veilige ruimte wees waar die gesprek van 2007 weer opgeneem kan word en in die lig van die gebeure van 2011 weer opnuut bedink sal word. Dít sal juis ’n gereformeerde gesindheid openbaar.

Lulani Vermeulen
Ek glo dat God mense roep en bemagtig as medewerkers in die vestiging van sy Koninkryk op aarde. God roep gewone mense, gebroke mense, tot hierdie taak. Die waardigheid van sy geroepenes word nie deur mense bepaal nie. Ons weet dat God anders na mense kyk as wat ons dit doen en dat God dikwels mense roep wat nie deur ander gekies sou word nie.

Ek glo ek is deur God geroep tot die amp van predikant in die NG Kerk of Verenigende Geref Kerk. Ek beskou die voorstel deur sekere kerkleiers dat ek eerder ’n ander taak in die kerk moet vervul nie net as ’n verskraling van my roeping nie, maar ’n gerieflike poging om die realiteite van ’n diep lewensvraagstuk te systap. Hiermee ontken ek nie die belangrikheid van die diversiteit van take waartoe God mense roep nie. Elkeen van hierdie pligte en take is belangrik en dra ewe veel waarde. Ek glo egter dat God my geroep het as predikant en ek kan nie ontrou wees aan die taak wat God aan my toevertrou het nie. Omdat ek seker is van my roeping, voel ek my verbind tot die huidige gesprek wat my, vertrou ek, eendag in staat sal stel om gelegitimeer te word in die kerk waarin ek grootgeword het en waarvoor ek lief is.

Gesprekke oor sake rakende seksualiteit en veral homoseksualiteit word reeds ’n geruime tyd in die kerk gevoer. Hierdie gesprekke het egter, veral na die Algemene Sinodesitting van 2007, al stiller geraak tot dit begin lyk het asof dit van die agenda verdwyn het. Dit is ’n belangrike kerklike kwessie wat baie mense se lewe raak. Vanuit my ervaring is die deurleefde realiteit van baie mense nog nie klaar bespreek nie en verdien dit beslis verdere gesprek. Ek glo dat ons as geloofsgemeenskap opnuut en voortdurend hieroor moet praat. Dit is immers ons gereformeerde identiteit en die kerk se roeping. Ek wil nie hê mense moet die kerk oor die hantering van hierdie aangeleentheid verlaat nie. Ek wil niemand seermaak nie; ek wil bloot mense uitnooi om deel te neem aan die gesprek. Tog is dit my oortuiging dat hierdie besinningsproses nie onbepaald kan voortduur nie en dat ’n menswaardige en bo alles, lewensgetroue en Skrifgebonde antwoord gevind moet word sodat geregtigheid kan geskied. Na my mening behoort die gespek nie te gaan oor of homoseksualiteit reg of verkeerd is nie. Hierdie tipe gesprek is uitgedien en vervreem mense. Die plig is nou op die kerk om, soos met apartheid, sy historiese wanopvattings oor homoseksualiteit te bely en onmiddellik in gesprek te gaan oor hoe daar ruimte geskep moet word vir mense in die geloofsgemeenskap vir wie hierdie saak ’n fisiese, psigologiese en geestelike realiteit is.

Volgens my beskeie mening is die besluite wat die kerk tot dusver geneem het oor die kwessie van homoseksualiteit, afgesien van die ongrondwetlikheid daarvan, nie Skriftuurlik korrek of gefundeerd nie. Wat die administratiewe hantering daarvan betref, word die besluit fataal inkonsekwent toegepas. Volgens die 2007 besluit van die Algemene Sinode sal daar nie teen gewone lidmate gediskrimineer word op grond van hulle seksuele oriëntasie nie en word almal verwelkom tot die geloofsgemeenskap. Van predikante met ’n homoseksuele oriëntasie daarenteen, word verwag om selibaat te bly. Dit kom mos, met groot respek, neer op dogmatiese bedrog.

In die lig van hierdie inkonsekwentheid word ons genoodsaak om die gesprek met groter verantwoordelikheid en openheid te bly voer. Na my mening impliseer dit dat ons met omsigtigheid met die Skrif moet omgaan; dat ons na verskeie stemme moet luister en dat ons saam na God se wil moet soek om al God se skepsels te akkommodeer – nie gedeeltelik nie, maar in die volheid van God se roeping. Dit is belangrik dat ons die gesprek tot Goddelike duidelikheid oor die proses van integrasie van elke siel help bevorder, want dit is my droom dat ons hierdeur gemeenskap bou en dat ons diversiteit fasiliteer, sodat die kerk vir almal wat deur God geskape is, ’n plek kan wees waar hulle welkom is.

Ek is deel van ’n kerk in die gereformeerde tradisie wat voortdurend krities na homself bly kyk in die lig van God se Woord en wat ’n konstante begeerte het om net na God se wil te handel. Ek glo dat God my geroep het tot ’n baie spesifieke taak in sy kerk en dat Hy met my onderweg is. Ek kies om deel te neem aan hierdie dialoog en ek sal nie terugdeins wanneer ek voor uitdagings te staan kom nie.

Dr Coenie Burger het die Kuratorium van Stellenbosch se hantering van Lulani Vermeulen se keuring om gelegitimeer te word op Kerkbode se facebook-blad verduidelik. Dit was in antwoord op spesifieke vrae oor die Kura­torium se hantering van die saak. Kerkbode plaas sy volledige antwoord hieronder.

1 In verband met die diskresie van die kuratoria is dit belangrik om te verstaan dat die kuratoria van die verskillende teologiese opleidingsentra die opdrag het om teologiese studente te begelei tydens hulle studiejare, maar dat hulle dit moet doen in lyn met die besluite van die Algemene Sinode. Die Algemene Sinode – en nie die Kuratoria nie – bepaal die vereistes vir die toelating van studente tot die bediening en is ook die instansie wat in die laaste plek legitimasie verleen. Dit beteken dat die Kuratoria beperkte diskresie het en per ooreenkoms nie eensydig van die Algemene Sinode se besluite kan afwyk nie.

2 Een van die besluite van die Algemene Sinode wat toelating tot die bediening raak, het te doen met die kwessie van homoseksualiteit wat vyf jaar gelede sterk in dispuut was. Die sinode van 2007 se besluit hieroor is redelik wyd bekend, naamlik dat gay oriëntasie nie ’n probleem vir toelating tot die bediening is nie, mits so ’n persoon kies om selibaat te leef. Die Kuratorium het hom in die afgelope vier jaar weer deeglik vergewis van hierdie besluit en die interpretasie daarvan, maar het nie die diskresie gehad om dit te ignoreer of buite die besluit op te tree nie. Hoewel Kuratoriumlede verskillende persoonlike standpunte oor die gaykwessie het, was daar eenstemmigheid dat die Dagbestuur en Kuratorium Lulani se saak in hierdie stadium nouliks anders kon hanteer.

3 Lulani Vermeulen het ons reeds in 2007 ingelig dat sy gay is en in ’n verhouding is. Ons het haar eerlikheid waardeer – asook haar geloof en roepingsbewustheid. Ons moes haar egter weer inlig oor die besluit van die Algemene Sinode en die implikasie daarvan. Na meer gesprekke oor ’n tydperk van drie of vier jaar het Lulani ons in kennis gestel dat sy nie kans sien om haar by die bestaande Algemene Sinode-besluit neer te lê nie. Dit het ons geen ander opsie gelaat as om haar in kennis te stel dat sy dan nie gelegitimeer sou kon word nie.

4 Daar is in die pers die indruk gewek dat studente verklarings moet aflê en vorms moet onderteken oor hulle seksualiteit. Dit is nie korrek nie. Ons beleid is dat ons studente inlig oor beleid en besluite en hulle as volwassenes en gelowiges dan vertrou om binne die verwagtings op te tree. Ons vra geen student om verklarings oor hulle seksuele voorkeur of hulle seksuele lewe af te lê nie. Lulani se situasie was wel anders. Omdat sy ons ingelig het nie net oor haar oriëntasie nie, maar ook oor haar besluit ten opsigte van ’n verhouding, móés ons haar inlig oor die besluit van die Algemene Sinode en van haar ’n reaksie daarop vra.

5 Ons weet dat hierdie ’n onverkwiklike kwessie is en dat ons nog nie by ’n ideale oplossing gekom het nie. Ons het groot waardering vir Lulani as mens en gelowige en waardeer veral ook haar eerlikheid oor die saak. Ons vra egter van lidmate simpatie en geduld vir die kerk se pogings om die moeilike saak met oorleg te hanteer. Die ervaring leer dat haastige en onwyse besluite hieroor kerke diep kan verdeel en selfs skeur.

Ons is ook baie jammer dat die indruk soms gewek word dat die NG Kerk ongevoelig en argaïes is in sy hantering van die saak. Die waarheid is dat alle kerke in Suid-Afrika hiermee sukkel en dat ons nie weet van ’n groter gevestigde kerk wat meer oop in hulle standpunt hieroor is nie. Daarteenoor is daar ’n groot klomp kerke wat ’n veel meer konserwatiewe standpunt oor die saak het.

Kommentaar

Betreffende Louis Jonker se skrywe:

Selibaatheid behoort vir alle mense buite die huwelik ’n vereiste te wees.

As daar onduidelikheid hieroor is, behoort die NG Kerk dit duidelik te stel.

Om homoseksuele verbintenisse te erken, is geen oplossing vir enige Christelike kerk nie, want dis onbybels.

As die Belharbelydenis impliseer dat mense wat sondes pleeg volgens die Bybel en daarin volhard, se optredes maar goedgekeur moet word, is dit nog ’n rede waarom die Belharbelydenis nie aanvaar mag word nie.

Dit is nie wat Jonker direk sê nie, maar onderliggend tot sy betoog is sekerlik sy idee dat homoseksualiteit nie sonde is nie.

Betreffende Lulani Vermeulen se skrywe:

Lulani is reg dat God anders oordeel as mense, maar ons as mense kan die beste weet hoe God oordeel deur na Sy Woord te kyk.

As ons oordeel anders as die Bybel se uitsprake is, is ons oordeel verkeerd.

Dat die NG Kerk Skrifgetroue antwoorde moet vind (en formuleer) stem ons 100% mee saam.

Maar sy aanvaar dat homoseksualiteit reg is voor God, wat duidelik strydig is met die Bybel, want sy glo die verdraaide vertolkings van die Bybel wat haar pas.

Maar sy weerspreek haarself as sy sê dat sy net wil hê mense moet deelneem aan die gesprek, maar net in die volgende sin wil sy nie hê dat daar gepraat moet word oor die reg of die verkeerd van homoseksualiteit nie. Sy is duidelik nie werklik ten gunste van ’n oop gesprek, met die Bybel as basis nie.

Dat die NG Kerk inkonsekwent is tov homoseksualiteit van predikante aan die een kant en ander amptenary en lidmate aan die ander kant, is waar.

Die probleem is egter dat die Algemene Sinode nie die reg aan die ringe en gemeentes moes oorgelaat het om anders te kan besluit oor ander amptenary en lidmate as wat hulle self oor predikante besluit het nie. Die Algemene Sinode is dus nie te verskoon van hierdie swak besluit nie.

Na ons mening sal God niemand roep om vir Hom te werk, veral as leier in ’n gemeente, terwyl hy of sy in ’n spesifieke sonde volhard asof dit maar reg is nie.

Betreffende dr. Coenie Burger se skrywe:

Dit lyk of die kuratorium reg opgetree het deur maar net so goed as moontlik, en in alle eerlikheid die NG Kerk se besluite uit te gevoer het.

Die fout lê dus by die Algemene Sinode se swak besluite.

Maar mens kry die gevoel dat dr. Burger se gevoel na die onbybelse en liberale kant van hierdie saak lê. Kyk ook na Nelus Niemandt se uitlatings in “NG Kerk allesbehalwe apaties teenoor gays – Niemandt” hierbo genoem.

En daarmee kan ons hoegenaamd nie saamstem nie – die Bybel moet die riglyn wees – nie mense se opinies nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui