Dana Snyman treffend en briljant

Onderstaande treffende en briljante stuk van Dana Snyman het vandag 13 April 2012 in Die Burger verskyn –

http://www.dieburger.com/Rubrieke/DanaSnyman/Kan-wetenskap-n-mens-van-die-liefde-leer-20120412 :

DANA SNYMAN

Kan wetenskap ’n mens van die liefde leer?

2012-04-13 00:00
Die Burger

Sê nou ’n dag kom dat die meeste mense op aarde slegs dít wat rasioneel verklaar kan word, as die waarheid aanvaar – die enigste waarheid.

’n Dag waarop ouers vir hul kinders van Darwin en evolusie eerder as van Adam en Eva in die Bybel sal leer. ’n Dag waarop die wetenskaplikes ’n nóg groter greep op die hede en die toekoms as nou sal hê.

Astronome sal nog baie ligjare verder met hul teleskope tot in die uithoeke van die heelal kan kyk as nou, en hulle sal antwoorde hê op vrae wat hulle nog nie eens gedink het om te stel nie. Moontlik sal daar reeds ’n bemande tuig op Mars geland het, en jy sal dalk sommer in Londen of selfs in Kaapstad op ’n vliegtuig kan klim en saam opvaar na die hemel bokant die aarde se atmosfeer, sodat jy rustig in die sitplek aan die regterkant van die paadjie kan sit met ’n glas Allesverloren, terwyl jy foto’s neem van die klein, silwerige balletjie doer onder.

Op só ’n dag sal die uitspansel ophou om so ver en woes en leeg vir ons te voel.

Op só ’n dag sal ons ook ’n ongeëwenaarde kennis van die kleinste boustene van die heelal hê: atome en die geheimsinnige dans van kwarke en leptone en gluone.

Ook die genetika van die mens, die miljoene genetiese kodes in ons chromosome, sal vir ons nog minder verborge wees. Moontlik sal genetici in staat wees om vroeë spore van ernstige siektes in ’n kind te identifiseer en te behandel. Moontlik sal jy die kleur van jou kind se oë voor sy geboorte kan kies.

Moontlik sal mense ophou om homeopate te besoek, en ouma sal nie meer Lennon’s se witdulsies en stuipdruppels vir oupa gee wanneer hy kla oor krampe op die maag nie.

Moontlik sal rugbyspelers ophou om na die hemel te wys wanneer hulle ’n drie druk.

Moontlik sal nog meer gemeentelede as nou uit kerke padgee, en nog meer predikante hul geloofstwyfel op Facebook bely.

Oral sal die wetenskap seëvier. Selfs kunswerke sal toenemend onderwerp word aan kil vraagstelling. Die metafore in die gedigte van T.S. Eliot en Van Wyk Louw sal tot blote woordspel verstil, en J.S. Bach se Kantate no. 29 sal bloot ’n mooi stuk musiek wees, gekomponeer deur iemand wie se aapagtige voorouers rondom vuurtjies honderde jare gelede op die grasvlaktes van Kenia gejag het vir oorlewing.

Op só ’n dag, o, op so ’n dag, sal die stemme van die dissipels van die wetenskap oral triomfantlik weerklink. Party sal dinge sê soos: “Godediens is ’n emosionele plasebo wat jou gewroegde siel paai deur die kanker van intellektuele verstikking te laat muteer in ’n skyn-euforie.” En dit sal vir baie na die woorde van ’n redelike mens klink.

Sê nou só ’n dag breek aan, o Heer? Sal die aarde ’n beter plek wees? Sal ons meer liefde vir mekaar hê? Kan die wetenskap ’n mens enigiets van die liefde leer? Amen.

Jacobsbaai

——————————————————– 

Ben du Toit het daarna op facebook/kerkbode verwys, en heelwat kommentare het gevolg, ook van Dana self –

http://www.facebook.com/kerkbode/posts/371866882852382 :

Ben du Toit -> Kerkbode

‎Dana Snyman briljant in vandag se Burger.  ‘n Soort van gebed in ’n “sê nou net” formaat.   Dit moet ons as Christene diep laat nadink oor ons verhouding met die totale wetenskap.  Sien www.ngkerk.org.za.

Sê nou só ’n dag breek aan, o Heer?  Sal die aarde ’n beter plek wees?  Sal ons meer liefde vir mekaar hê?  Kan die wetenskap ’n mens enigiets van die liefde leer?  Amen.

 

Kommentare:

 

Alwyn van der Merwe

As mens kyk na kommentare op Media24 en ook die twak lees wat “geleerdes” soos Dawkins, Myers, Coyne en dies meer skryf dan blyk ons al amper daar te wees. Wat werklik jammer is, is dat daar leraars in die NGK is wat alreeds onsubtiel in daardie rigting praat. Mens lees hier gereeld goed soos: “gebed werk nie”, “die mens het nie ’n siel of gees nie”, “maagdelike geboorte is onmoontlik”, “wonderwerke is onmoontlik”, “Abraham/Moses/Dawid/Jesus het nooit bestaan nie en is bloot mites”, “die Bybel is mensewoorde oor God”, “wetenskaplike meerderheidsopinie is meer gesaghebbend as die Bybel” en so aan.

Ons het dalk nog nie alles bereik waaroor Dana skryf nie, maar wetenskaplike meerderheidsopinie (dieselfde wat Galileo tot ketter verklaar het terloops) is klaar van mening dat slegs rasioneel-verklaarbare dinge eg is. Bonatuurlike dinge bestaan nie.

 

Jaco De Beer

Die rubriek is seker die mooiste emosie belaaide motivering vir hoekom dit ok is om ’n godsdienstige ateïs te wees wat ek nog gelees het. Stem saam, voorwaar briljant.

Elke ongelowige, gelowige kan nou agteroorsit en ’n glasie wyn klink, want die toekoms is so rooskleurig ingekleur vir hom. Hy hoef nooit weer in gebed na God te gaan en sy ongeloof te bely as sonde nie en die Lewende God te vra om hom ware geloof te gee nie. Inteendeel, hy kan nou in vrede sy kind leer dat daar nou ’n nuwe strokies prent boek op sy rak is waaroor ons lekker kan lag as ons lees hoe Adam en Eva geluister het na satan wat deur ’n slang hulle versoek het.

Daar word so subtiel met sekere aspekte van God gespot soos opvaar na die hemel, op kyk na die hemel en nog meer dat die naam christen nou veilig voel met sy spottende gedagtes rondom God. Absoluut briljan. Voorwaar het die sondige mens se verstand soveel evolusie ondergaan dat hy nou al sy eie toekoms sonder God kan skilder.

Terwyl die christen op MARS, langs ’n bar sit en ’n robot vir hom ’n glasie wyn bring, gaan daar skielik ’n harde basuin blaas. Die sterre en hemel ruim rondom hom gaan skielik anders begin lyk. Iemand op ’n wit perd met ’n magdom wesens wat hy van laas gelees het in daai nuwe strokies boek op sy kinders se boekrak, verskyn nou hier voor hom. Is dit dan altyd waar wat ek gelees het dink hy. Hoe kon ek so idioot wees om daaroor te lag en te debateer op facebook. Al die jare my tyd gemors. Berge val op my asseblief waar is daai grot wat ek op aarde geken het sodat ek daarin kan wegkruip.

Absoluut briljant, die sondige brein se vermoë.

 

Lourens Zak Barnard

Maar…ELKE Knie SAL buig en ELKE tong SAL bely…hetsy in vreugde – of in vrees…

 

Hennie Mouton

’n Mens hoop en bid dat Dana, wat onlangs vir die eerste keer in jare weer kerk toe gegaan het, eintlik die volgende met sy inderdaad briljante skrywe probeer sê:

* Selfs al slaag die kille wetenskap in sy klaarblyklike doel, gaan daar iets wees wat dit nie kan bied nie – die liefde van God soos geopenbaar in Christus waarsonder geen mens werklik vrede kan vind nie.

Maar daar is nog iets ontsagliks wat nie in sy skrywe uitkom nie – God se liefde sluit nie Sy regverdige en ontsettende oordeel van volhardende ongelowiges uit nie – daarom mag die kerk as Christus se bruid nooit net die halwe waarheid van liefde alleen verkondig nie. Selfs skynbare kerkgangers wat nie die olie van die Heilige Gees het nie, wat met ware geloof in Christus ontvang word, gaan uiteindelik deur die Bruidegom gesê word dat Hy hulle nooit geken het nie.

 

Joan Retief

Ek het Dana se stuk gelees. Dit is uitstekend. My mening is dat so ’n stuk, eerder as veroordelende of venynige kommentare, mense wat geloof of kerk die rug gekeer, of hulle wat nog nooit eintlik gebodder het nie, kan inspireer om weer te besin en gaan dink.

 

Jaco De Beer

Geloof, kerk, bybel lees en godsdiens was nog altyd dood. Die rubriek sal niemand na God bring nie. Dis sonder Jesus. Niemand kan na God gaan sonder Jesus. Slegs ’n ontmoeting met die lewende Jesus kan iemand die weg wys na God. Dit kan by die huis gebeur buite die kerk.

 

Pierre Grigor

Ben ’n mens kan nie sulke pragtige pêrels voor die swyne gooi nie… (No pun intended)

 

Ben du Toit

Ja Pierre, ek is bevrees, lyk of jy reg is. Ek voel eintlik skaam. Ek is nie min geskok nie, oor die reaksies hier bo. Hoe is dit dat mense onmiddelllik verdag en veroordelend reageer? Onmiddellik die waarskuwingsvinger in die lug: Passop, hier’s n nuwe kwaad/bedreiging vir “ons Christene” Kan die wetenskap ons enigiets van liefde leer? vra Dana. Nee. Maar lyk my, volgens sommige Christene, kan sommige Christene ook nie. Juis so word Dana Snyman se moontlike toekoms-tafereel dalk juis waar!

 

Kobus Victor ‎

Ben du Toit Ek is soms bekommerd dat ons die mistiek van die Christelike geloof kan verloor, weg verklaar. Daar is in my hart geen twyfel daaroor dat die “onverklaarbare” nie as onwerklik beskou kan word nie. Ek is geen fundamentalis wat alles letterlik opvat nie. Maar ek huiwer om alles wat nie wetenskaplik verklaar kan word nie, af te maak as nie meer relevant nie.

 

Mikal Zeeman ‎

Ben, sommige Christene verstaan niks van liefde as dit nie gepaardgaan met vingerwys en vermaning en veroordeling nie. Alles buite hulle geloofsverwysingsraamwerk word as verdag afgemaak.

 

Stefaan de Jager

Voorwaar so wat Dana skryf. Dit het my aan 1 Kor 13 laat dink. “Al besit ek al die kennis…..maar ek het geen liefde nie, is ek niks.” So lees ons ook in 1 Kor 8:2-3: “As iemand meen hy het van iets kennis, het hy nog nie die kennis wat `n mens behoort te hê nie. Maar as iemand God liefhet, ken God hom.”

Dit gaan natuurlik nie om `n filantropiese soort liefde wat ongelowiges ook kan hê nie. Al sou ek my goed aan ander uitdeel, en ek het nie die liefde van God in Christus nie, baat dit ook niks.

Al die kennis van die heelal en die internet in jou kop, al die wetenskaplike ontdekkings kennis, beteken niks as ek nie die liefde van die Here Jesus in my het nie.

 

Pierre Grigor

So asof filantropie liefdeloos is Stefaan. Magtag, maar hiers ’n arrogante hoogheiligheid in fundamentalisme wat erger as Saldanha se visfabrieke ruik.
So asof alle antwoorde so duidelik en voor-die-hand-liggend is.

Is dit Einstein wat gesê het: “Science without religion is lame, but religion without science is blind”.

Blind inderdaad, ja blind inderdaad!!…

 

Uri Bekker

Sal ons in ons leeftyd die punt bereik waar godsdiens wetenskap en kuns almal by dieselfde plek uitkom en mekaar onderskryf en begunstig ? Ek hoop so. Alle wetenskappe het uit Godsdiens ontstaan, en wat was, sal weer wees.
Tot dan het materialisme die goue draad wat dwarsdeur al drie geloop het hemel toe, soos van ouds, afgeknip.
Die hoekom wetenskaplikes Richard Dawkins, Stephen Hawking, Micheal Tellinger en andere deesdae die leiding aan soekers probeer gee. Totaal wanaangepas…
Tot die kerke se draatjie is geknip al is die begeerte nog daar.
Maar nou het Steiner nuwe hoop in die departemente gebring. Tot vir die kilste weetnikskaplikes. Haha. ’n Grap ? Alles behalwe.
Ek wonder hoe ongemaklik voel wetenskaplikes deesdae, noudat die atoom teorie aan vlarde getrek is ? Die storie van ‘dieselfde gelaaide protone’ in die kern van ‘nso-genaamde molekuul wat ewe knussies dig teen mekaar sit, totaal teenstrydig met hul eie wette hieroor.
Ja, tot die wetenskap gaan deur ’n krisis!

  

Henrietta Klaasing

Sondag 52 — Vraag 129: “Wat beteken die woord Amen? Antwoord: Amen wil sê: Dit is waar en seker”.

Die “amen”-slotwoord op die einde dui dus op ’n versugting dat al sy bedes dwarsdeur die stuk waar mag word. In die eerste sin is daar ’n versugting dat slegs dít wat rasioneel verklaar kan word, as die waarheid aanvaar kan word – die enigste waarheid. Dat kinders eerder van Darwin se evolusie-leer as van die Bybelse God as die skepper sal leer.

Verder aan sug hy daarna dat die wetenskap oral, op alle gebiede, sal seëvier. Ook is daar ’n bede dat die wetenskap die aarde ’n beter plek mag maak; dat, mens iewers deur die wetenskap meer van die waarheid en die liefde te wete kan kom – dus buite God om, want daar is baie min verwysing na God.

So gesien, klink dit vir my asof God en sy Woord uitgerangeer word, klink dit soos ’n verheerliking van die wetenskap.

Briljant? As ’n kul-kunstenaar met woorde, ja.

 

Stefaan de Jager

Filantropie is nie liefdeloos nie Pierre. Al wat ek probeer sê is dat die diepste fundering van liefde in God lê, want God is liefde. Wie aan God verbyleef mis die sin van die lewe.

 

Dana Snyman

More Ben. Dankie vir wat jy se. Hoop ons kan nog eendag daardie koffie drink. Groetnis. Dana.

 

Dawie Theron

EA Venter beweer dat die mens alles sal beoordeel met dit wat ins sy hart heers. As dit God is dan kyk die mense deur daardie venster. As dit die wetenskap is, dan gebruik die mens daardie venster. Geseend is die mens wat na die wereld kan kyk deur God se oë en nie deur die mikroskoop nie. Want dan eers breek daar vir ons lig deur.

 

Henrietta Klaasing

“Nature can teach us many things about God. It can show us His wisdom, His intelligence, and His mighty power. But nature, in and of itself, does not teach us that God is a God of love. We needed the death of God the Son, Jesus Christ, to ultimately demonstrate that.” (Past. David Guzik)

 

Pierre Grigor

Dawie ek sien nie so ’n dualisme in die Bybel so asof God nie ook die wetenskap is nie.
Johannes sê dat God gees is… en wat op dees aarde is nie gees nie…alles is gees.
Johannes sê dat God liefde is… liefde is die gom wat die skepping aanmekaar hou. Daarom ook elke mens.
Johannes sê dat God lig is… lig is oa die energie wat die substans van alles is. Ook van elke mens.
Jy kan nie van God en wetenskap praat asof dit twee opponerende wêrelde is nie.
En as jy na die wese van liefde, lig en gees gaan kyk sal jy besef dat dit ook persoonlikheid is; maar baie meer as wat ons net
in die mens kan raaksien.
God is nie ’n mens nie, maar omvat dit ook.

God is ook meer as ’n mens, maar daarom is God ook die mens. God is nie ’n man nie, maar God is man ook; net soos wat God vrou ook is. As Jesus praat van God as vader, probeer hy daarmee sê dat God tegelykertyd die saadgewer en die saad van alles is.

God is tegelykertyd alles en niks; uit niks uit ontstaan alles. Niks is die oorsprong van alles.
Alles is daarom nie alles nie en niks is nie niks nie.
Deur dus te sê God “is nie” of God “is niks”, word God erken.
Dus is die enigste sinvolle praat oor God, is miskien bloot net om te sê: “God is….”

 

Stefaan de Jager

Dawie, hierdie opmerking van jou het my geraak: “Geseend is die mens wat na die wereld kan kyk deur God se oë en nie deur die mikroskoop nie.” God en wetenskap staan nie teenoor mekaar nie. God het dan juis alles geskep en laat ons elke dag nuwe dimensies daarvan ontdek, waarin die wetenskap ons help. Tog is dit soos Ps 19 dit mooi van vers 8 af belig, dat die Woord van God volmaak is.

 

Henrietta Klaasing

Tereg sê die skrywer op die NG Kerk se tuisblad dat ons “as Christene diep (moet) nadink oor ons verhouding met – en bekouing oor – die totale wetenskap.”

God openbaar Hom in die Skrif en ook in die natuur. “Die wetenskap” is deel van God se openbaring in die natuur of ook genoem sy “algemene openbaring”.

In Artikel 2 van die NGB leer ons dat ons God ken deur twee middele, eerstens deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld en tweedens deurdat God Hom NOG DUIDELIKER en MEER VOLKOME aan ons bekend maak deur Sy Heilige en Goddelike Woord. Die terme “nog duideliker en meer volkome” dui daarop dat die kennis wat opgedoen word deur die skepping, ondergeskik is aan die kennis deur middel van die Skrif.

Mens behoort egter nie net stilstaan by die erkenning van die feit dat God hom op meer as een manier openbaar nie, maar voortgaan na: hoe REAGEER ek op God se openbaring, waar ookal? In die eerste deel van Psalm 19 sien die Psalmdigter duidelik God se Hand raak in die skepping en raak hy in vervoering daaroor.

In Romeine 1 gaan dit ook oor se openbaring in die natuur. Die kruks van die saak is myns insiens in Romeine 1 vers 21: hulle het God nie geëer of gedank nie, “inteendeel, hulle het vir hulle allerhande belaglike voorstellings oor ’n godheid begin maak en hulle verdwaasde harte het heeltemal toegeslaan” (Nuwe Lewende Vertaling).

 

Uri Bekker

So nou kan die vraag gevra word as materie nie uit atome eleltrone ens bestaan nie, wat is dit, waaruit bestaan dit ? Die kort antwoord is gestolde/gekristalliseerde gees.

DWS. Op aarde kry ons substans en uit die die hemelryk kry ons effek. Dus hoe meer ons hierdie substans verdun op ’n wetenskaplike manier soos die homeopate, hoe meer beweeg ons in die effektiewe realme van ’n substans in, wat vanuit die kosmos op ons uitgiet in ’n onophoudelike onuitputbare magtige stroom. Hoe meer verdun, hoe grootter die effek ! ! ! Bv, daar kom silver vd maan, goud vd son, koper van venus, yster van mars (in ons bloed) tin van jupiter, lood van saturnus maar ander goed soos silika en koolstof alles kom vanuit die kosmos. Ons planete is verwand aan die metale wat ons hier aantref. Ons self is hemelwesens wat op aarde die les vd liefde moet kom leer. Die dag as wêreld vrede uitbreek, het die aarde haar doel bereik.

Hiervoor het Christus aarde toe gekom, om vergifnis aan ons te leer, die essens van liefde…

 

Henrietta Klaasing

“Die natuurboek moet gelees word met die bril van die Woordboek” (Johan Heyns)

 

Dana Snyman

More Ben, en almal wat hier gereageer het. Hoop julle het ’n lekker naweek gehad. In die Newsweek van 9 April 2012 – Tiger Woods is op die voorblad – is ’n artikel met die titel: The Forgotten Jesus. Ek sou se, dis iets wat julle regtig behoort te lees – nie om noodwendig met alles daarin saam te stem nie. Maar daar is baie in om aan te herkou. Dis heerlik verfrissend om al julle kommentaar te lees. Groetnis. Dana.

 

Jaco De Beer

Dana, ek het nog nie die artikel gelees nie, maar sal graag jou wil attent maak daarop dat daar meer as een Jesus is. Dit sal help in die toekoms as mens iets oor Jesus lees om altyd die vraag te vra of dit dan nou die ware Jesus is waarvan ek hier lees. Die ware Jesus kry ons in die Woord en het spesifieke dinge gedoen en gesê en doen so ook voort vandag. Enige iets buite dit is ’n ander Jesus. Dis miskien Jesus van Kerken, Jesus van Katoliek, Jesus van Liberaal, Jesus van Evolusie, Jesus van Guy, ensovoorts. Dis nie Jesus Christus van Naseret, die Seun van God, Jesus wat geskep het, Die Woord wat vlees geword het, die opgestane Jesus, die Jesus wat met die Heilige Gees doop nie.

 

Dana Snyman

Beste Jaco. Ek respekteer wat jy se. Ek glo nie eens ek verskil van jou nie. Ek vra vir jou so mooi en beskaafd as wat ek kan: Jy het nog nie die artikel gelees nie – en hier is jy klaar besig om my te onderrig. Ek waardeer dit, want ek is seker jy bedoel dit opreg. Maar, wel… Ek weet nie eintlik eers wat ek wil se nie. As jy nou dalk iewers in ’n gebou is, stap uit buitetoe: voel hoe die lig op jou vel, trek jou longe vol lug. Kyk na die hemel, al is dit dalk bewolk. As daar ’n stukkie grond iewers naby is, krap met jou vingers daarin. Ontspan, ontspan diep. Probeer vir ’n paar oomblikke ontsnap van woorde. Ek sou se dit sal ’n baie godsdienstige ding wees om nou te doen. Liefde. Dana.

  

Dana Snyman

Jaco, jammer ek bedoel … “voel dielig op jou vel…” Daar is nog ander tik- en taal foute ook. Jammer. Ek is gou op pad oogarts toe. Die res van die dag wil ek probeer om op ’n Facebook-vas te gaan. Groetnis.

 

Jaco De Beer

Dana Snyman, dankie vir jou terugvoer. Ek is jammer as jy dit as onderrig ervaar, dit was nie my gesindheid nie. Ek ervaar ook nie jou terugvoer as negatief nie en waardeer jou raad en die gesindheid in wat ook al jy gesê het. Geniet jou facebook-vas, sterkte met die oogarts.

 

 

Dana Snyman

 

Hallo Jaco. Die saak is reg. Ek het ook nie jou “onderrig” as so negatief ervaar nie. Ek het ’n dekselse katarak (sp?) wat afgebrand moet word. Maar dit kon seker baie erger gewees het. Ons praat weer. Nou gaan ek so waar met my Facebook-vas begin. Groetnis. Dana.


Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui