Kyk ook: |
Ek is meer bekommerd as moedeloos | Kerkbode
22 November 2019, Kerkbode, Briewe
Carel van Secunda skryf: Tristan Kapp se brief maak my meer bekommerd as moedeloos. Die Heilige Gees leer ons in Rom 10 dat die mens tot geloof kom deur die prediking van die Woord. Intussen lees ek ’n boek van J. Donald Gordon, “Why Johnny can’t preach.” Die twee kernredes: omdat die teks soos dit gegee word in die Woord, nie oopgemaak word nie en omdat Jesus Christus in sy Persoon, sy werk, sy versoening nie verkondig word as genoegsaam voldoende vir die sondaarmens nie.
Wat moet jou noodwendig moedeloos maak? Eerstens as jy die Bybel nie meer erken as God se openbaring aan ons nie. As jy self reken dat die Bybel denke, gevoelens, idees, stories, poësie uit ’n antieke konteks is wat anders gedink en geredeneer het as ons. Gevolglik word die “ons” die vertrekpunt en dus ook die maatstaf (kanon), want ons ontdek deur ons wetenskap. Wat verkondig (kerugma) jy dan aan wie? En wie kan dan verplig word om na jou te luister? Jy kan in elk geval nie staatmaak op “in die Naam van God nie”.
Hiermee saam kom ’n “prediking” (kerugma is dit beslis nie) van “nes Jesus”. Die ingrypende impak van Jesus se verlossing word gewoon weggevee. Ons moet nes Jesus word. Dit is geen evangelie nie. Dit is gewoon werkheiligheid met ’n Christelike lipstiffie en dit maak mense moeg en moedeloos. Want met hierdie prediking wis ek God uit (met erkenning aan Johan Cilliers).
Hierin is ’n groot dogmatiese probleem. Want die “nes Jesus” verreken nie sy Goddelike natuur nie, wat dit vir enige mens onmoontlik maak om “nes Jesus” te wees. Hierin sou die belydenisskrifte darem ’n goeie GPS kon wees vir jou pad deur die Bybel. Maar nou besluit elkeen self oor die belydenisskrifte as historiese dokumente. In plaas daarvan om hulle te erken as napraat van God se Woord (omdat ons die Bybel nie meer aanvaar as God se Woord nie).
Wat is die noodwendigheid wat vir ons wag?
Prediking is nie meer verkondiging van God, verkondiging van die evangelie nie. En die gevolg is dat geen geloof gebou, gevoed of gevorm word nie.
Prediking word ’n vorm van “social gospel”, waarin die mens alleen maar gewys word op hoe goed en gaaf jy teenoor ander mense behoort op te tree, “nes Jesus”. Jesus het kom demonsteer. Nee, Jesus het NIE. Hy het gekom as Verlosser. En die Heilige Gees werk sy verlossing in sondaarmense deur wedergeboorte en bekering tot geloof. Hiervoor gebruik die HG die prediking van die evangelie. Maar as ons bly by “Jesus demonsteer” en “nes Jesus”, kan jy maar vergeet. Jou hart word nooit verander nie, want die “prediking” sluit die werk van die Heilige Gees toe. Daarom gaan almal praat oor hoe toeganklik die kerk moet wees, maar geslote sondige harte sal nooit oopgaan vir ander sondaars nie. Dit kan gewoon nie.
Wat moet ons dan ook lees tussen die lyne van Br Kapp se brief? Van kateder na preekstoel. Dis die wrange vrugte van ’n teologie wat meer fokus op die wetenskaplike as op God. Hy gaan nog sy tienduisende verslaan.
Ek is bekommerd.