Joodse feeste in die Ou Testament

Die volgende is ’n lys van Joodse feeste wat God in die Ou Testament ingestel het:

1. Pasga / Fees van ongesuurde brode

Wat gevier word: Die verlossing van Israel uit sla­werny in Egipte.

Waar in Bybel: Eksodus 23:14-15, Levitikus 23:5-8, Deuteronomium 16:1-8.

Dit is ook genoem die fees van ongesuurde brode, omdat die Israeliete ongesuurde brode geëet het die aan voor die uittog uit Egipte. Jesus is tydens die pasga gekruisig en dit is daarom dat Christene ongesuurde brood eet tydens nagmaal.

2. Fees van die Weke / Oesfees

Wat word gevier: Dit was sewe weke (50 dae – 50 in Grieks is pentekosté – vandaar die benaming “pentecost” of Pinkster) ná die Pasga gevier. Die begin van die oestyd is ingelui met die offer van die eerste gerf (“beweegoffer”) op die dag ná die Pasga. Die Oesfees is dus aan die einde van die graanoes-seisoen gehou. Dit word ook die beweegoffer genoem.

Waar in die Bybel: Levitikus 23:15-21, Deuteronomium 16.9-12.

3. Huttefees / Loofhuttefees

Huttefees (Hebreeus sukkôth, wat hutte beteken) of Loofhuttefees (loof is die blare waarmee die hutte gemaak is) is in die middel van die sewende maand aan die einde van die vrugteseisoen in die vroeë herfs gevier en is dus ook die Fees van die Insameling genoem (Eks 34:22). Vir sewe dae moes die feesgangers in tydelike hutte, verkieslik van palmtakke gemaak, bly en feesvier (Lev 23:33-43). Hiermee is Israel se verblyf in tydelike strukture gedurende die woestyntog herdenk. Gevolglik is daar nie van diere-offers by die fees sprake nie. Van al die feeste word in die Ou Testament die meeste na die Huttefees verwys, wat soms eenvoudig “die Fees” genoem word. In later tye het die uitgiet van water om die woestyntyd te simboliseer en die aansteek van lampe in die tempel, deel van die fees geword.

Waar in die Bybel: Levitikus 23:33-43 en Deuteronomium 16:13-17. Jesus se uitsprake in Joh 7:37-38 en 8:12 is moontlik juis tydens hierdie fees gemaak.

Bogenoemde drie feeste word die pel­grimsfeeste genoem.

4. Sabbat

Wat word gevier: Weeklikse rusdag

Waar in die Bybel: Levitikus 23:3

5. Nuwe­jaars­fees / Fees van basuine of trompette

’n Dag van vreugde, onder die Jode bekend as Rosh Hashanah, wat gekenmerk is deur die blaas van basuine of trompette.

Waar in die Bybel: Levitikus 23:23-25, Numeri 29

6. Groot Versoendag

’n Plegtige dag van vas en verootmoediging bekend as Yom Kippur by die Jode.

Waar in die Bybel: Levitikus 23:26-32

7. Purimfees

Waar in die Bybel: Ester 9:20-32

Wat word gevier: Die Jode se wonderbaarlike verlossing van uitwissing deur die Persiese komplot onder leiding van Haman.

8. Chanoeka / Fees van die Tempelwyding

Chanoeka is ’n fees ter herinnering aan die herwyding van die Tweede Joodse Tempel in Jerusalem in 3597 (164 vC) na die suksesvolle Makkabeëropstand van die Jode in Judea teen Jode wat vergrieks het en Makedoniese Seleukides.

Dit is ook bekend as die Fees van die Ligte.

Hierdie fees word genoem in Johannes 10:22. Kyk ook Chanoeka (Wiki).

2 thoughts on “Joodse feeste in die Ou Testament”

  1. Vervang die woord ‘jode’ met ‘Israeliete’. Vervang ook ‘christene’, met Israel

  2. “….Joodse….” feeste in die Ou Testament

    Lev 23:2 Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: Die feestye van die HERE wat julle moet uitroep as heilige samekomste dit is My feestye.

    Lees met oop ooge………nie joodse feeste nie, maar ons Vader se feeste.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui