Die voor die handliggende verstaan van die Bybel is dat God die heelal in ses 24-uur dae geskep het, ongeveer 4004 vC. Daarom is dit vir Christene wat evolusie of ’n ou aarde met die Bybel wil versoen belangrik om te glo dat Genesis 1 poëties is en nie letterlik gelees moet word nie.
Hebreeuse kenners, soos James Barr (‘n liberale Ou-Testamentikus wat self nie in ’n sesdagse skepping glo nie), is egter baie seker daarvan dat Genesis 1 tot 11 letterlik verstaan moet word.
Dit is ook selfs statisties bewys dat die skrywer van Genesis 1 ’n letterlike interpretasie bedoel het en nie bedoel het dat lesers dit figuurlik moet verstaan nie (kyk Statistical Determination of Genre in Biblical Hebrew: Evidence for an Historical Reading of Genesis 1:1-2:3).
Nog ’n bewys
Die artikel Poetry vs. Prose in the Bible, verduidelik die verskil tussen poësie (digterlik) en prosa (letterkundig) in die Hebreeuse Bybel. Daarin word Rigters 4:17-21 vergelyk met Rigters 5:24-27. Beide beskryf dieselfde gebeurtenis – hoe Jael vir Sisera met ’n tentpen doodgemaak het.
- In Rigters 4 word dit in prosastyl beskryf. Die bedoeling is om feite oor te dra.
- In Rigters 5 word dit in digterlike styl beskryf waar die klem op die gevoel en emosie van die gebeure geplaas word.
Dit is nie net die skryfstyl wat verskil nie, maar ook die fisiese uitleg verskil: Rigters 4 word in blokvorm geskryf (beide die linker en regter kantlyne is belyn) terwyl Rigters 5 nie in blokvorm geskryf word nie (kyk figuur 1).
Figuur 1: Rigters 4 vs 5
Dit is ’n algemene verskynsel in die Hebreeuse Bybel en dit word selfs in meeste ander vertalings ook so aangedui: die prosagedeeltes word in blokvorm geskryf maar nie die poësiegedeeltes nie. Die dele in die Bybel wat poësie of digterlike taal is, word net aan die linkerkant belyn (in die Hebreeus word dit aan die regterkant belyn, omdat Hebreeus van regs na links gelees word).
Nog ’n voorbeeld waar die verskil tussen prosa en poësie duidelik uitgewys word, word in 1 Samuel 2:1-10 (Hanna se dankgebed aan die Here) gevind. Hanna se dankgebed word aangebied in digterlike vorm en word dus nie in blokvorm geskryf nie (figuur 2).
Figuur 2: 1 Samuel 1-2 (Afrikaans 83 vertaling)
In figuur 3 word die Hebreeus gewys. Onthou dat Hebreeus van regs na links gelees en geblaai word. Die prosa gedeeltes voor en ná 1 Sam 2:1-10 word in blokvorm geskryf (aan beide die linker- en regterkant belyn).
Figuur 3: 1 Samuel 1-2 (Hebreeuse Bybel)
As ’n mens na Genesis 1 tot 3 gaan kyk (figuur 4), vind jy ook dat dit in blokvorm geskryf is, wat wys dat ons nie hier met poësie te doen het nie, maar met prosa of letterlike geskiedenis.
Figuur 4: Genesis 1 tot 3 (Afrikaanse 83 vertaling)
Hierdie verskynsel word selfs gesien op die aanlyn Bybel Bible.com (kyk byvoorbeeld 1 Samuel 2). Die regter kantlyn van prosa is nou wel nie gelyk nie, maar die teks van prosagedeeltes is breër as die poësiegedeeltes.
Die hele Psalms, Spreuke en Hooglied en ook groot dele van die profetiese boeke (Jesaja, Jeremia, ens) is ook slegs aan die linkerkant belyn, wat bevestig dat dit in digterlike vorm geskryf is.
Ek het spesifiek 1 Samuel 2:1-10 hierbo as voorbeeld gebruik omdat Hanna in vers 8 bid: “Aan die Here behoort die pilare van die aarde; Hy het die aarde daarop gegrondves.”
Skeptici val soms die Bybel aan deur te redeneer dat die Bybel verkondig dat die aarde op pilare staan. Dit is egter nie waar nie. Dit is poësie.
Ten slotte
As Genesis 1 poësie was, sou dit definitief nie in blokvorm geskryf gewees het nie. En verder sou mens kon redeneer dat selfs al was Genesis 1 poësie, sou ’n mens dit steeds kon gebruik om te bepaal hoe God geskep het, net soos Rigters 5:24-27, Psalm 78 (wat die uittog uit Egipte beskryf) en Psalm 105 in digvorm geskryf is maar werklike gebeure beskryf.
Baie waardevolle bydrae Daniel!