Gedagtes oor ’n volkskerk en Geloftedag

Junie 2012

Deur Hennie Mouton

’n Groep e-pos-vriende het met mekaar oor hierdie onderwerpe gekommunikeer. Heelonder wys ek die skrywe wat ek daarna aan die Steedshervormers gerig het in die hoop dat hulle die gemelde sake sou verduidelik.  Henrietta het Yvette Otto (vrou van dr Johan Otto wat die voorsitter van die Steedshervormers is) se antwoord aan Kobus op facebook, hieronder as kommentaar #3 geplaas.  Dit beantwoord ons vrae tot ’n mate.

————–

Geagte Vriende

Ek weet sommige van julle is bewus van die feit dat ek vanoggend die “steedsHervormers” se vergadering in Meyerspark, Pretoria sou bywoon. Ek sou die Saterdagoggendsessie van Justin Peters (terloops, hy is volgende week in KZN, Oos Londen en die week daarna in George en Kaapstad) se seminaar verruil het vir die “sH-vergadering”. Ek het vanoggend om 07:45 geregistreer by die N.H.Kerk, Meyerspark en nadat ek my koffie gedrink het, het ek na die program van die dag gekyk en spesifiek na hul werksdokument en toe ek onder punt 3, die 3de paragraaf, die volgende gelees: “Ons verstaan onsself as volkskerk…..”, het ek net daar en dan in my kar geklim en weer aangesluit by die Justin Peters konferensie (en wat ’n seen was dit nie!).

Ek is baie jammer, maar “volkskerk”! Nee, daardie pad kan ek nie (weer) loop nie, want behalwe vir die feit dat ’n volkskerk in skrille kontras met die Nuwe Testament staan, is daa net te veel swart, kleurling EN Indier BROERS (en susters) wat ek al ontmoet het en met wie ek baie nou bande in Christus het, wat (dalk) veel meer weet van die Gereformeerde leer as baie van die sH’s – jammer, ek oordeel nie – ek wil net ’n punt probeer beklemtoon! Die vierkleur en ou landsvlag wat kort-kort hul verskyning op die sH se Facebook-blad gemaak het, het my “hoeka” al Donderdag bekommer. Ek gee nie om watter prys hierdie ouens in die sH moet/gaan/kan betaal vir hul oortuigings nie, maar daardie pad is nie die pad vir my as gelowige nie!

Mag u almal ’n baie geseende naweek en veral Sondag ervaar.

Groete in Christus

Kobus

————–

Dankie Kobus vir jou terugvoer oor die Steedshervormers. Uit wat jy skryf is dit duidelik dat hulle ’n politieke agenda het, wat glad nie in lyn is met die sake waarvoor ons, ons beywer nie.

Jan

————–

Die Steedshervormers

Ek het sopas ’n boodskap ontvang dat die steedshervormers (84 gemeentes) status confessionis verklaar het en dat hulle ’n tugsaak teen Andries van Aarde gaan maak. Ek dink ons moet ernstig vir hulle bid. Dit beteken hulle kerk gaan waarskynlik skeur.

Wat Kobus se probleem met hulle “volkskerk teologie” betref:

Ek stem 100% saam met Kobus. Ek kan my geensins met daardie teologie vereenselwig nie.

Ons moet egter besluit of dit hulle buite die Liggaam van Christus plaas of nie. Ek kan my byvoorbeeld ook nie met die teologie van die wederdoop vereenselwig nie, maar ek en my Baptiste broers het ooreengekom om daaroor te verskil, en dit beinvloed geensins die gemeenskap wat ons as lede van dieselfde liggaam met mekaar het nie. Ek bid een maal per week met die Baptiste op ons dorp – hulle weet ek verwerp hulle verwerping van die verbondsdoop – maar dit maak nie ’n duit saak nie. (Ek hoor hier is mense wat hulle weer laat doop het op die forum???) Net so kan ek myself geensins vereenselwig met Armenianisme nie, tog is een van my beste vriende in Christus ’n Armeniaan, wanneer ek by hom in Mosselbaai kuier aanbid ek saam met hom by die AGS.

Ek versoek almal dus dringend om nie die volkskerk teologie as ’n struikelblok te sien om vir hulle te bid nie. Met dit in ag genome moet ons steeds teenoor hulle getuig oor wat die waarheid van die Evangelie is: Dat daar nou nie meer Jood of Griek, slaaf of vryman is nie, maar dat almal een is in Christus!

Dankie almal!

Wynand

————–

Hallo Julle,

Ek hoor wat jul sê en is self baie betrokke by swart christene en ’n swart gemeente.

‘n Volkskerk is ook nie vir my aanvaarbaar nie.

Ons dogter is op KSB by Drs vir Lewe en het bv Zoeloe kamermaats en werk saam onder ” die meisies op straat ” op Vrydagaande.

Maar, ek dink tog ons moet wag vir diegene wat daar was nl. Hetta, Annemarie & Louis se terugvoering.

Laat ons eers mooi luister wat daar gesê is en nie die kind met die badwater uitgooi nie.

Anna

————–

HALLO JULLE

Ek sou ook die Steedshervormers se vergadering bywoon nadat ek Saterdagoggend by my kleinkind se 3de verjaarsdagviering saam met die familie in Irene was..

In die lig van Kobus se belewenis, het ek egter besluit dat dit nie my is nie (Ek het groot vertroue in Kobus se standpunte) – ek het in ’n AWB-soort-huis en apartheidskerk grootgeword, maar nadat ek die Here leer ken het op ’n sendingstasie in KZN (KwaSizabantu), het ek ’n ander pad begin loop. My Pa het ook op sy sterfbed die Here leer ken, maar voor die tyd reeds afstand gedoen van apartheid.

Ek weet egter dat Henrietta daar was en sou graag haar terugvoer wou hoor.

Daar is ongetwyfeld mense onder die SHV’s wat wonderlike kinders van die Here is – mens kan dit sien uit die leerstellige stuk wat hulle gebruik het om ’n status confessionis te verklaar dat hulle erns het met die basiese evangelie.

Die probleem is natuurlik hulle toepassing daarvan i.t.v. broers en susters van ander volke/rasse.. Daar gaan hulle van die spoor af en leef weer terug in die geskiedenis van ons land in. (Jan het dit akkuraat in ’n sms uitgedruk as “..’n verlange na die verlede…”. Met die Vierkleur en die ou SA vlag het die hedendaagse evangelie min te doen – behalwe om dit in geskiedenis-konteks te sien en daaruit te leer. God was ook getrou aan ons in daardie jare, maar ek dink nie Hy wil hê ons moet nou daardie vlae swaai nie…

Die feit dat hulle – soos Wynand berig – ’n tugsaak teen (prof) Andries van Aarde wil loods, is ook goeie nuus. Lg is die skrywer van die Boek “Fatherless in Galilee” – wat ’n ketter-boek by uitnemendheid is, net soos BOK (Ben du Toit) se boek “God? Geloof ’n postmoderne tyd” – ek dink die boek is egter meer direk ‘ketters’ as BOK se boek… BOK se boek bevat wel heelwat wollerige teologie… Van Aarde s’n is meer direk oor die liberale teologiese beskouing dat Jesus nie God as direkte Vader het nie.. wat hom (Van Aarde) duideliker direk in die kamp van die antichris sit.. nie dat BOK nie duidelik ook daar is nie.. – maar BOK is eenvoudig slinkser, en hy het die Alg Sinode van die NGK in Okt 2011 se besluit oor die non-bestaan vd duiwel aan sy kant..

Anna het Saterdag per sms ’n groot waarheid oor die SHV’s kwytgeraak: ‘Hul verloor tred met die werklikheid: ‘My huis sal ’n huis van gebed vd nasies wees”.

Na my mening is ’n volkskerk wegkruipplek vir bedekte rassisme.

(Eerlik: As Afrikaner: Ek hou van ’n volkskerk. Ek wens ons kon dit hê… dit maak dinge maklik…eie taal, kultuur e.s.m. maar ons kan nie onder die omstandighede wat die Here nou vir ons vra om te doen, doen, deur middel van ’n volkskerk nie). Daarom: NON! NEIN! NJET! NO!

SKAKELING/KOORDINERING

Die vraag is natuurlik hoe ‘relate’ ons met hulle? In liefde? Of glad nie?

Alhoewel ons as individue funksioneer is dit my gevoel is dat ons hier en daar dit aan hulle moet deurgee dat ons hulle ondersteun in hulle strewe na die ware evangelie en die waarheid wil terugbring in die Hervormde Kerk, en dat ons sterk in die verband ook vir hulle bid, maar dat mens nie met die volkskerk-gedagte saamgaan nie.

Dit sal daarom ons openbare skakeling en ondersteuning met hulle in die wiele ry..

Ons sit met die probleem dat hulle met die volkskerk-gedagte ons in skietlyn sal plaas vir die libs in die NGK (en elders), want dit sal ons brandmerk as werklik terug-op-die-brug mense en dit sal ons teologiese argumente in die NGK sterk in die wiele ry en ons eintlik weerloos maak, en uitlewer as ’n maklike teiken om afgeskiet te word. Opponente sal eenvoudig ’n vierkleur oor ons verf en ons op die wyse elimineer. Ons kan dit ongelukkig nie toelaat nie.

SONDE?

Iets wat ek graag van julle sou wou hoor: Tameletjie..

Is die nastrewing van ’n volkskerk sonde per sé?

As ons ons gedagtes hieroor kan suiwer kry, kan ons ook deurdagtig met hulle omgaan.

Vrede!

Sommie

————–

Beste Wynand (e.a.)

Baie dankie vir jou E-Pos t.o.v. die steedsHervormers. Ek het ook die verklaring ontvang en gelees en sal beslis bid oor die aangeleentheid – vir die “sH’s” en spesifiek t.o.v. van Aarde.

Net ter wille daarvan om enige moontlike misverstande uit die weg te ruim, wil ek graag reageer op wat jy geskryf het t.o.v. my “probleem” en die hele “volkskerk teologie” aangeleentheid.

1. Ek beskou nie jou skrywe as ’n dwarsklap na my kant toe nie – ek ervaar steeds ’n eensgeindheid t.o.v. die groter saak.

2. Ek sal altyd ’n probleem met ’n “volkskerk teologie” hê omdat dit hoegenaamd nié die Nuwe Testamentiese model vir die kerk is nie, MAAR soos jy tereg sê, indien ek wat ’n kredobaptis is, julle as paedobaptiste, steeds sien as my broers (en susters) kan en moet en wil ek ook enige ander groepering wat staan vir die Waarheid en wat waarlik die Here Jesus Christus as Verlosser en Here aanbid en navolg, aanvaar as my broers in die Here Jesus Christus en sal ek steeds vir hulle bid – dit sluit dus broers in die “sH” in.

3. Ek besef ook (en bid daarvoor) dat die “sH’s” dalk nog vorentoe kan afsien van die hele gedagte van ’n volkskerk (dalk het hulle alreeds Saterdag in daardie rigting gepraat – ek weet nie. Dalk kan Henrietta vir ons meer duidelikheid hieroor gee).

4. Ek het Saterdag verdeelde verpligtinge en voorkeure gehad en kom ek wees eerlik en deursigtig, ek het enersyds net hoegenaamd nie tuis gevoel by die vergadering nie (vergeet eers van die redes, want dit is uiterlik en minder belangrik) en andersyds wou ek bitter graag die derde en vierde sessies van Justin Peters se seminaar bywoon – dit was dus bloot ’n emosioneel en persoonlike keuse en toe ek die paragraaf sien wat handel oor die “volkskerk” gedagte, het die keuse om te bly of te “gly”, vir my baie maklik geraak.

5. Ek het die brief wat ek aan die N.G. Kerk gerig het, geskryf, omdat my hart by die N.G.K. en my broers in die N.G.K. lê en het ek dus nie dieselfde “passie” vir die N.H.K. nie. Laasgenoemde onthef my egter nie daarvan om vir my broers in die N.H.K. te bid nie en ook nie om vorentoe dalk met hulle “skouer te skuur” nie.

6. Wat die res van die sake aan betref, bid ek vir jou.

Groete in Christus Jesus

Kobus

————–

Op hul vorige vergadering by Cullinan, ’n paar maande gelede, het hulle my gevra om aan die einde van hul vergadering iets te sê (vanaf die kant van ons ouens wat baklei teen die liberale denke in die NG Kerk).

Ek het vir hulle gesê dat ons op sekere terreine met hulle kan saamwerk.

Ek het spesifiek die woorde “sekere” gebruik omdat ek nie gemaklik was met die rassistiese onderbou wat ek veral by die aanwesiges daar opgetel het nie.

Laasgenoemde het ek nie toe daar uitgespel nie – noem dit maar “diplomasie” as julle wil.

Dit was dus in lyn met wat Kobus, Jan, Wynand en Sommie nou geskryf het.

Groete,

Hennie

————–

Indien ons enige sweem van rassisme (Dié begrip moet in hierdie gesprek ook eers baie duidelik gedefinieer word) kon wegdink en onbevooroordeeld daarvan kennis neem dat God se ganse skepping gekenmerk word deur orde/’n ordening waarvan ons, onder meer, ook in 1 Kor.14:33 lees; in Deut.32:8 lees dat God mense in volke ingedeel en bepaalde grense vir hulle gestel het, en in Openb. 7:9, 11:9 en 14:6 lees dat volke selfs tot in die oordeelsdag sal bestaan, dan word ek daarvan oortuig dat volke ’n Godgewilde verskynsel is. Volkwees as sodanig is vir my dus nie ’n sonde nie, en ek moet eers van die teendeel oortuig word. Deel van my totale omvangryke persoonlike identiteit (wat ek as Godgegewe beskou) sluit in my volksidentiteit as synde behorende tot ’n bepaalde volk. Vir my is dit ’n feit dat ek verbind is aan ’n bepaalde volk – historiesgewys, taalgewys, geloofsgewys, kultuurgewys, toekomsgewys – en dat ek nie my verbintenis aan my volk sonder meer kan opsê, geringskat of in gevaar stel nie. Deel van my persoonlike totale erfenis is dus ook my volkserfenis waaromtrent ek myself verantwoordelik voel om dit vir die nageslag te bewaar en aan hulle te oorhandig by my heengaan.

My oortuiging is dat volke Godgewil is. Daar sal onderskei kan word tussen gekerstende en ongekerstende volke. In die geval van gekerstende volke wil ek waag om na diesulkes as kerkvolke te verwys. Elke sodanige kerkvolk sal oor die eie kerk beskik wat ek ’n volkskerk sal noem. Sodanige kerkvolke met hul volkskerke staan onder opdrag om die evangelie uit te dra in ooreenstemming met Christus se laaste opdrag voor Sy hemelvaart. Dit beteken nie ’n opheffing van God se ordening van volke nie. Gekerstende volke, as kerkvolke, moet daarom elkeen oor die eie volkskerk beskik. En natuurlik verhinder niks hulle, as kerke, om saam te werk in die belang van God se Koninkryk nie, MAAR dit is nié nodig om op mekaar te skote te sit en met die tonge in mekaar se kieste nie. Belangrik egter in al hierdie dinge, is die respek vir keuse wat elkeen volgens die eie oortuigings toegelaat moet word. Kies dus of jy gesamentlik met almal, ongeag, wil aanbid, en of jy in volksverband wil aanbid. Kies of jy jou kinders wil sien trou oor die kleurgrens, en of jy hulle graag wil sien bly met ’n eie identiteit soos oorgeërf van ons voorsate. Indien ons mekaar se keuse-uitoefening sou respekteer en akkommodeer, hoef die voorstanders van vermenging nie die voorstanders van identiteitsbehoud te verwyt nie, en andersom.

Tommie

————–

Kobus

Dit was beslis nie ’n dwarsklap na jou toe nie! 🙂

Ek wou maar net aantoon dat daar ruimte vir teologiese verskille in die Liggaam van Christus is. Ek het by voorbeeld nie ’n probleem om saam met Baptiste, Armeniane of Dispensaionaliste te aanbid nie. Soos ek gesê het, ek het ernstige probleme met die konsep van ’n volkskerk, en ek din k die res van Jesus se liggaam het ’n besliste roeping om teenoor hulle daaroor te getuig. Dit beteken egter nie dat hulle nie my broers en susters in Christus is nie.

Wat die EC ouens betref, hulle is nie Christene nie. Hulle teologie bring verwoesting en verderf, daarom beveg ek hulle hand en tand.

Ons moet almal besluit waar die grense vir ons lê. Persoonlik sal ek maklik by ons plaaslike Baptiste gemeente inskakel, ten spyte van hulle verwardheid oor die doop :-). Ek dink ek sal moeiliker by ’n volkskerk inskakel.

Daar is grade van ongemak.

Groetnis

Wynand

————–

Dankie Wynand vir jou reaksie en veral vir die glimlaggende outjie aan die einde van jou opmerking oor “die verwardheid van die doop”. Soos reeds in my vorige brief vermeld, is ek roerend eens met jou en veral t.o.v. op jou opmerkings oor die EC en ook die hele gedagte aan ’n volkskerk. Ek stem volmondig saam met jou oor die ander groeperinge (ook soos reeds vermeld) – ek weet nou weer, nie “so lekker” van die Armeniane nie 😉 – soos my skoonsuster altyd se: “Ai tog, the story of the church!”

Groetnis

Kobus

————–

Oom Gideon, soos ek dit sien was die Babelse taalverwarring en dus ook die ontstaan van volke die gevolg van die sonde. Dit was dus nie God se oorspronklike bedoeling vir die skepping nie. In die Bybel is God se “volk” altyd dié wat deur Hom uitverkies is – in die Ou Testament was dit ’n etniese groep, in die Nuwe Testament nie. Paulus sê juis baie ondubbelsinnig dat Christus alle etniese grense kom afbreek het.

Wynand

————–

Liewe Oom Gideon,

Die saak moet ons probeer eenvoudig hou.

En ons moet mooi na mekaar luister.

Na wat ek verneem, was die “Volkskerk gedagte ” glad nie eers veel na verwys by die SH’s nie. Inteendeel, daar is duidelik gestel dat geen politiek opgehaal mag word nie.

Die hoofsaak was oor die onhoudbare situasie met die dwalings, dreigemente & aanvegtinge uit eie liberale geledere (soos wat ons ook reeds goed ken) & voorgenome optrede & hul verklaring ( Status Confessionis )

Ek respekteer hul dat daar duidelik standpunt ingeneem word vir die WOORD & GOD DRIEëNIG en teen dwaling.

Ons moet gaan kyk wat doen ander Christene wie se plan werk met die akkomodering van broers & susters in Christus van ander tale & kulture en by hul gaan kers opsteek.

Bv op Kwasizabantu in Natal word dienste gewoonlik in Engels gehou met ’n Zoeloe tolk. Daar is ook ’n groep Duitsers vir wie in Duits getolk word asook Franse in Frans – anders moet hul by die Engelse boodskap inval.

Dit geskied als in een lokaal. Die Eng en Zoeloe is voor ( by die kateder ) en die Duitsers agter in die saal.

As dit bv ’n Afrikaanse troue is, sal die boodskap in Afrikaans gebring word met ’n tolk na Zoeloe.

By ’n groot bv Konferensie word ook in Sotho e.a. tale getolk na gelang van die behoefte.

By ons in Mauersnek by die Sothogemeente is die voertaal, sang, ens in Sotho met ’n tolk na Engels.

Daar word ook liedere gesing in Engels.

Ek dink enige gemeente het die volste reg om sy prediking,sang ens in sy taal te hou volgens hul eie gebruike ens.

Daar moet net voorsiening gemaak word vir ’n tolk vir besoekers van ’n ander taalgroep wat Engels kan verstaan .Hul kan bv agter ’n glasgordyn sit.

Dit is vir my egter ’n leemte by ons NG Gemeentes op Ladybrand en ander dorpe.

(Christen Indiers & Koreane gaan na die Charismatiese of Pinksterkerke waar hul akkomodeer word.)

Dis vir my jammer.

Sou daar besoekers wees wat Afrikaans nie verstaan nie moet vir hul voorsiening gemaak word.

Die Bybel sê “My huis sal ’n huis van gebed wees vir al die nasies”.

Dit is ook Jesus se groot Opdrag dat die boodskap na alle tale en nasies geneem moet word.

Groetnis,

Anna

————–

Liewe Julle,

Ek kan my ook nie vereenselwig met die Volkskerkgedagte as dit ’n teruggryp na apartheid en ’n uitsluiting van ander is nie.

Mens moet hoor wat hul daarmee bedoel.

En dan moet ons maar self kyk in watter mate is die NGK nie in praktyk nog in wese ’n “volkskerk” nie!

Die skeuring is onafwendbaar – hoe werk ’n mens saam met liberales ?

Hoe gaan die NGK vorentoe saamwerk/trek in dieselfde juk as die liberales ?

Verder stem ek saam met Wynand dat ons na die groter prentjie moet kyk van die Liggaam van Christus.

Ons kan mos saam meer effektief baklei teen bv Andries van Aarde se dwaling.

Die Bybels sê tog in Johannes 13 “Hieraan sal die wêreld weet dat julle My dissipels is, as jul mekaar liefhet.”

Waarom kan Christen Evangeliese Kerke nie ’n beweging vorm nie?

Kyk net hoe het Jan publiek, Afriforum, Cosatu ens saamgestaan met die e-tolstelsel. Dis ’n voorbeeld vir ons as Christene.

Gereformeerdes, NG’s, Baptiste, Metodiste ens. veg saam teen Dwaling & Godslastering op KB VuisBoek.

Ek het waardering vir Coert, Johann & Kobus in die verband.

Soos Hennie sê ons kan saamwerk op sekere terreine met mekaar.

Is daar nie ’n manier wat ons Sommie se geldige beswaar oor ’n etiket van die liberales kan hanteer nie?

Liefdegroete,

Anna

————–

Ek sou graag julle e-posse (Tommie, Kobus, Hennie en Wynand) oor die Volkskerk wou probeer saamvat.

Tommie het nogal ’n besondere omskrywing (as ons dit so kan noem) van Volkskerk. Daarom, dink ek, moet ons eerstens probeer verstaan wat “die ander ou” daarmee bedoel. Tweedens dink ek nie dat ons kan Volkskerk en “Nie-Volkskerk” sommer net so soos wit-en-swart teenoor mekaar stel nie. Is “Volkskerk” noodwendig eksklusief, of beteken dit dat enige ander kultuur, taal, ras en/of nasie welkom is in (bv. eredienste) – solank daardie (denominasie?) daarop aanspraak maak dat sy volks-eie, taal en kultuur in byeenkomste, vergaderings, eredienste ens. gehandhaaf word? Beteken “Nie-Volkskerk” dat alle kulture en tale behoort te verenig in een groot, inklusiewe geloofsgemeenskap waarin al die kulture, tale ens. geakommodeer en elkeen tot sy reg sal kom?

Dit is waar dat God die Skepper is van nasies, volke, stamme en tale. ’n Uitvloeisel daarvan is ook kulture. Indien enige groepering graag die verskillende aspekte van sy volks-eie (soos die verstaan van aanbidding, belewenis, aanvoeling, kultuurbegrippe, sang, taal ens.) wil behou, beteken dit noodwendig dat hulle eksklusief moet/wil wees ten opsigte van ras, anderstaliges, ander volke of nasies? Wanneer word dit ’n Volkskerk? Is die NG Kerk ’n Volkskerk? Is die NHK, GK, VGK, RCA ens. Volkskerke?

Dit is maar ’n paar gedagtes. Indien die (NGK, RCA, VGK en (Indiërs?) gereformeerde kerkde saamsmelt tot een denominasie, watter kultuur-eie, volks-eie, begrips/verstaans-elemente geakommodeer word, en hoe?

Is ’n Volkskerk ’n denominasie/groepering wat vanuit sy volks-eie en kultuur-eie op ander groeperinge neersien, hulle minderwaardig ag, nie met hulle oor (watter grense ookal) wil saamwerk, mekaar se hande wil vat nie, of hulle nie respekteer nie, of hulle nie as broers en susters in Jesus Christus wil sien nie?

In kort: ek is nie seker wat eintlik met “Volkskerk” bedoel word nie. Is Tommie se omskrywing geldig, of hoe verskil dit van die “volkskerk” wat ons nie kan aanvaar nie?

Groetnis,

Gideon

————–

Ek dink eintlik die eenvoudige vraag is of met “volkskerk” bedoel word dat mense uitgesluit word as lidmate omdat hulle nie aan ’n bepaalde volk behoort nie. Indien wél, is die volgende vraag hoe dit versoen word met Paulus se stelling dat daar nie meer ’n onderskeid is nie. Ek is self nie ’n teoloog nie, maar sal graag wil weet in watter konteks Paulus dit gesê het en wat hy daarmee wou bereik.

Seënwense,

Manie

————–

Jesus het het etniese grense kom afbreek in die sin dat hy die mure wat ons skei en verwyder kom afbreek het. Tale, volke en kulture sal daar wees tot die einde toe. Dit is nie in sigself sonde nie.

Dis my siening.

Jan

————–

Jan, help tog ’n bietjie met “Jesus se afbreking van etniese grense”. Ek volg nie so mooi nie. Wat bedoel jy met die “mure wat ons skei en verwyder kom afbreek het”? Verwys jy na “etniese mure”? Wat moet ons verstaan onder “etnies”? Ek vra dié vraag omdat dié begrip nie vir my heeltemal so duidelik uit jou opmerking is nie. Wanneer jy dan klarigheid gegee het oor wat ons onder “etnies” moet verstaan, en derhalwe kan verstaan wat met “etniese mure” bedoel word, waar in die Bybel kan ons dit dan nalees van “Jesus se afbreking van etniese grense?” Indien onder “etnies” ook “volk” verstaan sou word, dan is een van my vrae : Maar waarom sou Jesus volksmure kom afbreek terwyl volke se voortbestaan tot op die oordeelsdag bepaal is? ’n Verdere vraag: Waarom het voorafgegane geslagte van Christengelowiges dan nie ook tot die besef gekom dat Jesus gekom het om ook etniese grense af te breek nie? Of het hulle dalk tot dié ontdekking gekom en maar net daaroor geswyg? As onder “etnies” dan “volk” verstaan kan word, is dit nie so dat daar wel voorbeelde van gevalle in die Bybel is van huwelike oor etniese grense heen nie? Ek dink aan Naomi se skoondogter, Rut, wat ’n Moabiet was en later met Boas, ’n Israeliet, getrou het – ’n voorsaat van Jesus self. Was Timoteus se pa nie ’n Griek terwyl sy ma ’n Israeliet was nie? Ek self het nog nooit probleme met sodanige oor-etniese-grense-heen Bybelse huwelike gehad nie, omdat ek nog altyd geglo het dat dit Godgewilde huwelike in ooreenstemming met Sy Goddelike Raadsplan was. Maar dat Jesus aanwysbaar “etniese grense kom afbreek het”, dit is die eerste woord wat ek daarvan hoor. Derhalwe, dink ek, kan dié stelling nie in die lug bly hang sonder ’n verduideliking nie.

Wat wel vir my sin sal maak, is dat in die Nuwe Testamentiese bedeling die blye boodskap van die evangelie wat bestem is vir alle volke (“etniese groepe”) na hulle uitgedra is, dat dié vroeëre heidense “etniese groepe” hulle tot die Christendom bekeer het en dat, op hierdie grondslag van bekering, daar nou sprake is van die “afbreking van etniese grense”. Met ander woorde, die “grense” wat hier ter sprake kom, is nie biologiese grense in die sin van Jesus het almal nou aangemoedig om maar vrylik oor “etniese grense” met mekaar te ondertrou, volksgrense af te breek en die ganse mensdom tot een “grys massa” te laat versmelt nie, maar die grense wat hier ter sprake is, geloofsgrense. Waar daar voor Jesus se koms duidelik sprake was van ’n grens tussen die Jode en hul geloof, en die nie-Jode in hul ongelowige heidense geloofstoestand, word dié geloofsgrens nou deurbreek sodat ook alle nie-Jode deelagtig kan word in die ware geloof in die Drieënige God wat voorheen “begrens” en beperk was tot die nakomelinge van Abraham as die eerste deur-God-geroepene. In hierdie sin, dan ja, was Jesus beslis ’n “grensverbreker” wat die grense van ongeloof en ’n sondige bestaan van heidene deurbreek het met die aanbieding van die ewige lewe indien hulle Hom as Verlosser sou aanvaar deur die versoening wat Hy vir alle mense (‘n bewys van grensdeurbreking) deur Sy kruisdood bewerkstellig het. Het Jesus hiermee ook nou alle bestaande taal- en kultuurgrense (lees: volksgrense) kom afbreek met die voorskrif dat daar nou gesamentlike aanbidding in ’n “ooreengekome, bedingde en konsessusbereikte” medium, formaat en gebou sal geskied? Of het Hy dit aan die Trooster, soos wat Hy Sy volgelinge belowe het Hy sal stuur en wel gestuur het, oorgelaat om Sy volgelinge te lei, en dat die Heilige Gees oor al die eeue heen Jesus se Liggaam, Sy Kerk, wel gelei het soos wat dit nog tot vandag die geval is? Jan, sou jy kon sê dat jy van oordeel is dat die Kerk van alle eeue ontwikkel het juis onder die leiding van die Heilige Gees, met natuurlik die duidelik aanwysbare intervensies van Satan in die loop van die Kerkgeskiedenis, of meen jy dat die Kerk onder die leiding van ’n ander gees ontwikkel het tot waar dit vandag staan? Vandag neem die verloop van gebeure in dieselfde Kerk van gister en eergister egter ’n ander wending aan wat duidelik op ’n ander koers dui. Die Kerk staan nie meer vir my, volgens die jongste kerklike tendense, onder die leiding van dieselfde Gees wat dit tot hier gebring het nie.

Ek beskou hierdie terrein as ’n uiters sensitiewe terrein en ’n terrein waaroor daar geen misverstande mag wees nie. Ek sien dit ook as ’n terrein by uitstek waabinne Satan sy kleim baie duidelik kom afsteek om gelowiges te mislei, verwar,teenoor mekaar te laat stelling inneem, onderling te verdeel en met skuldgevoelens te bind, skuldgevoelens eerder teenoor die MENS as teenoor GOD.

Jan, ek verneem graag van jou as iemand wie se leiding ek nog altyd hoog aangeslaan het.

Tommie

————–

Die hele Volkskerk gesprek is nogal ’n interessante onderwerp, veral in die Suid-Afrikaanse konteks. As ek mag vra, wie van ons onderhou nog die gelofte van 16 Desember?

Miskien moet ’n mens dalk eerder vra wie is veronderstel om die gelofte te onderhou. Is dit tegnies gesproke slegs die afstammelinge van die persone wat wel op 16 Desember teenwoordig was of staan alle blanke Suid-Afrikaners onder die gelofte.

Vroeer jare was die NG kerk (Susterskerke) as “volkskerk” baie prominent in die onderhouding van die Gelofte nou word daar gese die Belhar belydenis kom van God af?

Wat is nou anders……..?

Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek is dalk meer liberaal as die meeste van julle op die forum, maar is dit verkeerd van die Afrikaner om God te wil aanbid as ’n volk op sy eie manier onder sy eie kultuur.

Ek weet ek speel nou bietjie Duiwels advokaat hier, en ek stem ook nie saam dat Jesus se Verlossing slegs vir ’n bepaalde groep mense is nie, of dit nou betrekking het op ras, kleur kultuur of die hoeveelheid geld wat jy in die bank het nie.

Ek dink wel dat die Afrikaner besig is om sy God te verraai en dalk homself in Esau se skoene bevind met ’n vet pot lensie sop wat wink….!?!

Groete,

Johann

————–

Johann,

Baie dankie vir ’n baie interessante brief. Miskien moet ons eers vir mekaar se wat ons verstaan onder die uitdrukking “volkskerk”. Deurdat ek nie my eie definisie verstrek nie, tooi my in dieselfde kleed as jy Johann – duiwelsadvokaat!

Kobus

————–

As met volkskerk bedoel word dat ’n eie taal en kultuur meestal in die kerk gehandhaaf word, klink dit vir my reg, maar dit mag na my mening nie die volgende beteken nie:

(Ek probeer dit nou heel prakties maak.)

1.  Geen sendingwerk onder ander nie.

2.  Geen poging om by ander ook volkskerke tot stand te bring nie.

3.  Geen toelating van ander in ’n spesifieke volkskerk nie, byvoorbeeld as daar net 10 Zoeloes in my kerkomgewing is, en hulle geen ordentlike kerk anders as myne kan bywoon nie.

4.  Geen toelating van byvoorbeeld swart kinders wat deur blanke gesinne in my kerk grootgemaak word nie.

5.  Geen toelating van mense uit ander volke wat ondanks hul eie moontlike volkskerk, by my kerk lidmaat wil wees en tevrede is met die taal en kultuur in my kerk nie.

6.  Geen toelating van mense met ’n gemengde huwelik in my kerk nie.

So die Steedshervormers sal inderdaad hul volkskerk duidelik moet definieer.

Groete,

Hennie

————–

Baie sinvolle voorstelle Hennie. Ek ondersteun dit heelhartig.

Hierdie is ’n baie belangrike onderwerp wat aangeroer word en ek gaan dit as belangrik bespreek vanuit ’n effens ander oogpunt.

Die behoudende kamp (ons klompie gegote fundamentaliste) word gereeld beskuldig van assosiasie met rassisme en politieke ver-regsheid. Dit is ook mees onlangs in ’n artikel oor die steedsHervormers opgebring. Ons weet dis nie waar nie, net soos ons weet dat enige sweempie inherente rassisme die hasepad kies wanneer jy die skeppingsleer ‘boots & all’ aanhang.

Maar dit is ’n stigma wat bly kleef en wat persone soos JOKK en sy meelopers genadeloos sal uitbuit.

Goed opgesom Hennie!

Groete,

Coert

————–

Ek stem 100% saam met Hennie, ek sal tog nogal wil hoor, wat julle gevoel oor Geloftedag is.Veronderstel jy het nou 10 Zoeloes in jou kerk omdat hulle nie ’n kerk het om na toe te gaan nie, hoe herdenk jy ’n Gelofte soos Bloedrivier en onderskryf dan ook nog Belhar? Is dit enigsins moontlik?

Johann

————–

Dankie Hennie

Ek kan nie meer met jou saamstem nie. Ons is bv. ’n Afrikaanse gemeente wat bv. ’n man uit Malawi kkomodeer, omdat hy nie ’n ander kerk kan vind waar hy (volgens hom) die Waarheidsevangelie kan hoor EN wat bereid is om hom te akkomodeer nie – ons tolk elke Sondag vir hom. Ons gemeente is nie baie groot nie en ons het dit al oorweeg om dalk in Engels te preek ter wille daarvan om meer mense met die Evangelie te bereik, maar het tog uiteindelik daarteen besluit, omdat ons taal vir ons belangrik is en veral omdat die meerderheid lidmate net eenvoudig meer gemaklik is met Afrikaanse teologiese terme, ens. Indien ’n groot klomp anderstaliges by ons sou wou aansluit en dalk die meerdeheid uitmaak, sal ons die hele kwessie (dalk) weer in heroorweging moet neem. Met die res van die voorwaardes stem ek heelhartig saam.

Kobus

————–

Wat Geloftedag betref, vier ons gemeente dit nog altyd, maar met die klem op versoening. Eintlik sal dit ideaal wees as swart mense ook aan die diens kan deelneem. Dit gaan nie oor ’n ophemeling van een ras bo ’n ander nie. ’n Mens kan nog altyd die Here dank vir die Christene wie se lewens gespaar is by Bloedrivier, wat dit dan ook moontlik gemaak het om uiteindelik agterna versoenend uit te reik na die Zoeloes wat nie die Here geken het nie. Ek het gehoor/gelees van sendelinge wat juis in die 19de eeu spesifiek in daardie dele van Natal sendingwerk gaan doen het sodat versoening moontlik gemaak kan word. Ek kan ongelukkig nie my bron onthou nie, maar dit behoort iewers op Internet beskikbaar te wees.

Groete,

Manie

————–

Liewe Vriende,

Mag ek ’n bydrae lewer tot die diskussie rondom Geloftedag, terwyl ek in Natal gebore en getoë is?

Wat in 1838 by Bloedrivier gebeur het, was dat ’n groepie gelowiges die Here in ’n oomblik van uiterste benoudheid om hulp aangeroep het en Hy hulle uitredding gebied het. Die klem val dus nie daarop dat hulle Afrikaners was nie, maar dat hulle gelowiges in die Here Jesus Christus was. Daarom is die hoofklem in die gelofte dank aan die Here wat uitkoms gegee het. Die oprigting van die geloftekerk in PMB is ’n teken van hulle dankbaarheid en om Sy Naam te verheerlik. So ook is die nakoming van die dag en datum om die nageslag te leer om die roem en eer aan die Here te gee omdat Hy die oorwinning gegee het. En let daarop, hierdie gelofte is afgelê voordat die oorwinning behaal is.

Later jare is by Dingaanstat, waar Dingaan se kraal was, ’n kerkgebou opgerig met ’n hoë betonkruis langsaan waar die evangelie aan die Zoeloevolk verkondig is. Daar het leraars en evangeliste hulle opleiding ontvang en van daar het die evangelie onder die inwoners van die gebied versprei.

Wat die volkskerk betref, is daar nie so iets soos ’n volkskerk nie, want die kerk behoort aan Jesus Christus en aan geen volk nie. Dit is so dat elke mens op aarde na Pinkster die evangelie in sy eie taal moet hoor en daarom het die NG Kerk deur die jare die evangelie in baie verskillende tale aan verskillende bevolkingsgroepe verkondig. Die kerk onder verskillende volkere is egter die kerk van Jesus Christus. So bely ons immers in Artikel 27 van die NGB: Bowendien is hierdie heilige kerk nie geleë in, gebonde aan of bepaal tot sekere persone nie, maar dit is verspreid en verstrooid oor die hele wêreld; nogtans is dit saamgevoeg en verenig met hart en wil in een en dieselfde Gees, deur die krag van die geloof.

Baie dankie,

Hendrik

————–

Hennie – het dit raak opgesom & dis praktiese kwessies wat mens duidelikheid oor moet hê sodat mens die dag as dit jou pad kruis dit op ’n christelik,waardige wyse hanteer word.

Justus Tsungu is deur ’n blanke egpaar grootgemaak.

Wat Bloedrivier betref , moet ons weereens die Bybel as maatstaf gebruik – ons moet ons geloftes aan die Here hou.

Ons voorouers het hul in hul nood na die Here gewend wat dmv ’n wonderwerk uitkoms gegee het.

Ons dank & eer Hom daarvoor.Nie soseer oor die oorwinning oor die Zoeloes nie – soos baie dit uit verband wil ruk.

Die inhoud van die gelofte is o.m.dat ons dit aan ons kinders moet oordra.

Ons as ouers kon seker meer gedoen het – alhoewel ons saam die eredienste bygewoon het. Die kinders dit nog in Geskiedenis in die skool geleer.

My ouers, veral my Ma het ons hieroor geleer en ernstig op die hart gedruk.

My Pa, ’n boer, het die dag gehou.

Ons het ook die geleenthede bygewoon by die Karel Landman- monument naby Alexandria.

Dis deel van ons volksgeskiedenis & kultuurerfenis waarop ons trots kan wees.

Die Amerikaners het Thanksgiving en ander volke hul geleenthede.

So ons mag ons syne ook hê. Miskien moet ons waak teen misplaaste skuldgevoelens oor apartheid.

Om dit te hou is vir my ’n vreugde & nie ’n straf of verpligting nie.

Met die nuwe Suid-Afrika was daar op ’n stadium nie dienste gehou in die kerk nie.

Ons het wel saam met ’n groepie Christene bymekaar gekom.

Die Dopper ds het gereël dat dit weer beurtelings gehou word tussen die GK & NGK.

‘n Erediens met o.a. die voorlees van die Gelofte, kuier oor koffie en tee (outydse melktert & koeksisters) en ’n interessante en insiggewende Geloftegeskiedenisvideo.

Ons as Christene kan nuwe inhoud daaraan gee deur ons mede-Christene, veral swartmense te nooi en dit waarlik Versoeningsdag te maak.

Ja, ek sal graag die 10 Zoeloe – lidmate mooi wil inlig wat die eintlike betekenis is van die Gelofte nl eer aan God vir die wonderwerk en dat wonderwerke vandag nog kan gebeur. Dit kan eintlik ’n wonderlike evangelisasie – geleentheid en ’n uitklaring van misverstande wees!

As student was ons by Dingaanstat in Natal waar ’n sendingkerk met ’n reusekruis opgerig is wat mens myle ver kon sien.

Miskien weet oom Hennie of Peet Botha meer van die kerk?

In die lig van bg – is dit toevallig dat Kwasizabantu sendingstasie en Angus Buchan in Natal is?

Dink net wat kan in ons land gebeur as ons soos die Voortrekkers ons vir ’n week lank verootmoedig voor die Here!

Anna

————–

Johann, jy is reg – die volkskerkbegrip is ’n interessante onderwerp. Én ek stem saam met jou op al die punte. As mens by ’n volkskerk sou bedoel dat ander minderwaardig geag word en uitgesluit word op grond van ras, volk, nasie en/of taal, dan wil ek ook niks daarmee te doen hê nie. Die vraag is egter of dit noodwendig só verstaan word as (bv.) daar ’n begeerte is om jou eie manier van verstaan, doen en sê volgens jou kultuur-eie en volks-eie te wil beleef. En ja – niemand kan of mag sê dat enige groepering uitgesluit is van die evangelie van Jesus Christus nie.

Kom ons vat ’n voorbeeld in ons land: Swart mense se eredienste duur tipies baie lank – self ’n hele halwe dag (of langer?). In daardie erediens is hulle styl nie soos wat ek mee grootgeword het nie. Dit is vir my vreemd. Ek het niks daarteen nie en ek gun dit vir hulle, maar my kultuur-eie is ongemaklik daarmee. My belewenis vir aanbidding is anders. In “die ou dae” was die styl van aanbidding juis een van die redes waarom ek liewer uit die (wit) AGS padgegee het. Dit het ook meegewerk dat die AGS later geskeur het. Metafories gesproke: Selfs broers en susters uit dieselfde huisgesin het elkeen sy/haar eie manier van dinge doen, maar hulle neem nie mekaar kwalik of sluit mekaar uit net omdat hulle nie identies in alles opsigte is (of lewe) nie.

Jy roer ’n interessante punt aan tov. afstamming van dié wat die belofte gemaak het. Ek meen dat dit ook van toepassing sou wees op hulle mede-Afrikaners wat nie juis net daar teenwoordig was nie – dus ’n breë toepassing. Daarom sou dit ook van toepassing gewees het op alle Afrikaners in die res van die land.

Verder sou ek sê dat dit van toepassing sou wees op elkeen wat ingekoop het op Christen-Afrikanerskap – biologiese afstamming of nie. Toe ek jou vraag lees, het ek onwillekeurig gedink aan buitestaanders/heidene wat ingekoop het op deel wees van God se verbondsvolk, Israel. Hulle was nie biologiese afstammelinge nie, maar het tog vir alle doeleindes Israeliete/verbondsvolk geword.

Die breë gedagte is natuurlik om God te eer en die verlossing wat Hy by Bloedrivier bewerk het, te erken. Die slag van Bloedrivier is immers ’n integrale deel van die Afrikanergeskiedenis.

Goeie vraag: Ja, as gelowige Afrikaner beskou ek myself gebonde aan die Voortrekkers se belofte – biologiese afstamming “of te not”! Sou graag wou hoor indien ek êrens verkeerd dink oor dié dinge.

Groetnis,

Gideon

————–

Dankie Tommie vir jou mooi woorde. Ek is (soos altyd!) onder tydsdruk en daarom gaan ek kortliks antwoord in die hoop dat jy my verstaan. Voel vry om weer te skryf.

Ek het gereageer op Wynand se skrywe, waarin hy gesê het: Paulus sê juis baie ondubbelsinnig dat Christus alle etniese grense kom afbreek het.

Die punt wat ek wou maak word goed deur jou verwoord as jy sê, soos ek jou verstaan dat Jesus nie gekom het om volksmure af te breek nie. Die gesprek oor Geloftedag is vir my hier baie gepas. Ek voel ons mag en behoort Geloftedag te vier as Afrikaners. Daar is plek vir volksidentiteit in die koninkryk van God.

Ef 2:14 is hier ter sprake: Eph 2:14 Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ’n muur skeiding gemaak het. Christus het die vyandskap, die mure wat skeiding gemaak het kom afbreek, sodat daar vrede kan wees. Jy het egter nie die bestaan van volke en nasies en tale opgehef nie.

Jammer dit is so vlugtig, maar ek hoop dit antwoord jou vraag.

Jan

————–

Hi weer Almal,

Dankie vir julle bydrae tot die onderwerp, ek was op ’n stadium bekommerd dat ek dalk die kat aan die stert beet het my verstaan van Christen wees en dan spesifiek Geloftedag. Ek moet se ek voel beter oor die saak nadat ek julle antwoorde gelees het.

Groete,

Johann

————–

Ek stem saam met alles wat tot dusver gese is t.o.v. “volkskerk”, asook “Geloftedag” (veral die hele gedagte aan versoening ens.) – ek sou graag nog meer wou hoor oor die hele kwessie van nageslagte wie se voorouers NIE by Bloedrivier was nie (nie deel uitgemaak het van die Groot Trek dus nie) – tot watter mate is hulle nageslag “verplig” om Geloftedag te vier? Was die gelofte nie gemaak deur die Vootrekkers by Bloedrivier met gepaardgaande belofte dat HULLE nageslag dit sal vier nie (omdat hulle – die nageslag – hul voortbestaan te danke het daaraan dat God hulle voorgeslagte gered het van uitwissing nie)? Ek self het nie regtig ’n waterdigte oortuiging hieroor nie en sal graag wil hoor wat die res van julle hieroor se – ek weet Gideon het dit reeds aangespreek, maar meer gegronde motivering kan dalk help.

Kobus

————–

By die Voortrekkers leer ons die kinders dat ’n volk (in ons geval die Afrikaners) gekenmerk word deur 5 kenmerke:

1. Gemeenskaplike taal;

2. Gemeenskaplike kultuur;

3. Gemeenskaplike geskiedenis en tradisies;

4. Gemeenskaplike herkoms; en

5. Gemeenskaplike bodemgebondenheid.

Om deel te wees van ’n volk moet jy die gemeenskaplike eienskappe aanvaar as jou eie. Dit sluit geskiedenis soos die Groot Trek en derhalwe ook Bloedrivier in. Deur daardie geskiedenis te aanvaar maak jy dit jou eie. Net so kan mens deel word van die gelofte wat daar afgelê was, selfs al was daar geen van jou voorouers deel van daardie aangeleentheid nie.

Dis maar my stuiwer in die armbeurs.

Coert

————–

Wat nageslag betref, sien ek dit soos Christus dit verduidelik toe Hy vir die Fariseërs gesê het hulle is nie die nageslag van Abraham nie want hulle glo nie in Hom nie, en hulle doen nie die Vader se wil nie. Die nuwe Israel is op grond van hulle geloof in die nageslag van Abraham. Net so kan ek my vereenselwig met die Gelofte, en ek kan dan vrywillig deelneem aan Geloftedag vierings. As iemand in die biologiese nageslag van die betrokke Voortrekkers nie homself daarmee vereenselwig nie, is hy onder geen “verpligting” om dit te eerbiedig nie. Ek dink ons moet wegbeweeg van die gedagte van ’n “verpligting”, want dit lê ’n juk op mense. Net so voel ek nie verplig om elke Sondag in die kerk te wees nie, maar ek het ’n begeerte om daar te wees.

Groete,

Manie

————–

Tydens ’n Geloftefees by ons in Witrivier, was Erik Holm die spreker. Hy deel nie dieselfde geskiedenis en herkoms met ons nie want hy kom aanvanklik as kind van Duitsland af. Tóg vereenselwig hy hom met die Afrikaner-geskiedenis, en vir my maak dit hom ’n Afrikaner. Hyself het dit beskryf soos iemand wat in ’n nuwe familie in trou. Hoewel hulle geen bloedverwante is nie, het hy die skoonfamilie as familie aanvaar toe hy getrou het.

Groete,

Manie

————–

Baie interessante perspektiewe – dankie Manie

Kobus

————–

Ek het iets begin opskryf hieroor. Ek sal more vir julle aanstuur. Dit kort egter nog skaafwerk. Ons gaan juis hieroor praat in ons volgende kerkraadsvergadering – ek het in elk geval gedink dat ek my dokument voor dan wou finaliseer.

Groete

Daniel

————–

[Aangeheg] soos belowe.

Groete

Daniel

————–

Daniel

Baie dankie vir jou stuk oor Geloftedag. Ek dink dit is uitstekend! Die voorwaarde is dat Geloftedag in die regte gees en met die regte gesindheid gevier word (soos jy dit baie mooi gestel en verduidelik het). Di enigste manier waarop ek kan sien dat dit in hierdie gees sal geskied is wanneer elke gemeente wat hierdie oortuiging huldig, dit op haar eie doen, of soos iemand dit vroeer voorgestel het – twee of meer gemeentes/kerke kan, waar dieselfde gesindheid en oortuiging gehuldig word, dit saam aanbied. As ek so luister na van my volksgenote en wat by groot volksfeeste op “Dingaansdag” gebeur (by Konsentrasiekampkerkhowe, Voortrekkermonument, ens.) dan weet ek nie of ek baie maklik so ’n geleentheid sal bywoon nie, want die indruk wat ek kry is dat dit hoegenaamd nie in dieselfde gees as wat jy dit so mooi gestel het, geskied nie.

Ons dien voorwaar ’n almagtige en genadige God!

Groetnis

Kobus

————–

Kobus

Ek sien dit as ’n groot kompliment dat jy dit van my dokument dink 🙂

Ek besef dat ek moontlik grootliks bederf is – ek het nog nie werklik met die dinge te doen gekry waarvan jy praat nie. Ek sou ook nie gemaklik gewees het daarmee nie. Ek dink daardie mense het ’n tekort aan nederigheid – geen mens kan op iets roem nie – alles kom van God af. Ons moet maar net te dankbaar wees vir alles wat God vir ons gegee het. En natuurlik is dit uiters belangrik om net altyd te onthou dat God nie onderskeid maak tussen volke nie – hy is lief vir almal.

Ons het verlede jaar ook slegs die 4de vers van die Stem gesing aan die einde van die diens. Dit is ’n moeilike een: Ja, dit kan wees dat indien daar ’n swartmens in die kerk was, hy ons moontlik daaroor kon kritiseer, maar aan die ander kant kan ’n mens ook maar seker ’n bietjie nasie/volkstrots wees. Volkstrots beteken natuurlik glad nie ’n haat teenoor ander volke nie.

(Net nog ’n paar gedagtes)

Groete

Daniel

————–

Goeie stuk, Daniel, en geluk daarmee.  Ook die tikkie humor.

Gideon

————–

Terwyl ek nou al die bekendes aan lyn het wil ek net kortliks terugvoer gee oor my bywoning van die byeeenkoms van die steedsHervormers op Saterdag 2 Junie 2012.

Ek het kennis geneem van die berig van Neels Jackson in die Burger en wil net hieroor ’n regstelling maak. Daar was geensins verwys na die apartheidsera nie. Inteendeel, die voorsitter, Dr Johan Otto het dit vanuit die staanspoor baie duidelik gemaak dat geen politieke bydraes tydens die byeeenkoms toegelaat sou word nie.

My persoonlike ervaring was baie aangenaam omdat ek aanklank kon vind by die frustrasies met dwaalleer wat ons in gemeen het met die steedsHervormers.

Dan is daar ’n ander saak wat ek wil regstel. Daar was geen verwysing na ’n “volkskerk” tydens die byeeenkoms nie. Ek noem dit pertinent ter wille van diegene wat nie bereid was om dit  by te woon nie as gevolg van ’n verwysing na ’n volkskerk.

Daar was ’n dringende oproep na enersdenkende behoudende lidmate van oor die hele gereformeerde kerkgroepering om meer met mekaar te kommunikeer aangesien ons dieselfde vyand het naamlik die vader van die leuen.

Groete

Louis

 

————–

 

 

 

————–

 

[Ek het bostaande saam met onderstaande briefie aan Steedshervormers dr. Johan en Yvette Otto gestuur.  Tot dusver het ek geen direkte antwoord gekry nie — die naaste is die indirekte antwoord soos vervat in kommentaar #3 hieronder.]

————–

Beste Johan en Yvette,

’n Paar van ons het [bo]staande gesprekke met mekaar gehad oor julle SH-vergadering en gepaardgaande gedagtes.

Alhoewel dit aanvanklik taamlik krities lyk, sal ek dit waardeer as julle alles kan deurlees, en dalk vir ons meer duidelikheid oor julle standpunte kan gee.

Moenie te fyngevoelig oor die aanvanklike kritiek wees nie – ek weet immers dat almal by die SH ook nie met ons saamstem oor ons teenkanting teen evolusie en miljarde jare nie.

Sover ek weet het die SH haar nie gedistansieer van die NHK se amptelike verklaring oor evolusie en miljarde jare nie.

Herman Toerien verwys graag en gereeld na die spesifieke verklaring van die NHK waarop hy baie trots is.

As julle het, sal ons dit graag wil weet.

Maar ek glo steeds dat ons op sekere terreine wel kan saamwerk.

Julle kommentare op al hierdie sake sal help om die terreine te bepaal.

Groete,

Hennie Mouton

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui