Goedgelowige teologiestudente in die voet geskiet met gebrekkige opleiding?

Kerkbode shared NG Kerk in Oos-Kaapland’s status.
Saturday

http://www.facebook.com/kerkbode/posts/190938274368670

Goedgelowige teologiestudente in die voet geskiet met gebrekkige opleiding?

Carl van Heerden is in die Oos-Kaap gebore en getoë. Hy het sy teologiese opleiding byna voltooi en sy B,Th-graad behaal. Hy het ook aan ander fakulteite gestudeer (filosofie, ’n tersiëre musiekdiploma e.s.m.), maar besluit om eerder medies te gaan studeer. Sy pa, ds Christo van Heerden van die Newtonpark-gemeente in PE, het hom gevra om sy indrukke oor teologiese opleiding vir Grens.Pos, nuusbrief van die NGK in Oos-Kaapland te gee. Hier volg dit:

So ek was al ’n rukkie lank nie heeltemal tevrede met hoe teologiese opleiding by die Stellenbosch kweekskool behartig word nie. Gaan die kerk, kuratoria en kweekskole ooit besef dat hulle goedgelowige en idealistiese studente in die voet skiet met insulêre en gebrekkige opleiding?

Voorgraadse onderrig is lomp en, in terme van akademiese standaarde, steek die kweekskool af teen res van kampus. Ek wens die teologiestudente (maar dalk meer belangrik, die dosente) kon saam met my hierdie jaar in ’n biologie- of wiskunde klas sit om te sien hoe dit gaan in klasse waar daar moeite gedoen word om inhoud aan studente oor te dra.

En die inhoud wat wel by die teologiese fakulteit aangebied word, kan maklik in vier jaar afgehandel word. Ek weet nie waar hierdie idee vandaan kom dat om ’n predikant te wees soveel akademiese opleiding verg nie, maar dit is nogal belaglik om te dink dat predikante se opleiding 1.5 keer so lank as ander professionele kwalifikasies soos geoktrooieerde rekenmeesters, ingenieurs en aktuarisse moet wees? Die teologiese bestek is tog sekerlik nie moeiliker om te bemeester as aktuariele wetenskappe nie.

Hoe ek dit anders sou doen, is om BTh ’n driejaargraad te maak, met MDiv in die vierde jaar. As daar nog opleiding nodig is, kan dit deeltyds gedoen word. Die VBO stelsel word reeds geïmplementeer met soortgelyke doelwitte en dit is baie goedkoper as nog twee jaar se voltydse studie.

Die lang program kan dalk nog sin maak, indien die program meer as teologie insluit. Mens kan byvoorbeeld doen wat met LLB gedoen word, dat dit ’n korter nagraadse kursus is, of dat dit gedoen word saam met ’n BComm of BRek graad. Mens kan teologie ook so doen, saam met ’n BCom, B.ed, BSc of BA-graad. Dan het proponente darem iets agter hul naam wat sal help om werk buite die kerk te kry. Proponente wat nie werk kry nie, is een probleem, maar predikante wat besluit om uit die bediening te gaan, of wat deur omstandighede gedwing word tot tentmakers, is net so belangrik. Diegene in hierdie posisie moet dan ’n werk probeer kry met ’n tersiêre opleiding wat bitter min buite die kerk beteken.

My ander probleem met die teologiese kursus is dat dit bitter insulêr is. Buiten Grieks en Hebreeus (en enkele filosofie, sielkunde en sosiologie modules) is al ons onderrig by die kweek. Is dit die tipe dominees wat die kerk wil hê: mense wat heeldag lank vir vyf jaar net akademies verkeer met ander wat so baie in gemeen het? Vul dit aan met baie dosente wat nooit in die gemeentebedienng gestaan het nie en die ivoortoring-teologie wat aangebied word, lei tot groot ontnugtering wanneer proponente wel in gemeentes opgeneem word.

Die grootste sondebok hier is die MDiv-kursus; ek weet nie hoe die kerk dink dat dit’n goeie idee vir voornemende predikante is om vir ’n jaar lank net met ander teologie-studente te praat nie. Bedieningsopleiding gaan daaroor om uit te kom by die mense wat jy wil bedien. Nie om nog ’n jaar met dieselfde mense te praat oor goed waaroor almal saamstem nie.

Laastens kan ek nie help om te voel dat die teologie grootliks irrelevant is nie. Gaan kyk bv. na Sol Iustitiae (die teologiese fakulteit se amptelike blog (http://www.soliustitiae.co.za/). Baie moeite word daar gedoen deur mense van die fakulteit om iets daar te stel om oor te dink. Hoe baie mense neem deel aan die gesprek wat nie op een of ander manier amptelik verbonde is tot die kerk en meer spesifiek die teologiese fakulteit nie? Hoe baie gesprek is daar ooit tussen die mense wat bydrae? Daar is feitlik nooit enige kommentaar op artikels nie en skrywers is feitlik heeltemal apaties oor wat ander skryf. Kyk dan maar verder ook hoe irrelevant kerkleiers is, opgeweeg teen hoe baie mense hulle verteenwoordig.

Ek glo dat die krisis van proponente baie dieper en breer as beroepstelsel le. Relevansie en geloofwaardigheid van die kerk, die opleiding en gemeentes se ingesteldheid om werklik dapper op die toekoms te fokus deur nuwe, jonger mense, denkers en “aktiviste” in hul midde te verwelkom, sal deurslaggewend wees wanneer daar oor beroepe gedink word.

Wanneer gemeentes egter wil veilig speel, geen sg risko’s wil loop nie, sal hulle nie net baie bekwame en toegewyde proponente verloor nie, hulle sal die jonger generasie verloor en saam met hul huidige dominees al hoe ouer en meer afgesonder van die samelewing word. Dominees kom op ’n stadium waar hulle emiriteer en hopelik genoeg pensioen kry om hul laaste dae rustig af te sluit. Wat gebeur egter met “veilige” gemeentes op daardie stadium? Is daar ’n woord daarvoor? Dalk is daar ’n geheime pensioenfonds vir gemeentes wat oud geraak het en nie meer die daaglikse pas van die samelewing kan volhou nie. Indien daar nie is nie, moet die kerk dalk dringend daaraan aandag gee!

 

Kommentare:

 

Stefaan de Jager

Daar behoort `n bepaling te wees dat geen dosent aan `n kweekskool mag doseer indien hulle nie minstens 10 jaar in `n gemeente gestaan het nie.

 

Kirstein Combrink Snr

As gewone lidmaat kry ek die idee dat gemeentes lekker ‘cosy’ geraak het amper soos ’n klub waar ons mekaar warmbroei en gewaak word om tog net nie aanstoot te gee nie! Alles word verander of aangepas om by mense se behoeftes aan te pas (selfs die bybel of vertolking daarvan) – sodat almal tog net gemaklik kan wees.

 

Gerhard Pietersen

broodnodige gesprek.

Ek deel in Carl van Heerden se visie dat studente se opleiding in terme van oorbrugging na ander krususse voorsiening maak. Ek self het ook na my vierde jaar gefrustreerd gevoel en sommige van die opleiers was net nie in voeling met wat buitekant aangaan nie. My vermoede was bevestig na 1 jaar in die bediening en 1 jaar van werk soek.

Pioniers van die nuwe omgewing gaan egter nie geldelik ondersteun word nie maar sal vir hulself moet werk en voorsiening maak. Hoe gouer die oplseidingsentra dit besef hoe beter. Die VBO kursusse help net die predikant in die huidge bedieningsopset, nie a shy gewding word om te kyk na ander moontlikhede uite sy beroep nie.

 

Joachim Viljoen

Carl van Heerden ek stem met 90% wat jy sê saam. Op die 10% gaan ek nie uitwei nie ,want dit is meer vir ons jonger mense. My seun het nou die dag gesê hy weet nie hoekom ek my tyd mors om die middeljarige mense se slimmighede op die Kerkbode fb.te volg en te antwoord nie. Volgens hom in sy woorde:[THEY ARE ‘ALL HUNTING IN A PACK’. Soek enkelinge wat alles streng volgens die nuwe testament verkondig , om mee te verskil en dan met hulle te stry deur goed wat hulle gelees het uit boeke van aardse skrywers te verkondig. Ek is ook n ou ballie, maar my kinders hou my op hoogte van wat jonger mense verlang . Solank dit in lyn met God en sy Bybelse opdragte is moet ons jonger mense nader kerk toe trek.

 

Sarel Corrie

Ek kan ook nie anders as om met Carl saam te stem nie. Teologiese oplieiding met die oog op die bediening in ’n gemeente behoort egter net beperk word tot diegene wat reeds ’n ander ‘werk’ gedoen het. Dan kan dit korter en baie meer effektief wees want die persone sal met baie meer lewenservaring in die bediening gaan staan. Ek is ook een van die beroepspredikante wat direk na skool gaan studeer het. Nou na 25 jaar besef ek steeds dat ek geen benul het wat regtig in die lewe aan die gang is in terme van dit waardeur gewone mense moet worstel nie. Ons weet nie regtig hoe die ekonomie werk nie, want ons kry elke maand ons geld, ons ken nie die swaarkry en worstelinge van mense wat 8 to 5 werk nie, ens

 

Joachim Viljoen

Ds.Sarel jy praat ons taal.

 

Wilkie du Toit

Carl en Sarel praat ’n belangrike ding. Ek het nie ondervinding soos hulle nie, maar ek/ons kom agter daar is iets nie lekker met die doomnie opleiding nie. My vraag is: wie KAN en wie GAAN dit evalueer? In onderwysterme: Is daar so ’n “inspekteur” En hoeveel tyd word bestee aan die praktiese doomnie wees. Dit voel soms vir my ons kerk het te min met die opleiding regtig te doen. Daar sal ’n goeie plan moet kom, anders lyk die toekoms nie goed nie. . . .

 

Schalk Albertyn

Ek wil die teenoorgestelde standpunt stel. Ek ervaar dat die verkorting van die teologiese opleiding ’n geslag jong dominees die gemeentes en die wereld instuur wat verskriklik swaar kry in die bediening en die gemeenskappe wat hulle bedien. Die hartseer saak is dat dit nie hulle skuld is nie maar die gebrek aan teologiese (en akademiese) diepte om dit wat hulle in die kerk moet doen, te kan hanteer.

 

Sarel Corrie

Schalk, ’n verkorting van kursus hoef nie noodwendig ’n inboet van kwalitieit te wees nie. Daar kan baie meer studie in die jaar ingesit word, nie net in die semester nie. Ek dink ook ouer studente hou minder van tydmors en sal dit verwelkom.

 

Gerhard Bothma

Die afstand tussen kerk en teologie en lidmate se behoeftes en wetenskaplike integriteit moet oorbrug word. Ongelukkig is daar te veel afsonderlike idees en te min gedeelde visie mbt ons opleiding

 

Grenwill Van Rooi

Interesante onderwerp onder lede, dankie net om na julle insette te kyk is goed vir my.

 

Gerhard Bothma

Ek is vir 20 jaar n predikant en het elke jaar sedert ek n D het tm een navorsingsprojek / jr onderneem. Nou’s ek ‘te akademies’ vir die kerk en ‘te veel kerk’ vir die akademie

 

Sarel Corrie

Gerhard, ek het ook in die begin jare probeer om ten minste elke 4de jaar iets aan te pak, maar die afgelope 10 jaar was daar net nie meer tyd nie. Nou is ek wel deeltyds verbonde aan NWU se teologiese fakulteit (die projek staan egter einde se kant toe) waar ek die akedemie opnuut herontdek het. Dit het my bediening so ongelooflik goedgedoen (ek werk hoofsaaklik in die swartwoongebied en plase). Nou die dag nog vra die een ouderling waar ek aan al die preke kom want ek preek beslis nie soos die ander nie. Ook by begrafnisse verwonder die mense van ander kerke hulle waar ek aan my preke kom. Dit is die vrug van die akedemie. Hulle kry absoluut die beste want ek kan nie vir hulle afskeepwerk voorsit nie!

 

Annari Du Plessis

Ek’s baie tevrede met die opleiding wat ek by Tukkies ontvang het.

[Annari is beroepbaar, maar ’n uitgesproke voorstander van “goth” en klaarblyklik het niks in haar teologiese opleiding (waarmee sy baie tevrede is) haar daarvan laat afsien nie.
Sy is ook die DJ vir die musiekgroep “Attrition” – soek “attrition” op facebook om te sien wat hulle bevorder.]

 

Gerhard Bothma

Ons opleiding was ook baie goed. Of altans, so dink ek. n Klompie van ons het ook akademies ‘vasgebyt’ Hoe dan anders?

[Gerhard is ’n predikant met ’n teologiese doktorsgraad, maar hy reken dis miskien so dat alle mense, ongeag hul geloof in Jesus Christus, dalk eendag gered gaan word – dit word genoem in die boek Die Trojaanse Perd in die NG Kerk – die kanker van evolusie en liberalisme.]

 

Stefaan de Jager

Dit wil voorkom of proponente nie mooi weet wat prakties van hulle verwag word as hulle in `n gemeente begin nie. In die verlede het ons geweet dat jy minstens begin om die mense met huisbesoek te leer ken. Om bloot te sê dat daar van jou verwag word om Kerkorde artikel 9 na te kom, is te vaag. Dit laat `n waenhuisdeur oop dat die jong dominee net wegraak en niemand weet waarmee hy eintlik besig is nie, of dat hy hom besig hou met sy geliefkoosde aksies en nie die dissipline het om weier betrokke te raak nie.

 

Düring Cornelius

‎..jy bedoel seker “wyer betrokke raak”, Faan? Ek en ’n paar ander luies is die ouens wat “weier” om betrokke te raak….

 

Stefaan de Jager

Doring, ek weier om na jou beterweterigheid te luister! 🙂

 

Düring Cornelius

Faan, dink bietjie wyer voor jy weier!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui