2002 NGK Homoseksuele verslag

Kyk ook:

Die volgende verslag oor homoseksualiteit het gedien by die algemene sinode van 2002. Dit is onbekend wie die outeur(s) van hierdie verslag is.

********

VERSLAG AAN ALGEMENE SINODE 2002

14 HOMOSEKSUALITEIT

14.1 INLEIDING

14.1.1 Die Algemene Sinode van 1986 het die verslag Homoseksualiteit: Wat sê die Kerk? (Handelinge Algemene Sinode 1986: 672) as beleidstandpunt van die NG Kerk aanvaar. Dit sluit ’n groot aantal aanbevelings in waarvan een lui (30.5.3.2): Homoseksuele praktyke en ’n homoseksuele verhouding moet afgewys word as in stryd met die wil van God, soos in die Heilige Skrif geopenbaar.

14.1.2 Destyds het die verslag (anders as Kerk en Samelewing) geen rimpeling veroorsaak nie. Sedertdien het die situasie drasties verander soos blyk uit die feit dat verskillende streeksinodes die afgelope jare ernstig met hierdie problematiek geworstel het. Hoewel die Algemene Kommissie vir Leer en Aktuele Sake geen opdrag van die Algemene Sinode 1998 in hierdie verband ontvang het nie, het die kommissie tog geoordeel dat in die lig van die aktualiteit van die tema dit onverantwoordelik sou wees om vir ten minste nog die volgende vier jaar sondermeer met die standpunt van 1986 te volstaan. Daarby het die ASK die kommissie versoek om aandag aan die saak te verleen en om aan die Algemene Sinode 2002 te rapporteer.

14.1.3 Ons is bewus daarvan dat die Sinode waarskynlik nog nie in staat is om oor hierdie brandende kwessie ’n duidelike standpunt in te neem nie. Hierdie verslag is niks meer nie as ’n poging om rigting te gee aan die onontbeerlike debat wat by ons pas in alle erns begin het. Hoewel die wyse waarop die diskussie in die buiteland verloop het min hoop bied dat konsensus hieroor maklik bereik sal word, kan ons tog grootliks baat by die omvattende besinning wat reeds wêreldwyd in teologiese geledere hieroor plaasgevind het.

14.2 DIE PROBLEMATIEK

14.2.1 In die debat word gewoonlik verskillende vorme van homoseksualiteit onderskei wat meestal ook moreel verskillend beoordeel word. Ons sien egter daarvan af om ’n definisie te probeer gee wat vir al die verskillende gestaltes voorsiening maak.

14.2.2 Dit is verder opvallend dat terwyl vir homoseksuele relasies tussen vroue ’n afsonderlike woord gebruik word, dieselfde selde gebeur in die geval van mans. (In Duits word wel ’n onderskeid gemaak tussen Lesben en Schwulen). Sommige is van mening dat die skerp afwysing van homoseksualiteit tussen mans en diskrimasie teenoor vroue, ondergronds verband hou met mekaar. Die woord malakos (1 Kor 6: 9) wat deur sekere verklaarders verstaan word as ’n verwysing na ’n manlike prostituut, beteken eintlik om verwyfd te wees. Volgens Josephus kon ’n man beskuldig word van malakia indien hy swak was in oorlog, te veel luuksheid geniet het, of huiwerig was om selfmoord te pleeg. In die Bybel word eintlik net een keer uitdruklik na homoseksuele relasies tussen vroue verwys (Rom 1:26). Vir ons doel sluit die begrip “homoseksualiteit” sowel manlike as vroulike vorme daarvan in. Homoseksualiteit staan dus teenoor heteroseksualiteit.

14.2.3 In die gesprek binne eie kerklike kring bestaan eenstemmigheid dat promiskuïteit in sowel ’n heteroseksuele as ’n homoseksuele gedaante onaanvaarbaar is. Wanneer sprake is van ’n duursame homo– of heteroseksuele relasie, word onder seksualiteit veel meer as blote (biologiese) seks verstaan, maar dui dit veeleer op ’n verlange na totale lewensgemeenskap wat ook die seksueel-erotiese insluit. Dit bring mee dat homoseksualiteit nie in isolasie beskou kan word nie, maar as onderdeel van die meer omvattende problematiek van die rol van die seksuele as sodanig. Dan word byvoorbeeld die vraag aktueel of die seksuele se eintlike (enigste?) funksie bestaan in die verwekking van kinders. Indien daar ook ander funksies met die seksuele saamhang, is die vraag of dit ook tot uitdrukking mag kom in ’n homoseksuele relasie. Terwyl die oorgang van die seksdrif na die seksdaad in heteroseksuele monogame relasies nie net aanvaarbaar nie, maar as positief goed beoordeel word en uiteraard noodsaaklik is vir die voortbestaan van die mensdom, wonder baie of die blote afwesigheid van die moontlikheid van voortplanting, dit moreel onaanvaarbaar maak in die geval van homoseksuele, duursame verhoudings.

14.2.4 Behalwe dat promiskuïteit aan beide kante van die debat verwerp word, bestaan ook eenstemmigheid in ons geledere dat die gesag van die Skrif in hierdie aangeleentheid deurslaggewend is. Oor die eksegese van die relatief min tekste wat hier ter sprake is, bestaan egter ingrypende verskille. Maar selfs al sou konsensus bereik word dat die Skrif homoseksualiteit as sonde afwys, is die debat daarmee nog nie op ’n einde nie. Ook egskeiding en hertrou van geskeides word deur die Bybel as sonde bestempel en tog getolereer as gevolg van menslike swakheid. In ons gebroke werklikheid moet ons meermale kies, nie tussen goed en sleg nie, maar tussen sleg en slegter. Wanneer dit die enigste opsies is wat vir ons oop is, is dit “goed” om vir “sleg” te kies al hou “sleg” nie daarmee op om “sleg” te wees nie.

14.2.5 ’n Vorm van toleransie wat dikwels voorkom, is dat simpatiek geoordeel word oor die homoseksuele oriëntasie (homofilie), terwyl homoseksuele praktisering afgewys word. Blykbaar is dit ook die posisie wat die verslag van 1986 inneem. Daar word beweer dat ’n homoseksuele oriëntasie as sodanig nie summier tot persoonlike skuld gereken kan word nie (Agenda, 362). Dit skep die indruk dat ’n 2 homoseksuele gerigtheid eerder ’n siekte is as ’n sonde. Pas die homoseksuele daad word as sedelik onaanvaarbaar beskou. Maar kan die oriëntasie moreel onskuldig wees as dit dui op ’n geneigdheid tot ’n gedrag wat sondig is? Maak die begeerte na ’n sondige daad nie die begeerte self reeds sondig nie?

14.2.6 Die tolerante standpunt word in elk geval deur die homoseksuele gelowige self as neerbuigend en derhalwe as aantasting van sy/haar menswaardigheid ervaar. Nie die tolerante aanvaarding van ’n gebrek nie, maar die positiewe goedkeuring van ’n homoseksuele, duursame relasie as ’n goeie gawe, is die kernkwessie waaroor dit in die debat gaan. In kort kan ons die eintlike punt waar die skoen knyp so saamvat: Is dit moontlik om die gesag van die Skrif te aanvaar en terselfdertyd ’n duursame (“monogame”) verhouding tussen mense van dieselfde geslag goed te keur?

14.2.7 ’n Verdere kwessie is of die direkte uitsprake van die Skrif ten opsigte van homoseksualiteit, sondermeer bindend is vir ons. In die verslag oor die gesag van die Skrif, word aangetoon dat die Bybel geen bindende uitsprake oor die wetenskap maak nie, omdat dit die oortuigings van sy tyd reflekteer. In die Bybel gaan dit primêr om God self in sy genadige neerdaling na die mens wat kulmineer in die Kruis. Geld dit nie ook grootliks vir etiese aangeleenthede nie? Om enige verskynsel eties te kan beoordeel, is immers kennis van die verskynsel noodsaaklik wat met die loop van tyd kan verander. In die Bybel gaan dit nie in die eerste plek om wetenskap (ook teologie) en etiek nie, maar om God self in sy verhouding tot die werk van sy hande.

14.2.8 Sonder twyfel het die openbaring van God groot implikasies vir ons etiese oortuigings, maar binne die Bybel self wat oor eeue tot stand gekom het, vind daar duidelik verskuiwings en voortgang plaas. Die liefdesgebod is en bly weliswaar die essensie en samevatting van die wet in alle eeue, maar ten opsigte van die konkretisering daarvan tree sonder twyfel verskille op in die loop van die tyd. Dit maak daarom sin om onderskeid te maak tussen verskillende vorme van etiek in die Bybel (byvoorbeeld die verskil tussen Ou en Nuwe Testament ten opsigte van sommige sake) en ’n “Bybelse etiek” waarin rekening gehou word met die Gees (Liefde) van God wat in die Skrif en die voortgaande geskiedenis op verskillende wyses na vore kom. Om aan die Gees van die Bybel se voorskrifte gehoorsaam te wees, moet ons soms verder gaan as die blote letter van die Skrif soos byvoorbeeld blyk uit ons houding teenoor slawerny. In die Bybel self staan die letters (woorde) van die Skrif telkens onder die kritiek van die Gees wat juis in ’n vroeëre fase medeverantwoordelik was (saam met die menslike skrywers) vir die totstandkoming daarvan (sien Die gesag van die Skrif). In die Bergpredikasie verwys Jesus soms na die Wet in die Ou Testament, maar laat direk daarop volg: “Maar Ek sê vir julle…”. Uit gehoorsaamheid aan die Skrif, mag ons nie maar bloot bly staan by die “letterlike” woorde van die Skrif nie, maar soos die Reformatore moet ons luister na die Gees van God in die “letters”. Alleen so bly die Bybel vir ons die lewende Woord van God.

14.3 SKRIFBEROEP IN DIE ETIEK

14.3.1 Vir baie gelowige lesers van die Skrif is die antwoord op die vraag na die aanvaarbaarheid van homoseksualiteit onomwonde afwysend. Volgens hulle oortuiging is die uitsprake van die Skrif te duidelik om enige debat hieroor toe te laat. Vir ander is die situasie onseker omdat die uitleg van die betrokke tekste omstrede is. ’n Derde groep is weer van oortuiging dat die tekste nie te make het met ’n duursame lewensgemeenskap tussen mense van dieselfde geslag nie en daarom nie ter sake is nie. Staan ons hier dus in ’n doodloopstraat wat die kerk in sy geheel, wat al drie groepe insluit, geen ander opsie laat as om te sê dat ons nie weet nie, en dit derhalwe oor te laat aan die gewete van die indiwiduele gelowige? Hoewel minder bevredigend sal sommige argumenteer dat laasgenoemde ’n meer eties verantwoorde standpunt is, as om mense se gewetens te bind terwyl daar binne die kring van die kerk self soveel onsekerheid bestaan.

14.3.2 Ons is egter van mening dat die punt nog nie naasteby bereik is waar dit nodig is om handdoek in te gooi nie. Hierdie debat is eerder ’n toetsgeval vir ’n meer omvattende problematiek naamlik die wyse waarop die gesag van die Skrif binne die kerk funksioneer (sien die verslag: Die gesag van die Skrif) en meer in besonder die wyse waarop ons in etiese kwessies ons op die Skrif beroep. Selfs al sou ons aanvaar dat eenstemmigheid oor die uitleg van enkele ter sake tekste nooit bereik sal word nie, of aan die anderkant, selfs as ons sou saamstem dat ten minste sommige of dalk selfs al hierdie tekste afwysend staan teenoor homoseksualiteit in watter vorm ookal, beteken dit nog steeds nie dat die debat daarmee afgeloop is nie. Die uitsprake van die Skrif teen die neem van rente byvoorbeeld, is ten minste net so duidelik, en volgens sommige veel duideliker, as teen homoseksualiteit. Tog is daar waarskynlik weinig onder ons wat teen rente as sodanig gekant is. Ook staan ons meestal nie net tolerant daar teenoor nie, maar keur dit goed deur ons geld op die bes moontlike manier te belê. Indien jy dus sowel jou integriteit as die Bybel en jou bankbalans wil behou, sal jy nie bloot by die letter van die Skrif kan bly staan nie, maar op soek moet gaan na die bedoeling van die (G)gees in die letter. Daarvoor is meer nodig as ’n beroep op enkele losstaande tekste, maar moet die boodskap van die Bybel in sy geheel, in berekening gebring word.

14.3.3 Dit geld telkens vir ons beroep op die Skrif (vergelyk byvoorbeeld kinderdoop, kindernagmaal, nagmaal vir vroue, die 3 Heidelbergse Kategismus se verklaring van die neerdaling ter helle, die uitleg van die 10 gebooie, die Drie-eenheid, ens ens ens). Die letter opsigself maak dood, maar die Gees maak lewend (2 Kor 3:6; vgl ook Rom 7:6 Ou Vertaling). Dit geld vir dogmatiek en etiek, (leer en lewe) in die algemeen, maar vir laasgenoemde in die besonder. Terwyl dit in die leer basies gaan om wat God eens en vir altyd vir ons gedoen het in Christus, gaan dit in die etiek om dit wat God van ons verwag om in Christus daagliks te doen onder leiding van sy Woord en Gees. Daarvoor wys die Woord vir ons die koers aan om ons te help in ons konkrete konteks. Dit was juis die eise van die voortdurend veranderende konteks wat die agtergrond gevorm het vir die ontstaan van die kasuïstiek, dit wil sê die opstel van talle reëls wat voorsiening probeer maak het vir die groot variasies van spesifieke omstandighede. Die daarmee gepaardgaande gevaar was dat dit soveel reëls tot gevolg gehad het dat die letter gedreig het om die (G)gees van die lewende Woord te verdring.

14.4 TORAH TEENOOR NOMOS

14.4.1 Van die allergrootste belang is om die onderskeid tussen die Hebreeuse torah en die Griekse nomos, wat ons beide met “wet” vertaal, in gedagte te hou. Terwyl nomos die konnotasie het van ’n formele, rigiede wetskode, het torah die veel meer soepel en dinamiese betekenis van “onderrig” in ’n konkrete situasie. Laasgenoemde kan wel gestalte aanneem in wetsvoorskrifte, maar ook in verhale, liedere, spreuke, ens. Die hele Pentateug, trouens die hele Ou Testament, kan as torah bestempel word. Dit mis die “wettiese karakter” van die Griekse nomos en het ’n rigtinggewende betekenis omdat dit gerig is op die doel (voleinding) waarmee God met sy skepping oppad is. Enersyds relativeer, andersyds radikaliseer die groot Toekoms die voorskrifte van die torah. Beide blyk uit Jesus se Bergpredikasie en Paulus se houding teenoor die heidene en die huwelik (1 Kor 7). In ’n nuwe fase in die geskiedenis van die heil, kan die vorige voorskrifte “opgehef” word in beide betekenisse (verhef én vervang) van die woord. Enersyds word in die nuwe verbond die doel van die ou verbond bereik; andersyds beteken die nuwe verbond juis daarom die einde van die oue. In daardie sin is Christus die (doel) einde van die wet (Rom 10:4). In Hom het die voleinding (Koninkryk van God) naby gekom (Mark 1:15).

14.4.2 Wat egter in Christus reeds volkome waarheid en werklikheid geword het, is nog nie die geval in die kerk en die wêreld nie. Daarom het ons nog steeds die rigtinggewende torah nodig. Hebr 8:13 (ou vertaling) leer ons dat die oue naby die verdwyning is. In Christus het die ou dinge wel verbygegaan en het alles nuut geword (2 Kor 5:17), maar tot aan die voleinding van die geskiedenis leef ons nog altyd te midde van die oue. Die nuwe se verskyning is die oue se verdwyning. Die kerk se bestaan speel af te midde van hierdie verskyning en verdwyning, die alreeds van die nuwe en die nog steeds van die oue. Dit maak die posisie van die gelowige en die kerk in hierdie bedeling so dubbelsinnig. Enersyds dreig die gevaar dat ons wetteloos sal lewe omdat Christus se dood alreeds die einde is van die wet; andersyds bestaan die gevaar van ’n wettiese lewenswyse omdat ons nog steeds in die ou bedeling lewe. Om aan beide gevare te ontkom, is ons diep afhanklik van die soepelheid van siel wat alleen die Gees van God ons kan gee.

14.4.3 In die voorskrifte van die Torah kom die wese van die mens as beelddraer van die God van liefde, na vore soos dit gedurende ’n spesifieke tyd tot uitdrukking kom. Wie daarom bly vassteek by die letter van die torah, bedroef die Gees wat daarin tot ons spreek. Soos Paulus dit stel: 2 Kor 3:5, 6: Ons bekwaamheid kom van God, wat ons bekwaam gemaak het om bedienaars van ’n nuwe verbond te wees, nie van die letter nie, maar van die Gees. Die letter maak dood, maar die Gees maak lewend. Dit beteken hoegenaamd nie ’n minagting van die letter nie. Immers, 2 Kor 3:7, 8 leer: Die wet wat in letters op klip gegraveer is, het in heerlikheid gekom. Hierdie heerlikheid, wat tog gou sou verdwyn, het op die gesig van Moses so geskitter dat die Israeliete nie na hom kon kyk nie. As die bediening wat tot die dood lei, met soveel heerlikheid gekom het, hoeveel groter sal die heerlikheid wat deur die Gees geskied dan nie wees nie?

14.4.4 In ons soeke na die bedoeling van die Gees in die letters van die Skrif, moet telkens rekening gehou word met die Skrifkonteks (watter posisie neem dit in binne die voortgang van die geskiedenis van die heilsopenbaring), die historiese konteks (wat was die situasie destyds wat die agtergrond van ’n spesifieke etiese uitspraak vorm), en ons eie konteks (wat is die ooreenkoms en verskil tussen destyds en deesdae). Dit doen eintlik in ’n mindere of meerdere mate elke lidmaat wat die Bybel lees (on)bewustelik, terwyl die teologie tot taak het om die lidmaat hiermee te help deur dit doelbewus te doen. Wie so saam met medegelowiges, wat die vaders en moeders, broers en susters, geleerdes en ongeleerdes, homoseksuele en heteroseksuele, insluit, ootmoedig biddend na die Gees in die letters (woorde) van die Skrif luister, sal telkens die verrassende ontdekking doen dat God se Woord lewend en kragtig is en die bedoelings en gedagtes van die hart beoordeel (Heb 4:12).

14.5 DIE BETROKKE TEKSTE

14.5.1 Hoewel dit onmoontlik is om binne die bestek van hierdie verslag volledig op die eksegese van die tekste wat deurgaans ’n rol in die debat speel in te gaan, wil ons net kortliks aantoon dat die uitleg van hierdie tekste nie so voor die hand liggend is as wat baie mense blykbaar meen nie.

14.5.2 Diegene wat oortuig is dat die gesag van die Skrif dit onmoontlik maak om gunstig teenoor homoseksualiteit te oordeel, beroep hulle op verskillende kategorieë van tekste naamlik die skeppingsverhaal, dié wat homoseksualiteit uitdruklik verbied, historiese verhale wat beskou word as afwysend teenoor homoseksualiteit, en Nuwe Testamentiese lyste van onwelvoeglike optrede. Wat laasgenoemde betref, neem Rom 1:26,27 ’n besondere plek in. Waarskynlik is dit die eintlike teks wat baie as beslissend beskou.

14.5.3 Oor die skeppingsverhaal kan ons kort wees. In die debat speel dit meestal ’n rol in kombinasie met ander tekste (veral Rom 1). In die skeppingsverhaal self word in elk geval nie (positief of negatief) verwys na homoseksuele gedrag nie. Weliswaar lees ons dat God die mens as man en vrou geskep het, maar dit weet elkeen wat rondom hom/haar kyk. Ook die diere is as mannetjies en wyfies geskep, maar dit is te betwyfel of daaruit enige konsekwensies vir ons tema getrek kan word. Klaarblyklik doen die diere dit ook nie, want “homoseksualiteit” kom veelvuldig in die diereryk voor.

14.5.4 Net in Lev 18:22 en 20:13 in die Ou Testament, word homoseksuele dade uitdruklik verbied. Dit maak deel uit van die kultiese Heiligheidskode (Lev 17-26) waarin ons talle wette aantref waarin die onderskeid tussen Israel en die heidene na vore kom. Levitikus 18 begin met die waarskuwing dat Israel nie moet maak soos die Egiptenaars uit wie se land hulle weggetrek het of die Kanaaniete na wie se land hulle gaan trek nie. In Lev 18: 22 lees ons (NIV): “Do not lie with a man as one lies with a woman; that is detestable.” Dit word herhaal in Lev 20:13 terwyl die dreiging van die doodstraf nog bygevoeg word. Dit is duidelike taal – ook wat die doodstraf betref. Laasgenoemde geld ook kinders wat hulle ouers vloek (Lev 20:9). Net so duidelik is Lev 19:19: “Moenie verskillende soorte diere kruis of verskillende soorte saad in een land saai of ’n kledingstuk van verskillende soorte materiaal dra nie. ”Tog neem niemand dit deesdae meer ernstig as sedelike voorskrifte nie. Ook nie Lev 21:16-23 waar niemand toegelaat word tot amptelike offerdiens wat enige liggaamsgebrek byvoorbeeld (vs 20) ’n boggel of onderontwikkelde liggaam, ’n pêrel op die oog, skurfte, ’n veluitslag of ’n beskadigde geslagsdeel, het nie.

14.5.5 Klaarblyklik geld hierdie uitsprake in letterlike sin nie meer vir ons nie. In hierdie verband kan ’n mens ook dink aan Deut 23:1 waar ons lees: “Iemand wie se geslagsorgane verbrysel is of iemand wat ontman is, mag nie lid van die gemeente van die Here wees nie.” Dit blyk egter nie die laaste woord te wees nie, want later lees ons in Jes 56:3-5: “ ’n Ontmande moenie van homself dink: ek is maar ’n droë boom nie. So sê die Here: Aan die ontmandes…sal Ek in my tempel en aan sy mure ’n teken gee, ’n erenaam wat beter is as seuns en dogters. Ek sal aan hulle ’n naam gee wat nie uitgewis sal word nie.” In die geskiedenis van die ontmande Etiopiër vind Filippus dit dan ook geen verhindering om hom as lidmaat van die gemeente te doop nie (Hand 8:26- 40. Let op hoeveel keer die woord “ontmande” voorkom).

14.5.6 In die verhale van Gen 19 (die sonde van Sodom) en Rigters 19 (die Leviet en sy byvrou) bevind ons ons in ’n kultuur wat totaal vreemd is aan ons eie. In ons kultuur is dit ondenkbaar dat Lot bereid was om sy dogters aan die geweldenaars uit te lewer, ten einde sy manlike gaste te beskerm. Dieselfde geld van die ou man in Rig 19:24 om nie eers te praat van die Leviet wat sy byvrou opoffer ten gunste van homself nie (Rigters 19:25). Vreemd dat hierdie verhale gebruik word om homoseksualiteit af te wys, want in albei verhale was die misdadigers klaarblyklik nie homoseksueel nie, en was hulle motief niks anders nie as om te verneder. In beide gevalle gaan dit veeleer om die verskrikking van seksuele geweld (verkragting. Vergelyk hoedat hulle in Rig 19:25 die vrou die heel nag “verrinneweer”) as om homoseksualiteit.

14.5.7 In 1 Kor 6:9 sowel as 1 Tim 1:10 word woorde gebruik waarvan die presiese betekenis omstrede is. Sommige meen dat arsenokoitai die tegniese term kan wees vir die aktiewe persoon in ’n homoseksuele relasie tussen mans terwyl die malakoi dan verwys na die passiewe seksgenoot. Terwyl party Skrifverklaarders hierby dink aan tempelprostitusie, meen ander dit slaan op pederasti, naamlik die beoefening van seks deur volwasse mans met jong seuns. Hoe dit ookal sy, dit kan moeilik ontken word dat homoseksuele gedrag hier, soos deur die moraalfilosowe uit die Hellenisme van destyds, sterk veroordeel word. Soos in Rom 1 word homoseksuele praktyke blykbaar as tipies van die heidene beskou. Dit is derhalwe belangrik om daarop te let dat die konteks van 1 Kor 6 handel oor die onaanvaarbaarheid daarvan dat gelowiges hofsake onder mekaar het en dan nogal voor “heidense regters” (1 Kor 6:1; vgl vss 4 en 6). Vreemd dat terwyl dit die eintlike punt is van die perikoop, soveel aksent geplaas word op Paulus se veroordeling van homoseksualiteit. Paulus se betoog dat die gelowiges eerder onreg moet ly as om hulle op ongelowige regters te beroep, besorg ons minder probleme. In laasgenoemde geval (soos ten opsigte van rente) word blykbaar sondermeer aanvaar dat Paulus vanuit sy konteks van destyds verstaan moet word.

14.5.8 Die teks wat in die hele debat waarskynlik die grootste rol speel, is Paulus se uitsprake in Rom 1:26v. Maar dit kom ter sprake in die volgende paragraaf.

14.6 IS HOMOSEKSUALITEIT TEENNATUURLIK?

14.6.1 In die hele debat speel veral Rom 1 ’n deurslaggewende rol. Dit is onmoontlik om binne kort bestek reg te laat geskied aan die verskillende standpunte wat in die bespreking van hierdie gedeelte na vore kom (byvoorbeeld die 5 sogenaamde retoriese uitleg), maar ons doel is net om aan te toon dat die betekenis van hierdie gedeelte nie so vanselfsprekend is as wat dikwels gedink word nie.

14.6.2 Dat Paulus in hierdie gedeelte afwysend staan teenoor homoseksuele praktyke kan kwalik betwyfel word. Dit is ’n oortuiging wat hy deel met talle denkers soos by voorbeeld Plato, Aristoteles, die Stoïsyne, Seneca, Philo en Josephus. Mens sou dit ’n standaard morele oortuiging van die kultuur van sy tyd kan noem. Daarmee is nie gesê dat dit daarom geen gesag het nie, want Paulus is oortuig dat ook die heidene deur hulle optrede dikwels toon dat die eise van die wet in hulle harte geskrywe staan (Rom 2:15). Sy punt is juis dat die Jode geen rede het om hulle in eiegeregtigheid bo die heidene te verhef en sodoende hulleself te verontskuldig nie (Rom 2). Nie die homoseksuele praktyke van die heidene nie, maar die selfverheffing van die Jode teenoor die heidene is die eintlike punt van Paulus se kritiek.

14.6.3 Soms staan die Bybelskrywers sterk afwysend teen die gangbare morele oortuigings van hulle tyd, maar ander kere word direk daarby aangesluit. Dikwels is dit nie soseer die moraliteit wat ons in die Skrif aantref wat anders is as die heidense omgewing nie, maar veeleer die verbondskonteks waarbinne dit staan. Die moraal in die briewe van Paulus, kom ’n mens meermale elders teë. Kritiek op die skeidsmuur tussen Jood en Griek tref jy ook by buite-Bybelse skrywers aan, maar by Paulus kry dit ’n Christologiese fundering. “Neither the Ten Commandments nor the great commandment is revelatory if separated from the divine covenant with Israel or from the presence of the Kingdom of God in the Christ” (Paul Tillich).

14.6.4 Net soos sy sosiale omgewing aanvaar ook Paulus slawerny as maatskaplike verskynsel, maar hol dit tot so ’n mate van binne uit dat slawerny as sodanig later in die Westerse wêreld verdwyn. Hoewel hy na die letter nie slawerny as verbode beskou nie, is die (G)gees van wat hy sê van so ’n aard dat ons vandag slawerny as sodanig afwys. Wie vandag nog met ’n beroep op die letter wil vashou aan slawerny, sondig teen die Gees in die letter.

14.6.5 Wat Paulus se oortuiging ten opsigte van homoseksualiteit betref, hoor ons soortgelyke geluide by moraalfilosowe uit die Hellenistiese Jodendom (Josephus en Philo) van sy tyd naamlik dat dit “teen – natuurlik” (para fusin Rom 1:26) is. Maar wat beteken “(teen)natuurlik” in ’n teologiese debat oor etiese aangeleenthede? Hier staan ons waarskynlik voor die belangrikste, maar ook die moeilikste kwessie in die hele diskussie. Enersyds moet gewaak word teen ’n “natuurlike teologie” waar uit die (empiriese) biologie afgelei word wat die wil van God vir ons lewe is; andersyds mag ons strand op die rots van ontkenning van die betekenis wat die skepping as werk van God vir ons etiese beslissings inhou.

14.6.6 Wat die verwarring vererger, is die feit dat ons die woord “natuurlik” op verskillende wyses gebruik. Soms beteken dit “normaal” in die sin van algemeen. Dit is dan ’n statistiese aanduiding vir die meerderheid van gevalle. In daardie sin is heteroseksualiteit beslis die normale, want dit kom ten minste in ’n verhouding van 10:1 voor. Maar wat statisties normaal is, is nog by verre nie moreel normatief nie. Dikwels word “natuurlik” egter juis gebruik in laasgenoemde betekenis naamlik as in ooreenstemming met die Godgewilde natuur. Die vraag is egter wat die Godgewilde natuur van die mens is en hoe ons dit te wete kom?

14.6.7 Die saak raak rampspoedig wanneer die derde wyse waarop ons die woord “natuur” gebruik, ons by die beantwoording van hierdie vraag parte speel. Soms gebruik ons die woord “natuurlik” in die sin van die onpersoonlike, niemenslike, biologiese natuur wat die mens inderdaad deel met die diere. Dit geld byvoorbeeld die biologiese seksdrif wat ons gemeenskaplik het met die diereryk. Dit beteken egter nie dat ons dus ons “natuurlike” luste mag laat botvier asof “natuurlik” sinononiem is met “normatief” nie. Vir etiese beslissings is dit noodsaaklik om wat is (die blote bestaan) te onderskei van wat behoort. Indien hierdie verskil verontagsaam word, kan dit gebeur dat die mens hom/haar “onmenslik” dit wil sê “dierlik” gedra, terwyl ’n dier self nie in hierdie sin van die woord in staat is om “dierlik” te wees nie.

14.6.8 Wat moreel waarlik “menslik” is, kan nie maar bloot afgelei word uit ons biologiese organisasie met die gepaardgaande vermoë tot voortplanting wat ons deel met die diere nie. Die gevaar bestaan by sowel die voorstanders as teenstanders van homoseksualiteit dat beide hulle standpunte probeer fundeer op ’n bloot naturalistiese redenasie. Sowel “monogame” as “promiskue” verhoudings tref ons aan in die diereryk. Dieselfde geld van hetero-en homoseksualiteit. “De conclusie moet luiden dat alle diersoorten onder bepaalde omstandigheden natuurlikerwijs ‘homosexueel’ gedrag vertonen. Dit gaat meestal zonder, maar soms met zaadlozing gepaard” (P Pronk). “Natuurlik” is klaarblyklik nie sondermeer dieselfde as “sedelik” nie. Ons drifte en luste na spys en drank, seks en spel wat ons deel met die diere en wat as sodanig goeie gawes is van die Gewer, moet op ’n menslike wyse benut word. Wanneer die gawes die Gewer verdring uit ons gedagtes, besit ons nie meer hierdie gawes nie, maar dit besit ons, dit wil sê ons is daarvan besete.

14.6.9 Dit blyk duidelik uit Rom 1. Die heidene dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper (vs 25). Dit is ten diepste waarom hulle so “dierlik” teenoor mekaar optree. Hulle behandel mekaar as dinge (objekte) en nie as persone (subjekte) nie. Hulle “natuurlike” optrede teenoor mekaar is juis daarom so “teen-natuurlik” want dit is in stryd met die natuur van die mens. Opvallend dat Paulus nie sê dat wat hulle doen sonde is 6 omdat dit teen die natuur is nie, maar omgekeerd is hulle teen-natuurlike optrede vir hom die vrug van hulle sondige afval van die lewende God wat hulle verruil het vir die afgode. Ten diepste is sonde ’n godsdienstige begrip. Sonde is verset teen die konkrete Naam (Persoon) van God en nie teen ’n abstrakte, onpersoonlike “natuurwet” nie. Om jou rug te draai op God is die mees “teennatuurlike” wat ’n mens wat geskape is na die Beeld van God, kan doen. “Daarom gee God hulle aan die drange van hulle hart oor en aan sedelike onreinheid, sodat hulle hulle liggame onder mekaar onteer” (vs 24). As kind van sy tyd kan Paulus die heidense homoseksuele dade nie anders sien as ongebreidelde wellus nie. Dit is die openbaring van ’n “skandelike drif” (vs 26) as simptoon van hulle God-verlatenheid.

14.6.10 Paulus kan soms die begrip “natuur” in ’n normatiewe betekenis gebruik, maar dan het dit nie by benadering die gelade betekenis wat dit in die “natuurlike teologie” het nie. In 1 Kor 11:14v lees ons: “Of leer ook die natuur (fusis) self julle nie dat as ’n man lang hare dra, dit vir hom ’n oneer is nie, maar as ’n vrou lang hare dra, dit vir haar ’n eer is, omdat die lang hare vir haar gegee is as ’n bedekking?”. Dit is skaars nodig om te sê dat ons hier kwalik die dra van kort hare vir die man en lang hare vir die vrou as ’n skeppingsordening (natuurwet) kan bestempel. Die Nuwe Vertaling lui dan ook: “Die algemene opvatting is tog dat dit vir ’n man nie eerbaar is om lang hare te dra nie…” Dit klop ook met die opvatting in die Oudheid waarvolgens haardrag en seksualiteit met mekaar in verband gebring is. Verre van ’n altyd geldende natuurwet, het ons hier klaarblyklik met ’n fatsoenlikheidsnorm wat destyds gegeld het, te make.

14.7 OORSAKE EN REDES

14.7.1 Die afgelope dekades is baie pogings aangewend om “homoseksualiteit” wetenskaplik te verklaar vanuit die biologie (endokrinologie, genetika) en sosiologie (konstruktiwisme). In hierdie verband moet ook die “nature – nurture” debat vermeld word. Dit hou verband met die vraag of daar so-iets soos konstitutiewe of kern homoseksualiteit bestaan waarby die betrokke persoon geen keuse het ten opsigte van sy/haar seksuele oriëntasie nie.

14.7.2 Hoe boeiend hierdie diskussie ookal is, val dit te betwyfel of dit ons enigsins help in ons etiese beoordeling van die aangeleentheid. Net soos die teenstanders van homoseksualiteit dit as in stryd met die natuur afwys, funksioneer die beroep op die biologiese en sosiologiese wetenskappe meermale as ’n poging om aan te toon dat homoseksualiteit inderdaad “natuurlik” is en daarom geregverdig kan word.

14.7.3 Hoewel die wetenskap ons kan help om ’n etiese verskynsel beter te verstaan, het die etiek nie in die eerste instansie te make met onpersoonlike wetenskaplike oorsake nie, maar met persoonlike sedelike redes. Nie die (biologiese of sosiologiese) kousale verklaring van menslike gedrag (behaviour) is deurslaggewend nie, maar persoonlik-menslike motiewe wat dien as verklaring vir jou optrede, is eties uiters belangrik. Nie kousale oorsake nie, maar intensionele (doelgerigte) dade staan in diens van die sedelike vormgewing van ons bestaan. Vir etiese beoordeling is daarom nie biologiese of sosiologiese oorsake beslissend nie, maar wel spesifieke redes as verklaring van wat jy beoog met jou optrede.

14.7.4 Een so ’n rede vir seksuele omgang is byvoorbeeld die verwekking van kinders. Om so ’n rede te kan aanvoer, moet jy uiteraard ook goeie kennis dra van die oorsaak–gevolg relasie tussen wat jy doen en wat jy beoog. Die kousale verband tussen geslagsgemeenskap en swangerskap, kan as rede dien vir eersgenoemde as doelbewuste daad. Maar sou die verwekking van kinders die enigste eties aanvaarbare rede wees vir die beoefening van seks? Regverdig alleen maar die doel om kinders te verwek die daad van seksuele gemeenskap?

14.7.5 Indien die antwoord op die vorige vraag positief sou wees, impliseer dit dat seksuele genot, intimiteit, verlossing van jou eie eensaamheid, geborgenheid, uitdrukking van hartstogtelike liefde, ens sedelik onaanvaarbare motiverings is vir seksuele handelinge. Dit sou impliseer dat middele vir geboortebeperking afgewys moet word, asook seks tussen egpare wat nie kinders kan verwek nie, of tussen ouer persone wat nie meer biologies daartoe in staat is nie. Maar sou dit rym met die (G)gees van Paulus se seksuele adviese in 1 Kor 7, byvoorbeeld dat ’n man en vrou nie omgang met mekaar moet weier nie, behalwe met wedersydse toestemming en dan net vir ’n bepaalde tyd? (vs 7). Of sy raad dat wanneer die seksuele begeerte te sterk is tussen twee verloofdes vir blywende onthouding, dit goed is om te trou? (vs 36). Uiteraard kan in ’n homoseksuele relasie geen kinders verwek word nie, maar impliseer dit dat die ander vrugte van die seksuele wat in heteroseksuele verhoudings aanvaarbaar is, in beginsel vir homoseksueles ontsê moet word? Of sou dit dalk wees dat seksuele dade tussen mense van dieselfde geslag altyd as skandelik beskou moet word omdat die ander altyd net as ’n objek (ding) behandel word en nie as ’n persoon (subjek) sodat beide persone se menslikheid deur die seksuele daad gedien word nie?

14.8 SEKS EN SONDE

14.8.1 Die tyd laat ons nie toe om meer volledig na die seksuele geskiedenis van die Westerse wêreld te verwys nie, maar tog moet daarop gewys word dat wat ons historiese wortels betref daar ’n noodlottige neiging was om seks in alle vorme en sonde te vereenselwig. Dit is in skrille kontras met die Bybel wat eintlik relatief min aandag aan die seksuele gee en heel onbevange daarmee as goeie gawe van God kan omgaan.

14.8.2 Weliswaar moet ernstig gewaak word teen ’n ongenuanseerde veroordeling van die kerk se 7 houding teenoor die seksuele in die verlede. Ook hier moet in gedagte gehou word dat die perversie van die beste die slegste is (perversio optimi pessima). Die grootsheid van die seksuele gawe, maak dit vir sondige mense juis daarom so ’n buitengewoon groot versoeking. Deesdae bestaan daar ’n sterk neiging om die belangrikheid van die seksuele totaal te oorskat en selfs te verabsoluteer sodat dit afgodiese afmetings in beide die heteroseksuele en homoseksuele vorm aanneem. Tog moet ons in die debat in gedagte hou dat die misbruik nie die etiesverantwoordelike gebruik, ophef nie (abusus non tollit usus). In 1 Tim 4 word immers krasse woorde gebruik teen misleidende geeste wat leerstellings van bose geeste aanhang, skynheilige leuenaars wat afwysend gestaan het onder andere teenoor die huwelik (vss 1-3). Daarteenoor verklaar die skrywer: “Alles wat God gemaak het, is immers goed. Niks wat met danksegging ontvang word, is verwerplik nie, want dit word deur die woord van God en deur die gebed geheilig” (vs 4).

14.8.3 Grieks-gnostieke opvattinge het in die vroeë kerk dikwels ’n uiters nadelige rol gespeel in hulle beoordeling van die seksueel-erotiese. Daar is byvoorbeeld deur sommige geredeneer dat eers na die intrede van sonde en dood seksualiteit na vore gekom het om die voortgang van die menslike geslag moontlik te maak. Ander aanvaar dat ook sonder sonde daar menslike voortplanting sou wees, maar blykbaar sonder die daarmee gepaardgaande lusbelewing! Dit gebeur dan ook dat seksuele lus en erfsonde dikwels besonder nou verbind word. Verset teen sonde kom derhalwe baie naby aan verset teen seksualiteit. Die verband tussen sonde-seks-vrou-dood het ’n gevaarlike kombinasie gevorm. Dit is daarom verstaanbaar dat voortplanting dikwels as die eintlike regverdiging van die seksuele, wat insigself eintlik sleg is, gesien is. Die sedelike doel, moet dan die onsedelike handeling heilig. Kinders word hiervolgens nie uit liefde nie, maar bloot uit lus, gebore. Die histories hoë waarde wat enersyds geheg word aan huwelik en gesin, en die verheffing andersyds van die selibaat as onthouding van seks, hang waarskynlik saam. Dat daaruit gevolge moet voortvloei vir die beoordeling van homoseksualiteit, is sondermeer duidelik.

14.9 SEKSUALITEIT BINNE SAMEHANG

14.9.1 Dit is onmoontlik om homoseksualiteit op ’n sinvolle wyse in isolasie van seksualiteit as sodanig aan die orde te stel. Laasgenoemde is op sy beurt weer onlosmaaklik verbonde met ’n Bybelse Godsleer, skeppingsleer (wat mensleer insluit) en eskatologie (die leer van die voleinding). Leer en lewe vorm immers altyd ’n hegte eenheid. As geskape na die beeld van God (wat Liefde is, 1 Joh 4: 7), bestaan daar die nouste verband tussen Godsbeeld en mensbeeld. Voorts staan skepping nie los van geskiedenis en voleinding as die doel waarheen God met sy skepping op pad is nie. Ook huwelik en seksualiteit, soos ons dit ken, behoort tot die bedeling wat verbygaan, maar is terselfdertyd ’n teken en vooruitwysing na daardie Toekoms waarin “die kinders van die opstanding” nie in die huwelik uitgegee word nie (Luk 20:34- 36; Matt 22:30) omdat die werklikheid waarna dit verwys, naamlik “die bruilof van die Lam” (Op 19:7) dan aangebreek het. Dit relativeer ons aardse seksualiteit en gee dit terselfdertyd ’n glorie en samehang wat ons denke te bowe gaan, maar in die geloof bely word.

14.9.2 Van besondere gewig is die samehang, die orde of gelaagdheid van die verskillende aspekte van liefde wat wel onderskei, maar nie geskei kan word nie naamlik sexus, eros, philia en agapè. Sexus het te make met die biologiese gegewene van geslagtelikheid en die daarmee gepaardgaande lusbelewing. Opsigself genome verskil die mens hierin weinig van die dier. Opsigself gesien kom dit eintlik van onder die drumpel van ons menswees na bo en verbind ons met die diereryk. Wanneer daarom al die aksent op sexus en singenot geplaas word, word die mens minder as ’n mens. Eros sluit aan by sexus, maar gaan dit terselfdertyd te bowe. Dit sluit liggaamlike genot in, maar verdiep dit tot vreugde. Dit het te make met die onstilbare verlange na vervulling, na vrede, na stilte, na skoonheid, na geluk. Wanneer dit losgemaak word van die konkreetheid van die sexus, vervlugtig dit maklik tot ’n romantiese verliefdheid op (abstrakte) liefde as sodanig ten koste van die (konkrete) geliefde van vlees en bloed. Juis die konkreetheid van die geliefde met sy/haar spesifieke geestelike en liggaamlike behoeftes (onder andere ook ten opsigte van sexus en eros) vra om die philia wat gestalte aanneem as lojaliteit en trou in die daaglikse deelname aan die vreugdes en stryd van die lewe. Dit het die konnotasie van duursaamheid, sak sout saam opeet, beskutting en geborgenheid binne ’n veilige omheining waar ook die genot van die sexus en die vreugde van die eros kan gedy.

14.9.3 Al hierdie gestaltes van die liefde behoort tot “hierdie wêreld soos ons hom ken” wat besig is om verby te gaan (1 Kor 7:31). Van die waarheid dat man en vrou saam sal lewe sodat die twee een is (Ef 5:31) verklaar die volgende vers: Hierin lê ’n diep geheimenis opgesluit, en ek pas dit toe op Christus en die kerk. Karl Barth kan dan ook na die huweliksverhouding verwys as die “klein geheimenis” wat heenwys na die “groot geheimenis” van ons lewe naamlik die bruilof van die Lam waarop ons wag. Dit beteken terselfdertyd ’n relativering van die huwelik sodat die klein geheimenis nie die groot geheimenis van ons bestaan moet word nie. Die seksuele, ook in die mees gesublimeerde selfs godsdiensige gestaltes, kry dan afgodiese trekke. Die gawes kompeteer dan met die Gewer. In die lig van die komende Koninkryk kan Paulus by geleentheid selfs sê dat dié wat getroud is moet lewe asof 8 hulle nie getroud is nie (1 Kor 7:29). Dit beteken geen vyandigheid teenoor die huwelik nie, maar ’n heerlike humorvolle relativering en bevryding daarvan. As behorende tot hierdie bedeling wys die huwelik vooruit na ’n toekomstige gemeenskap wat die huwelik te bowe gaan. Daarom is om getroud te wees ook geen voorvereiste om volkome mens te wees nie. Immers Christus self, die waaragtige mens, was nie getroud nie.

14.9.4 Daar is nog ’n vierde vorm van die liefde naamlik agapè wat, hoewel dit nie heeltemal pas in hierdie lewe nie, daarin neerdaal as vrug van die Gees (Gal 5:22) en sodoende ook al die ander gestaltes van die liefde, heilig. Terwyl die sexus van onder die drumpel van ons menslikheid vandaan kom en ons verbind met die diereryk, dring die agapé van bo die plafon ons werklikheid binne en gee ons deel aan die Godsryk. Dit is ’n liefde wat gemotiveer word nie deur die waarde van die ander nie, maar deur die nood en ellende, die siekte en sonde, die gebrek en broosheid van my naaste, binne en buite die huwelik. Dit hou stand ook wanneer die ander persoon menslik gesproke ’n las word, wanneer die skoonheid van die eros kwyn en die drif van die sexus verdwyn; wanneer die ander geen skuilplek meer vir my is nie, maar ek geroep word om ’n skuilplek te bied vir die ander. Hierdie Goddelike Liefde het konkrete gestalte aangeneem in die krip en aan die kruis waar die Seun gesterf het vir ons sonde en ellende. Dit is hierdie liefde van God wat deur die Heilige Gees as Tolk en Trooster, uitgestort is in ons harte (Rom 5:5).

14.9.5 Hoewel binne die morele orde die rigting van die agapè nie gerig is na bo nie, maar na onder; nie na wat kosbaar is nie, maar wat kwesbaar is; staan dit nie vyandig teenoor die ander vorme van liefde nie. Daarvan getuig onder andere die opname van die boek Hooglied in die kanon. Ook die agapè gaan met Goddelike hartstog en heilige vreugde gepaard. Die gelaagdheid van die liefde dui op ’n gerigtheid waarin ook die sexus as heenwysing kan dien na die hartstogtelike Liefde van die “jaloerse” God, wat sy volk (bruid) nie deel met die afgode nie. In die Ou Testament is “idolatry” en “adultery” dan ook ten nouste verbonde.

14.9.6 Terwyl die liefdesgebod die wese is van elke gebod van God omdat daarin die ware wese van die mens as beelddraer van God tot uitdrukking kom, moet die vraag gestel word of ’n homoseksuele relasie nie uitdrukking kan wees van die liefdesgebod nie? Oor die antwoord op hierdie vraag loop die opinies uiteen, maar is dit vir ’n heteroseksuele persoon moontlik om dit sonder meer te ontken? Sou die kerk in die beantwoording van hierdie vraag nie ten minste groot erns moet maak met die getuienis van homoseksuele lidmate vir wie die Christelike geloof ook kosbaar is nie? Of is dit ondenkbaar dat laasgenoemde moontlik kan wees?

14.10 MAAK DIT SIN OM TE PRAAT VAN ’n HOMOSEKSUELE “HUWELIK EN GESIN?”

14.10.1 Indien ’n homoseksuele verhouding wel uitdrukking kan wees van die Christelike liefde, plaas dit ons voor nuwe vrae. ’n Brandende kwessie is hoedat so ’n verhouding maatskaplik gestalte moet aanneem. Alle egte liefde soek na duursaamheid en daarom ook na institusionele vormgewing.

14.10.2 Ook waar eenstemmigheid bestaan dat aan duursame homoseksuele relasies een of ander vorm van regsgeldigheid verleen moet word, loop die opinies nog uiteen oor die aard daarvan. Sou ook hiervan gepraat kon word as ’n “huwelik” met dieselfde regte en voorregte daaraan verbonde of moet hier tog onderskeid gemaak word ook wat die kerklike inseëning betref? Die Lutherse biskoppe in Skandinawië het byvoorbeeld besluit dat “parish priests are free to use their liturgical imagination in this area – with one restriction: The worship, whether it is called intercession or blessing should not be designed in such a way that it might be confused with a marriage service nor should it express the idea that homosexual life together is an equal and alternative to heterosexual marriage.” Sommige dink hier aan ’n parallel met heteroseksuele pare wat nie tot ’n huweliksluiting oorgaan nie, maar tog in ’n vaste duursame verhouding wil lewe. Ook vir hulle word deesdae meer regsbeskerming bepleit sonder dat dit as huwelike beskou word. Dit is basies die posisie wat die protestantse kerke in Frankryk in 1998 ingeneem het. In elk geval is ons hier ver verwyder van die vroeëre situasie, wat nog steeds in sommige Afrika lande geld, naamlik dat homoseksuele verhoudings deur die wet as strafbare oortredings beskou word.

14.10.3 Veral wanneer dit by die aanneming van (of kunsmatige inseminasie in geval van lesbiese pare met die oog op eie) kinders kom, voel sommige baie sterk daaroor dat ’n onderskeid tussen die huwelik tussen man en vrou en hierdie “regsooreenkoms van solidariteit” tussen heteroen homoseksuele pare getref moet word. Dit hou verband daarmee dat die regte van kinders tans veel sterker figureer as voorheen en daar nog onduidelikheid bestaan oor die vraag of dit voordelig vir die kinders is om deur ouers van dieselfde geslag grootgemaak te word. Mens sou hier weliswaar kon dink aan die talle voorbeelde van enkel-ouer gesinne, maar ook dit word uiteraard nie as ideaal gesien nie. Wanneer die aanneming van kinders deur homoseksuele pare afgewys word, beteken dit waarskynlik nie dat daarmee die reg van sulke pare om sekere verantwoordelikhede ten opsigte van spesifieke kinders te aanvaar, ontken word nie ook al impliseer dit nie noodwendig ’n ouer-kind relasie nie. Dit is in elk geval duidelik dat hier nog ten minste heelwat dinkwerk vir die etiek voorlê.

14.10.4 Indien aan ’n homoseksuele verhouding regsgeldigheid verleen sou word, sonder om dit sondermeer as huwelik te bestempel, kan moontlik gedink word aan die verskillende verbondsrelasies wat ons in die Ou Testament 9 aantref waarvan die huweliksverbond een was. Ook ’n vriendskapverhouding tussen persone van dieselfde geslag kon as verbond bestempel word wat in die teenwoordigheid van God gesluit word soos in die geval van Dawid en Jonatan. Daar is selfs al in die verlede pogings aangewend om hulle verhouding ’n homoseksuele karakter te gee, maar daar bestaan hoegenaamd nie genoegsame rede daarvoor nie. Nietemin word sterk woorde gebruik in 1 Sam 18:1 en 3 waar sprake is daarvan dat hulle mekaar liefgehad het soos vir hulleself. Mens kan ook dink aan Dawid se klaaglied na die dood van Jonatan (2 Sam 2:26): “Ek is bedroef oor jou, my broer Jonatan. Jy was baie na aan my hart. Jou liefde was vir my wonderliker as die liefde van enige vrou.” Tereg wys F J Pop daarop dat hulle nie tevrede was om maar net in ’n wedersydse liefdesverhouding met mekaar te lewe nie, want in die verbond word hulle liefde opgehef tot ’n regsverhouding waardeur dit onttrek word aan die tydelike en vryblywende. Hy sien daarin niks minder nie as ’n parallel met die huwelik tussen man en vrou. Sou ’n mens dalk kan sê dat ’n permanente seksuele verhouding tussen mense van dieselfde geslag gesien kan word as in die verlengde van hierdie verhouding tussen Dawid en Jonatan?

14.11 AANBEVELINGS: HOMOSEKSUALITEIT

14.11.1 In die lig van die voortgaande besinning verklaar die Algemene Sinode dat ons nie langer kan volstaan met die verslag Homoseksualiteit: Wat sê die Kerk? van 1986 nie. Die Algemene Sinode versoek ampsdraers en kerkvergaderings derhalwe om met groot omsigtigheid die aangeleentheid te hanteer in afwagting op die besluite van die volgende Algemene Sinode.

14.11.2 Die Algemene Sinode dra dit op aan die Algemene Kommissie vir Leer en Aktuele Sake om ’n grondige teologies-etiese studie te doen oor homoseksualiteit met die oog op die volgende Algemene Sinode. Die kommissie betrek ook ander kommissies en deskundiges by die besinning oor hierdie saak. Veral moet gepoog word om ook gelowiges met ’n homoseksuele oriëntasie by die ondersoek te betrek. Lidmate en kerkvergaderings word genooi om aan hierdie besinning deel te neem.

14.11.3 Die Algemene Sinode versoek die Algemene Kommissie vir Leer en Aktuele Sake om hierdie studie te onderneem binne die raamwerk van die meer omvattende antropologiese vraag na die rol van die seksuele as sodanig, in die lewe van mens en maatskappy.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui