Pieter Prinsloo se beoordeling van Louis Jonker se gesprek op RSG

Kyk ook:

Deur Pieter (PJG) Prinsloo

(Na aanleiding van die gesprek op RSG: Kan Moslems en Christene saam bid?, 5 Mei 2019)

KONTEKS VAN DIE GESPREK

DIE KONTEKS – GESPREKSLEIER: ’n Man wat weens sy gespanne geskiedenis met die NGK, ’n byltjie te slyp het met die belydenis van die NGK, en daarom doelbewus  “uit ’n ander hoek”  probeer voorbrand maak dat alle godsdienste gelyk is. ’n Man wat daarom streef daarna om gespreksgenote te kry wat, soos hy, “uit ’n ander hoek” praat oor godsdiens, as dit wat deur die NGK bely word.

By hierdie spesifieke geleentheid poog hy om een godsdiens te verkoop na aanleiding van die gebeure in Nieu Seeland waar ’n klomp Moslems tragies vermoor is, met die gevolg dat ’n NGK leraar ’n nagwaak saam met Moslems gehou het. Natuurlik moet die skietery ten sterkste veroordeel word, maar eweneens moet dit ten sterkste veroordeel word dat ’n Christenleraar hierna ’n nagwaak (met oa saambid tot ’n godheid) saam met Moslems gereël het.

DIE KONTEKS – GELEENTHEID VIR DIE EVANGELIE

Dit is van kritiese belang dat ’n NG teoloog duidelik sal getuig binne hierdie konteks van bevraagtekening van die NGK se belydenis aangaande ware godsdiens, veral wanneer die gehoor in ag geneem word …

WIE IS DIE GEHOOR BY HIERDIE GELEENTHEID?

  • Moslems en mense van ander gelowe wat verlore kan gaan, indien hulle met valse gerustheid bly dink dat mense uit alle gelowe gered kan word.
  • Baie Christene wat kinders in die geloof is, en versterk moet word in die waarheid van die evangelie dat alle godsdienste nie gelyk is nie, want ander godsdienste verwerp Christus as God, Verlosser en Here. Daarom aanbid Moslems, Christene en Jode nie dieselfde God nie.
  • ‘n NG teoloog moet dit as hoogste roeping beskou om binne hierdie belaaide konteks (van verdagmakende gespreksleier en vertwyfelde gehoor), so duidelik te getuig dat die waarheid van die belydenis oor Christus helder sal straal. Enige suggestie dat Moslems, Christene en Jode dieselfde God aanbid is immers laster en weerspreking van die duidelike leer van die Bybel soos dit saamgevat word in die belydenisskrifte van die NGK (belydenisskrifte wat die NGK reeds vir eeue deel met kerkgroeperinge oor die wêreld.)

DIE VRAE:

Jean Oosthuizen se vrae is eenvoudig en vereis nie ’n ingewikkelde antwoord waarvoor ure se bespreking benodig word nie. Die vrae het te make met die hart van die Christelike geloof, en daarom het die Kerk deur die eeue ’n duidelike belydenis waarin hierdie vrae vanuit die Skrif beantwoord word. Jonker het dus nie nodig om, soos wanneer dit gaan oor ingewikkelde gedeeltes in die Skrif (sien 2 Pet 3:16), versigtig te soek na woorde nie, maar kan bloot die Kerk se duidelike belydenis adem. Die vier belangrike vrae uit die gesprek kan as volg saamgevat word:

  1. Dien Jood, Christen en Moslem dieselfde God?
  2. Is Christus die enigste Verlosser?
  3. Het die Bybel dieselfde gesag as die heilige geskrifte van ander godsdienste?
  4. Is sendingwerk waar ander gelowe opgeroep word tot bekering, noodsaaklik?

Die belydenis van die Kerk oor hierdie vier kernsake van die Christelike geloof, is baie duidelik en eenvoudig (waar enige onduidelikheid oor hierdie kort eensin antwoorde is, kan mense bloot die Kerk se belydenis oor hierdie sake in ons belydenisskrifte – met Skrifverwysings – gaan lees):

  1. Nee, ons aanbid nie dieselfde God nie. Moslems en Jode verwerp Christus as God, Verlosser en Here en is daarom afgodsdienaars. (Sien NGB 26)
  2. Ja, vanuit die Skrif bely die Kerk dit as die geopenbaarde waarheid dat Christus die enigste Verlosser is. (Sien bv HK 11, NGB 21 met Skrifverwysings)
  3. Nee, die Bybel is die enigste boek wat God se geopenbaarde wil bevat. (Sien NGB 2-7)
  4. Ja, ons word geroep om te getuig en mense op te roep tot bekering.

DIE VERWAGTING: Binne hierdie konteks van verdagmakende agenda, vertwyfelde gehoor en eenvoud van antwoorde oor die kernsake van die Christelike geloof, sou mens verwag dat ’n Christenteoloog – wat Christus liefhet as sy heilige Verlosser en Here, en leef uit elke Woord wat uit die mond van God kom – sy roeping sal begryp om met dringendheid die waarheid oor Skrif en verlossing te betuig, aan die hand van die duidelik, Skrifgetroue belydenis van die Kerk.

GREPE UIT DIE GESPREK

Jean: Louis en Fadiel, ek wil graag vir albei van julle vra, beide die Moslemgeloof en die Christengeloof stam uit Abraham uit, en so ook die Joodse geloof, maw al drie is deel van die sogenaamde Abrahamitiese godsdienste, en daar is baie verskillende interpretasies en so aan, maar die vraag waaroor baie gestry word is of Moslems en Christene en Jode dan nie dieselfde god aanbid as wat Abraham aanbid het nie, en ek is bewus van die verskille soos wat ek sê, maar hoe antwoord ’n mens die vraag, Louis, as al drie uit die Abrahamitiese geloof stam: aanbid hulle dan nie dieselfde god al sien hulle die god op ander maniere nie.

Louis: Ek dink dis ’n belangrike vraag om juis die onderskeide en die ooreenkomste ook duidelik te kan aantoon. Baie keer is mense onthuts om te hoor Abraham was nie ’n christen nie, maar ek is doodseker dat ek vir Abraham gaan teëkom in die hiernamaals. Dit daar gelaat. Ek dink dis ’n verkeerde vraag om te vra wie se God is die regte God. Ek dink ons moet ’n tree terug gee om te sê ons as mense raak bewus van ’n Opperwese op verskillende maniere. Dit is so dat ons op ’n manier ook in ons menswees, daarvoor kom ons sê, bedraad is om ook te kan agterkom daar is meer in hierdie werklikheid as dit wat ons met ons oë ook kan sien. Nou is dit uiteraard so dat ons ook op verskillende maniere uiting gee daaraan maar ons kan nie anders as om dit bloot binne ons menslike raamwerk te doen nie. As ons van ’n God praat, dan praat ons per implikasie van ’n werklikheid wat buite ons werklikheid lê. So om oor God te praat, is eintlik by implikasie onmoontlik. Ons kan nie God wil wees deur oor God te praat nie, ons kan dit slegs vanuit ons eie menslike raamwerk doen, en daarom is dit ook belangrik om te sê dat in verskillende kontekste, in verskillende dele van die geskiedenis is dit so dat die verwoording oor wie hierdie God is op verskillende maniere gebeur het. Dit beteken nie dat as ek dit sê, nou daarmee ook die eiesoortigheid van die manier waarop die christendom dit doen daarmee verloën word nie. Trouens ek meen die christendom het ook ’n bepaalde inset om te maak in die gesprek oor godsdiens en hoe God dan ook verstaan word, veral dan ook tussen die drie Abrahamitiese godsdienste. Ons is trouens met ’n sentrum besig by die Universiteit van Stellenbosch waar ons juis gesprek ook tussen hierdie drie godsdiensgroepe oor hulle geskrifte heen, op gang wil kry sodat ons mekaar beter kan leer verstaan, en sodat ons ook van mekaar kan leer. Daarmee verloën nie een van ons die eiesoortigheid van ons eie godsdiens nie, maar ons besef dat ons uiteindelik mekaar se bloedbroers en mekaar se bloedsusters is.

Jean: Louis, diegene wat glo dat Moslems kan nie gered word nie, beroep hulle op ’n teks in die Bybel wat sê Jesus is die enigste weg na saligheid – Johannes 3:35,36 – en dieselfde dominee na wie die sjeg nou-nou verwys het sê daar staan: “wie nie die Seun het nie, het ook nie die Vader nie” en dan “die toorn van God bly op so ’n mens” wat beteken dit en hoe moet christene dan hierdie teks verstaan?

Louis: Jean ja, dit is juis die soort eksklusiewe interpretasie, dink ek, wat jy nou ook as voorbeeld gebruik het. Ek het nou-nou ook verwys daarna dat Abraham nie ’n christen was nie, en ook nie Jesus Christus geken het nie en tog is daar binne die christendom geen twyfel daaroor dat Abraham ook as ’n voorbeeld van geloof gesien word nie. In die boek Hebreërs word vader Abraham dan ook as vader van die christendom in sekere sin aangedui. Ek sien dit op die manier dat, ekself is in my eie begrip te klein om te besef hoe God ook met hierdie dinge te werk gaan. Ek laat die oordeel uiteindelik aan God oor. Daarmee saam sê ek dan ook dat ek persoonlik as christen ’n groot sin daarin vind om in Christus my redding te vind, om Christus as Verlosser te aanvaar en ook in Christus te leef, maar dit beteken nie dat ek enigsins my dit kan indink dat God nie op ’n manier ook na mense soos Abraham se redding kan kyk sonder dat Christus self daarby betrokke is nie. Ek dink nie mens neem iets van die christendom weg om ook te sê Christus se reddingswerk kan ook wyer strek as net diegene wat binne die christendom is en wat Christus geken het nie.

Jean: … christene het die Bybel en Moslems het die Koran, en dan vra hulle mekaar of iemand van buite vra watter boek is nou regtig die onfeilbare boek. Hoe moet ’n mens die heilige geskrifte dan verstaan, Louis?

Louis: Ja, dit is dan juis die fokus van die sentrum wat ons in Stellenbosch aan die vestig is, is om te kyk na die soort uitlegstrategieë wat in die christendom gebruik word en wat in die Judaïsme gebruik word en uiteindelik in Islam gebruik word om hulle heilige geskrifte uit te lê. Nou, eerstens moet ’n mens ook sê dat dit nie net die drie godsdienste is wat van mekaar verskil nie, maar dat daar ook weereens ’n spektrum is van die woord wat ons dikwels gebruik, hermeneutieke is, dws van uitlegstrategieë, binne elkeen van hierdie godsdienstige omgewings. Binne die christendom is dit so dat in die Bybelwetenskap is daar algaande ook dan oor jare heen wat dit ontwikkel het, om ’n soort uitlegstrategie te hê waarin ons juis ook dialogies na die waarheid soek, dws in gesprek met die gelowiges wat ons voorafgegaan het en wat dan  ook verantwoordelik was om die Bybelse geskrifte tot stand te bring, maar dat ons dit ook doen in gesprek met ons broers en susters wat rondom ons is, wat in die tyd leef waarin ons nou is. Dit beteken ook dat ons binne die christendom met mense wat radikaal verskil van mekaar ook in gesprek moet kan gaan oor die Bybel, maar ook verder nog dat ons in gesprek moet kan gaan met mekaar oor godsdiensgrense heen. Ek dink dit is ’n fassinerende ding om juis ook agter te kom van mekaar hoe lees ons ons heilige geskrifte. Dit is so dat daar sterker tendense is binne Islam en sterker tendense is binne die christendom hoe ons ons geskrifte verklaar, maar uiteraard as ons dit nie van mekaar leer ken nie, dan kan ons ook nie oor oor ons geskrifte met mekaar gesels nie.

Jean: Ons moet afsluit, miskien net ’n laaste gedagte kortliks van elkeen van julle; mens sien baie dat sekere mense van een geloof wil die ander geloof bekeer of oortuig. Is dit reg, dat Louis, sê nou maar dat byvoorbeeld christene in Moslemlande invaar om Moslems tot hulle geloof te bekeer of andersom. Moet mense nie maar net mekaar se gelowe respekteer nie?

Louis: Kyk, ek dink daar sit groot sin in om ’n mens se eie godsdiens ook met oortuiging te kan uitleef. Ek wil nie daaroor enigsins, jy weet, ’n ander siening handhaaf nie, en waar ek ook al heengaan wil ek as christen ook my oortuiging kan uitleef, en dit beteken nie dat daarmee ander mense nou moet gaan oortuig nie. Ek dink binne die christendom besef ons te min die waarde van getuig en ons wil te veel oortuig. Bloot deur te getuig van die genade wat ons in Christus vind dink ek ons lewer uiteindelik ook aan ander uit ander omgewings ’n getuienis wat iets sê van die liefde wat ons in Christus gevind het. Ek wil nie mense met ’n Bybel oor die kop slaan en sê dat jy moet jou nou bekeer tot hierdie geloof wat ek het, andersins gaan jy nie gered word nie. Ek kan dit eenvoudig net nie ruim met die God wat ek leer ken het in Christus nie.

ONTHOU WEER DIE KONTEKS EN VRAE

Oosthuizen se vrae soek in kern duidelike antwoorde oor die volgende:

  • Dien Jood, Christen en Moslem dieselfde God?
  • Is Christus die enigste Verlosser
  • Het die Bybel dieselfde gesag as die heilige geskrifte van ander godsdienste?
  • Is sendingwerk waar ander gelowe opgeroep word tot bekering, noodsaaklik?

Hierdie vrae is werklik nie moeilik om duidelik te antwoord nie, en enige ware Christen kan dit helder en duidelik beantwoord sodat ’n laerskoolkind die antwoorde kan verstaan. Teen hierdie agtergrond, die volgende aantekeninge oor Jonker se antwoorde op hierdie vrae. Onthou weer die konteks: Jonker het hier ’n goue geleentheid gehad om die verdagmaking van die Christelike geloof deur persone soos Oosthuizen, eenvoudig en duidelik te kon besweer ter wille van duisende luisteraars wat weekliks deur Oosthuizen konfronteer word met  “alternatiewe godsdienstige idees”. Die vrae van Oosthuizen is duidelik en skep ’n goue geleentheid om helder te bely wat die NGK se Skrifgetroue belydenisskrifte saamvat oor hierdie sake. Helaas, sal ons sien, faal die teoloog Jonker klaaglik om te bely wat Christene bely. Sy antwoorde ontduik, verwar en ontken dit wat mens by ’n Christen sou verwag. Hy wend hom tot filosofiese antwoorde, sonder om homself duidelik te verantwoord in die lig van Skrif en belydenis van die Kerk.

DIEN JOOD, CHRISTEN EN MOSLEM DIESELFDE GOD?

Die antwoord hierop is eenvoudig: Jood en Moslem verwerp Christus as God, Verlosser en Koning en dien daarom nie dieselfde God as Christene nie. Jonker verkies egter om soos ’n ware politikus – eerder as ’n Christenteoloog – die vraag te antwoord: “Ek dink dis ’n verkeerde vraag om te vra wie se God is die regte God.” Ekskuus? Natuurlik kan ons duidelik antwoord dat ons as Christene vanuit God se Woord weet dat Hy die ware God is, en dat ons vanuit Sy betroubare Woord weet hoe ons Hom moet dien. Ons vat hierdie leer oor wie God is en hoe Hy gedien moet word duidelik saam in die Skrifgetroue belydenisskrifte van die Kerk. Jonker besluit egter dat ons God nie regtig ken of weet wie Hy is nie. Jonker beweer dat ons nie oor God kan praat nie want ons weet niks van Hom nie: “Ek dink ons moet ’n tree terug gee om te sê ons as mense raak bewus van ’n Opperwese op verskillende maniere. Dit is so dat ons op ’n manier ook in ons menswees, daarvoor kom ons sê, bedraad is om ook te kan agterkom maar daar is meer in hierdie werklikheid as dit wat ons met ons oë ook kan sien. Nou is dit uiteraard so dat ons ook op verskillende maniere uiting gee daaraan maar ons kan nie anders as om dit bloot binne ons menslike raamwerk te doen nie. As ons van ’n God praat, dan praat ons per implikasie van ’n werklikheid wat buite ons werklikheid lê. So om oor God te praat, is eintlik by implikasie onmmoontlik. Ons kan nie God wil wees deur oor God te praat nie, ons kan dit slegs vanuit ons eie menslike raamwerk doen, en daarom is dit ook belangrik om te sê dat in verskillende kontekste, in verskillende dele van die geskiedenis is dit so dat die verwoording oor wie hierdie God is op verskillende maniere gebeur het.”  Mens staan in verstomming oor Jonker; het hy dan heeltemal vergeet dat, hoewel ons niks uit ons eie vernuf oor die onsigbare God kan uitvind en weet nie, dit God behaag om Homself in die Skrif duidelik aan ons te openbaar. Die NGK bely dan saam met die wêreldwye Kerk: “Ons glo dat hierdie heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe is, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die heilige Skrif geleer word nie … en aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daaraan weg te laat blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome is.” (NGB 7)  Wanneer ons dus oor God praat, probeer ons nie God speel, soos Jonker beweer nie, ons is bloot vroom en eerbiedig om God se selfopenbaring belydend en met vertroue na te spreek. Dit is dus duidelik dat Jonker nie bereid is om te bely dat slegs Christene aanbidders van die ware God is wat Homself in die heilige Skrif aan ons openbaar het nie. Jonker kan hoogstens stel: “ek meen dat die christendom het ook ’n bepaalde inset om te maak in die gesprek oor godsdiens”.

Dit is baie belangrik om te besef wat Jonker se vertrekpunt tot die kennis van God is; Jonker is beslis nie gemaklik om te bely dat ons God slegs kan ken deur die heilige Skrif waarbinne Hy kennis van Homself aan ons openbaar het nie. Inteendeel is Jonker se benadering tot die kennis van God as volg: “Ons kan nie God wil wees deur oor God te praat nie, ons kan dit slegs vanuit ons eie menslike raamwerk doen, en daarom is dit ook belangrik om te sê dat in verskillende kontekste, in verskillende dele van die geskiedenis is dit so dat die verwoording oor wie hierdie God is op verskillende maniere gebeur het.

Jonker is dus oortuig dat die antwoord oor wie God is wissel, afhangend van die raamwerk van iemand se eietydse idees oor God, soos bepaal deur die tydperk van die geskiedenis waarbinne die mens leef. Ewige waarheid oor God, geopenbaar deur God aangaande Homself is dus nie Jonker se vertrekpunt nie.

IS CHRISTUS DIE ENIGSTE VERLOSSER?

Die antwoord op hierdie vraag is tog duidelik, en selfs noodsaaklik as mens die luisteraars in ag neem wat sit en luister na die program. Mens sou verwag dat ’n Christenteoloog onomwonde die heilige Skrif sal naspreek en bely dat Christus die enigste Verlosser is (Sien oa NGB17-26 en HK Sondag 5-8). Tevergeefs wag mens dat Jonker sal bely dat Christus die enigste weg en die waarheid en die lewe is, asook die enigste Verlosser. Trouens ontken Jonker eerder dat Christus die enigste Verlosser is: “Ek sien dit op die manier dat, ekself is in my eie begrip te klein om te besef hoe God ook met hierdie dinge te werk gaan. Ek laat die oordeel uiteindelik aan God oor. Daarmee saam sê ek dan ook dat ek persoonlik as christen ’n groot sin daarin vind om in Christus my redding te vind, om Christus as Verlosser te aanvaar en ook in Christus te leef, maar dit beteken nie dat ek enigsins my dit kan indink dat God nie op ’n manier ook na mense soos Abraham se redding kan kyk sonder dat Christus self daarby betrokke is nie.” Jonker leer, teenoor die belydenis dat God ook na mense se verlossing kan kyk sonder dat Christus daarby betrokke is! Jonker verloën hiermee vir Christus as die Weg en Waarheid en Lewe deur op ’n skrikwekkende manier Abraham as voorbeeld van verlossing buite Christus om te noem – ons kom nou-nou terug na hierdie Skrifverduisterende interpretasie van Jonker rakende Abraham. Jonker weet hy is op dun ys en daarom voeg hy as troosprys by dat Christus darem oorweeg kan word as die een wat vir alle mense verlossing bring: “Ek dink nie mens neem iets van die christendom weg om ook te sê Christus se reddingswerk kan ook wyer strek as net diegene wat binne die christendom is en wat Christus geken het nie.” Jonker bied dus as troosprys die moontlikheid aan dat Christus eintlik vir almal verlossing gebring het. Die gronde van hierdie vrysinnige idees oor verlossing? Jonker se teologie is nie Skriftuurlik-belydend nie, maar filosofies-spekulatief.

Jonker se idees adem die idees van die postmodernisme dat daar geen vaste waarheid is nie; Daarom is dit uit sy oogpunt haalbaar om Christus te bely, maar hy beskou dit maar net as sy persoonlike perspektief en nie as die geopenbaarde leer deur God se heilige skrywers nie, en daarom wil hy dit nie op iemand ander afdwing as die vaste waarheid nie“Daarmee saam sê ek dan ook dat ek persoonlik as christen ’n groot sin daarin vind om in Christus my redding te vind, om Christus as Verlosser te aanvaar en ook in Christus te leef, maar dit beteken nie dat ek enigsins my dit kan indink dat God nie op ’n manier ook na mense soos Abraham se redding kan kyk sonder dat Christus self daarby betrokke is nie.” Hiermee weerspreek Jonker die belydenis van die Kerk duidelik: “Ons glo dat ons geen toegang tot God het nie as net deur die enigste Middelaar en Voorspraak, Jesus Christus die Regverdige …” en verder aan “… Maar hierdie Middelaar wat die Vader tussen Homself en ons aangestel het, moet ons nie deur Sy verhewenheid laat terugdeins sodat ons ‘n ander middelaar na ons eie insigte sou soek nie.”  (NGB 26)

Soos genoem, maak Jonker voorts die skokkende bewering dat Christus nie noodwendig die weg tot verlossing is nie, deur op verstommend-misleidende wyse na Abraham se verlossing te verwys: “Baie keer is mense onthuts om te hoor Abraham was nie ’n christen nie, maar ek is doodseker dat ek vir Abraham gaan teekom in die hiernamaals.”  en “Ek het nou-nou ook verwys daarna dat Abraham nie ’n christen was nie, en ook nie Jesus Christus geken het nie en tog is daar binne die christendom geen twyfel daaroor dat Abraham ook as ’n voorbeeld van geloof gesien word nie.” Jonker is hiermee besig met skokkende Skrifverduistering. As teoloog behoort hy van beter te weet – Abraham, wie se hoop reeds in die OT op die Verbondsgod se beloftes gerig was, is gered omdat Christus die uiteindelike Waarmaker van die beloftes van die Verbondsgod was. Ter wille van die bondigheid van my kritiek, voeg ek bloot as voetnota[1] ’n meer volledige bespreking aan waarin aangetoon word dat dit bloot Godslastering is om te beweer dat Abraham se verlossing buite Christus om plaasgevind het, en dit boonop te suggereer dat daar ooreenkomste is tussen Moslems en Abraham se geloof te vinde is. Dit kan as volg verduidelik word: Daar was geen ooreenkomste tussen Abraham se geloof en die geloof van latere Abrahamiete/Israeliete wat God se verbond geminag het, en Baal aanbid het nie, en daar is ook geen ooreenkomste tussen Abraham se geloof en mense soos Moslems wat God se verbondsbeloftes in Christus verwerp maar “God” aanbid nie.

Wanneer Jonker voorts beweer: “Ek sien dit op die manier dat, ekself is in my eie begrip te klein om te besef hoe God ook met hierdie dinge te werk gaan. Ek laat die oordeel uiteindelik aan God oor”, dan moet dit beslis nié as vroom woorde gesien word nié. Natuurlik is dit so dat ”ekself is in my eie begrip te klein om te besef hoe God ook met hierdie dinge te werk gaan”. Nou waar laat dit ons? Moet ons maar raai en hoop vir die beste wat God se oordeel betref? Nee, natuurlik nie. Ons kan met dankbaarheid weet dat God ons nie in onsekerheid gelaat het oor die wyse waarop Hy sal oordeel nie. Dit sou immers tragies gewees het as die wyse waarop God gaan oordeel verborge was, en as skokkende verrassing op die oordeelsdag duidelik sou word. God het in genade dit aan ons kom OPENBAAR dat Hy in Christus oor die wêreld gaan oordeel (Sien onder andere Hand 17:31; Joh 3:16-19 ens).  In die Skrif gee Hy baie duidelik OPENBARING oor hoe Sy oordeel gaan plaasvind (sien oa NGB 37). Ons bely daarom vanuit die Skrif, dat God glad nie, soos Jonker beweer, na mense se redding buite Christus om kan kyk nie. Ware vroom woorde oor God se oordeel, is om te bely dat ons nie sou geweet het dat God in en deur Christus oor mense gaan oordeel nie, as God dit nie duidelik aan ons geopenbaar het nie. Ons het daarom nie nodig om te raai hoe God gaan oordeel, soos Jonker beweer nie. Jonker praat dus nie belydend vanuit die Skrif oor God se oordeel nie, maar verkies om juis die geopenbaarde lering oor God se oordeel te verduister deur te kenne te gee dat ons nie kan weet hoe dit gaan gebeur nie. So laat Jonker duisende luisteraars in die duister oor God se duidelik-geopenbaarde oordeel, en laat hulle in valse gerustheid glo dat God genade buite Christus om kan gee. 

HET DIE BYBEL DIESELFDE GESAG AS DIE HEILIGE GESKRIFTE VAN ANDER GODSDIENSTE?

Die antwoord op hierdie vraag behoort deur ’n Christenteoloog met groot duidelikheid voor duisende luisteraars bely te kan word. Ons belydenis hieroor as christene is eenvoudig:

NGB Artikel 3 – Die geskrewe Woord van God

Ons bely dat hierdie Woord van God nie deur die wil van ’n mens gestuur of voortgebring is nie, maar die heilige mense van God het dit, deur die Heilige Gees gedrywe, gespreek, soos die heilige Petrus sê (2 Pet 1:21). Daarna het God deur sy besondere sorg vir ons en ons saligheid sy knegte (profete en apostels) beveel om sy geopenbaarde Woord op skrif te stel en Hy self het met sy vinger die twee tafels van die wet geskrywe. Daarom noem ons sulke geskrifte die heilige en Goddelike Skrif.

2 Pet. 1:21; Ps. 102:19; Eks. 17:14; (Deut. 3); Eks. 34:27; Deut. 5:22; Eks. 31:18.

Ons bely ook duidelik dat die Bybel met geen ander geskrif gelyk gestel kan word nie.

NGB Artikel 5 – Die gesag van die Heilige Skrif

Ons aanvaar al hierdie boeke en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig. Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind.

Helaas kan NG teoloog, Jonker dit nie so duidelik bely nie. Inteendeel – het ons reeds gesien – is hy glad nie gemaklik om die gesag van die Skrif te aanvaar nie: “Binne die christendom is dit so dat in die Bybelwetenskap is daar algaande ook dan oor jare heen wat dit ontwikkel het, om ’n soort uitlegstrategie te hê waarin ons juis ook dialogies na die waarheid soek, dws in gesprek met die gelowiges wat ons voorafgegaan het en wat dan  ook verantwoordelik was om die Bybelse geskrifte tot stand te bring”  Wat bedoel Jonker met hierdie woorde? Jonker ontken dat die Bybelskrywers deur God inpireer was, en daarom gesaghebbend lering aan ons verskaf het. Jonker stel onomwonde dat ons en die Bybelskrywers in gesprek met mekaar is oor wat waarheid is. Hierdie idee van Jonker kom natuurlik van iemand soos Prof Sakkie Spangenberg wat nie die gesag van die Bybel erken nie, en dikwels vanuit sy wysheid die geïnspireerde Bybelskrywers se lering oor God verwerp:

“Bybelwetenskaplikes ag die Bybel gesagvol omdat dit die basisdokument van die Christelike geloof is”

Dit beteken in die praktyk dat die Bybel eintlik maar net die eerste boek van die christene is waarop die mens met beter wetenskaplike insigte kan uitbou. Spangenberg skryf daarom ook op ’n ander plek:

Ons weet oneindig meer as die skrywers van die Bybelboeke. Die Bybel bly egter steeds belangrik in ons samelewing as een van die klassieke werke wat die Westerse samelewing gevorm en rigting daaraan gegee het.”

Hier is dus ’n volkome verskraling van die gesag van die Skrif – Die Bybel het nie gesag omdat dit God se Woord is nie, maar bloot as basisdokument, geskryf deur mense wat eerste nagedink het oor hulle verhouding met God. Hierop kan ons met ons beter wetenskaplike insigte met vertroue bou en hulle korrigeer soos benodig!

Spangenberg se slotwoorde in ’n artikel getuig van hierdie volkome ontkenning van die Skrif se gesag as die Woord van God. Hy skryf:

“Voorts sien hulle daardie gesag nie soos dié van ’n despoot nie, maar soos dié van ’n vriend op wie se insigte hulle kan vertrou”.

Mooiklinkende woorde wat valslik wil voorgee dat om die Woord se gesag volledig te erken dit ’n despotiese karakter kry. Nee, wil Spangenberg leer, die vriendmetafoor (met wie jy dus gemaklik in gesprek kan gaan!) pas beter. Vriende kan jy immers reghelp … soos Spangenberg trouens gereeld voorstel oor “primitiewe idees” in die Skrif soos dat God Sy Seun vir sonde laat sterf het …

Spangenberg skiet op ’n ander keer met bokhael en maak ’n stelling waarin hy alle Bybelwetenskaplike betrek (baie Bybelwetenskaplikes oor die wêreld distansieer hulle egter volkome van Spangenberg). Hy skryf dat Bybelwetenskaplikes nie glo dat God as “primêre outeur” die outeurs van die Bybelboeke gelei het nie. Na ’n belaaide subopskrif, skryf hy die volgende:

“DIE WYSE WAAROP BYBELWETENSKAPLIKES OOR DIE BYBEL DINK: ENKEL OUTEURSKAP

As daar één Bybelwetenskaplike van die twintigste eeu uitgesonder moet word wat meer as ander oor die Bybel besin en geskryf het, is dit James Barr. Hy kon dinge duidelik analiseer en foutiewe redenasies presies uitwys. Boek na boek van Barr (vgl 1966; 1973; 1977; 1980; 1984) het ’n invloed uitgeoefen op Bybelwetenskaplikes dwarsoor die wêreld. Ook in Suid-Afrika was dit die geval. Sy insigte skemer duidelik deur in die publikasies van Deist (1982; 1986), Vorster (1977; 1979) en Spangenberg (1998). In ’n enkele sin kom dit daarop neer dat die Bybelboeke nie ’n dubbele outeurskap het nie, maar slegs ’n enkel outeurskap. Mense het Bybelboeke geskryf en dis menslike insigte waarmee ons te doen kry wanneer ons die Bybel lees.” (Spangenberg 2002:187-188)

Spangenberg vind dus God se betrokkenheid by die Bybelboeke bloot daarin dat hierdie skrywers in God geglo het en vanuit hulle geloof in God geskryf het. Ons glo ook in God en daarom kan ons op gelyke voet met hulle in gesprek gaan!

Jonker stel daarom ook, in voortsetting van Spangenberg se idees, ’n dialogiese hermeneutiek voor waar ons in “vriendskaps”-gesprek tree met die Bybelskrywers. Die implikasie is dat waar ons nie met hulle saamstem nie, ons hulle kan “reghelp” met ons “meerdere wetenskaplike kennis”. Hiermee adem Jonker boonop die gedagtes van ’n ander NG teoloog, Ben du Toit,  wat die Bybel nie meer as Woord van God beskou nie. Jonker vind hom tuis in die teologie van Spangenberg en du Toit; Prof RM Britz ontmasker du Toit se minagting van die Skrifgesag in ’n artikel as volg:

Volgens hom (du Toit) – en hier begin hy – is die Bybel ’n “bundel oorgelewerde dokumente wat daarop aanspraak maak dat dit ons toegang verleen tot Jesus van Nasaret; tot die ervarings wat mense met God gehad het en die manier waarop hulle hulle geloof tot uitdrukking gebring het …” wat in die premoderne tyd tussen 900 vC en 400 nC deur mense geskryf is. As sodanig moet die Bybel dus geïnterpreteer en beskou word. Dit het dus nie ’n buitengewone oorsprong nie. Vir hierdie oorsprong van die Bybel geld dit dus ook dat “die waarheid relasioneel is, altyd te vinde binne die verhouding (relasie) van en wisselwerking tussen insig, kennis en ervaring. In hierdie proses speel ‘interpretasie’ altyd ’n bepalende rol: Daar bestaan nie iets soos ‘objektiewe feite of standpunte’ nie wat absoluut en finaal is nie. ‘Suiwer kennis’ is ’n illusie. Ons het altyd te doen met geïnterpreteerde data. Ons ‘sien altyd deur ’n spieël’, nooit direk, onbevange, onbemiddeld nie.” Vir hom is hierdie gegewe of “feit” nie net waar van alle literatuur nie, maar ook van die Bybelse geskrifte as literatuur. As ’n mens nou op ’n ander manier, konkludeer hy, na die Bybel gaan, “naamlik dat dit deur God ingegee is, is so ’n benadering onwetenskaplik en ontdaan van enige integriteit”.

(http://ojs.reformedjournals.co.za/index.php/ngtt/article/view/81/142 )

Jonker adem hierdie twee teoloë se idees in sy antwoord oor die gesag van die Bybel. Hoe tragies dat duisende luisteraars moet luister na ’n NG teoloog wat nie eenvoudig – saam met die Kerk van alle tye – kan bely dat die Bybel die Woord van God is en dat dit volkome te onderskeie is van enige ander godsdiens se heilige geskrifte. Die Bybel is vir Jonker bloot nog ’n geskrif van menslike skrywers en daarom moet ons in gesprek tree met hierdie primitiewe eerste nadenkers oor God.

Dit is daarom ook nie verrassend dat Jonker, met hierdie minagting van die Skrif, nie saam met die Bybelskrywers kan bely dat ons God uit Sy Woord ken, en weet dat Christus bely moet word as God, Verlosser en Koning, en dat daar geen verlossing buite Christus om is nie. Jonker is ongemaklik om dit as vaste, geopenbaarde waarheid te erken.

Jonker wend hom dus telkens nie tot ’n belydenis vanuit die Woord in sy antwoorde nie, maar merk heel filosofies op: “Ek kan my nie indink”, “Ek sien dit op die manier” ens. Hy is immers in gesprek met die skrywers van die Bybel en kan waar hy voel nodig is, hulle godsdienstige lering bevraagteken of aanpas met selfverworwe wysheid …

IS SENDINGWERK WAAR ANDER GELOWE OPGEROEP WORD TOT BEKERING NOODSAAKLIK?

Ook op hierdie vraag het die NGK ’n eenvoudige en duidelike belydenis (Dordtse Leerreëls hoofstuk 2):

“Verder is dit die belofte van die evangelie dat elkeen wat in die gekruisigde Christus glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê {Joh 3:16.}.. Hierdie belofte moet aan alle volke en mense, aan wie God na sy welbehae die evangelie stuur, sonder enige onderskeid verkondig en bekend gestel word, met die eis tot bekering en geloof. Baie wat deur die evangelie geroep is, bekeer hulle nie, glo nie in Christus nie, maar sterf in ongeloof. Dit gebeur, nie omdat die offer wat Christus aan die kruis volbring het, gebrekkig of onvoldoende is nie, maar deur hul eie skuld.

Helaas kan Jonker hom nie vereenselwig met ’n oproep tot bekering nie. Hy slaag daarin om dit soos iets boos te laat klink:

“Ek wil nie mense met ’n Bybel oor die kop slaan en sê dat jy moet jou nou bekeer tot hierdie geloof wat ek het, andersins gaan jy nie gered word nie. Ek kan dit eenvoudig net nie ruim met die God wat ek leer ken het in Christus nie.”

Jonker weerspieël ’n vreemde teenstrydigheid: Hy wil getuig, maar kan eintlik nie aanvaar dat iemand wat hom nie tot “sy (Jonker) se geloof” bekeer ongered sal bly nie. Hoe moet ons dit verstaan? Hierdie soort innerlike teenstrydigheid in denke is tekenend van die postmodernisme wat leer dat daar geen geopenbaarde, vaste waarheid is nie; ’n houding van: “ek glo iets, maar besef dis nie noodwendig waar vir iemand anders nie. Ek glo my waarheidsbegrip is nie noodwendig die vaste waarheid nie …” Anders gestel: Ek kan in Jesus glo, maar dis bloot wat ek glo en dus my eie opinie. My opinie waarmee ek gemaklik is, is egter nie noodwendig ’n vaste, noodsaaklike waarheid, deur God geopenbaar nie. Dis maar ’n opinie waarmee hy gemaklik is en wat hy nie op ander sal afdwing nie, want hy het ruimte daarvoor dat hy  dalk verkeerd kan wees omdat daar nie vir hom Godgeopenbaarde waarheid is nie….

Kyk daarom mooi na Jonker se opmerking oor geloof in Christus: “Kyk, ek dink daar sit groot sin in om ’n mens se eie godsdiens ook met oortuiging te kan uitleef. Ek wil nie daaroor enigsins, jy weet, ’n ander siening handhaaf nie, en waar ek ook al heengaan wil ek as christen ook my oortuiging kan uitleef …” Dit klink heel mooi, maar die probleem is dat binne die konteks van die gesprek dit duidelik geword het wat Jonker as gelowige wil getuig: Hy wil getuig dat dit volgens sy opinie sinvol is om in Christus te glo, maar dat dit nie vir iemand anders nodig is om dit te glo om gered te word nie. Hy het vroeër in die gesprek reeds duidelik verklaar: “Daarmee saam sê ek dan ook dat ek persoonlik as christen ’n groot sin daarin vind om in Christus my redding te vind, om Christus as Verlosser te aanvaar en ook in Christus te leef, maar dit beteken nie dat ek enigsins my dit kan indink dat God nie op ’n manier ook na mense soos Abraham se redding kan kyk sonder dat Christus self daarby betrokke is nie.Jonker glo dus nie wat die NGK bely nie. Sy geloof berus nie op wat die Skrif leer nie, maar veel eerder op dit wat die postmodernistiese filosofie handhaaf, naamlik dat daar nie ’n vaste waarheid is nie; dit wat ek oor Christus as Verlosser en God glo is nie noodwendig reg nie, en dit wat Moslems glo is nie noodwendig verkeerd nie. Jonker bely hiermee nie vanuit die Skrif nie, maar met ’n postmoderne filosofie. Die Skrifgetroue belydenis van die Kerk is tog duidelik:

Vraag 29: Waarom word die Seun van God genoem: Jesus, wat Verlosser beteken?

Antwoord: Omdat Hy ons van al ons sondes verlos (a) en by niemand anders enige saligheid te soek of te kry is nie (b).

(a) Matt 1:21; Heb 7:25. (b) Hand 4:12; Joh 15:4, 5; 1 Tim 2:5; Jes 43:11; 1 Joh 5:11.

Vraag 30: Glo die mense wat hulle saligheid en heil by die heiliges, by hulleself of iewers anders soek, ook in die enigste Verlosser, Jesus?

Antwoord: Nee, maar hulle verloën met die daad die enigste Verlosser as Heiland, Jesus, alhoewel hulle met die mond in Hom roem (a). Slegs een van twee dinge is immers moontlik: of Jesus is nie ’n volkome Verlosser nie, of die wat hierdie Verlosser met ’n ware geloof aanneem, het in Hom alles wat vir hulle saligheid nodig is (b).

(a)1 Kor 1:13, 30, 31; Gal 5:4..(b) Heb 12:2; Jes 9:6; Kol 1:19, 20; 2:10; 1 Joh 1:7.

(Sien ook weer NGB 26)

Jonker moet dringend gewaarsku word: Die Kerk (ons) bely baie duidelik dat iemand tevergeefs Jesus met die mond bely, maar Hom verloën deur te leer dat daar saligheid buite Hom is. Jonker se antwoorde laat veral ’n wrang smaak in die mond, wanneer in ag geneem word dat Jonker duisende luisteraars laat met ’n duidelike belydenis dat God iemand kan red sonder dat Christus daarby betrokke is. Die Skrif se herhaaldelike lering, soos deur die Kerk bely, word hiermee ontken.

SENTRUM VIR GELOOFSGESPREKKE

Sou God se profeet Elia ’n vriendelike geloofsgesprek met die Baalaanbidders aanknoop? Sou Paulus ’n nie-konfronterende gesprek met die afgodsdienaars in Athene aanknoop?

Wel Jonker is opgewonde oor die sentrum wat juis geloofsgesprekke met afgodsdienaars soos Moslems aanknoop. Mens wil egter nie oorhaastig oordeel nie; dalk is die bedoeling om hulle geloofsoortuigings beter te leer verstaan, juis om hulle beter te bereik met die ware evangelie. Die eerste deel van Jonker se opmerking kan so ’n moontlikheid laat: “Ons is trouens met ’n sentrum besig by die Universiteit van Stellenbosch waar ons juis gesprek ook tussen hierdie drie godsdiensgroepe oor hulle geskrifte heen, op gang wil kry sodat ons mekaar beter kan leer verstaan …”

Helaas het Jonker skynbaar nie die doel om hulle afgodiese idees te probeer verstaan, met die uiteindelike doel om hulle daarna beter met die evangelie te bereik nie. Jonker voeg immers by: “… en sodat ons ook van mekaar kan leer. Daarmee verloën nie een van ons die eiesoortigheid van ons eie godsdiens nie, maar ons besef dat ons uiteindelik mekaar se bloedbroers en mekaar se bloedsusters is.” Jonker is duidelik dat hy bereid is om by hulle ook te leer oor godsdiens …

Die vraag is of dit nie ’n onbillike afleiding is as beweer word dat Jonker bereid is om by hulle te leer oor godsdiens nie? Die antwoord is ongelukkig dat Jonker beslis by hulle sekere denkpatrone oorgeneem het wat sy eie geloofsoortuigings verander het. Hy glo immers dat hulle sonder Christus gered kan word. Hy glo immers dat hy hulle nie tot bekering moet oproep nie. Hy het berusting gevind dat hulle ook dalk dinge van God weet wat hy nie weet nie.

Jonker se antwoorde wys dat sy gesprekke met die afgodsdienaars hom beslis nie onaangeraak gelaat het nie. Hy het Christus klaar begin ontken as enigste Verlosser. Hy is klaar gemaklik om te aanvaar dat christene nie nodig het om met dringendheid aan hulle die evangelie van die Koninkryk van God te verkondig, en met oortuiging aan hulle te verkondig dat hulle verlore is sonder Christus nie. Die vraag is dus nie wat die werklike doel van die sentrum is nie, maar hoe Jonker die sentrum sien; Jonker sien duidelik die doel van die sentrum se gesprekke heeltemal anders as Paulus wat vanuit sy kennis van die afgodsdienaars in Athene, kompromieloos in dringende gesprek gegaan het met hulle om hulle te leer dat hulle sonder Christus verlore is. Paulus sien hulle as mense wat hom met diepe ontsteltenis (Hand 17:16) laat weens hulle afgodery; hy is ontsteld dat hierdie mense nie die ware God aanbid nie. Hy waarsku hulle om hulle te bekeer (17:30). Jonker, anders as Paulus, sien die gesprekke as gemoedelike saamkuier met “bloedbroers en bloedsusters”. Hier is die bring van die evangelie nie ’n dringend noodsaaklike roeping nie … afgodsdienaar en christen kuier vriendelik en nie-dringend saam. Christen vertel gemoedelik van sy sieninge en Moslem vertel gemoedelik van sy sieninge en dan gaan hulle gemoedelik uiteen. Jonker glo immers hulle kan Christus berekend verwerp as God en Verlosser en steeds gered word.

SAMEVATTEND – GEEN GEOPENBAARDE, VASTE WAARHEID DEUR GOD OOR HOMSELF.

Jonker verskaf geen antwoorde vanuit die Skrif op Oosthuizen se duidelike vrae nie. Hy kán immers nie uit die Skrif duidelike antwoorde verskaf oor wie God is en wat God se wil is nie, want vir hom is die Skrif immers net nog ’n boek geskryf deur mense vanuit hulle eietydse belewenis en geloofsperspektiewe. Vir Jonker is daar dus geen vaste waarheid oor God nie; daar is net spekulasie oor God en Sy wil deur verskillende gelowige mense van verskillende tye van die geskiedenis. Die Bybel is nie die boek van God se selfopenbaring nie. Hiermee distansieer Jonker hom van die belydenis van die Kerk oor die Skrif. In tabelvorm kan die verskil tussen Jonker se geloof en die Kerk se belydenis as volg saamgevat word

KERK JONKER
Die Bybel is die unieke, geopenbaarde Woord van God en ons verwerp enige menslike lering wat die Skrif weerspreek. Die Bybel is een van vele geloofsboeke, geskryf deur mense vanuit hulle geloofsverhouding met God. Vanuit eie geloofsverhouding met God tree ons in ’n ondersoekende gesprek met beide die skrywers van die Bybel, asook ander gelowe se heilige geskrifte, om in verskillende tye van die geskiedenis, eie perspektiewe oor God te vorm.
God het in die Skrif geopenbaar dat Christus die enigste Verlosser is Jonker weet dat die menslike skrywers van die Bybel leer dat Christus ons Verlosser is, en Jonker vind in sy gespreksverhouding met die skrywers van die Bybel, groot sin daarin om dit te aanvaar, maar dis vir hom geen vaste, geopenbaarde waarheid dat Christus die enigste Verlosser is nie.
Getuienis met die oproep tot bekering is noodsaaklik want dis ’n vaste, geopenbaarde waarheid dat mense verlore gaan wat hulle nie tot Christus bekeer nie. Getuienis is sinvol vir Jonker, maar dis nie noodsaaklik nie, aangesien dit geen vaste, geopenbaarde waarheid is dat mense hulle tot Christus moet bekeer om gered te word nie
Vanuit God se geopenbaarde Woord bely ons die vaste waarheid dat alle godsdienste (bv Moslems en Jode se geloof) afgodery is, omdat dit nie strook met die leer van die Bybel nie. Jonker ken geen vaste waarheid nie, en weet daarom glad nie met sekerheid hoe God gaan oordeel nie. Hy kan egter nie dink dat God nie mense uit ander gelowe ook sal red nie.

Daarom vind hy sin daarin om vrymoedig te praat oor sy eie Godsbegrip, maar gee terselftertyd toe dat sy eie Godsbegrip nie noodwendig die waarheid is nie – vir hom is daar nie vaste waarheid nie … Jonker se Skrifbeskouing laat die hele Christelike geloof daarom om losse skroewe staan – Ons glo, maar dis maar net ’n twyfelagtige opinie.

Die Kerk, anders as Jonker, verwerp daarom enige Godsbegrip wat nie strook met die duidelike leer van God se geopenbaarde waarheid nie. Hiermee is ons nie arrogant nie, inteendeel ons is bloot besig om in heilige eerbied God se geopenbaarde waarheid duidelik en belydend na te spreek.  Dit is veel eerder arrogant om, soos Jonker, God se geopenbaarde waarheid te verloën met die bewering dat dit die blote produk van antieke mense se eietydse geloofsperspektiewe is. Sy filosofie laat mense in bisarre onsekerheid oor wie God dan werklik is. Prof Dolf Britz waarsku daarom in sy genoemde artikel oor die teologiese krisis in die NGK: Die ommekeer in Skrifbeskouing keer dus ook die geloof om.

Dit is daarom ook geensins verrassend dat dosente met ’n verwaterde Skrifbeskouing soos Jonker, die geloof van die Kerk probeer omkeer deur te pleit vir ‘n ruim huis van oortuigings, ook wat sake soos gayverhoudinge betref nie. Hulle verantwoord hulleself dikwels eerder vanuit ander oortuigings as die Skrif (bv deur die wetenskap aan te haal waar dit hulle pas om die Skrif te weerspreek), want hulle is oortuig dat: “… in verskillende kontekste, in verskillende dele van die geskiedenis is dit so dat die verwoording oor wie hierdie God is op verskillende maniere gebeur het”. Mens kan Jonker se woorde hoor eggo in die slagspreuk van die tyd: Tye het mos verander en ons dink nou anders oor God en Sy wil (as wat hierdie menslike skrywers van die Bybel gedink het).  Dosente soos Jonker, bewys immers lippediens aan die belydenis, maar weerspreek dit volkome in hulle lering oor Skrifgesag en ware godsdiens. Vir hulle is daar geen vaste waarheid nie, omdat daar geen geopenbaarde Woord van God is nie.

Jonker is geen eerbiedige en Skrifgetroue teoloog nie. Hy is ’n teoloog wat dialogies met die Skrif omgaan en die getuienis van die Skrif aanvaar … soos en wanneer dit strook met sy oortuigings. Hy kan getoets word met die volgende vrae:

  1. Glo jy dat dit ‘n vaste waarheid is dat die Bybel die geopenbaarde Woord van God is?
  2. Glo jy dat dit ‘n vaste waarheid is dat slegs die Bybel die geopenbaarde wil van God bevat?
  3. Glo jy dat dit ‘n vaste waarheid is dat slegs Christus die Verlosser is en dat mense uit ander godsdienste verlore is omdat hulle Christus ontken as Verlosser?

Op al hierdie vrae het hy eintlik reeds ontkennend geantwoord in sy gesprek met Oosthuizen. ’n Laaste gedagte: Jonker leer duisende vertwyfelde mense dat hulle rustig kan wees selfs al glo hulle nie in Christus nie; Moslem, Jood en Christen kan rustig leef, want God verlos ook sonder Christus. Jonker se spekulatiewe, nie-dringende teologie adem ’n ander gees as die dringende, Christusverheerlikende Gees wat Paulus in 2 Kor 11 laat skryf:

Nou wil ek hê julle moet ’n bietjie dwaasheid van my kant verdra! Ja, verdra my maar! Ek waak oor julle met ’n ywer wat van God kom, want julle is soos ’n jongmeisie wat ek aan een man toegesê het as sy bruid en wat ek vlekkeloos na hom toe wil bring. Die man is Christus. Maar ek is bang dat julle gedagtes weggelei sal word van die onverdeelde en suiwere toewyding aan Christus, net soos Eva verlei is deur die listigheid van die slang. Ek sê dit omdat julle so maklik daarmee genoeë neem as iemand ’n ander Jesus kom verkondig as wat ons verkondig het, en julle neem net so maklik ’n ander gees en ’n ander evangelie aan as dié wat julle van ons ontvang het. 

Miskien is dit ook waarom Jonker se denkstroom dikwels die hoogste roeping van die kerk beskou as aardse armoedeverligting en die najaag van aardse geregtigheid is, veel eerder as wat hulle met dringendheid mense se oog vestig op die ewigheid deur hulle op te roep tot bekering en geloof in Christus – die Een deur wie God die wêreld sal oordeel.

WAAROM WORD JONKER STEEDS TOEGELAAT OM NG LERAARS OP TE LEI?

Louis Jonker se teologie is verwerplik. Waarom word dit dan verdra dat hy NG teologiese studente kan oplei? Waarom kla sy mede-dosente hom nie aan nie? Waarom distansieer ander dosente hulle nie minstens van sy uitsprake nie? In die verlede het dosente van al drie fakulteite, hulle immers in ’n groepsondertekende skrywe distansieer van Dr Chris van Wyk se nadenkende skrywe oor seksuele orïentasie. Sekerlik verdien Jonker se opmerkings ’n selfs meer drastiese verwerping deur mede-dosente. Boonop: Waarom het die toesighoudende kuratorium oor teologiese opleiding nie lankal die alarm laat afgaan oor sulke teologie nie? Die antwoorde op hierdie vrae is baie eenvoudig. Jonker verkondig die heersende hoofstroomteologie van meeste dosente en kuratoriums van die teologiese fakulteite.

Hierdie een voorbeeld is tekenend van die verrotting by die drie teologiese fakulteite. Hierdie skrywe kan aangevul word met tallose voorbeelde van die onhoudbare soort teologie wat aan hierdie instansies verkondig word. Rondom hierdie soort teologie word laer getrek by die fakulteite, en sal gemeentes toekomstig vergiftig word.

Voetnotas

[1] Question: “What was the Old Testament way of salvation?”

Answer: How people were saved during the time of the Old Testament is a confusing question to some. We know that, in the New Testament era, salvation comes by grace through faith in Jesus Christ (John 1:12;  Ephesians 2:8-9). Jesus is the Way (John 14:6). But, before Christ, what was the way?

A common misconception about the Old Testament way of salvation is that Jews were saved by keeping the Law. But we know from Scripture that that is not true. Galatians 3:11 says, “Now it is evident that no one is justified before God by the law, for ‘The righteous shall live by faith.’” Some might want to dismiss this passage as only applying to the New Testament, but Paul is quoting Habakkuk 2:4—salvation by faith, apart from the Law was an Old Testament principle. Paul taught that the purpose of the Law was to serve as a “tutor to bring us to Christ, that we might be justified by faith” (Galatians 3:24). Also, in Romans 3:20 Paul makes the point that keeping the Law did not save either Old or New Testament Jews because “no one will be declared righteous in his sight by observing the law.” The Law was never intended to save anyone; the purpose of the Law was to make us “conscious of sin.”

If the Old Testament way of salvation was not keeping the Law, then how were people saved? Fortunately, the answer to that question is easily found in Scripture, so there can be no doubt as to what was the Old Testament way of salvation. In Romans 4 the apostle Paul makes it very clear that the Old Testament way of salvation was the same as the New Testament way, which is by grace alone, through faith alone, in Christ alone. To prove this, Paul points us to Abraham, who was saved by faith: “Abraham believed God, and it was credited to him as righteousness” (Romans 4:3). Again, Paul quotes the Old Testament to prove his point—Genesis 15:6, this time. Abraham could not have been saved by keeping the Law, because he lived over 400 years before the Law was given!

Paul then shows that David was also saved by faith (Romans 4:6-8, quoting Psalm 32:1-2). Paul continues to establish that the Old Testament way of salvation was through faith alone. In Romans 4:23-24 he writes, “The words ‘it was credited to him’ were written not for him alone, but also for us, to whom God will credit righteousness—for us who believe in him who raised Jesus our Lord from the dead.” In other words, righteousness is “credited” or given to those who have faith in God—Abraham, David, and we all share the same way of salvation.

Much of Romans and Galatians addresses the fact that there is only one way of salvation and only one gospel message. Throughout history people have tried to pervert the gospel by adding human works to it, requiring certain things to be done to “earn” salvation. But the Bible’s clear message is that the way of salvation has always been through faith. In the Old Testament, it was faith in the promise that God would send a Savior someday. Those who lived in the time of the Old Testament looked forward to the Messiah and believed God’s promise of the coming Servant of the Lord (Isaiah 53). Those who exercised such faith were saved. Today we look back on the life, death, and resurrection of the Savior and are saved by faith in Jesus Christ’s atonement for our sins (Romans 10:9-10).

The gospel is not an exclusively New Testament message. The Old Testament contained it as well: “The Scripture foresaw that God would justify the Gentiles by faith, and announced the gospel in advance to Abraham: ‘All nations will be blessed through you.’ So those who have faith are blessed along with Abraham, the man of faith” (Galatians 3:8-9, quoting Genesis 12:3).

As early as Genesis 3:15, we see the promise of a coming Savior, and throughout the Old Testament there are hundreds of promises that the Messiah would “save His people from their sins” (Matthew 1:21; cf. Isaiah 53:5-6). Job’s faith was in the fact that he knew that his “Redeemer lives, and that in the end he will stand upon the earth” (Job 19:25). Clearly, Old Testament saints were aware of the promised Redeemer, and they were saved by faith in that Savior, the same way people are saved today. There is no other way. Jesus is “‘the stone you builders rejected, which has become the capstone.’ Salvation is found in no one else, for there is no other name under heaven given to men by which we must be saved” (Acts 4:11-12, quoting Psalm 118:22).

1 thought on “Pieter Prinsloo se beoordeling van Louis Jonker se gesprek op RSG”

  1. Baie dankie vir jou kommentaar tov. Jonker se vals idees rondom Christenskap. Dit is so jammer dat geleerde mense sulke valsheid kwytraak. Hoe ongelooflik dat die Bybel reeds van vroeg af waarsku dat daar geleerdes sal kom en n valse evangelie verkondig. Die gevaar kom nie van buite die Christenskap, maw van ander gelowe nie, maar van binne.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui