Wonderbare Raadsman glo oral om ons

Die volgende berig is van Beeld gekopieer en wys die heeltemal ongelowige siening van predikante by die Renaissance-gemeente in Kaapstad. Kyk ook die volgende verwante artikels:

******************

Wonderbare Raadsman oral om ons
2012-12-08 06:00

Ds Bertus van Niekerk 

Uit die taalwetenskap Hermeneutiek, wat losweg as “verstaankunde” beskryf sou kon word, is dit duidelik dat daar geen spesifieke verwysings na Jesus in die Ou Testament is nie. Daarom het die vertalers van die 1983-Bybel deurgaans gekies om waar daar gepraat word van die geboorte van kinders of ’n kneg wat die Here sou dien en uitkoms sou bring, dié persoon nie met ’n hoofletter aan te dui asof dit ’n hoogheidstitel of eienaam sou wees nie.

Hermeneutiek as wetenskap het eintlik ontwikkel nadat die 1933-vertaling lank reeds in gebruik was en die vertalers daarvan het met die lig tot hul beskikking gemeen daar is handevol tekste in die Ou Testament wat die koms van die Christus spesifiek sou voorspel.

Die teksgedeelte waarna ek hierbo verwys is uniek, want die ander tekste wat tradisioneel gelees sou word tydens Kersdienste asof dit deel van die geboortevertellings van Jesus sou uitmaak, bevat nie die woorde “Magtige God” nie. Onder druk van die publiek het die vertalers gekies om teen die grein van hul beste wete en die aard van die res van die werk, hoofletters in hierdie geval te behou – want om dit nie te doen nie, is moeilik verdedigbaar in min woorde.
Nou gaan ek probeer om dit te doen.

In lyn met die beste navorsing in die afgelope twee eeue weet ons dat ons onder meer die ontstaansgeskiedenis van ’n teks, die perspektief van die skrywer en die omstandighede van die eerste lesers daarvan in ag moet neem as ons wil weet wat ’n teks vir hulle beteken het. Wanneer ons bewus van ons eie vooroordele en agtergrond na die teks kyk, kan ons hoogstens probeer om in ’n horisonsversmelting parallelle te trek tussen die veronderstelde eerste lesers van die teks en ons belewenis daarvan in ons leefwêreld.

Die grootste dele van die Ou Testament het nie in isolasie ontstaan nie, maar is juis geskryf in reaksie op kontak met volke om Israel en hul geestelike erfenis. Baie van die vertellings in die Bybel is herinterpretasies van ouer verhale van die volke wat in die antieke Midde-Ooste geleef het. Israel het byvoorbeeld verhale van die skepping en sondvloed by ander godsdienste oorgeneem en dit anders ingekleur in ’n belydenis dat God hulle in besonder begenadig.

In reaksie op die Siriese ballingskap in 722 v.C. ontstaan daar profetiese tekste. Wanneer nasies geplunder is, het die oorwinnaars weerbare mans om verstaanbare redes doodgemaak, kinders en vroue bruikbaar as slawe weggevoer en die res aan hul eie lot oorgelaat in ’n verskroeide land. Jong meisies (en waarskynlik ook seuns) is gewoonlik verkrag. Dit was feitlik onmoontlik om weer as volk bymekaar te staan of selfs as individu jou geloof te behou wanneer jy só gebreek is.

Dit is die milieu waarin Jesaja se skrywer ’n ou frase, baie bekend aan die Israeliete, aanhaal. Hierdie teks is van die mees omstrede sinne in die Ou Testament en is ’n doolhof in terme van betekenismoontlikhede. Niemand kan met sekerheid sê waarna die teks verwys nie en kommentare raai bloot oor die bedoeling daarvan. Nou gaan ek dit ook gebruik: in die gees waarin ek dink die teks geskryf is, gaan ek ’n horisonsversmelting voorstel wat werkbaar is om die teks tot sy reg te bring in 21ste eeuse Suid-Afrika.

Die woorde soos opgeteken in Jesaja 9:5 was na alle waarskynlikheid oorspronklik deel van die troonbestygingsformulier vir die Egiptiese farao. Die jong farao moes sy volk lei en beskerm en die simbool van eenheid en mag wees. Hy was so verhewe bo enige bevraagtekening dat hy eintlik goddelike status gehad het. Hierdie formulier is deur die hele volk geëggo en daarmee het hulle hul onderdanigheid en ondergeskiktheid en bewondering aan hom bevestig.

Stel jouself voor jy leef in 722 v.C. en jy is kwesbaar nadat jou grond en besittings geplunder is. Al die sterk manne – ook jou seuns – is vermoor, jou vee gebuit en jou gewasse afgebrand. Jy het nie blyplek nie en jy is weerloos teen die aanvalle van wilde diere en selfs natuurelemente. Jy probeer tussen ander wat dieselfde lot as jy deel, oorleef en julle groepeer saam, maar dit gaan moeilik. Boonop is daar jong meisies wat swanger is met die kinders van die verkragters wat jou toekoms vernietig het. Daar’s geen regverdige owerheid of stelsel waarheen jy jou kan wend nie.

Vir hierdie leser sê Jesaja 9 dat élke kind wat gebore word, hoop bring. Ja, die omstandighede is verkeerd en daar is baie om oor bitter te wees, jy hoef nie ver vir ’n rede te soek nie. Maar as jy kan leer om die nuwe lewe onder julle te koester, is daar dalk in ’n dekade of twee nuwe vesel om die gemeenskap mee te herbou. Dis nie ideaal dat ongetroude meisies swanger raak nie, maar hier is nou babas op pad en ons kan nie die proses omdraai nie. Dan kan ons hulle netsowel in ons gemeenskap grootmaak as deel van ’n heroriëntering van ons toekomsvisie.

Gee een tree verder. Hierdie kinders, met eintlik geen menslike hoop op oorlewing nie, mag nie jou vrees sien nie. Dis kardinaal dat hulle sterk grootgemaak word en trots hul potensiaal bereik. Hulle moet met respek behandel word, want jou toekoms hang van hulle af. Jy gaan wanneer jy heeltemal verswak en bejaard is, afhanklik wees van hierdie ongebore kinders om jou te beskerm en te versorg. Hierdie kind gaan jou farao word.

Spring 2 700 jaar terug na ons eietydse politieke en maatskaplike situasie en dink vir ’n oomblik altruïsties, wat gaan die beste wees vir ons op kort termyn? Waar kan ons ’n verskil maak, hierdie jaar nog, aan ons uitsig op die toekoms?

Ons kan in plaas daarvan om te verlang na ’n Little Drummer Boy terwyl ons in toue staan om die plastiekspeelgoed uit China vir ons kinders te betaal, hoop bring aan ál die kinders in ons land, ook dié vir wie ons onsself sou skaam in vorige bedelings. Ons kan saam staan vir beter onderwysgeleenthede en lewensomstandighede vir ál die mense in ons land, nie net ons eie kinders nie. Ons kan ons kinders, ons familie se kinders, ons bure se kinders met sóveel respek behandel omdat ons weet ons hele toekoms hang daarvan af dat hulle suksesvol hierdie land oorneem en geleenthede uitbou.

In plaas daarvan dat ons hierdie Kersfees in kerke gaan sit en luister na dieselfde ou holruggeryde boodskap van ’n kind in ’n krip wat net rakelings relevansie het met ons hedendaagse angs en onsekerheid, kan ons kniel voor elke kind wat ons pad kruis en daardie kind se selfvertroue bou. In teenstelling met hoe kinders in hierdie land vir eeue met die minste tevrede moes wees, kan ons hulle nou voorkeurbehandeling gee, want elkeen van hulle kan ons farao word, ons Wonderbare Raadsman.

Miskien het hierdie teks dan tog ’n boodskap. Kersfees moenie net gaan om luid sing, luuks eet en feestelik drink nie. Dis ’n tyd om te besin oor hoe ons die geringes om ons hanteer. Die wiel draai en hulle hou ons toekoms in hul hande.

– Ds. Bertus van Niekerk is ’n predikant van die onafhanklike Renaissance-gemeente in Kaapstad.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui