Kyk ook: |
Die volgende artikel het in Beeld verskyn (skakel).
****************
Tweespalt, maar net 1 keuse
Beeld – 2007-05-24
Die meeste mense het toe reg voorspel dat die Nederduits Gereformeerde Kerk (NG Kerk) se taakspan oor homoseksualiteit nie uiteindelik eenstemmigheid sou bereik nie.
Mense het ook reg voorspel dat die taakspan, wat die laaste twee jaar met dié kwessie geworstel het, uiteindelik só verdeeld sou wees dat hulle twee verslae eerder as net een aan die komende algemene sinode gaan voorlê.
En, nes almal voorspel het, is die twee verslae, waartussen die sinode gaan moet kies deur daaroor te stem, onderskeidelik ’n “behoudende” verslag (wat homoseksuele gedrag afkeur) en ’n “progressiewe” verslag (wat vra dat gays geleentheid moet kry om ook vaste, monogame verhoudings aan te gaan).
Wat baie mense nié voorsien het nie en wat mense maar gerus in gedagte kan hou wanneer die vonke tydens die debatte op die sinode spat – is dat die twee standpunte, hoewel hulle van mekaar verskil, ook darem nie hééltemal so ver van mekaar verwyder is soos verwag is nie.
) ) )
Die progressiewe verslag is byvoorbeeld nie heeltemal so liberaal soos baie mense verwag het nie. Dié verslag vra bloot dat elke gemeente se kerkraad toegelaat word om self te besluit of hy gay-verhoudings wil toelaat. Hoewel dit nie gay-verhoudings as sonde sien nie, laat dit ruimte vir meer konserwatiewe gemeentes om steeds hul gang te gaan.
Die behoudende verslag is op sy beurt ietwat minder konserwatief as die NG Kerk se vorige amptelike beleid oor homoseksualiteit (die 1986-besluit).
Volgens dié verslag is seksuele verhoudings tussen mense van dieselfde geslag wel verkeerd en mag “praktiserende” gays nie tot die ampte van diaken, ouderling of predikant toegelaat word nie, maar die verslag gee nogtans toe dat gays in verhoudings aktiewe lidmate van gemeentes sou kon wees (indien hulle sou wou, natuurlik) en die enigste tug wat vir hul seksoortreding voorgeskryf word, is ’n vermanende gesprek met die dominee.
In die verslag is daar selfs ’n aantal punte waaroor die opstellers van die twee verslae (elk onderskeidelik sowat die helfte van die taakspan se lede) met mekaar saamstem.
Almal stem saam die Bybel moet hul uitgangspunt wees, almal wil gay mense as lidmate hê, almal dink die heteroseksuele huwelik is ’n belangrike instelling en albei groepe meen dat heteroseksuele én homoseksuele losbandigheid sonde is. Maar laat ’n mens nogtans nie die verskille onderskat nie. Die kwessies waaroor die twee groepe saamstem, word in die sinode se agendastukke in minder as twee blaaie saamgevat. Die verslae oor hul onderlinge verskille beslaan 88 bladsye.
) ) )
Opsie 1:
Die progressiewe groep se aanbevelings is onder meer:
- Homoseksualiteit is nie ’n wesenlike geloofsaak nie en hoe die kerk daaroor besluit, raak nie sy kernidentiteit nie;
- Dit is onrealisties om te verwag dat die kerk ’n besluit oor die kwessie gaan kan neem waarmee almal gelukkig is.
- Die NG Kerk se algemene sinode moet dus nie ’n besluit hieroor neem wat aan alle lidmate opgedwing word nie, maar moet dit eerder aan elke kerkraad oorlaat om self te besluit hoe gay mense in hul gemeente hanteer sal word.
Die verslag laat dus die moontlikheid dat sommige kerke wel sal kan besluit om gay-verhoudings goed te keur.
In sy beredenering van sy standpunte skryf dié groep dat die Bybel se oënskynlike veroordelings van homoseksuele gedrag bloot daarop gemik is om meer destruktiewe vorme van homoseksuele gedrag af te keur. ’n Vaste verhouding tussen twee mense van dieselfde geslag kan aan dieselfde Christelik-etiese vereistes as ’n heteroseksuele huwelik voldoen indien dit op liefde en trou gegrond is.
’n Homoseksuele oriëntasie is iets wat nie deur gay mense gekies word nie en die wetenskap dui aan dat mense se seksuele oriëntasie in die oorgrote meerderheid gevalle nie gewysig kan word nie.
Daarom, meen dié groep, moet die kerk vooroordele teen gay mense as sonde uitwys. Hoewel Jesus niks duidelik oor homoseksualiteit gesê het nie, blyk dit uit die evangelies dat Hy uitgereik het na mense wat deur die samelewing gemarginaliseer is en die kerk moet dié voorbeeld volg.
Die liefdesgebod wat Jesus verkondig het, vervang ’n wettiese godsdiens met ’n verhoudingsgodsdiens.
In die vroeë kerk is ook ’n voorbeeld gestel deurdat daar na nie-Jode uitgereik is. Die apostel Filippus het selfs ’n ontmande Ethiopiër (wat ingevolge die Ou Testamentiese wette onrein sou wees) gedoop. Later is dié beginsel uitgebrei sodat reg ook aan slawe en aan vroue kon geskied.
Die verslag ontleed ook van die verse wat tradisioneel gebruik word om homoseksualiteit te veroordeel.
Wanneer God byvoorbeeld sê dat hy die mens as man en vrou geskape het en dat hulle vrugbaar moet wees, is dit nie ’n veroordeling van almal wat buite heteroseksuele huwelike met kinders staan nie, voer die skrywers van die verslag aan, want dan sou kinderlose egpare of alleenlopers ook in sonde leef. Ander verse (soos dié in Levitikus en Romeine) veroordeel losbandigheid en sekere kultiese praktyke eerder as homoseksuele gedrag per se.
Die afdwing van selibaatheid op ander is nie ’n Bybelse beginsel nie, meen die skrywers.
“Die mees aanvaarbare oplossing is vir die kerk om die huwelik in lyn met die Bybelse en kerklike tradisie steeds in heteroseksuele terme te definieer en dit steeds as instelling wat op God se skeppingsbedoeling teruggaan, hoog te ag en te bevorder.
“Naas die huwelik behoort die kerk egter ook voorsiening te maak vir ’n nuwe instelling wat ons tot in hierdie stadium ’n homoseksuele lewensverbintenis kan noem wat in die meeste gevalle met ’n heteroseksuele huwelik ooreenstem. “Die sluiting van só ’n homoseksuele verbintenis behoort ook tot ’n onderneming van lewenslange trou aan mekaar en tot inkleding van ’n lewensverbintenis ooreenkomstig die waardes wat vir die huwelik geld, te wees.”
) ) )
Opsie 2:
Die behoudende groep stel voor:
- Die algemene sinode kan nie ’n besluit oor homoseksualiteit uitstel of na kerkrade afwentel nie;
- Hoewel dit vir sommige mense pyn kan veroorsaak, kan die kerk nie permanente homoseksuele verbintenisse as ’n alternatief naas die huwelik daarstel nie, want homoseksuele gedrag word konsekwent in die Bybel veroordeel;
- Homoseksuele mense mag wel tot die ampte van die kerk toegelaat word, mits hulle selibaat lewe;
- Kerke moet erken dat sommige mense wat nie wil of kan trou nie, wel ’n behoefte het aan ’n “vriendskap waarin die vreugde en smart van die lewe gedeel kan word”; en
- Mense wat glo dat homoseksuele gedrag nie ’n sonde is nie, moet steeds in die kerk verwelkom en met deernis begelei word.
In dié verslag se motivering word baie na die gesag van die Skrif verwys. Hoewel erkenning aan wetenskaplike insigte gegee moet word, meen die skrywers dat die Bybel as finale gesag dien.
Die verse in Levitikus, asook in van die Nuwe Testamentiese briewe wat homoseksuele gedrag veroordeel, het volgens hulle niks met kultiese gebruike of met losbandigheid te make nie.
Standvastige homoseksuele verhoudings was aan minstens die Nuwe Testamentiese skrywers bekend (dit het soms in klassieke Griekeland voorgekom – onder andere Plato en Aristoteles verwys daarna), so die Bybelskrywers sou geweet het waarvan hulle praat toe hulle homoseksualiteit veroordeel het.
Jesus self het na sondaars uitgereik, soos die owerspelige vrou en tollenaars, maar dan het Hy hulle gevra om hul gedrag te wysig. Die dele van die Wet wat Hy opgehef het, is die harde strafmaat-reëls en die uitsluitende reinheidswette. Homoseksualiteit word nie hierby ingesluit nie.
Daarbenewens het die vroeë kerkvaders, onder wie Klemens van Alexandrië en Augustinus van Hippo, ook homoseksuele gedrag veroordeel.
Volgens dié skrywers is dit wel moontlik dat ’n gay mens se oriëntasie verander kan word. ’n Aantal “heroriënteringsprogramme” word bespreek.
In ’n interessante stuk word voorgestel hoe predikante homoseksuele persone in hul gemeente moet bedien. Indien twee gay mense in ’n seksuele verhouding is, moet die predikant “die kerk se afwysing van homoseksuele gedrag in ’n gespreksituasie kommunikeer”. As hulle nie met die predikant saamstem nie, sal hulle nogtans aangemoedig word om by die gemeente betrokke te bly.
Die predikant sal vir die kerkraad van die paartjie vertel en sal die kerkraad aanmoedig om hulle in die kerk te verwelkom en “seker te maak dat dié lidmate nie belewing van die gemeenskap van die heiliges en die geleentheid tot diens in belang van die koninkryk ontsê word nie”.
In daaropvolgende gesprekke sal die predikant weer die gay-paartjie aan die kerk se standpunt herinner, maar nie noodwendig in elke gesprek nie.
Hulle sal nagmaal kan gebruik en die geleentheid kry om diens in die gemeente te lewer, maar solank hulle in ’n seksuele verhouding is, mag hulle nie tot die ampte van diaken, ouderling en predikant verkies word nie.
“Ons bely en erken dat dit God se bedoeling van die begin was dat ons man en vrou moet wees, en dit bely ons openlik.
Ons is nie skaam om dit te bely nie. Wanneer ons dit bely, dink ons met deernis aan almal wat ’n homoseksuele oriëntasie het,” lui dié verslag.