Om geloof en wetenskap te skei

In die skepping-evolusie-debat word soms gehoor dat ’n mens geloof en wetenskap moet skei. Daarom kan ons in die Bybel glo, wat kwansuis ’n geloofsboek is én ons kan aan evolusie glo, wat kwansuis wetenskap is. Kyk bv Nonoverlapping Magisteria, deur Stephen Jay Gould (’n agnos). Dr Louw Alberts (afgetrede Suid-Afrikaanse fisikus) se siening is ook byvoorbeeld dat die Bybel ons leer dat God geskep het en dat die wetenskap ons leer hoe God geskep het. Die vraag is of hierdie geldige sieninge is.

Dit is aan die een kant waar dat ’n mens geloof en die wetenskap moet skei: Dinge soos Jesus se maagdelike geboorte, Sy wonderwerke en opstanding uit die dood kan NIE wetenskaplik verklaar of bewys word nie. ’n Mens sal ook nie sommer God wetenskaplik kan bewys nie (kyk Is there scientific proof of the existence of God? Kyk ook Gerrit Claassen se kommentaar onderaan hierdie artikel). Dit is alles metafisiese dinge. Dus is God en die wetenskap tot ’n groot mate verwyderd. (Dit hang egter alles af wat jou definisie van wetenskap is, maar meer hieroor later.)

As jy so daarna kyk maak dit sin om geloof en wetenskap te skei. Maar is dit so eenvoudig? As ’n mens geloof en die wetenskap moet skei, mag ’n biologie-onderwyser/dosent sê dat God geskep het of moet biologie-onderwysers God en die wetenskap skei en sê dat ons alles probeer verklaar sonder God?

Om ’n antwoord te kry op die vraag of ons geloof en wetenskap moet skei, moet twee dinge uitgeklaar word:

  • Is die Bybel ’n geloofsboek?
  • Is evolusie en die bepaling van die aarde se ouderdom, wetenskap?

Is die Bybel ’n geloofsboek?

As mense sê dat die Bybel ’n geloofsboek is, moet ’n mens vra wat daarmee bedoel word. As met “geloofsboek” bedoel word dat dit ons leer oor God (wat die wetenskap nie kan doen nie), dan is dit so dat die Bybel óók ’n geloofsboek is, maar dit sou heeltemal verkeerd wees om die Bybel slegs as ’n geloofsboek te sien, want die Bybel is ’n biblioteek van verskillende boeke. Die Bybel bevat byvoorbeeld die volgende genres[1]:

  • Wet: Levitikus en Deuteronomium. Hierdie boeke is egter ook geskiedenis én het ten doel om God se karakter aan ons te openbaar.
  • Geskiedenis: Genesis, Eksodus, Numeri, Josua, Rigters, Rut, 1 en 2 Samuel, 1 en 2 Konings, 1 en 2 Kronieke, Esra, Nehemia, Ester, Jona en Handelinge.
  • Wysheid: Job, Spreuke en Prediker. Spreuke en Prediker is suiwer wysheid, terwyl Job egter ook geskiedenis is.
  • Poësie: Psalms en Klaagliedere. Daar is egter selfs in die Psalms geskiedenis opgeteken – bv Ps 78 bevat ’n opsomming van die geskiedenis van die uittog uit Egipte.
  • Evangelie: Matteus tot Johannes. Die Evangelies is eintlik ook geskiedenis omdat dit Jesus se geskiedenis op aarde weergee.
  • Briewe: Romeine tot Judas.
  • Profesieë: Jesaja, Jeremia, Esegiël, Daniël, Hosea, Joël, Amos, Obadja, Miga, Nahum, Habakkuk, Sefanja, Haggai, Sagaria en Maleagi. ’n Mens moet egter onthou dat hierdie boeke soms selfs meer geskiedenis bevat as net profesieë.
  • Apokaliptiek (handel oor die wederkoms): Dele van Daniël en Openbaring.
  • Gelykenisse: Vervat in die Evangelies, Matteus tot Johannes.
  • Romans: Die Bybel bevat selfs romans soos Hooglied.

Geskiedenis is by verre die grootste genre in die Bybel, dus kan die Bybel beswaarlik ’n “geloofsboek” genoem word. Dit is ook nie moeilik om die genre van ’n sekere deel in die Bybel te bepaal nie – daar behoort nie misverstande hieroor te wees nie.

Genesis 1-11 (bevat die skeppingsverslag, Sondeval, Sondvloed en die taalverwarring by die toring van Babel) is duidelik bedoel as geskiedenis, nie poësie of wet of enige ander genre nie. Dit moet dus letterlik gelees word. En Hebreeuse kenners is dit eens: James Barr (interessant glo hy self nie dat Genesis 1-11 letterlik gebeur het nie) het die volgende gesê:

…waarskynlik sover ek weet, is daar geen professor van Hebreeus of Ou Testament aan ’n wêreldklas universiteit wat nie glo dat die skrywer(s) van Genesis 1 tot 11 bedoel het om die volgende idees aan hulle lesers oor te dra nie:
(a) die skepping het plaasgevind in ’n reeks van ses dae wat dieselfde as die dae van 24 uur is wat ons tans ervaar
(b) die syfers wat vervat is in die Genesis geslagsregisters verskaf ’n chronologie van die begin van die wêreld tot later stadiums in die Bybelse verhaal deur eenvoudige optelling
(c) Noag se vloed was verstaan om wêreldwyd te wees en het alle menslike en dierlike lewe uitgewis behalwe diegene in die ark.

(Kyk ook Aanhalings – Moet Genesis letterlik gelees word? vir meer mense wat sê dat die Bybel ’n skepping in ses dae verkondig.)

Dus is dit duidelik dat die skrywers van Genesis 1-11 ’n letterlike verstaan van die skeppingsverslag oordra. Dit behels dat evolusie nie versoenbaar is met die Bybel nie en skep die probleem dat as Genesis verkeerd is, is daar dalk nog dele in die Bybel wat ook verkeerd is. (Kyk Het God evolusie gebruik om te skep, is Genesis 1-11 in ballingskap geskryf en was die sondvloed werklik ’n globale vloed?)

Is evolusie en ouderdomsbepaling wetenskap?

Vroeër is gesê dat dit sin maak om die wetenskap en geloof te skei. Dit hang egter af wat jou definisie van wetenskap is.

Vir iets om wetenskap te wees, moet dit toetsbaar, herhaalbaar en weerlegbaar wees. Beide evolusie en skeppingsleer voldoen nie aan hierdie kriteria nie. Neem die voorbeeld van die Grand Canyon verskynsel: niemand het gesien hoe en wanneer dit gevorm het nie. Evolusioniste glo dat dit miljoene jare gelede teen ’n stadige tempo gebeur het, terwyl skeppingsleerders glo dat dit tydens die sondvloed ongeveer 2348 vC gevorm het. Om dit te toets en te herhaal, sal ’n mens in ’n tydmasjien moet klim en teruggaan in tyd om te sien wanneer en hoe die Grand Canyon gevorm het.

Ons het hier te doen met ’n onderskeid wat ons kan tref tussen historiese wetenskap en operasionele wetenskap. Operasionele wetenskap is dinge wat waargeneem en herhaal kan word soos byvoorbeeld chemiese eksperimente in ’n laboratorium. Historiese wetenskap kan egter nie waargeneem word nie – dit word gebruik om dinge te verklaar wat in die verlede gebeur het, deur na prosesse vandag te kyk. Kyk Operasionele vs historiese wetenskap vir ’n baie beter verduideliking.

Die feit dat skeppingsleer gebaseer is op die Bybel (wat deur sommige as ’n “geloofsboek” gesien word), maak dit nie ’n geloof nie. Netso is evolusie nie wetenskap omdat dit ’n teorie is wat gebaseer is met die veronderstelling dat daar geen God is nie (kyk Darwin’s real message: have you missed it?). Die feit dat soveel wetenskaplikes evolusie aanhang, maak dit ook nie wetenskap nie (kyk Hoekom is daar soveel wetenskaplikes wat aan evolusie glo?). Sommige wetenskaplikes het al ruiterlik erken dat evolusie ook eintlik ’n geloof is. Michael Ruse, ’n ateïs en agnos, het byvoorbeed die volgende erken:

“Evolusie word deur sy praktisyns as meer as net wetenskap bevorder. Evolusie word gepromulgeer as ’n ideologie, ’n sekulêre godsdiens – ’n volwaardige alternatief tot die Christelike geloof, met betekenis en moraliteit. … Evolusie is ’n geloof. Dit was waar van evolusie in die begin, en dit is vandag nog waar van evolusie. … Evolusie het dus tot stand gekom as ’n soort sekulêre ideologie, ’n eksplisiete plaasvervanger vir Christenskap.”

En Karl Popper, ’n filosoof, evolusionis en agnos het die volgende gesê:

“Darwinisme is nie ’n toetsbare wetenskaplike teorie nie, maar ’n metafisiese navorsingsprogram…”

Alhoewel hy dit gesê het, het hy nogtans gedink dat evolusie waardevol is om dinge in die wêreld te verduidelik.

(Vir nog aanhalings, kyk Aanhalings – Evolusie ’n geloof/Wetenskap nie objektief.)

’n Ander interessante feit is dat die IO-beweging (Intelligente Ontwerp-beweging) evolusie verwerp. IO’ers is mense wat besef dat evolusie nie waar is nie, maar wat steeds uit ’n wetenskaplike hoek uitsprake oor die verlede probeer maak. IO’ers is nie noodwendig Christene nie, maar mense van enige geloof wat evolusie verwerp en ’n Ontwerper erken. Dus is daar vandag baie wetenskaplikes wat evolusie verwerp, nie op grond van wat die Bybel sê nie, maar op grond van wetenskaplike denke.

Ter opsomming

’n Mens moet geloof en die wetenskap skei: wonderwerke en die krag van gebed is metafisiese dinge terwyl rekenaars en motors streng wetenskap is wat getoets, waargeneem en weerlegbaar is.

Hierdie argument help egter nie in die skepping-evolusie-debat nie, want die Bybel bestaan grootliks uit geskiedenis en is beswaarlik slegs ’n “geloofsboek”. Genesis is ook geskiedenis en moet letterlik verstaan word. Dus, indien evolusie waar is, is die Bybel verkeerd in Genesis en as die Bybel verkeerd is in Genesis, kan ’n mens met reg vra of dit nie ook op ander plekke verkeerd is nie – wat kan ’n mens dan met sekerheid uit die Bybel weet?

Verder moet ’n mens ook onderskei tussen operasionele en historiese wetenskap: Beide evolusie en skeppingsleer is historiese wetenskap: dit kan nie herhaal word of waargeneem word nie omdat dit in die verlede gebeur het.

Net soos skeppingsleer, is evolusie ook ’n geloof met die verskil dat dit nie-Bybelse aannames maak. Sekere evolusioniste en ateïste erken dit selfs.

Ons antwoord lê in die sogenaamde Archimedes punt as vertrekpunt vir ons uitkyk op die werklikheid. Archimedes is bekend vir sy stelling dat as hy ’n staanplek buite die wêreld kon kry om sy hefboom staan te maak, sou hy die wêreld kon beweeg. Ons het so ’n staanplek nodig vir ons denke. As Christene kies ons onbeskaamd die Bybel as openbaring van God vir ons visie op die werklikheid. As ons dit verstaan is daar nie meer ’n behoefte om ’n onderskeid te maak tussen geloof en wetenskap nie. (Vir meer hieroor, kyk Archimedean point of hier.)

Voetnotas

Is die skepping-evolusie kwessie belangrik?

“I’m a pastor with a B.S. in Physics and emphasis in astronomy… just want to thank you for all you’ve done in putting together this website. It’s excellent, it’s thorough, it’s well-organized, it’s informative, it’s rational, and it’s supported. Thank you, thank you, thank you. … . The bottom line is that you’ve helped restore my confidence in the Scriptural account of creation! Thank you for that, and please keep on. You’re making a difference in the lives of many people you’ll never know, because you’ve made a different in mine” – Rob W.

Kyle H. wrote to thank us. His testimony exemplifies why CMI goes to churches. If Christians don’t trust the Scriptures, then how can we communicate its trustworthiness to others?

“It’s high time I thanked CMI for waking me up. As a schoolboy I was warned against the teaching about man having evolved from apes but the seemingly harmless ‘geological time scale’ slipped right under my guard. I once despised Creation literature as elementary, but thanks to CMI, after 40 years I found this flaw in the foundation of my faith – the Gap Theory. Not only do I find this insidious error destroys the credibility of the whole Bible’s message of salvation for mankind but research is showing me that it has been alive and well for centuries among Church scholars, who of course weren’t there at the beginning. I am truly appalled that the public Christian Church then offered respectability to the ridiculous theories of evolution – and still does! – popularizing the Gap and Reconstruction Theories when Charlie Darwin was a kid in short pants. It seemed that our battle was with atheistic scientists and educators, when in fact we have only ourselves to blame for listening to ‘Christian gentlemen’ who undermined the authority of Holy Scripture with their amateurish pseudo-science. I feel responsibility for this awful global legacy.”

God bless you.

Kommentaar op hierdie artikel

Philip du Toit

(Hy skryf ook op Truth Exposed)

Dankie vir jou stuk. Ek deel sommer ’n paar van my gedagtes as jy nie omgee nie.

Ek sou sê dat die onderskeid wat jy maak tussen operasionele wetenskap en meer interpretatiewe wetenskappe (bv. onstaanswetenskap [origin science]) is van uiterste belang. Wanneer die gelogiese of biologiese geskiedenis van iets bepaal word vanuit die huidige data, word ’n ekstrapolasie gemaak in die verlede in, op grond van die huidige data. Wanneer dit gedoen word is daar onmiddelik voorveronderstellings by betrokke. In die geval van geologie word bv. aangeneem dat prosesse soos die verval van radioaktiewe stowwe dieselfde was as nou, dat gesteentes geslote was en nie bv. onderworpe was aan grootskaalse kontaminasie nie (soos wat bv. deur die vloei van water deur ’n wêreldwye vloed veroorsaak sou word nie), ens. In die geval van die biologie word bv. veronderstel dat ooreenkomste in DNA sou dui op evolusie vanuit spesies met soortgelyke DNA, ens.

Die element van voorveronderstelling in interpretatiewe wetenskappe is na my mening ekwivalent aan geloof. Jou voorveronderstelling kan jy wel probeer harmoniseer met die getuienis op hande, maar dit maak dit nie noodwendig onweerlegbaar nie. Dit kom ooreen met hoe ’n hipotese hanteer word. ’n Hipotese raak ’n teorie wanneer die getuienis/data waarmee jy werk pasgemaak kan word aan die hipotese.

Ook ons geloof in skepping en ’n jong aarde is nie blindelingse geloof nie, maar gegrond op bv. die getuienis van die Skrif, ens. Ons maak ook die getuienis wat ons sien (bv. wetenskaplike data) pas aan ons geloofsposisie.

Beide skeppingswetenskap en ander wetenskappe werk dus basies op dieselfde beginsel: hipotese eerste (vgl. geloof), en pasmaak van getuienis. Dit argumenteer op sy beurt vir ’n baie nouer verhouding tussen geloof en wetenskap.

Ook in die interpretatiewe wetenskappe speel vertroue (geloof) ’n groot rol in die sin dat dit bou op ander se hipoteses, teorieë en navorsing. Wetenskaplikes vertrou (glo) dus hulle voorgangers se teorieë ens, en bou daarop voort.

Gerrit Claassen

Dankie Daniel

Dit is altyd goed om jou goed te lees.

Dis ’n goeie stuk werk maar gun my die volgende kritiek:

Ek dink mens moet versigtig wees om te stel dat die wetenskap mens nie van God kan leer nie.

Eerstens

Die Skrif noem:

Rom 1:20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;

Psa 8:3 (8:4) As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre wat U toeberei het—
Psa 8:4 (8:5) wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?

Tweedens

Daar is wetenskaplikes (veral IO) wat deur die wetenskap gesien het daar moet ’n ontwerper wees.

Die term “universe” = single spoken sentence.

Derdens

Die Bybel (veral Genesis) gee die platform vir die wetenskap en tyd waarin wetenskaplike eksperimente uitgevoer word en daardeur wys dit terug na God wat alles gemaak het.

3 thoughts on “Om geloof en wetenskap te skei”

  1. As die hele Genesis letterlik verstaan word, wat maak ons met Genesis 2 waar die skepping nie aan dae gekoppel word nie en heel anders verloop as in Genesis 1.

  2. Die sogenaamde konflik tussen die Skrif en die wetenskap word opgelos wanneer die gelowige ontdek dat die skrif en die wetenskap twee kante van presies dieselfde ‘munt’ is. Die Skrif is God se besonderse openbaring, en die natuur (en ook die wetenskaplike bestudering daarvan deur middel van die God-gegewe gawes van intelligensie en ‘n ondersoekende gees) is God se algemene openbaring. Beide behoort aan God en is dus in harmonie. Oënskynlike konflikte tussen die twee beteken dit dat ons die Skrif, en/of die natuur, nog nie reg verstaan nie, of dat God in sy wysheid dit nog vir ons verborge hou. Natuurlik is daar een aspek van die Skrif wat apart bestaan van enige wetenskaplike bestudering of verklaring, en dit is die bonatuurlike transendentale bestaansvlak van God, geloof, wonderwerke, opstanding uit die dood, maagdelike verwekking ensomeer. Uit onsself kan ons dit nie glo of verklaar nie, ons kan dit net bely as die geloof hierin as ‘n genadegawe van God aan ons geskenk word deur die werking van die Heilige Gees, en ons as wedergeborenes dit in dankbaarheid aanvaar.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui