Kyk ook:
Die homoseksuele kwessie is ongeveer die afgelope 10 jaar reg oor die wêreld bespreek en gedebatteer tussen Christene. Verlede jaar het die NG Kerk se Algemene Sinode besluit (kyk 2019 NGK homoseksuele besluit) om ruimte te maak vir gemeentes wat sou wou om mense in homoseksuele verhoudings volle toegang te gee tot die kerk se sakramente en ook burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig. Dus word daar nou ruimte gemaak vir gemeentes om nie homoseks as sonde te beskou nie. Heelwat gemeentes doleer nou amptelik en sommige van hierdie gemeentes hou hulle sinodale bydraes terug. Tans dreig die NG Kerk om te skeur.
Die vraag word nou gevra: Hoekom word daar soveel klem geplaas op die sonde van homoseksualiteit? Is dit ’n erger sonde as al die ander sondes?
Debat vs benadering tot homoseksuele persoon
Eerstens moet ’n mens noem dat daar ’n verskil is tussen:
- Die homoseksuele debat, en
- Hoe ’n mens ’n homoseksuele persoon benader.
Die homoseksuele debat kan soms driftig wees en selfs liefdeloos oorkom. Dit is egter geen aanduiding van hoe Christene ’n homoseksuele persoon moet benader nie (kyk Benadering tot die homoseksuele persoon).
Homoseks nie erger sonde
Tweedens, homoseks is hoegenaamd nie ’n erger sonde as ander sondes nie. Om te illustreer, in 1 Korintiërs 6:9-10 word homoseksualiteit bloot as een van ’n paar sondes genoem – dit word hoegenaamd nie uitgesonder nie. Die enigste rede hoekom daar soveel klem op homoseksualiteit geplaas word is omdat die wêreld dit wil ontsondig (maak asof dit nie ’n sonde is nie). Dit is belangrik om te besef dat dit ’n debat is wat in die kerk hoort. Net soos ’n saamwoonverhouding nie ’n ongelowige se gewete sal aankla nie, so gaan ’n homoseksuele verhouding ook nie ’n ongelowige se gewete aankla nie. Dus help dit nie dat Christene nie-gelowiges konfronteer met homoseksualiteit nie. Rosaria Butterfield (’n voormalige lesbiër) stel dit baie goed in haar boek The Secret Thoughts of an Unlikely Convert:
There is a core difference between sharing the gospel with the lost and imposing a specific moral standard on the unconverted.
Die regte vraag
Die vraag wat egter eerder gevra moet word is:
Hoekom is die sonde van homoseksualiteit die enigste sonde wat onder sommige Christene geduld word?
Dit word geïllustreer deur die volgende fiktiewe gesprek:
Persoon A: Wat is jou opinie oor homoseksualiteit?
Persoon B: Wel, die Bybel is baie duidelik dat dit sonde is, dus glo ek ook dat dit sonde is.
Persoon A: Wat is die standpunt van julle gemeente se predikant? Het julle kerkraad ’n amptelike standpunt ingeneem ná die 2019-besluit? Gaan julle predikant aansoek doen om homoseksuele verbintenisse te bevestig? Gaan julle gemeente doleer?
Persoon B: Ek is glad nie seker oor enige van hierdie dinge nie.
Persoon A: Is dit nie vir jou belangrik om te weet nie?
Persoon B: Ek wil nie ander hieroor oordeel nie. Ons almal is maar mense met foute. As ons predikant nie homoseksualiteit goedpraat van die kansel af nie en ook nie homoseksueles trou nie dan het ek nie ’n probleem nie.
Persoon A: As julle predikant gedink het dat byvoorbeeld owerspel, diefstal of moord nie sonde was nie, sou jy steeds tevrede gewees het in julle gemeente? Is jou benadering tot owerspel, diefstal en moord ook: “Ek wil nie hierdie mense oordeel nie.”
En dit is waar die gesprek gewoonlik stop, want nou is persoon B in ’n hoek.
In Levitikus 18, 1 Korintiërs 6:9-10 en 1 Timoteus 1:9-10 word homoseks, tesame met ander sondes veroordeel. Dit is baie maklik vir Christene om hulle uit te spreek oor al hierdie sondes, maar homoseks word vir een of ander rede uitgesonder. ’n Sagter standaard word toegepas. Dit is die enigste sonde waaroor mense sê: “ons kan nie oordeel nie” of “miskien word hulle so gebore” of “ons weet nie waardeur daardie mense gaan nie.”
Dit is nie konsekwent nie.
Homoseksualiteit: vrae en antwoorde.