Die volgende artikel is gekopieer van Rapport. Let daarop dat Chris Jones die hoof van die Universiteit Stellenbosch se kantoor vir Moraliteit en Morele Leierskap vir die NG Kerk. Jurie van den Heever is ’n paleontoloog verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy is ’n ateïs.
***********
Biologie perk nie Bybelse liefde in | Rapport
2014-02-01 23:14
Jurie van den Heever en Chris Jones
Die Bybel kan nie ons handboek wees as ons oor ingewikkelde biologiese probleme soos menslike seksualiteit praat nie, skryf Jurie van den Heever en Chris Jones.
Kennis en blootstelling bemagtig en bevry.
Ons het dit die laaste aantal jare veral gesien wat homoseksualiteit betref.
Meer mense tree in verhouding met gay mense. Met vriende of familie wat openlik erken hulle is gay. Ook begin mense meer logies hieroor dink. Hulle besef sekere tradisionele argumente hou nie steek nie. Daar is ook nuwe morele argumente.
’n Groter wordende groep heteroseksuele mense respekteer die liefde en verbintenis wat hulle by gay mense sien en gun hulle gevolglik dieselfde huweliks- en gesinsvoordele as vir heteroseksuele mense. En dan is daar die godsdienstige, politieke en juridiese oorwegings op grond waarvan mense gays se lewe met die waarheid help steun.
Sekere kerke worstel progressief hiermee en ons land het ’n Grondwet wat homoseksuele mense se regte beskerm en vra dat daar op geen vlak teen hulle gediskrimineer word nie.
Maar ons hoor by al hoe meer mense, veral ook by gelowiges, dat hulle op ’n biologies feitelike vlak méér gehelp wil word, juis om hul geloof meer betekenisvol met die wetenskap te integreer.
Die moderne wetenskap betree toenemend gebiede van die mens se ervaringswêreld wat voorheen as die eksklusiewe domein van die geloof voorgehou is en waar veral die evolusionêre biologie as verklaringsmodel as onbevoeg beskou is. Die nuutste navorsing oor die bou en werking van die menslike brein wys egter op die teendeel en onderstreep die feit dat dit, net soos die longe of die hart, een van die organe van die liggaam is en nie een of ander onsienlike entiteit soos ’n siel of gees huisves nie.
Ons is ons fisieke liggame en ervaar die wêreld in al sy fasette deur middel van die liggaamlike. Wanneer ons dus van moraliteit en spiritualiteit praat, praat ons van die wisselwerking tussen die liggaam van die mens en die omgewing (fisiek, metafisies en kultureel). Godsdiens kan immers nie sonder die liggaam bedryf word nie.
Die evolusionêre biologie lewer dus ingeligte en relevante bydraes op alle vlakke van menswees.
Tans weet ons dat die mens se geslagstelsel aanvanklik in die embrio as ’n enkele, gemeenskaplike sisteem aangelê word.
Dit beteken dat die tipiese mans- en vroueorgane soos onder meer die penis en die klitoris uit dieselfde weefsel ontwikkel en daarom homoloog is. ’n Embrio kan dus óf in ’n seuntjie óf in ’n dogtertjie ontwikkel en elkeen van ons dra nog die tekens van ons gemeenskaplike oorsprong. Een of selfs meer pare nie-funksionerende tepels, waarskynlik die mees nuttelose strukture aan ’n man se liggaam, is die stille getuies van hierdie proses.
Seksualiteit, in watter vorm ook, kan dus al prenataal bepaal word en is gevolglik iets waaroor die individu geen beheer het nie.
Danksy die jongste insette van die navorsingsveld bekend as die epigenetika weet navorsers nou ook dat die ontwikkeling van die embrio se seksualiteit bepalend beïnvloed kan word deur die balans tussen verskillende hormone in die moeder se liggaam, die omgewing in die baarmoeder, die geboortevolg- orde van biologies verwante broers en les bes, die samestelling van die gene. Dit bring verskillende fisiologiese, anatomiese en genetiese kombinasies in die spel.
Daar bestaan in der waarheid dus nie net twee geslagte nie.
Sekere navorsers praat reeds van vyf geslagte (manlik, vroulik, ware hermafrodiete en twee “tussenin”-geslagte wat eienskappe van albei geslagte het).
Navorsers soos C. N. Armstrong identifiseer 15 herkenbare oorgangstadia tussen uitgesproke heteroseksuele mans en vroue. Individue het geen beheer oor die onderskeie kategorieë waarin hulle resorteer nie.
Menslike seksualiteit is dus wel oorwegend heteroseksueel, maar strek in der waarheid oor ’n veel breër, geskakeerde kontinuum as wat voorheen gemeen is. Mense fouteer dus wanneer die kwessie van menslike seksualiteit bloot in terme van hetero- en homoseksueel benader word.
Ter versagting kan ’n mens egter aanvoer dat ons as mense nie van onsekerhede hou nie.
Duidelike keuses, gewoonlik verskraal tot een van twee moontlikhede, verskaf vir baie mense betroubare riglyne. Ons en hulle, wit en swart, verkramp en verlig, goed en kwaad en bowenal manlik en vroulik.
Een van die aansprake van die godsdiens is juis dat dit sekerheid wil bied in ’n onsekere wêreld. Met betrekking tot geslag verskraal sekere gelowiges dan so maklik die spektrum van menslike seksualiteit tot uitgesproke heteroseksuele vroue en mans aan die een kant, gepantser deur eiesoortige geloofsoortuigings, wetgewing (in sommige lande), mediese oorwegings en diskriminerende humor teenoor die “ander”, wat deurgaans verkeerdelik as ’n homogene groep uitgewys en op verskillende vlakke verwerp word.
Die biologie as vakrigting en spesifiek die biologie van die mens is so kompleks dat uitsprake oor die aard en wese van die mens lank reeds nie meer slegs op Bybelse uitsprake gegrond kan word nie. Die biologie van die Bybel is voorwetenskaplik en in baie opsigte op waarnemings gegrond wat meestal nie verband hou met ons komplekse post-moderne werklikheid nie. Feit van die saak is dat die mense wat die Bybel geskryf het doodgewoon nie oor die embriologiese, anatomiese, fisiologiese of genetiese kennis beskik het waarop ons vandag aanspraak kan maak nie.
As gelowiges hulself dus ernstig wil bemoei met die belangrike Bybelse opdrag dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself is daar eintlik nie meer wegkomkans nie. Die mens se seksualiteit is ’n komplekse kombinasie van ’n groot verskeidenheid faktore wat reeds in die moederskoot vasgelê word.
Mense oor die spektrum heen is dus mekaar se naaste en moet daarom volledig as mens aanvaar word!
Prof. Jurie van den Heever is ’n paleontoloog.
Dr. Chris Jones is ’n teoloog.