Adriaan Vlok: Die minister wat jammer was

*******

Adriaan Vlok: Die minister wat jammer was | Rapport

Neels Jackson

Sondag, 15 Januarie 2023

Adriaan Vlok het die meeste spyt getoon oor die gruwels van apartheid en die meeste energie gegee om die armstes te help, skryf Neels Jackson.

Adriaan Vlok was die minister wat die verste pad geloop het.

In die kabinet van die laat 1980’s was daar die voorlopers, mense wat hulle vir verandering beywer het. Mense soos Pik Botha, Roelf Meyer, Dawie de Villiers, Leon Wessels. Vlok was nie een van hulle nie.

Hy was saam met mense soos PW Botha en Magnus Malan een van die sekurokrate, mense wat wal gegooi het teen die “totale aanslag”. Mense wat gedink het soos PW Botha een slag gesê het: “Ons moet vorentoe gaan, maar nie sonder goeie remme nie.”

En toe word die mat onder Vlok se voete uitgeruk. Op politieke vlak het die aanbreek van die politieke oorgangsproses die hele paradigma waaraan hy sy loopbaan gewy het, in duie laat stort. Op persoonlike vlak het sy vrou haar eie lewe geneem.

Dit moes vir hom ’n tyd van verwarring gewees het. Hy moes homself nuut oriënteer. Daarvoor het hy hom tot sy godsdiens gewend.

Dit was die begin van ’n proses van skuldbesef en berou en ’n opregte poging om te probeer om heel te maak en reg te maak waar hy kon – ’n proses wat hy geweet het nooit heeltemal kan vergoed vir alles wat onder sy bevel gedoen is nie, maar wat hy nogtans die res van sy lewe volgehou het.

As deel daarvan het in hy in Julie 1998 voor die Amnestiekomitee van die Waarheids-en-versoeningskommissie verskyn, onder meer oor die bomontploffing by Khotso-huis, die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke se hoofkantoor. Dit was ’n ervaring wat nie lekker was nie, maar belangrik, die regte ding om te doen, het hy aan die komitee gesê.

In die proses het hy ’n moeilike kruisondervraging deur verskeie regsverteenwoordigers ondergaan. Telkens as dit lyk of hulle hom ’n hoek gaan vaskeer, het hy met ’n skulderkenning daaruit gekom.

“Ja, ons was verkeerd, maar dis hoe ons dit destyds gesien het. Dis hoe ons gedink het. Maar ons was verkeerd,” het ek hom destyds aangehaal.

Nooit het hy skuld probeer ontken of dit op iemand anders probeer afskuif nie. So goed as wat hy kon onthou, het hy volledig verduidelik wat destyds gebeur het en hoe hy toe daaroor gedink het. En hy het amnestie vir die bomontploffing by Khotso-huis gekry.

’n Baken op die nuwe pad wat Vlok gestap het, was ’n aflewering van die rubriek Godsdiens-Aktueel wat hy in die Johannesburgse dagblad Beeld gelees het. Dit is geskryf deur Stephan Joubert en het vertel van ’n man wat sy huiswerker se voete gewas het. Dit was ’n simboliese daad van nederigheid en diensbaarheid.

Dit het Vlok, wat in daardie stadium besef het hoe boos die stelsel was waarvan hy deel was, se verbeelding aangegryp. Hy het ’n behoefte begin voel om verskoning te vra en reg te maak waar hy kon.

Een van die mense vir wie hy dit wou doen, was dr. Frank Chikane, wat vroeër, terwyl hy hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke was, ’n poging om hom te vergiftig oorleef het. ’n Poging deur veiligheidsmagte wat onder Vlok se beheer was.

Chikane was die direkteur-generaal in pres. Thabo Mbeki se kantoor toe Vlok hom gebel het om te vra of hy vir Chikane kan kom sien. Toe hy laat een middag die boodskap kry dat Chikane hom oor ’n uur kon sien, het die oudminister Uniegebou toe gery met ’n tas waarin ’n klein skotteltjie, ’n bottel water en ’n handdoek was.

Hy het sy skuld teenoor Chikane erken, sy berou oorgedra en om vergifnis gevra. As gebaar van nederigheid en diensbaarheid, het hy gevra of hy Chikane se voete kon was.

Dit was nie ’n gebaar van vertoon nie. Vlok het dit nie vir die wêreld gaan vertel nie. Maar vir Chikane, wat altyd gevoel het skulderkenning is ’n belangrike voorwaarde vir vergifnis en herstel, was dit ’n groot ding.

Aanvanklik het hy ook nie daaroor gepraat nie, maar ná ’n paar weke kon hy dit nie langer hou nie, en hy het dit vir sy gemeente in Naledi, Soweto, vertel. In die gemeente was ’n joernalis wat die storie toe vir die wêreld gaan vertel het.

Later het Chikane, wat ook ’n senior pastoor van die Apostoliese Geloof­sending (AGS) was, gereël dat hy en Vlok saam hul storie as ’n getuienis by die AGS se algemene jaarvergadering deel.

In die jare daarna het Vlok verskeie ander mense se voete gewas. Onder hulle was ’n groep vroue van Mamelodi wie se seuns in die vryheidstryd verdwyn het en vermoor is. Sover hy kon, het Vlok hulle gehelp om uit te vind wat met hul kinders gebeur het en waar hulle begrawe is. Hy het sy verantwoordelikheid en skuld teenoor hulle erken en vergifnis gevra.

Ook dit was nie vir vertoon gedoen nie. Ek kon slegs daaroor verslag doen omdat die mense wat die proses begelei het, gevoel het dit kan ’n getuienis uitdra wat die land tot voordeel kon wees.

En dit was nie net swart slagoffers van apartheid wie se voete Vlok gewas het nie. By ’n Mighty Men-byeenkoms in die Vaaldriehoek waarheen Vlok in 2013 genooi is om sy getuienis te lewer, het hy verskeie wit mans se voete gewas. Want op ’n manier was hulle ook slagoffers, moes hulle deelneem aan ’n stryd waarin Vlok en sy kollegas in die regering hulle gedompel het. Ook vir hulle het Vlok verskoning gevra.

In ’n stadium is Vlok genooi om by die Gideons aan te sluit. Hy was gewillig, maar het die Gideons gewaarsku dat hy swaar aan bagasie dra. Hy weet nie wat nog alles op die lappe gaan kom nie. Dit kan op hofsake uitloop en dan kan hy vir die Gideons ’n verleentheid wees.

Daarop het een van die Gideons opgestaan en daarop gewys dat Moses ’n man doodgeslaan het. Koning Dawid het owerspel gepleeg en gesorg dat die vrou se man in ’n oorlog omkom. Die Gideon het gesê as die Here mense soos Moses en Dawid kon gebruik, kan hy geen rede sien waarom God nie ook vir Adriaan Vlok in die Gideons kan gebruik nie.

As Gideon het Vlok onder meer Bybels vir gevangenes in die tronk gegee. Een daarvan aan Eugene de Kock, wat vroeër onder Vlok se beheer vir misdade soos die bomontploffing by Khotso-huis verantwoordelik was.

Saam met De Kock in die tronk was Stefaans Coetzee, wat as jong man medepligtig was aan ’n bomontploffing in Worcester. Toe Coetzee ná jare in die tronk tot bekering kom, het hy ’n Bybel gesoek en toe van De Kock die Gideonsbybel gekry wat Vlok vir hom gegee het. Deur dié Bybel, het Coetzee later vertel, het hy God leer ken.

Toe Coetzee later dagparool gekry het, het Vlok hom oor hom ontferm. Op ’n manier was Vlok ’n mentor wat Coetzee se lewe uiteindelik op ’n gesonde pad help plaas het. Saam met Vlok is Coetzee in die plakkerbuurt van Olievenhoutbosch in waar hulle vir arm mense gaan kos gee het.

Want dit is die ander ding wat Vlok gedoen het. Hy het betrokke geraak by die nood van die heel minste in die samelewing.

Toe ek die eerste keer hoor van Vlok se betrokkenheid by Olievenhoutbosch, het ek hom gevra dat ek saam met hom daarheen wou gaan. As joernalis het ek gedink hier is ’n merkwaardige storie om te vertel.

Hy wou nie. Hy het die armes nie gehelp om deur ander gesien te word nie.

Op ’n dag het ek ’n afspraak gehad om met hom by sy huis in Eldoraigne in Centurion te gaan praat. Ons het buite onder ’n afdak gesit in gesels. Hy wou my nie in die huis invat nie, want hy het verskeie hawelose mense daar ingeneem en dit het nie meer goed gelyk daarbinne nie.

Vir Adriaan Vlok het die laaste paar dekades van sy lewe nie meer oor Adriaan Vlok gegaan nie, maar oor die armstes, die mense met die meeste nood. Hy het probeer help waar hy kan.

Van al die ministers in die destydse kabinet was Vlok een van dié wat die meeste skuld gedra het. Maar van al daardie ministers het ’n mens by Vlok ook die meeste berou gesien. Hy het die diepste bekering van almal ondergaan. Van almal het hy dalk die meeste van sy energie en tyd en geld gegee om die armstes te help. Hy het die langste pad geloop.

  • Neels Jackson is ’n voormalige nuus­redakteur van Kerkbode.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui