- NG Kerk sê steeds jammer vir apartheid(!) (18 Apr 2019)
Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
Afrikaners het nog nooit ophou praat! | Netwerk24
Jan Bosman
Rapport, 29 Oktober 2023
Aartsbiskop Makgoba, die Afrikaner se stem was nooit stil nie, dis net die ANC wat nie wil luister nie, skryf Jan Bosman.
Op die onlangse Algemene Sinode van die NG Kerk in Boksburg spreek die Anglikaanse aartsbiskop Thabo Makgoba die sinode toe by wyse van ’n groeteboodskap per video.
Luidens berigte het die aartsbiskop onder meer verwys na Afrikaners wat hul stem in die openbaar moet laat hoor en nie bang wees dat hulle as rassiste uitgewys gaan word nie.
Dit is uiteraard bemoedigend dat die aartsbiskop dit sê. Dit is min dat ons werklik van invloedryke swart Suid-Afrikaners die woorde van bekommernis hoor en die oproep tot Afrikaners maak. Wat die aartsbiskop dalk nie weet nie is dat Afrikaners se stem nooit stil was nie. Dit is uitgedoof deur ’n regering wat nooit wou luister nie want ons sienings is uitgeblok deur ideologiese oorproppe.
Sedert 1994 het gereelde gesprekke plaasgevind, oplossings is voorgestel, gesamentlike werkkomitees is as oplossing voorgehou, liasseerkabinette vol planne en voorgestelde beleidsaanpassings is voorgehou. Dit is gedoen jaar ná jaar ná jaar. Afrikaners het gepraat en gekritiseer, ons het geluister, ons het voorgestel en ons het weer gepraat. Die regering wou egter nie luister nie.
Wat wel waar is, is dat Afrikaners in dié tyd geteikende vervreemding ervaar het. As ons Suid-Afrikaners wou wees, is daar vir ons gesê ons is gronddiewe, kolonialiste van ’n spesiale soort, rassiste, deel van witmonopoliekapitaal of selfs indringers. Ons taal word in skole en universiteite op ’n geteikende wyse onder ons uitgetrek. Straatname verander en so word ons geskiedenis misken. Ons het gepraat en ons het gereageer, maar die regering wou nie luister nie.
Die bevordering van Afrikanerbelange is gesien as ’n hunkering terug na apartheid en die ou orde. Dit het mense huiwerig gemaak om sterk standpunt in te neem in die openbaar; hulle wou nie gebrandmerk word as reaksionêres wat slegs eie belang wou dien nie. Een van die heel grootste struikelblokke was die verwyt dat die Afrikaner nie kan saampraat oor aktuele kwessies nie omrede hy deur sy verlede gekontamineer is.
Afrikanerleiers en persoonlikhede het dus stelselmatig begin wegstaan van die begrip Afrikaner en is ’n meer omarmde begrip Afrikaanssprekend, en selfs Afrikaanses aanvaar en bevorder. Enkele individue het selfs uit hul Afrikanerskap bedank.
Ander Afrikaners het agteroorgebuig om polities korrek te raak in die nuwe Suid-Afrika, terwyl ander weer die weg van protes gekies het (hoofsaaklik passiewe protes om braaivleisvure). terwyl daar ook hulle was wat aktiewe konfrontasie gepropageer het.
Maar daar is ook talle individue en organisasies met die gemeenskaplike oogmerk om as Afrikaners saam te werk vir ’n gemeenskaplike doelwit. Dit maak dit ook makliker om in die toekoms weer met ’n regering gesprek te kan voer. Hopelik dán ’n regering wat luister.
Ons boodskap aan die regering is dat daar nie sprake is van dislojaliteit aan Suid-Afrika as Afrikaners bepaalde grondwetlike regte opeis nie. Dit sluit in die reg tot Afrikaans as onderrigtaal by skole en universiteite, en dit sluit in die gebruik en bevordering van Afrikaans as een van die amptelike tale.
Dit sluit ook in die reg tot gelyke behandeling in die ekonomie en nie uitsluiting deur regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging nie. Dit het ons telkens gesê, maar niemand wou luister nie.
In ons gereelde wisselwerking met die ANC en regeringsleiers is ons standpunt voortdurend: Moet nie net die Afrikaner uitnooi om oplossingsgerig te help meewerk aan die probleme van die land nie, maar gee vir hom die geleentheid om prakties sy kundigheid en ervaring te demonstreer. Maak dus die speelveld gelyk sodat die Afrikaner wat vir homself ’n tuiste in die land sien, nog hier kan woon en werk. Daar kan nie van ’n inklusiewe Suid-Afrika gepraat word indien ’n rasgegronde beleid die samelewing nog steeds verdeel nie.
Die meerderheid Afrikaners wil op ’n manier bydra om Suid-Afrika suksesvol te laat funksioneer en hulle doen dit ten spyte van baie beperkinge en beleidsraamwerke. Dink net aan die energie wat tot voordeel van Suid-Afrika losgelaat kan word indien hierdie beperkinge verwyder word.
Afrikaners het nie ophou praat nie, en sal ook nie ophou praat nie. Dalk wil ons net dié keer met iemand praat wat die politieke wil het om te luister.
• Jan Bosman is hoofsekretaris van die Afrikanerbond.
Kommentaar
xxx