Kyk ook:
*******
Geestelike waardes: Akkuraatheid én opregtheid lei tot geloofwaardigheid | Die Burger
Deur RRV
Die Burger, 11 Februarie 2023
In sy boek wat verlede jaar in Engels as A Philosophy of Lying verskyn het, merk die Noorse filosoof Lars Svendsen op: “The opposite of lying is not the truth, but truthfulness.”
Svendsen wys verder daarop, in aansluiting by die Britse filosoof Bernard Williams, dat waaragtigheid (“truthfulness”) ten nouste met die twee deugde van opregtheid en akkuraatheid saamhang.
Met opregtheid bedoel hy die karaktertrek om met integriteit vir ander te vertel hoe ons iets waargeneem het. Akkuraatheid verwys na die poging om na die beste van jou vermoë iets weer te gee soos wat dit in werklikheid is. Uiteraard het opregtheid min waarde as jy nie poog om so akkuraat moontlik die waarheid van die leuen te onderskei nie.
Svendsen onderskei dan ook tussen “truthfulness” en “truthiness” – ’n woord wat gemunt is deur die Amerikaanse komediant Stephen Colbert (en in 2005 die Amerikaanse Dialekvereniging se woord van die jaar was). “Truthiness” dui op die retoriese strategie waarvolgens jy iets vir waar aanbied omdat dit vir jou waar voel, sonder enige wil om op bevestigde feite of logika te steun. Wat nogal herinner aan die skerpsinnige opmerking van die speurder Benoit Blanc (vertolk deur Daniel Craig) in die rolprent Glass Onion: A Knives Out Mystery: “It’s a dangerous thing to mistake speaking without thought for speaking the truth.”
Aan die ander kant het blote akkuraatheid min nut as jy doelbewus ander probeer mislei. ’n Mens kan immers met die feite lieg deur hoe jy sekere dinge uitlig en ander verswyg. Al jou stellings kan selfs waar wees en tog kan jou groter verhaal ’n leuen dien. Svendsen waarsku ook teen die lewenshouding waarvolgens ons dit wat ons as ’n waarheid sien in gemeenheid drenk om ander mee te verwond, met verwysing na William Blake se woorde: “A truth that is told with bad intent / Beats all the lies you can invent.”
Alleenlik as jy die deugde van akkuraatheid én opregtheid uitleef kan jy as betroubaar of geloofwaardig gesien word. Die belangrike punt van Svendsen se boek is dat dit ’n groot verlies is as ons nie meer vertroue in mekaar se woorde het nie. Wanneer ons mekaar nie meer as geloofwaardig sien nie. Só ’n kroniese wantroue vergif ons.
Daarom hou die aforisme uit Friedrich Nietzsche se Beyond Good and Evil waarmee Svendsen sy boek inlei ook vir ons persoonlike verhoudings en politieke lewe vandag ’n ongemaklike spieël op: “Not that you lied to me, but that I no longer believe you, has shaken me.”