Kyk ook: |
In die artikel hieronder word berig dat daar aan die hof uitklaring gevra is oor presies wat die hofuitspraak vir die kerk beteken.
Die hof het egter besluit om NIE hierdie saak uit te klaar nie – kyk Hof sê gay-uitspraak is ‘geensins onduidelik’ (11 Mei 19).
***********
Alliansie van kerke hof toe oor gayregte in NGK | Rapport
Deur Jan-Jan Joubert
14 April 2019 08:27
’n Groep kerke het ’n aansoek voor die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria ingedien om die hofuitspraak wat diskriminasie deur die NG Kerk teen gay mense verbied, te hersien en “uit te klaar”.
Die Alliance Defending the Autonomy of Churches in South Africa (Adacsa) is in Julie verlede jaar gestig en van die lede is kerkleiers wat bekend is daarvoor dat hulle krities is oor die uitleef van homoseksualiteit.
Die voorsitter van Adacsa is Moss Ntlha, wat ook sekretaris-generaal van die Evangeliese Alliansie van Suid-Afrika is.
Die alliansie se ingryping volg op die besluit verlede maand deur ’n volbank van die Noord-Gautengse hooggeregshof dat die NG Kerk se 2016-besluit om nie gay predikante of gay huwelike toe te laat nie, sowel om prosedurele as grondwetlike redes ongeldig is.
Die NG Kerk, wat die saak met koste verloor het, het besluit om die hofuitspraak te aanvaar en nie daarteen te appelleer nie. Dis toe dat Adacsa intree, met dien verstande dat die bevinding oor grondwetlikheid alle kerke se hantering van gays raak.
In die hofstukke vra Rudene Crystal Maphalla namens Adacsa dat dieselfde volbank van drie regters wat die uitspraak van 7 Maart gelewer het, dit aanpas om dit “uit te klaar”.
Adacsa voer aan dat dit onduidelik is of die uitspraak se bevinding net op prosedurele kwessies berus, en of die grondwetlike beletsel teen onregverdige diskriminasie op grond van seksuele voorkeur ook ’n rol gespeel het.
Die vraag van Adacsa se kant is dus of die hof se bevinding net op die NG Kerk van toepassing is, of ook op ander kerke. As motivering vir die argument van onsekerheid voer Adacsa onder meer aan dat die grondwetkenner prof. Pierre de Vos van die Universiteit van Kaapstad luidens ’n artikel op die webblad Mambaonline self onseker is of die uitspraak bindend is op alle kerke se hantering van gays.
Daarom, voer Adacsa aan, het die organisasie ’n belang by die saak, al was hy nie ’n party in die geding nie, want sy lede kan deur die uitspraak geraak word betreffende hul praktyk en hul uiteensetting van die Skrif.
En dis een van die hoofredes van Adacsa se bestaan dat hulle staan vir die reg van elke kerk en elke kerkgenootskap om hul interne sake volgens hul godsdienstige oortuigings te bestuur.
Adacsa bestaan voorts om in te gryp – ook juridies – as hy meen sy lede se belange of godsdienstige oortuigings word geraak.
As teenargument het Laurie Gaum, een van die suksesvolle aansoekers in die oorspronklike aansoek teen die NG Kerk, in hofstukke aangevoer dat Adacsa nie ’n party in die geding was nie en homself dus nie met die uitspraak moet bemoei nie.
Voorts voer Gaum aan dat die uitspraak hoegenaamd nie onduidelik is nie – die NG Kerk het die saak op sowel prosedurele as grondwetlike gronde verloor.