*******
André van Niekerk: Kerke kan veel méér vermag | Netwerk24
André van Niekerk
02 Maart 2023
Kerke se groot uitdaging in hierdie tye is om hul godgegewe vermoë van herinnering én tegelyk van verbeelding te herstel, skryf André van Niekerk.
Koos Kombuis is in sy rubriek van 10 Februarie ongelukkig reg oor ons kerke se sinlose getel van engele wat op die punt van ’n naald dans.
Ai mense, kan die kerke en ander geloofsinstansies nie eerder die hebsug, arrogansie en kortsigtigheid ontmasker wat besig is om ons samelewing te verwurg nie? Onthou hoe moreel-dapper gelowiges die magtige bedryf van slawehandel grootliks tot ’n einde gebring het. Kan so ’n bevryding nie weer gebeur nie?
Vir die Franse filosoof Paul Ricoeur het die menslike bewussyn twee besonderse vaardighede om die byna onmoontlike te kan vermag: herinnering én verbeelding. Om sout en lig vir die wêreld te wees, behoort geloofsgemeenskappe die samelewings waarin hulle leef enersyds te help om die “groter prentjie” van God en ook hul eie verhale te onthou: die foute wat begaan is en die vryhede wat verwerf is. Andersyds moet gemeenskappe samelewings help met nuwe verwagting, om skadelike lewenspatrone te laat gaan en nuwe bestaansmoontlikhede te omhels.
Pleks dat kerke as ’n verenigde front ons regering dwing om in te sien hoe sleg sy verbete sug na sentralisering van mag is, is ons met onsself en ons eie dogma besig. Onlangs is ’n artikel van ’n paar jaar gelede deur ’n akademikus oor Jesus se godheid deur ’n lidmaat van die Shofar-kerk opgediep.
Twee skokke laat die NG Kerk toe bewe.
Die eerste is dat ’n akademikus, wat ook ’n gelegitimeerde predikant van die NG Kerk is, dit durf waag om Nuwe Testament-uitsprake oor Jesus na te gaan en dit opnuut te interpreteer. “Het ons nie klaar in ’n ooreenkoms met mekaar oor die leerstuk van Jesus se godheid (vanuit die vierde eeu!) besluit nie?” is gevra. “Hoekom maak jy/julle lidmate nou al weer onrustig?”
Die naskok kom toe veral van diepsinnige lidmate: “Hoe durf julle so ’n eeue oue kwessie wil hanteer asof ons die details nie mag weet nie? En dit na die skandalige behandeling van prof. Johannes du Plessis byna ’n eeu gelede. Onthou eerder: ‘When inquiry is denied at the door, doubt comes in by the window’ ”.
Wat nou gemaak? Om soos gewoonlik terug te val op binêre denke met argumente dat die een kant (my kant!) reg is en die ander verkeerd is, maak die verleentheid net erger.
Is dit nie veel wyser en deursigtiger wanneer kerkgemeenskappe hul godgegewe bewussynsvermoë van herinnering én tegelyk van verbeelding herstel nie? Selfs jong lidmate moet hieraan kan proe wanneer hulle Sondae hul droom in ’n erediens gaan vier. Dan gaan ons minder kibbel oor wat ons in elk geval net ten dele van weet.
Herstel herinnering
Kom ons herinner mekaar eerstens dat die Bybel oud-Joodse (Semitiese) denke in sy vertellinge benut. Die ononderhandelbare unieke van ons geloof is dat ons in teenstelling met ander godsdienste in één God glo (monoteïsme). So is dit in die kernbelydenis van Deuteronomium 6:4 verwoord en word dit onder andere deur Jesus onderstreep. Geloof is duidelik hier ’n saak van hartsvertroue.
Kom ons onthou tweedens ook dat die vroeë kerk en sy geloofsformuleringe in oud-Griekse (Hellenistiese) terme, atmosfeer en denke plaasgevind het. Vir die Grieke was daar baie gode en hulle kon na hartelus ook geskilder word.
Daarby was die Joodse-Christene in ’n stadium nie meer welkom by die sinagoges nie en is op hulle as sekte neergesien. Twee eeue of wat later het die Christene godsdiensvryheid van die Romeinse maghebbers ontvang en spoedig daarna is hulle as staatsgodsdiens gekroon. Om oud-Joodse denke en -geloof te handhaaf, moes soms moeilik gewees het. Die oud-Griekse denkwyses (byvoorbeeld die skeiding tussen liggaam en siel) het begin oorheers. Geloof word al hoe meer die rasionele beaming van geloofswaarhede en die verwerping van die “ketters” se interpretasies. In die Sistynse kapel skilder Michelangelo selfs die onafbeeldbare een ware God net soos hoofgod Zeus afgebeeld is.
Eers wanneer ons goed ons Semitiese wortels onthou en ook die Hellenistiese bedding waarin ons geloof toe oorgeplant is, kan ons die nuanses in ons geloofsformuleringe duideliker onderskei.
Die Evangelie wat eerste geskryf is, Markus, kies byvoorbeeld om Jesus “Seun van God” te noem. In die Ou Testamentiese wêreld was dit ’n funksionele begrip wat nabye en gehoorsame verbondenheid uitgedruk het. Israel en konings is as “seun van God” beskou. In die Hellenistiese wêreld soos in die oud-Egiptiese beskawing was die term egter ’n ontologiese begrip wat as fisies-biologiese verbondenheid verstaan is.
Die Evangelie wat laaste geskryf is, Johannes, verkies om Jesus “Logos van God” te noem. In die oud-Joodse herinneringswêreld dui Logos op God se Woord waarmee Hy die aarde aan die begin en later Jesus (as ’n tweede skepping) geskep het. Logos dui ook dat God se Wysheid, wat van altyd af bestaan en waarmee God geskep het, in Jesus is. In die Hellenistiese wêreld is Logos onder andere by Philo nie as die groot bekendmaker van God (Johannes 1:18) gesien nie, maar as God se beheerder van siele (byvoorbeeld deur die Belgiese teoloog Edward Schillebeeckx).
Heraktiveer verbeelding
In die Nuwe Testament word Jesus meestal ondubbelsinnig onderskei van God wat Hom gestuur het. In die Johannes-evangelie word die nabye verbondenheid en vereenselwiging dikwels beklemtoon maar steeds met ’n onderskeid, byvoorbeeld Johannes 17:3 en 20:17. Enkele kere egter, soos in die hoogtepunt van Johannes, hoofstuk 20:28, word Jesus egter “God” genoem!
Veral hierdie verskille in uitsprake lei daartoe dat die kerkvergaderings in die vierde en vyfde eeu kies om met Hellenisties-filosofiese begrippe Jesus as die tweede persoon in een Goddelike wese te verbeeld. Ook dat Jesus ’n menslike en ’n goddelike natuur sou hê.
Dit is verstaanbaar dat dit gebeur het. Gevolglik is die term “God drie-enig” wat ook nie in die Bybel voorkom nie, ingevoer om die onverstaanbare te benoem. Wat as ’n “verleentheidsterm” begin het, het nou ’n toetssteen vir regsinnigheid geword.
Die sleutelvraag is of daar ruimte vir gelowiges in ons gemeentes is om hierdie uitsprake na te vors en te kies om dit eerder nader aan ’n Semitiese denkinhoud te herverbeeld?
Is die Nederlandse teoloog Hendrikus Berkhof se interpretasie van Thomas se “my Here en my God”-belydenis nie dan aanvaarbaar nie? Berkhof interpreteer dit as Thomas se hartgrondige erkenning van Jesus se noue band met God en God se vereenselwiging met Jesus as die opgewekte Here.
Behoort “drie-persone in een wese” nie nuut vir ons tyd verstaan te word nie? Ferdinand Deist het jare gelede al verduidelik dat die ou Grieke se woord vir persoon destyds “rolle” en selfs “teatermaskers” beteken het. Een akteur het verskillende maskers gedra om verskillende rolle te vertolk. In die moderne tyd het die woord persoon ’n betekenisverandering ondergaan en dui persone nou op afsonderlike individue. Die Switserse priester-teoloog Hans Küng pleit dat die “driemaligheid” in plaas van “drie-enigheid” van God veel meer waarde in die praktyk van daaglikse toewyding aan God het.
Om sout en lig in ons tyd te wees, is dit immers nodig om op God as die hart van die geskape werklikheid (bo ons) te vertrou; om God as die een wat Jesus Christus gestuur het om ons van allerlei jukke te bevry (langs ons) te erken; en om God wat deur sy Gees én die van sy “Seun” by ons kragtig teenwoordig bly en nuwe visie (in ons) gee, te bly verwag.
• Van Niekerk is ’n leraar in Pretoria. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
Dit is onmoontlik om ‘n sinvolle gesprek met iemand soos André te hê wat nie die Bybel as die onveilbare woord van God aanvaar nie.
Hy glo / aanvaar nie wat die Bybel onomwonde sê nie.
Terloops, Jesus is nie geskape nie.
Hy sal ‘n sterk argument kan maak teen die “Bybel is die woord van God”. Want die stelling is op sy eie problematies. Die Bybel se nerens dat sy die “Woord van God” is. Jesus se oor die skrif dat dit van hom getuig. Dus is die Bybel ‘n betroubare getuienis oor die Woord van God. Nou het hulle egter ook fetes daarme. Die argument gaan wees dat ons nie die ‘oorspronklike manuskripte’ het nie. En dat daar ‘teenstrydighede in die bybel’ gaan wees. Nou ja, en met dekonstruksie sal mens enige teenstrydigheid kan bewees. Jy kan dit met enige teks doen, mits jy nie *wil* verstaan nnie. En dis presies die punt waaroor dit met ‘hulle’ gaan. Hullw *wil nie* verstaan nie. Maar hulle wil professore, leerars, pastore en ds. wees. Want die kerke is vir hulle nuttige instrumente om hulle transformatoriese idees the versprei.
Nou wat ek nie verstaan nie is hoekom hierdie mense al vir dekades verdra word deur die lede en leierskap van daardie kerke. Ook hoekom mense aanbly in sulke kerke verstaan ek nie mooi nie.
Dit is onmoontlik om ‘n sinvolle gesprek met iemand soos André te hê wat nie die Bybel as die onfeilbare woord van God aanvaar nie.
Hy glo / aanvaar nie wat die Bybel onomwonde sê nie.
Terloops, Jesus is nie geskape nie.