Anti-apartheidsteologie ‘uiters simplisties’

Kyk ook:

*******

Anti-apartheidsteologie ‘uiters simplisties’ | Beeld

Beeld, 22 Jul 2000

Neels Jackson

Die anti-apartheidsteologie is ‘n virus wat die Afrikaner dodelik siek maak, het prof. Jurie le Roux, Ou Testamentikus van die Universiteit van Pretoria, onlangs op LitNet se elektroniese debatsforum geskryf. Neels Jackson het met hom daaroor gaan gesels.

Die anti-apartheidsteologie waarteen Le Roux dit het, het volgens hom by dr. Beyers Naudé én sy skryfwerk in die jare sestig in die blad Pro Veritate begin. Hy noem dit ‘n “sentimentele Liewe Jesus-teologie” en beskryf dit as uiters simplisties. Dis ‘n soort teologie wat gemaklik waarhede uit die Bybel haal en dit net so op die politieke situasie toepas. Met só ‘n hantering van die Bybel kan Le Roux hom nie vereenselwig nie.

Hy beduie met sy hande twee sirkeltjies op die tafel as hy verduidelik watter probleme ‘n mens in ag moet neem as jy die Bybel lees.

In die een sirkeltjie het jy die teks van ‘n Bybelboek, ‘n teks wat in ‘n spesifieke historiese situasie ontstaan het, wat die tyd reflekteer waarin dit ontstaan het. In die ander sirkeltjie is die leser, iemand wat uit ‘n heeltemal ander historiese era met ‘n heeltemal ander manier van dink kom.

En as hy by die leser kom, rits hy die verskillende insigte af van die afgelope eeu of wat oor wat alles gebeur as iemand ‘n teks lees.

“Marx het ons geleer dat daai outjie se sosiale konteks waarin hy gebore is, bepaal hoe hy die teks gaan lees. Freud het gesê hier in jou onderbewuste is soveel goed waarvan jy nie bewus is nie, wat in die lees van daai ding ook na vore gaan kom. Nietzsche het gesê: pas op, elke ou het die wil tot mag met my lesing van die teks, sonder dat ek dit weet, wil ek jou ‘n bietjie manipuleer.”

As jy dit alles verstaan, veral die groot historiese afgrond tussen teks en leser, is die vraag: hoe kan jy die insigte uit die voorindustriële fases van die bestaansekonomie aan die een kant na die hoogs kapitalistiese, geïndustrialiseerde en inligtingsamelewing van vandag oorplaas? Aan die een kant, sê Le Roux, kan jy dit nie doen nie. Maar aan die ander kant wil die Christen tog probeer kyk of daar nie norme is wat ‘n mens kan vertaal vir die situasie van die samelewing van vandag nie.

Maar dan moet jy bewus bly van die groot historiese kloof en dít het die anti-apartheidsteologie nie gedoen nie. Verder het dié teologie gegaan en ‘n finale waarheid gevind: apartheid is sonde, Afrikaners is skuldig en moet bely.

Die uitwerking op Afrikaners is volgens Le Roux vernietigend. Die godsdiens werk soos ‘n virus wat voortdurend sy skuldgevoel aanwakker, wat Afrikaners stelselmatig aftakel en hulle uiteindelik só verlam dat hulle bang is om vir hulself te veg.

Dis die finale terme waarin dié “waarheid” gegiet word waarteen hy dit het, sê Le Roux. Dit laat geen gesprek meer toe nie. Dit sluit alles af. Hy pleit dat die gevolgtrekking net oopgelaat word. En daarmee pleit hy nie vír apartheid nie.

Hy verduidelik: volgens die modernisme is daar één waarheid. Waar dit oor apartheid gaan, kry jy nou ook “dié modernistiese dingetjie” van “hier is die blokkie maats, en hier gaan ons almal in en die ou wat anders dink, hy is die baddie, hy dink nou anders oor apartheid”.

Teen dié manier waarop mense in blokkies geplaas word, kom hy in opstand. Hy wil ruimte hê om op sy eie manier te worstel met die verlede, sonder om aan ander mense se insigte en gewete gebind te word.

Hy het sy eie siening van apartheid wat hy nog handhaaf, maar dit is sy siening, dit is nie die nasionale Party se siening nie. “My droom van apartheid het misluk. Ek is dus ontnugter. Ek ket gehoop apartheid sou werk. Ek dink my siening van apartheid kon gewerk het, maar hy het toe nou nie.”

Hy het gedroom dat apartheid ‘n billike bedeling vir almal sou skep. Hoekom moet hy nou vir ‘n droom bely as dit die NP was wat ‘n gemors gemaak het, vra Le Roux.

Maar hy sien ook die lyding raak wat plaasgevind het.

Hy praat oor hoe dit by sy destydse univiersiteit verloop het. “Mense is uitgesluit van die universiteit. Dit is slég dat dié goed gebeur het . . .”

Maar nou het die anti-apartheidsteologie gekom met sy finale waarheid en die eis dat jy moet bely. Dis ‘n magspeletjie, sê Le Roux. As jy nie bely nie, is daar strafmaatreëls. “Jy kan nie ook sleg voel of ook medelye hê met swart mense nie, want jy is nie in daardie blokkie nie. Jy het nog nie gesê daai ding is sleg nie. Jy het nog nie verander nie.”

Hy vertel van ‘n belewenis in die tyd van die Soweto-opstande. Destyds het hy aan die hand dan ‘n Duitse teoloog die ontdekking gemaak van die wêreld waarin Israel geleef het en waarteen die Psalms verstaan moet word.

Op ‘n dag kom sit ‘n swart vrou by hom en huil. “En dis hoog-apartheid en ek weet nie hoe om dit te hanteer nie. Dit het my aangegryp. Dis die naaste wat ek aan Soweto kom en die vrou huil en ek gee vir haar tee. Maar ek weet nie hoe om dit te hanteer nie en ek voel sleg daaroor en sy het my oë ‘n bietjie geopen.”

Op intellektuele vlak was daar egter ‘n ontnugtering.

Hy het pas sy wonderlike ontdekking gemaak oor die agtergrond waarteen die Bybel gelees moet word, toe hy Naudé se anti-apartheidsteologie in Pro Veritate lees “en hier kom en maak hy of daar geen (historiese) afstand (tussen die teks en die leser) is nie”.

Dis teen dié agtergrond dat Le Roux sê daar moet ruimte wees vir iemand wat vandag wil sê die goed oor apartheid is nie vir hom so helder, so duidelik nie, maar hy wil ook die stemme van lyding hoor.

Die geskiedenis is nie eenduidig nie. Geen mens kan ‘n volledige prentjie hê nie. Elkeen sien net ‘n deel raak. Dis wreed om jou siening aan ander op te dwing, maar die ergste
intellektueel kriminele daad is om dan nog te sê: “God voel soos ek voel.” Moenie met God
smokkel nie, vra Le Roux.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui