Anti-rassisme: ‘Kerk is die plek waar ons mense aan die hand moet vat en sê elke mens is waardig en volmaak gemaak in God se oë’

‘n Mens kan nie help om te wonder of rassisme nou werklik een van die belangrikste kwessies in die NG Kerk is nie.

***********

Anti-rassisme: ‘Kerk is die plek waar ons mense aan die hand moet vat en sê elke mens is waardig en volmaak gemaak in God se oë’ | Kerkbode

Deur Le Roux Schoeman

1 Maart 2023

Die NG Kerk wil anti-rassisme aktief bevorder.

Tussen ’n hoogs teoretiese gesprek oor metafisika en ’n hoogs praktiese gesprek oor hoe om ernstige instutisionele harsingskudding te vermy wanneer die Algemene Sekretaris asook die Algemene Bestuurder van die NG Kerk na jare se diens volgende jaar vier maande uitmekaar aftree, het daar vandeesweek onder kerkleiers ’n merkwaardige uurlange gesprek oor anti-rassisme plaasgevind.

Dit was die eerste dag van vanjaar se eerste byeenkoms van die Algemene Sinode Moderamen (ASM). Die gesprek oor rassisme was nie merkwaardig oor die feit dat daar slegs wit gesigte onder die paneel en sowat 50 afgevaardigdes was nie (dit is taamlik standaard vir hierdie vergadering en is vroeg-vroeg deur ’n deelnemer uitgewys en as tekenend erken). Dit was eerder merkwaardig omdat dit vir van die betrokkenes inderdaad beduidende vordering verteenwoordig in die NG Kerk se proses om aktief en vanuit vele hoeke – van sielkundig tot teologies en van kollektief tot persoonlik – na die kwessie van rassisme in eie geledere te kyk.

Dr Marinda van Niekerk, lid van die Taakspan Rassisme, Versoening en Geregtigheid, het vanuit haar eie lewe gedeel oor wat deesdae haar “dryfveer” is waar sy onder meer aan die hoof van PEN in Pretoria staan. “Die kerk het baie mense geleer dat swart mense nie waardig is nie. En die kerk is ook ’n plek waar ons mense aan die hand moet vat en sê elke mens is waardig en volmaak gemaak in God se oë.”

LEES OOK: Selfdegeslagverbintenisse: Alle gesprekke help ASM ‘om tot groter helderheid oor die betekenis en implikasies van die 2019-besluit te kom’

Sy was lid van ’n paneel van vyf van die taakspanlede wat op Dinsdag 28 Februarie in ’n konferensiesentrum naby die OR Tambo-lughawe in Kemptonpark in ’n ry voor die voorsitter van die vergadering, ds Nelis Janse van Rensburg, gesit het en met afgevaardigdes gesels het oor hoe rassisme in 2023 lyk en voel – ook in hulle eie gedagtes en kondisionering. “Ons moet ons leierskap inspireer om platforms te bou, om veilige plekke te skep … Ons moet baie meer intensioneel besig wees (daarmee).”

Die anti-rassisme-gesprek het gevolg op ’n gasrede deur prof Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia, en het ’n meer interaktiewe formaat aangeneem. (Goosen het oor die “dominante metafisika van ons tyd” kom gesels en gesê Teologie loop die risiko om in ’n poging om relevant te bly, “opgeslurp te word” in moderne metafisika). Lees Goosen se volledige toespraak hieronder. – Red.

’n Kundige wat betrek is om ook op die Taakspan Rassisme, Versoening en Geregtigheid te dien, Lidia Rauch, het wanneer dit by rasseverhouding in Suid-Afrika kom, die onderskeid tussen performing en transforming getref. Transformasie is ’n baie moeilike ding en is meer ingewikkeld as om net te glimlag vir iemand anders (’n element van performing), het sy verduidelik. “Ons kan aanhou, aanhou en aanhou sê die regering fail en ja hulle doen … maar wat is dit wat ons doen? Ons moet kyk na persoonlike transformasie,” het Rauch gesê. Sy het ook meer persoonlik genoem dat sy ’n oupa het wat ’n minister tydens Apartheid was. “So, ek het ’n direkte bloedlyn wat spreek tot wat gebreek is in hierdie land en ek wil graag deel wees van die regmaak.”

‘Witwerk se doel is nie skuldgevoel’

Dr Louis van der Riet het die “diagnose” van wit aangebied as beginpunt vir ’n wit persoon se reis met rasseversoening, ook genoem “Witwerk”. Van der Riet het gepraat oor sy eie “gerasde identiteit” en gesê “taal soos witheid help my om meer eerlik te wees en dan meer belydend om te gaan met my identiteit.” Die doel van Witwerk is volgens hom “nie om skuldig te voel nie, maar die opneem van verantwoordelikheid wat baie meer lewegewend is.” Oor die afwesigheid van rasdiversiteit by die ASM, het Van der Riet gesê: “Ons speel nie ’n numbers game wanneer ons besig is met transformasiewerk nie, maar dit is die getuienis van die NG Kerk … As ons in 2023 nie die vermoë het om in gemeenskap saam te leef in ’n land soos Suid-Afrika nie, dalk is daar iets anders wat ons kan doen deur te begin by onsself.” Van der Riet, ’n taakspanlid verbonde aan Inclusive & Affirming Ministries (IAM), het bygevoeg die NG Kerk voel soms soos ’n getypoel terwyl die res van die land die oop oseaan is. “Witwerk is die werk wat ek nodig het om nie in die getypoel te swem nie … die werk wat ek nodig het om in die hoofstroom te gaan swem.”

Van der Riet het klem gelê daarop dat Witwerk die nodige voorbereidingswerk is om oorgrenswerk te kan doen – die einste oorgrenswerk waaroor die kerk al vir dekades praat maar waarvan die uitkomste nie altyd sigbaar is nie.

Afgevaardigdes het saam gepraat en hoop en vrese gedeel. Vanuit Bloemfontein het ’n mens gehoor “dis ’n laat uur vir hierdie gesprek”. Vanuit die Baai was daar weer die gevoel dat ’n mens nie so “sielkundig en introspektief” hoef te wees nie, maar net kan doen. “Gaan slaap in ’n swart woonbuurt … Dit verander mense.”

Janse van Rensburg het saamgevat dat die vraag nie is óf die NG Kerk ’n verantwoordelikheid (ten opsigte van anti-rassisme) het nie … Die vraag is hóé die kerk daardie verantwoordelikheid nakom. “Rassisme in Suid-Afrika is ’n werklikheid,” het hy gesê.

Oor poste in Pretoria

Die dagbestuur van die ASM het dit ook op die eerste dag van hierdie saamtrek, wat tot 2 Maart duur, onder die aandag van die ASM gebring dat die pos van die Algemene Sekretaris op 29 Februarie 2024 vakant raak. Dr Gustav Claassen tree af. Die pos van die Algemene Bestuurder raak vakant op 30 Junie 2024, wanneer dr Lourens Bosman aftree. “Die Diensverhoudinge-kommissie (DVK) van die Algemene Sinode het reeds gesprekke gevoer met beide persone oor hulle aftrede. Die dagbestuur is van oordeel dat daar nou reeds met die proses begin moet word om die pos van die Algemene Sekretaris teen 1 Maart 2024 te vul,” luidens ’n verslag wat teen laat op die eerste dag nog nie ten volle in die bed was nie.

“Die dagbestuur is egter baie bewus dat die oorgangsproses van die huidige bedeling na ’n nuwe netjies bestuur moet word. Die Algemene Sekretaris vervul tans verskeie internasionale ekumeniese funksies en behartig ook die Publieke Getuienis-funksies van die Algemene Sinode. Om die oorgangsproses sinvol te bestuur, mag dit nodig wees om die huidige Algemene Sekretaris te versoek om nog vir ’n tydperk ondersteunende funksies in die kantoor te vervul.”

Die vergadering duur voort.

1 thought on “Anti-rassisme: ‘Kerk is die plek waar ons mense aan die hand moet vat en sê elke mens is waardig en volmaak gemaak in God se oë’”

  1. “elke mens is waardig en volmaak gemaak in God se oë”

    In die lig van die skrif is daardie stelling a slu, maar eintlik blatante leuen. Ons is juis nie ‘volmaak gemaak’ nie en het dus wedergeboorte genodig om volmaak te kan word. Of hoekom het Christus gesterf? Nie vir mense wat volmaak is.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui