Anton van Niekerk: Kan godsdiens ’n oorlog keer?

Kyk ook Dood op brandstapel toe nie Calvyn se skuld nie waarin Ds. Koos Mouton van die Gereformeerde Kerk, Ventersdorp kommentaar lewer hierop.

*******

Anton van Niekerk: Kan godsdiens ’n oorlog keer? | Netwerk24

Anton van Niekerk

16 Januarie 2024

Is die godsdiens ’n tersake krag ter bestryding van oorlog?

Daar is diegene wat aanvoer dat nasies of groepe nie anders kan nie as om (militaristies) te “veg vir vrede” – natuurlik ’n oksimoron!

Ons behoort na enigiets te gryp om oorlogsgeweld te vermy. Dit roep onder meer die vraag op na die rol van die godsdiens in die vermyding van oorlog. Of godsdiens oorlog kan keer, is sowel ’n empiriese as ’n morele vraag.

Die eerste Christene kom weliswaar sleg daarvan af as vredestigters. Hulle was, soos hul eerste konkurrente (die Jode), monoteïste in die politeïstiese Romeinse ryk, en stuur daarmee die idee die wêreld in dat al die ander antieke gode geen legitimiteit het nie – en dat die hele wêreld “gekersten” moet word. Vandaar die vervolging van die vroeë Christene.

Die sentrale figuur in die Christendom – Jesus van Nasaret – is daarby nie iemand wat, met ’n eerste oog­opslag, wêreldvrede propageer nie. In Mattheus 10:34-39 is Jesus uitgesproke daaroor: “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard.” Dink aan die omarming van geweld in die verloop van die Christendom: die Spaanse Inkwisisie, Calvyn wat die “ketter” Servet se teregstelling goedpraat, die Noord-Ierse konflik, ensovoorts.

Dinge het weliswaar verander. In 313 n.C. verleen keiser Konstantyn regstatus aan die Christendom (nie omdat hy self waffers gelowig was nie, maar omdat hy meen dat dit stabiliteit in die ryk sal bevorder).

Natuurlik is dit nie slegs die Christendom wat met geweld en oorlog verbind word nie. Islam is van meet af ’n militante godsdiens; die profeet Mohammed – in vele opsigte ’n vroom en ruimhartige man – voer leërs aan wat Islam met geweld vestig.

Tog is daar ’n ander kant van die verhaal. Wie godsdienste slegs van geweld- en oorlogstigting beskuldig, ontken die volle prentjie van die geskiedenis. Dink aan die vermenslike invloed wat sendelinge in kontinente soos Afrika en Suid-Amerika ingedra het.

Stig godsdiens vrede? Die betoog tot nou maak ’n positiewe antwoord nie maklik nie. Trouens, intellektuele soos Richard Dawkins is al hoe meer uitgesproke daaroor dat godsdiens ’n gevaarlike verskynsel is waarteen kinders beskerm moet word.

As ons wegkyk van die empiriese na die morele vraag, kies ek die kant van dié wat glo dat godsdiens – met name die Christelike geloof – ’n vredestigtende krag in die wêreld is en behoort te wees.

Godsdiens kan vrede stig as dit ophou om voor te gee dat dit absolute waarhede verkondig wat met lewe en liggaam verdedig moet word, en as dit die agenda van die vermensliking van die wêreld sy eie maak – ’n agenda wat deur die meeste godsdienste gedeel word, en wat dus vereis dat ons wegkom van die idee dat een godsdiens ’n monopolie op die waarheid het. Die Christendom verkondig ’n God wat mens geword het, en wat die geweld van ons historiese boosheid gedra en oorwin het in die kruisverhaal.

Charles Colton skryf: “Men will wrangle for religion; write for it; fight for it; die for it; anything but live for it.” Ons uitdaging is om op te hou om te baklei en te verdeel en selfs te sterf vir die geloof, maar om ’n keer só te leef dat ons “lig so . . . skyn dat die mense julle goeie werke sien” (Mattheus 5:16).

Anders gestel: Ons moet ophou met die obsessie om van mense Christene te maak, en eerder begin om van Christene mense te maak (apologie aan Johan Degenaar). Dan sal die vrede wat die geloof stig, sigbaar word in die wêreld.

• Van Niekerk is ’n professor in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui