Anton van Niekerk: Sal ons sonder haat kan leef?

Kyk ook die volgende reaksies op hierdie artikel:

*******

Anton van Niekerk: Sal ons sonder haat kan leef? | Netwerk24

Anton van Niekerk

21 November 2023

Ons staan elke dag toenemend verbysterd oor die omvang en intensiteit van háát in die wêreld. Selfs die geringste sin vir geskiedenis herinner ons natuurlik daaraan dat dit ons nie moet verbaas nie. Is ons, soos die Christelike kerk ons leer, nie een en almal “in sonde (met gepaardgaande haat en lyding) ontvang en gebore” nie? Is ons nie almal verdoem tot ewige afgryse tensy die ingreep van die evangelie-gebeure weer hoop bring nie?

Tog bly dit my verstom hoe woedende, uitmergelende háát met reëlmaat sy kloue bly inslaan in alle menseverhoudinge – ook in dáárdie verhoudinge waar ’n mens sou reken ons dit tot elke prys sou wou probeer vermy. Lesers verneem elke dag van die genadelose en gewetenlose wedersydse vernietiging in die stryd tussen Israel en Palestina.

Benjamin Netanyahu het dit verklaar as ’n stryd tot die dood toe; geen ander uitkoms as die totale uitwissing van die Palestynse volk sal Israel tevrede stel nie. Terselfdertyd moet ons daagliks verneem van die destruktiewe aanvalle op Israel, wat die Pale­styne dan ontken, en só vorder die bose­ kringloop van beskuldiging, ontkenning, aanval en wraak tot satwordens toe.

Die Midde-Oosterse konflik het daarby uitgebreek op ’n tydstip toe ’n ander oorlog met ewe vergelykbare heftigheid aan die gang was (en is). Reaksies van pres. Wladimir Poetin en pres. Wolodimir Zelenski grens aan wedersydse verontwaardiging oor Israel en die Palestyne wat so ongevraag “hul donder kom steel het”.

Het ons onderlinge haat nodig om te kan asemhaal? Het die ego’s van die tiranne wat die konflikte dryf, onversadigbare afmetings? Waarom kan ons skynbaar nie sonder haat leef nie?

Soms wonder ek of baie van ons nie teer op ’n soort “evangelie van haat” nie (“evangelie” is natuurlik hier die verkeerde woord), wat soos ’n onkeerbare virus mense bly besmet. Dit suggereer ’n alternatiewe lesing van die sentrale Christelike (en ander godsdienste) se perspektief op en beskerming teen haat, naamlik die liefde.

Kom ons vervang “liefde” met “haat” in die kerndeel van 1 Korintiërs 13 (verse 4-8, 13) – die sentrale Bybelse teks oor die liefde en kyk wat dit oplewer: “Haat is nors en ongeduldig; haat is jaloers, grootpraterig en verwaand. Dit soek sy eie belang en hou graag boek van die kwaad. Dit verheug hom oor leuens en onreg. Haat leef van beskuldigings, en glo, hoop en verdra niks . . . Nou bly ongeloof, wanhoop en haat, hierdie drie, maar die grootste hiervan is die haat.”

Ek vind dit uiters moeilik om te aanvaar dat haat die laaste woord oor ons en ons planeet spreek – ’n planeet wat eweneens sy tuiste-karakter vir ons begin verloor weens ons roekelose misbruik daarvan. Is ons verhaal as skepping onomkeerbaar uitgelewer aan ’n metafisiese vloek wat met onkeerbare noodsaak dit wat mooi en leefbaar is in ons wêreld, tot niet laat gaan? Het ons morele sensitiwiteit die (laagte)punt bereik waar ons weerlose suigelinge en kleuters identifiseer as ons “lewensgevaar-teikens” wat verkieslik uit die weg geruim moet word?

Daar is net een alternatief, en dis die omarming van liefde, (volgens Paulus) daardie onsterflike emosie wat sal voortbestaan, ondanks die meeste van ons.

Daar is ’n soortgelyke versugting in die denke van ’n uitgesproke ateïs soos Bertrand Russell. Hy skryf in sy outobiografie oor die liefde as sy vernaamste vonds. Hy het liefde gevind, skryf Russell, “because in the union of love, I have seen in a mystic miniature, the heaven that saints and poets have imagined­”. Haat mag nie die laaste woord hê nie. Dit hang van ons af.

• Van Niekerk is ’n professor in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Kommentaar

xxx

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui