Arnold Griesel: Is welwillende uitkoms moontlik met spanning tussen lidmate wat anders glo?

*******

Arnold Griesel van Bethulie skryf: Is welwillende uitkoms moontlik met spanning tussen lidmate wat anders glo? | Kerkbode

Arnold Griesel

2 Desember 2022

Die brief van ds Dubois du Toit (26 Mei 2022) verwys. Die Algemene Sinode se implementering van ’n ‘Ruim Huis’-filosofie (waar diverse geloofskeuses in die NG Kerk voorgestaan word) mag dalk lidmate trek en behou (nuwes bykry) maar ook bestaandes, wat suiwer gereformeerde leer aanhang, wegdryf.

Het die wyse waarop die AS die heilsleer hanteer die status en geloofwaardigheid van die NG Kerk beïnvloed? Het die ondersteuningsbasis in terme van lidmaatskap verander?

Sedert 1986, in die bestek van so drie en ’n half dekades, neem die lidmaattalle met ongeveer 709 000 af, volgens statistiek in kerkbronne. Die tendens duur die laaste 20 jaar voort.

In ’n 2019-artikel hieroor in Kerkbode, word dr Gustav Claassen aangehaal hieroor. ’n Mens moet volgens Claassen die voortgesette afname in lidmate binne ’n ‘raamwerk van redes’ sien. Hy sê emigrasie en ’n dalende geboortesyfer in tradisionele voedingsgemeenskappe van die NG Kerk dra daartoe by dat die aantal belydende lidmate verlede jaar met 20 812 afgeneem het.

Maar, is dit werklik so?

Onderstaande grafiese evaluasie belyn Kerkbode se statistiek met Stats SA se demografiese data en toets dit dan verder met Claassen se rasionaal:

1986 2001 2011 2021
RSA wit bevolking 4 961 000 4 434 697 4 586 838 4 662 000
Afrikaanssprekende wit bevolking 2 976 600 2 660 818 2 752 103 2 797 200
Lidmaatskap NG Kerk 1 400 000 919 790 857 205 691 050
Lidmaatskap as % van wit Afrikaanssprekendes 47,0% 34,6% 31,1% 24,7%

Bron: Arnold Griesel

Wat dit ons vertel:

  • Die aanname dat die afname in lidmaatgetalle veral te doen het met die inkrimping van wit bevolkingsgetalle hou nie water nie, die amptelike empiriese vergelykende syfers van 2001 (4,43 milj) teenoor 2021 (4,62 milj) weerspreek dit. Die redes van lidmaatinkrimping moet dus eerder in Claassen se oorblywende “raamwerk van redes” gesoek word.
  • Dit is duidelik al minder Afrikaanssprekendes, vir watter redes ook al, maak van die NG Kerk gebruik as hulle kerk – vanaf 47% lidmaatskap van die blanke Suid-Afrikaanse blanke bevolking in 1986 na net 25% teen 2019.

Wat dit ons (nog nie) vertel nie:

  • In watter mate die AS (NG Kerk se leierskap) se verontagsaming van Skrifgesag gemanifesteer word in die afname en vervreemding van die ondersteuningsbasis.
  • Hoe skerp die trajek van lidmaatskapgetalle verder sal daal, sou die protes en misnoeë van die byna 100 gemeentes wat in protesaksies gedistansieer is van die AS, tot wasdom ontplooi.
  • Die momentum van erodering van kapasiteit van Woordverkondiging wat toenemend binne die NG Kerk plaasvind.

In ’n onlangse Kerkbode-berig, lig ’n tabel (sien onder) met die jongste Kerkspieëldata die sluier hieroor in ’n tabel oor die afname in predikantsposte.

2018 2022 verandering %verandering
Gemeentes 1114 1067 -47 -4.21%
Totale predikantsposte 1628 1176 -452 -27.76%
Voltydse poste 1256 837 -419 -33.36%
Deeltydse poste en kontrakposte 238 212 -26 -10.92%
Emeriti 134 127 -7 -5.2%

Die “liberale groepering” binne die NGK leef die “Droom-scenario 2030” na en die “behoudende groepering” het skuilplek vir die uitleef van hulle geloof gevind in “doleer” en ander aksies.

Tans is die vooruitsig van “Droom-scenario 2030” vir liberaalgesindes ’n visionêre droom, vir die behoudendes ’n donker nagmerrie.

Die Vrystaatse spesiale sinode mag dalk ’n aanduiding gee van of ’n Christelike welwillende uitkoms moontlik is.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui