As geloof oor die afgrond tuimel . . .

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

As geloof oor die afgrond tuimel . . . | Netwerk24

Hoffie Hofmeyr

Sondag, 8 Oktober 2023

Gaan die NG Kerk se algemene sinode wat volgende naweek begin, uiteindelik uitloop op kerkskeuring, vra Hoffie Hofmeyr.

Wat is in gewone taal die huidige worsteling in die NG Kerk?

In wese beteken dit eintlik dat daar in die NG Kerk (NGK) twee groeperinge bestaan waarvan die sogenaamde meer vrysinniges die inhoud van die Bybel en die belydenis­skrifte by die huidige tydsgees van postmodernisme probeer aanpas, teenoor die ander meer konfessionele groep wat waak dat die Skrif en sy boodskap in die 21ste eeu nie ingrypend afgewater word nie.

Laasgenoemde groepering lê besondere klem op die verskillende ekumeniese en reformatoriese belydenisskrifte wat in wese die Bybel en sy diepgrypende boodskap verduidelik en interpreteer. Die meer vrysinnige groepering wat eerder aansluiting by die mode- en eietydse tydsgees vind, lê klem op liefde wat grootliks die kern in alles moet vorm.

Uiteraard pas laasgenoemde groepering maklik in by ’n tydsgees wat grootliks fokus op ’n humanistiese verstaan van die wêreld. Die ander konfessionele groepering word daarom dikwels voorgehou as liefdeloos, verstard of rigied. Dit is egter nie die geval nie, omdat hierdie groepering juis die volheid en diepte van die Christelike boodskap probeer verstaan.

Dit wat ons tans in sekere kringe van die NGK beleef, kom al oor ’n lang tyd. Reeds in die laaste dekade van die vorige eeu het daar te midde van studie-kommissies oor verantwoordelike nadenke oor die gesag en interpretasie van die Bybel, postmoderne invloede in die NGK na vore begin kom.

Dit het die weg gebaan vir die sogenaamde Nuwe Hervorming in Suid-Afrika wat baie pertinent meer vrysinnige agendas betreffende onder meer die Historiese Jesus-debat begin stimuleer het.

Hierdie invloede het in die vroeë 2000’s reeds neerslae in van die NGK se teologiese fakulteite begin vind. In 2003 wou die Noordelike Streeksinode (hoofsaaklik dele van Pretoria en Limpopo) nie kategories standpunt inneem oor kritieke sake soos die historisiteit van Christus se maagdelike geboorte of Christus se opstanding nie. Teen 2011 laat die algemene sinode ruimte vir die ontkenning van die “werklike en persoonlike aard van die duiwel”. Twee jaar later word die huwelik as die mees geskikte opsie aanbeveel, maar daar word ruimte geskep vir die saamwoon van mense. Teen 2015 besluit die algemene sinode om selfde-geslagverbintenisse ook in die kerk toe te laat.

Uiteindelik kom die Kairos Netwerk in 2019 tot stand as een van die grootste reaksies teen ontwikkelinge in die NGK. Intussen ontstaan daar ook sowat 90 dolerende gemeentes wat stel dat hulle doleer (treur) oor die toestand, rigting en vreemde teologie van die NGK se leierskorps. Uiteindelik lei dit alles tot die sogenaamde Koinonia-sinode in Mei vanjaar waartydens sterk standpunte ingeneem is teen eensydige ontwikkelinge in die NGK.

Dit blyk in die laaste jare asof die NGK-leierskorps bloot ’n onwil en onvermoë vertoon om in gesprek met hierdie bekommerdes te tree deur dringende kwessies te ignoreer of ’n kanselleer-kultuur (cancel culture) te implementeer. Die vraag moet gevra word wat presies is tans aan die gang en waar gaan dit alles eindig.

Die leierskorps van die NGK skuil eerstens agter ’n verkeerde verstaan van die kerkreg, dit wil sê hulle sien die kerkreg as ’n stok waarmee jy jou mense in die kerk slaan eerder as dat die kerkreg ’n staf van begeleiding sal wees. Intussen word ook rigiede kerkregtelike reëls gebruik deur te stel dat die Skrifgetroues nie die korrekte prosedures volg nie. Hulle het ook nie sogenaamde locus standi nie en is hulle nie ’n groep wat deur die NGK as ’n legitieme gespreks­genoot beskou word nie. Dit terwyl hierdie Skrifgetroue groep mense diep uit die hart van die NGK kom, volledig deel is van die NGK en eintlik net die beste wil hê vir die NGK.

Naas die nie-erkenning van hierdie Skrifgetroues sê die algemene sinode-moderamen intussen by herhaling dat daar wel weë vir gesprek bestaan. Hierdie sogenaamde bereidwilligheid tot gesprek is eintlik niks anders as ’n uitgerekte vertragingstaktiek nie. Hulle is sogenaamd bereid om gesprek te voer met die beswaardes, maar dan moet hulle die korrekte kerklike weë volg naamlik dat die probleme eers met die ring en die ringsgemeentes bespreek moet word en dat as dit daar belangrik genoeg geag word, dan moet dit deur die streeksinode van daardie betrokke streek bespreek word. Indien laasgenoemde dit belangrik genoeg ag, sal dit uiteindelik na die algemene sinode en sy leierskorps verwys word. En hierdie hele proses, stel jou voor, kan minstens ses tot agt jaar neem!

’n Ander werklikheid wat intussen op die NGK se horison begin verskyn, is sy Droomscenario wat hy vir 2030 koester. Daar word gedroom oor ’n inklusiewe en humanistiese reënboogkerk, en as dit alles gekombineer word met aanbidding saam met ander wêreldgodsdienste dan neig dit in die rigting van sinkretisme.

Daarmee saam het die NGK-leierskorps ook intussen drome begin droom oor ’n sogenaamde nasiekerk. Dit impliseer dat die NGK veral klem wil lê op geregtigheid, menseregte en die Grondwet. Hierdie tipe keuse om op die voorpunt saam met die nasie te wees, is die soort keuse wat die NGK as volkskerk ook in die ou Suid-Afrika gemaak het. So ’n keuse is natuurlik uiters kortsigtig en dwaas.

Sake loop tans op na ’n spits. Op grond van primêr die onwilligheid om in gesprek te tree, is polarisasie, konflik en ’n moontlike skeuring in die NGK almal klipharde werklikhede. Dit word al hoe duideliker dat daar slegs twee keuses vir die NGK en die algemene sinode voorlê.

Die eerste een is dat daar een of ander konsensus tussen die behoudendes en liberales gevind sal word. Dit sou beteken dat veral die liberales sal moet erken dat hulle onwillig was vir gesprek en die NGK eintlik op ’n dwaalweg gelei het met sinode-besluite, met standpunte van kerkleiers en met optrede en raad van taakspanne. Dit sou beteken dat die NGK weer graag ’n kerk sal wil wees wat vir hartgrondige en radikale hervorming staan. Natuurlik het die behoudendes ook in hierdie stryd foute gemaak uit radeloosheid en frustrasie wanneer die teenparty op geen manier na hulle wou luister nie. Die tweede keuse is dat die NGK-leierskorps rondborstig sal erken dat hy eintlik al vir enkele dekades besig was om ’n stroming- of modaliteite-kerk te word.

Dit beteken in die Suid-Afrikaanse konteks dat die ontwikkeling van ’n drie-strome-kerk, naamlik ’n vrysinnige kerk, ’n konfessioneel-regsinnige en ’n ongesond vroom en fundamentalistiese kerk, grootliks op die voetspoor van die verdelings in die Nederlandse Hervormde Kerk in die 19de en 20ste eeu, ’n voldonge feit geword het. Dit sou beteken dat die NGK dus óf gaan skeur óf dat die NGK-­rivier in verskillende strome sal verdeel.

Die sneeubal van weerstand teen die rigting van die algemene sinode begin al hoe meer vaart kry. Lidmate en gemeentes in die stede en op die platteland sê reeds dat hulle sielsmoeg is en nie langer met die huidige bedeling met sy skeefgetrekte teologie kan of wil saamleef nie. Die klipharde werklikhede van óf skeuring óf verdeling wink dus voor in die pad. Die meeste gemeentes en lidmate wil verkieslik nie op ’n harde manier skeur nie, maar hulle dink sterk in die rigting van ’n sagter verdeling van die bestaande groot rivier in afsonderlike substrome.

’n Sagter verdeling beteken myns insiens vir die behoudendes om as ’n middel-opsie ’n konfessioneel-regsinnige kerk te word. Soseer soos daar nie heil lê daarin om ’n vrysinnige kerk aan die een uiterste te word nie, soseer is dit ook nie wenslik dat die NGK aan die ander uiterste in ’n fundamentalistiese, piëtistiese en mistieke kerk moet eindig nie.

Daar kan verder in die praktyk gestel word dat daar voortaan gepraat sou kon word van konfessioneel-regsinnige gemeentes en wel onder die noemer “Reformerend”, en daarnaas van meer liberale gemeentes onder die noemer “Vrysinnig”.

Intussen bestaan daar ernstige kommer oor moontlike manipulerende stappe wat in die komende algemene sinode (wat volgende Sondag begin) geïmplementeer kan of gaan word. Anders as die bestaande praktyk en voorskrifte, is die huidige leierskorps tans aangewys as die ontwerp- en beplanningspan van die vergadering. Eweneens anders as die bestaande kerkorde se voorskrifte, blyk dit dat die huidige leierskorps ook in beheer van die komende vergadering en vergaderingsprosedures wil bly. Hulle wil as die uittredende leierskorps die vergadering lei. Eers aan die einde van die algemene sinode sal dan ’n nuwe leierskorps aangewys word.

Die regmatigheid van ’n groot getal afgevaardigde teologiese dosente is ook in die gedrang. Al hierdie onsekerhede maak ’n mens erg ongemaklik en dit voorspel ernstige integriteits- en geloofwaardigheidsprobleme vir die algemene sinode.

Die NGK en sy leierskorps is besig en gaan waarskynlik op lang termyn ’n baie duur prys betaal vir sy onwilligheid om met die konfessioneles in gesprek te tree. Dis belangrik om te besef dat gebalanseerde Skrifgetrouheid van alle kerke in die tye wat voorlê ’n baie groot uitdaging gaan wees.

Die groot vraag bly drieërlei: Gaan die algemene sinode terugdraai op sy huidige ingeslane weg en hom na gesprek en miskien bemiddeling wend, of gaan die algemene sinode die NGK hard en duidelik middeldeur skeur, of gaan hy op ’n sagter manier in twee strominge verdeel?

  • Prof. Hoffie Hofmeyr was vroeër verbonde aan die teologiese fakulteite van die Universiteite van Pretoria en Leuven.

Kommentaar

Daniel Louw

Die vraag is: Watter waarde kan enige verdere gesprek bring? Kyk ook ASM sê nee vir mediasie (4 Sep 2023).

Verder is daar geen sin daarin om bloot te verdeel, in plaas van te skeur nie. Dit herinner aan Jesus se woorde:

Markus 3: (24)As ‘n koninkryk onderling verdeeld is, kan daardie koninkryk nie bly staan nie; (25)en as ‘n huisgesin onderling verdeeld is, sal daardie huisgesin nie kan bly staan nie.

En as ‘n denominasie onderling verdeel is, kan daardie denominasie nie bly staan nie.

(Kyk ook Mat 12:25-26; Luk 11:17; Luk 12:10)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui