As Jesus kon kniel, kan boere óók (Neels Jackson)

Neels Jackson was die nuusredakteur van Kerkbode vanaf 2014 tot einde 2018. Hy het ook, saam met andere, sy steun aan Black Lives Matter (BLM) gegee.

Kyk ook

**********

As Jesus kon kniel, kan boere óók | Netwerk24

Deur Neels Jackson

26 Julie 2020

Deur Black Lives Matter te verwerp om die stryd teen plaasmoorde só te steun, versterk ’n mens net die polarisasie in die land, skryf Neels Jackson.

Toe van Suid-Afrika se topkrieketspelers en administrateurs verlede Saterdag op SuperSportpark in Centurion kniel om hul steun toe te sê aan Black Lives Matter, moes ’n mens reaksie verwag het.

Inderwaarheid was daar vroeër al reaksie – toe Lungi Ngidi die hele saak geopper het en Boeta Dippenaar en ander oudspelers wou weet wat dan van plaasmoorde?

Maar ná die saamkniel het nog ’n klomp reaksie gevolg, onder meer van verontwaardigde gelowiges. In boodskappe wat wyd in sosiale media versprei is, het hulle sterk standpunt ingeneem: Ons kniel net voor God; voor niemand anders nie.

En daarmee het hulle die hele Black Lives Matter-beweging eintlik as ’n soort afgodery bestempel. Hierdie standpunt kan dalk baie vroom klink, maar dit getuig van ’n soort bravade wat nie pas by die navolging van Christus nie.

Jesus Christus self het immers sy dissipels anders geleer.

Dis ’n bekende verhaal wat in Johannes 13 opgeteken is. Op die aand voordat Jesus gekruisig is, is Hy en sy dissipels bymekaar om ’n tafel. Volgens destydse gebruik sou dit ’n baie lae tafel wees waarby hulle eintlik aangelê het.

Jesus staan dan op, trek sy bokleed uit en bind ’n handdoek om sy lyf. Dan gooi hy water in ’n skottel en begin om die dissipels se voete te was en dit met die handdoek af te droog.

Dit is iets wat Jesus nie staande sou kon doen nie. Hy sou moes afsak na elke dissipel se voete. Die natuurlike ding sou wees om op sy knieë te sak by elkeen en al knielende die voete te was.

Wanneer Hy klaar is (ook met Petrus, wat met sy tipiese bravade eers nié sy voete wou laat was nie, maar toe óók sy hande en gesig), verduidelik Jesus vir sy dissipels wat Hy gedoen het. Hy sê onder meer: “As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het vir julle ’n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen.”

Jesus leer sy volgelinge om nederig te wees en mekaar te dien. Sy voorbeeld vra dat sy volgelinge voor mekaar sal kniel.

En terwyl die beswaardes oor Black Lives Matter ’n geloofsargument geopper het, sou ’n mens ook uit ’n Christelike geloofsperspektief meer kon sê oor hoe Black Lives Matter en die steun daarvoor verstaan kan word. Om dit te doen wil ek begin by ’n foto wat ek gemaak het.

Een vertakking van fotografie as stokperdjie is die maak van saamgestelde foto’s, waarin ’n mens verskillende fotografiese elemente op ’n manier kombineer om ’n nuwe foto te maak.

Op soek na inspirasie hiervoor het ek na van die wêreld se bekendste skilderye gaan kyk. Dit het my gebring by Michel­angelo se Die skepping van Adam, waarin God, uitgebeeld as ’n ou man, uitreik na Adam sodat hul vingerpunte byna aan mekaar raak.

Ek wou fotografies iets soortgelyk doen, spesifiek met die twee hande wat na mekaar uitreik en byna raak. Ek wou egter nie bloot Michelangelo se voorstelling naboots nie. Daarom het ek swart hande gebruik om Adam en God se hande voor te stel.

Die foto sê dat God nie net ’n wit Adam gemaak het soos in Michelangelo se skildery nie, maar dat God ook swart mense geskep het, en dit na sy beeld.

Dáárom, omdat God ook swart mense na sy beeld gemaak het, is swart lewens belangrik.

Dalk sou party mense vrae kon hê daaroor dat God as swart uitgebeeld word. Teologies gesproke is dit nie die skreiende ding nie. Die skreiende is dat God as mens uitgebeeld word. God is immers nie mens nie. Teoloë sê juis dat God die Gans Andere is.

Maar dit laat mense in die krisis dat hulle geen taal het om oor God te praat nie. Nie woorde nie en ook nie visuele taal nie. Om ’n uitdrukking by ’n ou kerkvader te gaan leen: “Omdat ons nie niks oor God wil sê nie” gebruik ons die gebrekkige taal wat ons het. Ons gebruik beeldspraak om na God te verwys. God is die Rots. Jesus noem Homself die wingerdstok, die brood wat lewe gee, die goeie herder. Van die beeldspraak wat na God verwys, is juis menslike beelde.

Jesus leer sy dissipels om tot God as Vader te bid.

As ’n mens met dit in die agterkop dit waag om God as mens uit te beeld, dan maak dit nie regtig saak watter kleur die mens is nie. As ’n mens tevrede sou wees om God, soos in Michel­angelo se skildery, as ’n wit man uit beeld, maar beswaar het daarteen dat God, soos in my foto, as swart uitgebeeld word, wat is dit anders as rassisme?

Wat sê ’n mens as jy sê swart lewens maak saak? Wat sê jy as jy in solidariteit met swart mense kniel?

Jy sê jy hoor die pyn. Jy hoor die pyn van geslagte swart Amerikaners wat oor en oor moet ervaar hoe hul mense deur wit polisiemanne doodgemaak word wat dan daarmee wegkom. Jy hoor die pyn van swart mense oor die wêreld wat vertel hoe hulle telkens verneder word omdat hulle swart is. Jy hoor die pyn van Makhaya Ntini, wat vertel hoe hy as enigste swart lid van Suid-Afrika se span telkens alleen geëet en alleen in die bus gesit het.

In 1986, met die uitreiking van die Kairos-dokument in Suid-Afrika, was dit die een ding wat prof. Johan Heyns beklemtoon het: Dat ’n mens die pyn moet hoor wat uit die dokument na vore kom. Mense wat nie die pyn hoor nie, het hy gesê, het eelte op plekke waar hulle oop senuwees behoort te hê.

Ook Jesus word in Markus 3 bedroef deur die verhardheid van die Fariseërs, wat geen deernis het met ’n man met ’n gebreklike hand nie, maar net ontsteld is as Jesus die man op die Sabbat genees.

Deur te sê Black Lives Matter sê jy jy gee erkenning aan die pyn van swart mense, en jy sê jy wil help om dit te verander. Wat sê ’n mens nié as jy sê Black Lives Matter nie? Jy sê nie ander lewens maak nie saak nie. Jy sê nie plaasmoorde is onbelangrik nie. Die twee staan nie teenoor mekaar nie.

Jesus vertel die gelykenis van die herder wat sy 99 skape in die veld los om na die een verlore skaap te gaan soek. Die fokus op die een skaap wat in die moeilikheid is, beteken tog nie dat die 99 skape nie saak maak nie. En as Jesus die kindertjies na Hom toe roep, jaag hy tog nie die grootmense daarmee weg nie.

Waarom dink mense dan dat ’n besorgdheid oor swart lewens ’n onverskilligheid teenoor boere impliseer? Dis ’n ou denkraamwerk wat geslagte lank al kom, ’n denkraamwerk waarin “ons” en “hulle” teenoor mekaar moet staan, waarin ’n keuse vir “hulle” noodwendig ’n keuse teen “ons” is.

Dit hoef nie só te wees nie. Weer stel Jesus die voorbeeld deur telkens die sosiale grense van sy tyd oor te steek. Deur die Kanaänitiese vrou se dogter en die Romeinse offisier se seun te genees, deur die Samaritaan die held van sy verhaal oor naasteliefde te maak.

Ons kom met ’n lang geskiedenis van rassepolarisasie in Suid-Afrika. Deur Black Lives Matter te verwerp ten einde die stryd teen plaasmoorde te steun versterk ’n mens net daardie polarisasie.

Die vraag is hoe ’n mens dan te werk moet gaan om die aandag op plaasmoorde te vestig, want dit is ook ’n krisis.

Hoe wek ’n mens in die breër gemeenskap simpatie vir die lot van boere, wat herhaaldelik teikens van gewapende aanvallers is?

Dalk is die beste wat nou kan gebeur dat boere self hul steun gee vir ’n veldtog soos Black Lives Matter. Dit sou ’n boodskap uitstuur dat dit nie “ons” en “julle” is nie. Daar is ’n groter “ons”.

Dink net wat dit kan doen om swart mense met nuwe oë na wit boere te laat kyk as hulle sou sien dat ’n klomp wit boere op ’n groot saamtrek soos Nampo kniel uit solidariteit met swart mense wat steeds diskriminasie beleef.

Die landbougemeenskap sou waarskynlik dan in ’n baie sterker posisie wees om swart Suid-Afrikaners te nooi om ook hul gewig agter die stryd teen plaasmoorde in te gooi.

  • Neels Jackson is ’n vryskutjoernalis wat spesialiseer in kerk- en geloofsake.

*********

Die volgende brief is geskryf in reaksie hierop.

Alle Christene moet BLM verwerp

Deur Nicie Jansen van Rensburg, Rustenburg

09 Augustus 2020

Nicie Jansen van Rensburg, Rustenburg, skryf:

By die lees van Neels Jackson se artikel (26.07) het ek aanvanklik gedink dit gee standpunte van boere én Black Lives Matter (BLM) weer. Toe ek dit die derde maal lees, tref die regsbeginsel van soek na die waarheid my. In ’n regsaak het jy twee partye wat hul kant van die saak stel en die regter moet die waarheid bepaal. Dis wat kort in die artikel.

Die BLM-beweging is inherent ’n spiritualistiese organisasie wat sekere rituele in seremonies toepas strydig met Christelike norme – nog ’n rede om ’n Jesus-weg met hulle te volg. Die waarheid is egter dat die pyn wat BLM ervaar met ’n spesifieke agenda gepaardgaan – lees gerus die manifes en verklarings deur hul leiers. Dis waar die knielery ophou.

Die agenda is gemik teen die demokrasie in die VSA, die vernietiging van die Westerse lewenswyse (spesifiek die gesinstruktuur) en die vervanging van die polisie, wat as demonies voorgestel word.

Dis nie al nie. Dis ’n sosialistiese en kommunistiese filosofie (breek die bestaande orde af) wat deur wit liberales finansieel gesteun word vir hul eie doelstellings. Ek weet nie of almal wat so hand om die blaas met hulle is die hele prentjie verstaan nie. Is hulle simpatiek, naïef, oningelig of bloot net ondersteunend om in die mode te wees?

Die feit bly staan dat as jy kies, staan jy óf teenoor óf saam, en daar is nie veel gemeenskaplike terrein vir ’n kompromis nie. Daar is nie ’n “ons” hier nie.

Dis ook nie ’n verwerping as gevolg van moord op wit mense nie. Dit gaan oor ’n politieke filosofie wat ’n spesifieke reaksie ontlok. Nie net by wit mense nie.

Dit behoort deur alle Christene verwerp te word.

 

1 thought on “As Jesus kon kniel, kan boere óók (Neels Jackson)”

  1. Jesus het baie beslis gekniel en voete gewas en daarmee ons geleer om dieselfde te doen. Om mekaar se voete te was, mede gelowiges!!!! BLM het net die teenoorgestelde uitwerking as mekaar se voete te was. Dit veroorsaak ’n polarisasie en wakker rassehaat aan! Nog nooit kan versoening gebeur tussen enige partye met geweld nie! En BLM tot dusver blaas net geweld aan. Om agter ’n BLM banier te staan terwyl ’n gebou aan die brand gesteek word is nie n poging tot vrede en versoening nie. Baie Christine het broers en susters en BLM maak van hulle swart broers en susters! En dis verkeerd! Ja as daar een swart man in ’n span is gaan hy somtyds uitvoel, net soos as daar een blanke in n span is. En dis ’n heel natuurlike reaksie!! Jy gaan dit nie verander kry deur te beklemtoon dat die enkeling van n ander kleur is nie. Mense moet keuses maak en alle keuses het opofferings. Indien ek wil sokker speel en dit is dominerend swart mense se sport, moet ek aanvaar dat ek sommige tye gaan uitvoel. Want ons kulture, taal en tradisies verskil en daarmee wil ek baie beslis nie sê dat een beter as ’n ander is nie. Net soos wat die enigste Chinees in ’n Italiaanse span baie beslis sal uitvoel. Ons as Christine moet liewers ophou om te beklemtoon dat BLM of WLM of CLM of ILM. En besef dat lewe saak maak ongeag wat. So ook vrede, vedraagsaamheid en liefde. En dit word nie beklemtoon met geweldadige afbreek, plunder en brandstigting nie!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui