Kyk ook:
Die Kairos Netwerk het op Maandag 22 Februarie 2021 weer met die ASMD (NG Kerk se algemene sinodale moderamen se dagbestuur) vergader oor die geskille wat daar is. Die KN het spesifiek aangevra vir ’n buitengewone sinodesitting (soos 2016) om die geskille te bespreek omdat die volgende geskeduleerde algemene sinode eers in 2023 gaan gebeur. Die ASM het egter besluit om dit nie toe te staan nie.
Die ASM het toe besluit om nie ’n buitengewone algemene sinode toe te staan nie, maar hulle is blykbaar wel gewillig om aanpassings aan die kerkorde aan te bring.
Die vraag is nou: hoe sal die kerkorde moontlik aangepas kan word sodat beide partye tevrede sal wees?
Dit is baie duidelik dat daar ’n groot olifant in die kamer is met die naam “kerkskeuring“.
Ek het ook kommentaar in die artikel gelewer in blokhakies.
********
ASM: Leiers wil nie vroeër sinode hou, maar sal oorweeg om kerkorde aan te pas | Kerkbode
Deur Le Roux Schoeman
4 Maart 2021
Kerkleiers vanuit al die NG Kerk se streeksinodes het op 3 Maart ’n versoek deur die Kairos Netwerk (KN) van die hand gewys om ’n buitengewone vergadering van die Algemene Sinode uit te roep.
Die besluit is geneem ondanks die stelling vervat in ’n verslag oor die onlangse ontmoeting met KN-leiers dat “duisende lidmate die kerk sal verlaat,” indien so ’n sinodevergadering nie plaasvind nie.
“Ons aanvoeling is dat ’n buitengewone algemene sinode nie die regte ding is om te doen nie. Dat dit uiters verdelend kan werk, om die waarheid te sê,” het ds Nelis Janse van Rensburg tydens ’n virtuele ontmoeting van die Algemene Sinodale Moderamen (ASM) aan sowat 58 afgevaardigdes gesê.
Die ASM-lede het die versoek ná ’n uur se gesprek tydens die halfdag-vergadering afgekeur. Hulle het wel ’n verslag goedgekeur wat verwys na die moontlikheid van die aanpassing van die kerkorde om voorsiening te maak vir “nuwe netwerke van gemeentes wat oor bepaalde belangrike sake eendersdenkend is.”
Dr Frederick Marais, voorsitter van die Algemene Kuratorium, was deel van die afvaardiging na verteenwoordigers van die lidmate en dolerende NG gemeentes wat deesdae onder die KN-sambreel staan. “Ek het geleer in die gesprek dat ons in ’n nuwe seisoen is. Ons is in die seisoen waarin die NG Kerk moet leer om diverse standpunte institusioneel te akkommodeer én ook te legitimeer. Dit help nie ons praat met mense en hulle het die gevoel dat daar nie ’n ruimte is wat hulle standpunt legitimeer nie. En ek dink die voorstelle (in die verslag) kan hieraan vir ons ’n bestel gee en ons kan hier leer in die gereformeerde wêreld hoe ander kerke dit ook gehanteer het,” het Marais gesê.
[Kommentaar: Hierdie stelling is amper lagwekkend. Marais wil ten alle koste ’n skeuring vermy, maar ek dink diep binne weet hy dat almal nie gelukkig gehou kan word nie. As daar ruimte gemaak word vir die duiwel, saamwoon en SGV dan is die behoudendes ongelukkig. As daar nie daarvoor ruimte gelaat word nie, dan is die progressiewes ongelukkig. Die enigste oplossing is dat paaie moet skei.]
Ds Heerden van Niekerk, ook een van die tien-lid afvaardiging na KN, het aan ASM-lede gesê sy indruk tydens die eerste dag van die tweedag-ontmoeting was een van polarisasie. “Dit het gelyk asof ons buite reikafstand van mekaar geraak het. En dan wonder ’n mens of kerkskeuring die enigste antwoord is wat oorbly,” het Van Niekerk herroep. “En Dinsdagoggend, dit is ’n stukkie belewenis wat ek met u wil deel, het daar ’n draaipunt gekom.” Die wending was volgens hom by die gesprekke rondom voorstelle oor “missionale kerkordelike vernuwing” en ’n ondersoek na die moontlikheid van nuwe netwerke van gedeelde oortuigings binne die raamwerk van die kerk se belydenis en orde. Van Niekerk se pleidooi was dat die ASM dit die fokuspunt maak. “En dat ons al die energie (daarop) sit.”
[Kommentaar: Die vraag is, hoe sal sulke netwerke lyk sodat almal gelukkig is sonder dat paaie uitmekaar gaan?]
Dr Barry Tolmay, moderator van die NG Kerk in KwaZulu-Natal, het gesê “daar is geen manier dat ons nou weer ’n algemene sinode moet hou nie. Ons is deur daai oefening.” Sy pleidooi: “Saam dink, ons moet nuut ontwerp en eintlik die geleentheid gebruik om iets heeltemal nuut … in afhanklikheid van die Here (te) gaan kry om die kerk vorentoe te vat.”
Ds Dewald Davel van die Oos-Kaapse Sinode het gesê: “As ons soek na alternatiewe strukture, moet ons dit nie hanteer as maar net ’n korttermyn-, soort spaarwieloplossing om uit die huidige knelpunte te kom nie. Ons sit in ’n ander tyd, ons noem dit postmoderniteit en postmoderniteit se implikasie is dat ons met alternatiewe strukture gaan werk waar daar ander soort van strukture gaan ontwikkel en dat hulle hulle plek en ruimte moet kry,” het Davel gesê.
[Kommentaar: Ek kan nie help om te dink dat hierdie bloot leë woorde is nie. Die realiteit is dat die verskille te groot is om saam onder een dak voort te gaan.]
KN bestaan uit “huidige en gewese NG lidmate, kerkrade, gemeentes, ringe, streeksinodes en ander geloofsgenote van buite die NG Kerk wat glo dat die interpretasie van die Bybel deur die NG Kerk se Algemene Sinode onskriftuurlik is en daarom kan ons nie die besluite van die Algemene Sinode aanvaar nie,” volgens https://moreletakairos.net/.
Ds Theo Danzfuss, een van die leiersfigure, het in Desember 2020 aan Kerkbode gesê die 2019 Algemene Sinode se besluite rondom selfdegeslagverbintenisse is “onaanvaarbaar omdat dit direk in stryd is met die Woord van God.”
In ’n wydlopende onderhoud het hy destyds gewaarsku: “Die lidmate word nou gepaai dat elke gemeente self daaroor kan besluit. Dit is nie eenheid nie, dit is skisofrenie.”
Janse van Rensburg se terugvoer vandeesweek oor die ontmoeting met hierdie groep was genuanseerd. Hy het benadruk dat die netwerk steun geniet onder vele NG lidmate: “Die werklikheid is, vriende, daar is baie mense wat soos hulle dink en ons moet vir hulle baie ernstig neem. Of hulle nou in die gestalte van die netwerk of sinodes kom, ons moet eenvoudig ruimtes skep vir luister.”
Hy het ook laat blyk dat die omvang van verskille tussen die ASM-afvaardiging en verteenwoordigers van die KN hom verras het. “Ons het aanvanklik gedink dat dit net gaan oor Skrifhantering en nie so seer Skrifbeskouing nie, maar dit het later geblyk dat daar oor die Skrifbeskoulike goed, tog ook verskille is,” het Janse van Rensburg gesê. Die agenda het drie punte gehad, naamlik teologiese opleiding, Skrifbeskouing en -hantering en kerkregtelike kwessies en opsies.
Oor ’n moontlike uitvloei van lidmate uit die NG Kerk waarteen die vergadering gewaarsku is, het Janse van Rensburg gesê: “Daai is so bietjie van ’n dreigement … dis nie onverbloemd nie.”
Daar was wel kritiek teen die verslag wat vandeesweek deur die ASM ondersteun is. “My frustrasie is die manier wat dit hier bewoord word, is ons moet ons verantwoord teenoor die Kairos Netwerk en ek wonder net partykeer werk dit nie ook na die ander kant toe nie?” het prof Nadia Marais van Universiteit Stellenbosch gesê. “Ek kan nie dink in die laaste tien jaar wat ek by die dogmatologiese werkgemeenskap betrokke is, dat ek enige van hierdie persone wat besware opper en verwoord daar gesien het nie. Dit is ’n frustrasie, dink ek, wanneer ons hierdie gesprekke op hierdie manier voer en dit voel half dit is ’n drukgroep wat die kerk in ’n bepaalde rigting wil druk, maar dit is nie regtig ’n space waar ons krities teologies mekaar kan ondersoek nie. Dit is so half eenrigtingverkeer,” het Marais gesê.
Ná die aanvaarding van die verslag het Janse van Rensburg opgemerk dat ’n moontlike institusionalisering van diversiteit in die NG Kerk nie ’n “bipolariteit” in die kerk is nie. “Dit is ’n verskeidenheid van standpunte oor kwessies. Dis baie moeilik om te sê hier is net een verdelingslyn en ons leef weerskante van hierdie een verdelingslyn … Dit is glad nie ’n korrekte kyk op die kerk nie,” aldus Janse van Rensburg.
Die volgende Algemene Sinode (AS) sal dus steeds in 2023 plaasvind, volgens die gebruiklike ritme van dié besluitnemingsaamtrek. Die vorige een was in Oktober 2019 en het die NG Kerk bykans R2,5m gekos, volgens ’n aparte finansiële verslag wat tydens dieselfde vergadering bespreek is.
“Die kerk het ’n geskiedenis van lang spronge tussen sinodes … die goed moet maar so ’n bietjie deur die derms van die kerk gewerk word, om nou die slegte uitdrukking te gebruik. Sodat wanneer ons uiteindelik weer by ’n sinode kom ons déúr gesprekke is,” aldus Janse van Rensburg, wat voorsitter was by die 2019 AS.
- Die Algemene Sinode se 2019-besluit oor selfdegeslagverbintenisse (SGV) hou in dat daar ruimte gemaak word vir gesprek oor verskillende standpunte. Hierdie beginsel van etiese onderskeiding het neerslag gevind in die besluit dat gemeentes self hieroor kan besluit, luidens ’n navorsingstuk deur prof Kobus Schoeman en medewerkers. ’n Voorlopige verslag oor ’n predikantepaneel-opname toon dat tweederdes van respondente onder NG predikante in ’n 2020-steekproef die beginsel van die 2019-besluit ondersteun. Sowat 17% het nie daarmee saamgestem nie, volgens die verslag.
Wat sê die Skrif om te doen in die situasie? Dit moet tog ons riglyn wees. Hierdie mensgemaakte plannetjies is duidelik nie volgens die Bybelse riglyne nie.
Wat my bekommer is of dit hier vir die afgevaardigdes van KN werklik net gaan oor die Waarheid en God se eer of dalk oor die bates?
Ons sal God moet vertrou en besluite maak wat dalk vir ons nou blyk om moeilik te wees, maar God sal getrou wees vir die wat aan Hom getrou is.