ASM reageer op Namibië se besoek

Tydens die Namibiese Sinode (17-19 Maart 2022) is die volgende besluit geneem wat verwoord word in ’n persverklaring:

“Die Sinode van Namibië is van oordeel dat die Algemene Sinode nie die NG-kerk met kerklike leierskap dien nie.”

“Die Sinode van Namibië is van voorneme om die pad van kerklike tug en dissipline met die NG-kerk se Algemene Sinode te stap soos uitgespel deur Jesus in Matteus 18:15-17.”

“Indien die pad van tug en dissipline nie binne die volgende ses maande uitloop op ‘n vaste voorneme om bepaalde besluite te herroep nie, sal die Sinode van Namibië haar band met die Algemene Sinode losmaak in gevolge Artikel 37…”

Na aanleiding van hierdie besluit het ’n afvaardiging van die NG Kerk in Namibië op 16 en 17 Mei 2022 in gesprek getree met ’n afvaardiging van die Algemene Sinode van die NG Kerk (ASM) in Kemptonpark.

Hieronder volg die amptelike besluit van die Algemene Sinode Moderamen (ASM) van die NG Kerk in antwoord op die besluite van die Sinode van Namibië, soos uitgereik op 18 Mei 2022.

Soos verwag het die ASM nie aan die Namibiese Sinode se versoek voldoen om “‘n vaste voorneme [te gee] om bepaalde besluite te herroep nie”.

Die bal is nou in die Namibiese Sinode se hande. Gaan hulle nou voortgaan om artikel 37 deur te voer? Tyd sal leer.

Kyk ook Namibië-span vlieg na SA : Maratongesprek om eenheid te behou (21 Mei 2022) waarin Kerkbode verslag doen oor die aangeleentheid.

*******

Besluit van die ASM op 18 Mei 2022 met betrekking tot die standpunte en interpretasie van die Sinode van Namibië aangaande die Algemene Sinode-2019 se prosesbesluit oor selfdegeslagverhoudings

18 Mei 2021

’n Afvaardiging van die NG Kerk in Namibië het op 16 en 17 Mei 2022 in gesprek getree met ’n afvaardiging van die Algemene Sinode van die NG Kerk.

Die Sinode van Namibië het die behoefte gehad om hulle standpunte en hulle interpretasie van die besluite van die Algemene Sinode van 2019 oor selfdegeslagverhoudings te verduidelik en toe te lig. Die ASM het kennis geneem van die Sinode van Namibië se besluite tydens sy vergadering van 19-23 Maart 2022 oor sy standpunte oor selfdegeslagverbintenisse en die implikasies daarvan vir hulle verband met die Algemene Sinode. Die Namibiese afvaardiging het met verduidelikende dokumente hulle sinodale besluite toegelig.

Die Algemene Sinode Moderamen is bewus gemaak van die intense reis van die Sinode van Namibië oor selfdegeslagverhoudings. Ons is dankbaar dat die sinode besluit het om met die Algemene Sinode in gesprek te tree en ons te nooi om deel te neem aan ’n Matteus 18-reis.

Ons aanvaar die uitnodiging tot deelname aan hierdie Matteus 18-reis waarop ons saam onderskeidend op weg sal wees.

Ons aanvaar dat die Algemene Sinode en sinodes saam ’n verantwoordelikheid het om deel te neem aan die begeleiding van gemeentes met betrekking tot teologiese en etiese sake. Daarom is ons voortdurend in gesprek met sinodes.

Die Algemene Sinode Moderamen is daartoe verbind om in hierdie proses ons nie skuldig te maak aan verdagmaking of wanvoorstellings nie, maar sinodes (lees in hierdie geval Namibië) se integriteit te beskerm, en eerder in direkte gesprekke posisies uit te klaar. Die Algemene Sinode Moderamen doen ook terselfdertyd ’n beroep op die Sinode van Namibië en alle ander kerkvergaderings en ook lidmate om hulle te weerhou van verdagmakery en wanvoorstellings.

Die dagbestuur van die Algemene Sinode Moderamen, wat vir die doel van die gesprek uitgebrei is met die voorsitters van die Algemene Kuratorium en die Algemene Taakspan vir Leer en Aktuele Sake, het met baie erns na Namibië se afvaardiging geluister. Die dagbestuur het gerapporteer dat hulle die volgende gehoor het:

  1. dat die gebruik van die woord “vasgelooptheid” in die 2019-besluit dit laat klink het of die Algemene Sinode in ’n doodloopstraat beland het en dat “die Algemene Sinode sy verantwoordelikheid geabdikeer het”. Vasgelooptheid word deur die Sinode van Namibië as ’n sekulêre begrip beskou omdat daar met die gebruik van die woord afgesien word van die verantwoordelikheid om leiding te neem op grond van ’n Skrifgefundeerde besluit;
  2. dat daar agterdog bestaan by die Sinode van Namibië dat die Skrif as belangrikste bron van gesag deur die Algemene Sinode ondergeskik gestel word aan menslike beskouings en oorwegings;
  3. dat daar uitbreidings in die uiteensetting van die besluit van 2019 was wat die voorgestelde onderskeidingsproses van die gemeentes en sinodes vooruitloop (bv punte 5 en 9 van die 2019-besluit);
  4. dat die besluit om ’n formulier te skryf (punt 10 van die 2019-besluit) die oortuiging dat die 2019-besluit inderdaad ’n prinsipiële besluit ten gunste van selfdegeslag verhoudings is, bevorder;
  5. dat verkeerde opvattings oor die 2019-besluit tot gevolg gehad het dat persepsies ontstaan het dat die Algemene Sinode wel ’n prinsipiële “pro-selfdegeslagverbintenisse” standpunt ingeneem het, en dit die sinode van Namibië in die lig van hulle sinodale besluit oor selfdegeslagverhoudings in ’n onhoudbare posisie geplaas het;
  6. dat die besluit van 2019 bygedra het tot die polarisasie en antagonisme in die kerk;
  7. dat daar kommer heers oor teologiese opleiding aan die fakulteite waar die kerk se studente opgelei word;
  8. dat die Sinode van Namibië die voorsitter van die Algemene Kuratorium genooi het om te reageer op die kommer van die sinode oor teologiese opleiding. (Die Algemene Kuratorium het reeds prosedures bepaal vir gesprek oor kwessies wat kommer wek). Die gesprek met die Algemene Kuratorium vind eersdaags plaas.

Vir die reis vorentoe besluit die ASM:

  1. Die verheldering van die ongemak van die Sinode van Namibië help ons om met begrip en sensitiwiteit om te gaan met hulle en ander wat soortgelyke kommer het.
  2. Dit is vir ons hoopgewend dat die Sinode van Namibië se 2016-besluit oor die gesag van die Skrif ooreenstem met die Algemene Sinode se besluit hieroor en bevestig dat die Algemene Sinode sedert 1986 op ’n konsekwente wyse die Skrif hanteer het deur die tyd en kultuurbetrokkenheid van die Bybelse tekste in die interpretasie daarvan te verreken. Die Namibiese standpunt oor Skrifhantering van 2016 stem hiermee ooreen.
  3. Die Algemene Sinode het nie in 2019 ’n prinsipiële besluit vir of teen selfdegeslagverbintenisse geneem nie, maar het wel ’n beleidsbesluit geneem wat ruimte skep vir verskillende standpunte oor selfdegeslagverbintenisse in die kerk. Die besluit van 2019 kan hoogstens as ’n prosesbesluit verstaan word met die veronderstelling dat daar oral in die kerk verder oor die aangeleentheid gedink en onderskei word.
  4. Die Algemene Sinode Moderamen het nie ’n kerkordelike mandaat om besluite van die Algemene Sinode op te skort nie. Op weg na die Algemene Sinode van 2023 is daar egter geen prinsipiële besluit wat sinodes, ringe en gemeentes die geleentheid ontneem om verder te onderskei en besluite in hulle eie konteks te neem nie.
  5. Die Algemene Sinode Moderamen moedig sinodes, ringe en gemeentes aan om voort te gaan met geloofsonderskeidende gesprekke oor die onderwerp. Die Algemene Sinode is bereid om ondersteuning te verleen indien dit benodig word.
  6. Die Algemene Sinode Moderamen is tot ’n geloofsonderskeidende reis met die Sinode van Namibië verbind.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui