Kyk ook:
- Waarheen is die NG Kerk op pad? (Hennie Mouton)
- UP Teologiese Fakulteit – Claassen in, Harwood uit (Daniel Louw)
- Seisoen van (eensydig) luister! (Johan Kruger)
- Wie is George Claassen?
- Hoekom glo ons in die bestaan van God?
Ateïs het respek vir Christene
19 Februarie 2010
“Ek het die hoogste respek vir Christene. Ek het die hoogste respek vir gelowiges. My pa is ’n toegewyde christen en vir hom het ek die grootste respek,” het prof George Claassen tydens die openingsgeleentheid van die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van Pretoria gesê.
Claassen is een van die bekendste moderne Afrikaners wat openlik sê dat hy ’n ateïs is. Hy is dosent in wetenskapjoernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch en bekende wetenskapjoernalis.
In 2009 was hy in die spervuur toe hy gesê het dat godsdiens nie in skole hoort nie. Die openbare reaksie op sy opmerking was vurig, en Claassen het vanweë die talle beledigende opmerkings wat hy ontvang het, besluit om uit die debatte onttrek.
Claassen is oortuig dat die evolusieteorie deur genoeg wetenskaplike bewyse gestaaf word om dit as die waarheid te aanvaar. Hy het egter bygevoeg: “Die wetenskap is nie absoluut nie. Die wetenskap erken altyd dat hy onseker is. Darwin mag verkeerd wees, maar in die stadium is dit die beste verklaring. Maar die vae idee van ’n Intelligente Ontwerper is ’n poging om by die evolusieteorie verby te kom.”
Dit is vir hom ’n probleem dat godsdiens homself as bo kritiek beskou. “Is dit nie tyd dat religie begin kers opsteek by wetenskap, soos byvoorbeeld die evolusieteorie nie? Vat nou maar die gesprek oor homoseksualiteit. Die wetenskap word in die gesprek geïgnoreer. Moenie selektief kies wat jy wil glo van die wetenskap nie.”
In sy reaksie het prof Cornel du Toit van Unisa gesê dat hy met Claassen saamstem oor evolusie. “Maar wat bly van die lewe oor as ons alles klinies sien? As ons alles sien soos die wetenskaplike wil hê ons moet dit sien?” het hy gevra.
“Geloof is in baie opsigte al werkikheid wat daar is. Daar is ook ander dinge wat vir mense die waarheid is. Geloof kom van Bo af. Geloof word in jou hart ingestort. Ons wil iets raaksien wat vir ons betekenis gee.”
“Dit is waarskynlik hoekom intelligente geskoolde mense aan irrasionaliteite vashou,” het Du Toit gesê. “Mense se denke bepaal vir hulle die werklikheid. Mense soek na betekenis, na patrone, na verklarings en die sin van die lewe.”
[Kommentaar: Dit is belangrik om daarop te let dat Cornel du Toit glo dat mense die gedagte van ’n god uitgedink het.]
In sy reaksie het prof Danie Veldsman, dosent in sistematiese teologie aan die Universiteit van Pretoria gesê: “Gelowige mense glo nie in toeval nie. Daarom dat christene evolusie ernstig opneem, want gene en chromosome bestaan in dier en mens. As jy egter meer van die wetenskap maak as wat jy mag maak, dan speel jy onkant.”
Veldsman het Claassen gekritiseer omdat hy suggereer dat godsdiens die algemeenste vorm van bygeloof is. Hy stem saam daar is oppervlakkige cliches by sekere geestelike leiers, en geestelike arrogansie en onbeholpenheid. “Ons bely dit,” het hy gesê, “maar dit is nie net die wetenskap wat hierdie houdinge aanspreek nie, gelowiges spreek dit ook aan.”
“Om te redeneer dat God nie bestaan nie, oortree jy die empiriese reël. Dit is onwetenskaplik om te redeneer dat God nie bestaan nie,” het hy op Claassen se voordrag geantwoord.
Aan die einde van die byeenkoms het Claassen toegegee dat hy miskien meer moet gaan kyk wat die teologie sê. “Ons moet nooit ophou vrae vra nie,” het hy gesê.