ATLAS dokument vir gesprekvoering reproduktiewe gesondheid: Aborsie

Tydens die Algemene Sinode van 2019 is opdrag gegee dat ATLAS (Algemene Taakspan Leer en Aktuele Sake) verdere studie moes doen oor die saak van aborsie.

Die volgende dokument is opgestel en versprei as ‘n “gespreksdokument”.

‘n Paar dele is in geel gemerk om te wys dat die dokument ten gunste van aborsie is. Dit is ook interessant dat wanneer die dokument die Bybel gebruik, nooit verwys word na die gruwel om babas aan Molek te offer nie.

Kyk ook ‘Aborsie is ‘n vrou se KEUSE’ | ATLAS word WOKE (Dubois du Toit) wat hierdie dokument in diepte bespreek.

******

ATLAS dokument vir gesprekvoering reproduktiewe gesondheid: Aborsie

April 2023

1. Agtergrond tot hierdie dokument vir gesprekvoering

Verdere studie oor aborsie is reeds geruime tyd op die agenda van die Algemene Sinode van die Ned Geref Kerk, en dit word by die Algemene Sinode van 2019 met ‘n bepaalde opdrag opnuut weer bevestig.

Ter wille van agtergrond en duidelikheid, die volgende bondige tydlyn oor die wyse waarop die saak sedert 1982 by die Algemene Sinode ter tafel gekom het:

1982

By hierdie Algemene Sinode dien die mees onlangse volledige studiestuk (verslag) oor aborsie. Dit is grotendeels gebaseer op die publikasie getiteld “Die Christen en Aborsie” deur Dr DA du Toit (NG Kerkboekhandel, Pretoria, 1978), wat ook die persoon verantwoordelik was vir die rapport. Hier word die volgende voorstel aanvaar (AS Acta 1982:1241-1242):

Die Sinode dra dit op aan die AKLAS om, nadat elke aktuele saak wat pastorale implikasies het deur Sinodebesluit uitgewys is, dit deur te stuur na verantwoordelike instansies, soos bv die AKAE en die Departemente Praktiese Teologie van ons Teologiese Fakulteite, om ‘n verantwoorde pastoraat te ontwerp om diegene wat deur die probleem geraak word, te begelei.

Die volgende aanbeveling is behandel en goedgekeur (AS Acta 1982:1242):

Die Sinode bevind in die lig van die Skrifgegewens en die stand van wetenskaplike gegewens, dat aborsie ontoelaatbaar is. In die hoogs uitsonderlike gevalle van volkome onafwendbaarheid, bly dit nog steeds ‘n saak wat nie volgens God se geopenbaarde wil is nie en daarom slegs met diepe worsteling, skuldbelydenis, pyn en onder felle protes aanvaar kan word.

Daarmee saam word die volgende bykomende voorstel deur die Sinode goedgekeur (AS Acta 1982:1242):

Die Sinode besluit dat, aangesien die omstandighede vir aborsie “in hoogs uitsonderlike gevalle” nie uitgespel is nie, AKLAS versoek word om ‘n kommissie saam te stel, waarin ook vakkundiges behoort te wees, om hieraan aandag te gee vir voorlegging aan die Algemene Kommissie vir Leer en Aktuele Sake met die oog op finale afhandeling. Die resultaat wat desnoods in ‘n brosjure beskikbaar gestel kan word, kan ook as riglyn dien in die onderhandeling met die owerheid.

Ter interessantheid, in dieselfde jaar doen AKLAS rapport oor twee ander sake wat met reproduktiewe gesondheid verband hou, naamlik Gesinsbeplanning (AS Agenda 1982:458-459) en Kunsmatige Inseminasie (AS Agenda 1982:464).

1986

By die Algemene Sinode van 1986 word verslag gedoen oor ‘n ontmoeting van die dagbestuur van AKLAS met die Minister van Gesondheid en Welsyn, waar daar gevra is vir die behoud van die bestaande wetgewing aangaande die uitvoering van aborsies. “Die reaksie van die minister het die Kommissie gerus gestel” (AS Agenda 1986:91). Die Algemene Sinode keur ‘n beroep op die owerheid goed, om nie die wetgewing te wysig ten einde die uitvoering van aborsies te vergemaklik nie (AS Agenda 1986:91).

Verder is gerapporteer dat AKLAS aanbeveel dat daar volstaan word by die beginselstandpunt van 1982, en dat die tabulering van inligting met die oog op ‘n brosjure (soos besluit by die Algemene Sinode van 1982) nie gedoen gaan word nie (AS Agenda 1986:107). Dit word so aanvaar, en die Algemene Sinode volstaan met die besluit wat reeds in verband met aborsie geneem is (AS Acta 1986:602).

1990

Geen besluite word geneem nie.

1994

AKLAS rapporteer by die Algemen Sinode van 1994 dat daar toenemend stemme is wat ten gunste is van aborsie op aanvraag, en “(a)borsie het selfs ‘n politieke speelbal geword”. Die Algemene Sinode van 1982 se standpunt-besluit is opnuut aan die media en politici verskaf, en word ook weer in die rapport bevestig (AS Agenda 1994:63). Die Algemene Sinode neem kennis (AS Acta 1994:429).

1998

Geen besluite word geneem nie.

2002

AKLAS rapporteer dat hulle die afgelope paar jaar deurentyd betrokke was by “die aborsie-stryd wat die afgelope jare gewoed het”. Daar word erkenning gegee aan die Rooms-Katolieke Kerk en die organisasie van Christen regslui wat veranderde wetgewing bestry het. Die Konstitusionele Hof het beslis dat aborsie nie teen die wet indruis nie. “In die proses het kerke wel duidelike getuienis gelewer” (AS Agenda 2002:186). Geen besluite word geneem nie.

2004

Geen besluite word geneem nie.

2007

Geen besluite word geneem nie.

2011

Die Algemene Sinode het in 2011 aan ATLAS die volgende opdrag gegee: “In die lig van die toenemende aantal tienerswangerskappe en groot getal aborsies wat jaarliks in SA plaasvind, gee die AS opdrag aan ATLAS om ‘n ondersoek te doen oor die hele aangeleentheid” (AS Agenda 2011:297; AS Acta 2011:38).

2013

Geen besluite word geneem nie.

2015

ATLAS het in 2015 by die sinode gerapporteer dat die aangeleentheid van aborsie in SA ‘n uiters belangrike en sensitiewe saak is wat in die lig van die jongste ontwikkelinge soos onder meer die aanvaarding en toepassing van die jongste wette daaroor indringende en omvattende aandag van die kerk vra. ATLAS het ook genoem dat 33 jaar verloop het sedert die 1982-standpuntinname. Die praktyke waarna in die opdrag verwys word, die nuwe wetgewing in SA en die voortgaande etiese gesprek aangaande aborsie het verskeie wendinge en ontwikkelinge ondergaan wat dit vir die kerk belangrik maak om opnuut te besin. ATLAS het ‘n kleiner taakspan uit hulle geledere aangewys om die ondersoek oor die aangeleentheid te doen en gerapporteer dat daar steeds gewerk word (AS Agenda 2015:254).

Die volgende aanbeveling is in 2015 goedgekeur: “Tot tyd en wyl hierdie saak voor die volgende Algemene Sinode dien, beveel ATLAS aan dat die Algemene Sinode die beginselstandpunt van 1982 herbevestig en aan gemeentes kommunikeer om in die lig daarvan gemeentelede in te lig en te begelei” (AS Agenda 2015:254; AS Acta 2015:63).

2019

By die Algemene Sinode van 2019 rapporteer ATLAS as volg (AS Agenda 2019: 263-264):

In ATLAS se navorsing oor die gesprek rondom aborsie het ons onder die indruk gekom van verskillende ervarings, benaderings en gesigspunte onder gelowiges. In die jongste tyd het daar veel gebeur in Bybelnavorsing, mediese navorsing, die vakgebied van etiek, sosio-ekonomiese navorsing en die grondwetlike bestel in SA en Namibië. Daar is in verskillende sinodale gebiede indringende en inklusiewe gesprekke oor hierdie saak gevoer. Ons meen dat verdere besinning noodsaaklik is. Ons oordeel dat dit nie raadsaam is om by hierdie sinodesitting ‘n nuwe formulering vir besluitneming voor te lê nie.

In ons bespreking van verskeie insette het ons onder die indruk gekom van drie dinge waaroor ons binne ATLAS saamstem: (1) Ons is ernstig oor die gesag van die Skrif; (2) Ons aanvaar dat God die gewer van alle lewe is en dat God dit baie kosbaar ag; (3) Ons erken dat ‘n verskeidenheid van stemme gehoor moet word in die gesprek (stemme vanuit die Skrif en tradisie, die ekumene, die mediese wetenskap, die regswese en van mense wat direk geraak word).

5.1. AANBEVELING – OPDRAG OOR ABORSIE:

Die sinode versoek ATLAS om binne die volgende raamwerk navorsing te doen oor etiese kwessies rondom aborsie:

5.1.1. Maak insette bymekaar van Bybelse en sistematiese teoloë; werk wat tans gedoen word rondom reproduktiewe gesondheid navorsing wat reeds deur ATLAS-lede gedoen is; insette van medici en regsgeleerdes; insette van lidmate wat hierdeur geraak is.;

5.1.2. Sien toe dat hierdie proses inklusief en deelnemend is.

5.1.3. Verwerk die insette tot ‘n hanteerbare bundel vir gesprekvoering.

5.1.4. Sirkuleer die bundel vir gesprekvoering na die verskillende sinodes se taakspanne vir leer- en aktuele sake vir gesprekvoering en kommentaar.

Bogenoemde aanbeveling word sonder wysingings goedgekeur (AS 2019 Handelinge: 170).

2. Kontoere vir die 2023 Dokument vir Gesprekvoering oor Aborsie

Soos duidelik is uit die voorafgaande tydlyn, is die laaste deeglike verslag (studiestuk) oor aborsie wat by ‘n Algemene Sinode gedien het, die 1982-verslag deur Dr DA du Toit. Sedertdien het daar reuse skuiwe plaasgevind op elke denkbare front, plaaslik sowel as globaal. Die wêreld is ‘n ander plek in 2023 – net meer as vier dekades later.

Intussen het daar veral ook skuiwe gekom rakende die wyse waarop etiese en teologiese kwessies hanteer word binne die NG Kerk, en by ATLAS as ‘n taakspan. Die kerk bly indringend besin oor hermeneutiek, die wyse waarop die Skrif hanteer word, en juis ook die styl waarop daar besin word oor etiese en teologiese kwessies, soos reeds by verskeie geleenthede en vergaderings van die NG Kerk bevestig.

‘n Konkrete uitvloeisel van hierdie skuiwe in die styl van besinning – ook dan oor die komplekse en sensitiewe saak van aborsie – is dat hierdie dokument doelbewus nie ‘n verslag genoem word nie, maar ‘n gespreksdokument. Met die oog op die hantering van hierdie dokument oor aborsie deur die Algemene Sinode, is dit nodig om verskeie belangrike kontoere te beklemtoon:

Eerstens, dat die saak van aborsie ‘n geweldige komplekse, sensitiewe, en gelaaide saak is wat regoor die wêreld – binne en buite kerklike omgewings – aandag kry. Die NG Kerk is nie die enigste denominasie wat hieroor besin nie. Die Christelike godsdiens is ook nie alleen in hul soeke na verheldering oor die saak van aborsie nie. Dit ontlok sterk emosies, weens verskeie redes, en is waarskynlik een van die sake waaroor mense mekaar die minste uitluister of met respek probeer aanhoor. Hoe gelowiges en kerke hulself laat geld ten opsigte van aborsie is van wesenlike belang, indien daar gemeen word dat ‘n publieke getuienis hierdeur staan gemaak word. Alvorens daar besin word oor wat gesê word oor aborsie, is die wyse waarop dit gesê word ewe bepalend – indien nie selfs meer nie!

Tweedens, gesprekke in Suid-Afrika oor aborsie, veral in Christelike kringe, word sterk aangevuur deur Amerikaanse politieke verwikkelinge en retoriek uit beide sg. behoudende en liberale groeperinge. In die VSA word sterk staatgemaak op die polariserende impak van twee-party politiekery op elke moontlike gebied, juis ook betreffende die Christelike godsdiens en moreel-etiese oorwegings. Suid-Afrikaanse Christene en ook NG Kerk lidmate moet waak daarteen om ingetrek te word in kontekste en diskoerse wat nie die eiesoortige kontekste van ons land verreken nie: die pynlike geskiedenis van verontmensliking, kolonialisering, nasionalisme, apartheid, armoede, werkloosheid, gender-gebaseerde en seksuele geweld, om maar enkele voorbeelde te noem. Dit is onverantwoordelik om met konteks-vreemde (en soms bloot ondeurdagte) teologieë bepaalde standpunte en aannames aan te vuur, wat nie die eer van die kerk en die eenheid van die liggaam van Christus dien nie.

Derdens, in teologiese en etiese besinning oor reproduktiewe gesondheid en oor die saak van aborsie spesifiek, moet daar erken en bely word dat diegene wat direk hierdeur geraak word met hul lywe – vroue – deur die geskiedenis heen in die Christelike tradisie en ook in die NG Kerk die minste ruimte gegun is om hul stemme te laat hoor. Geen teologiese, etiese en hermeneutiese besinning oor reproduktiewe gesondheid is moontlik sonder om erkenning te gee aan die werklikheid van eeue se ervarings van reproduktiewe verlies deur vroue nie – hetsy deur miskraam, stilgeboorte, aborsie, of na-geboorte sterfte – wat eenvoudig nie gehoor of erken is nie. Die pynlike ervarings van paartjies wat hierdie vorme van trauma al moes beleef, of wat ingrypende lewe-en-dood besluite moet neem (dikwels onder geweldige tydsdruk), is nog lank nie genoegsaam geag of respekteer nie. Wanneer daar teologies en eties besin word oor aborsie, vra dit geweldige sensitiwiteit, gegewe die stigma en karikature wat heers oor die saak. Talle persone wat geraak word deur aborsie, kies noodgedwonge om in stilte en tot ‘n groot mate alleen daarmee te reis, omdat daar so min veilige ruimtes is om met vrymoedigheid daaroor te kan praat. Wanneer die NG Kerk en haar lidmate oor aborsie gesprek voer, moet dit gedoen word vanuit die verstekposisie dat daar in enige gesprek moontlik iemand is wat op ‘n bepaalde manier persoonlik daardeur geraak word. Dit is nie bloot ‘n gesprek oor ‘n objektiewe saak nie, maar oor mense, hul liggaamlikheid, en bepaalde kontekste waarbinne sekere keuses uitgeoefen moes of moet word – tesame met moontlike trauma.

Vierdens, oorvereenvoudigde “vir” of “teen” standpunte oor aborsie dien nie die vestiging van langdurige en blywende teologies-etiese onderskeiding nie. Daar word gereken dat die saak van aborsie, en standpunte daaroor, tans een van die grootste verdelende element is regoor die wêreld. Ons sien tekens daarvan in die wyse waarop dit tereg nogsteeds ‘n politieke speelbal is, veral ten opsigte van wetgewing wat die regte en vryheid van vroue raak. As gelowiges wat erns maak met die Woord van God, die gemeenskap van gelowiges, en die leiding van die Heilige Gees, moet ons ‘n ander uitweg vind; om met mekaar te praat, eerder as oor mekaar; om mekaar as gelykes en as geliefdes van God te hanteer; om ruimte te skep vir verskillende opinies oor komplekse sake – wat ook mag verander; om met deernis standpunt in te neem, met die wete dat geen een van ons al “arriveer” het nie. Christus is die hoof van die kerk, en ons roeping is om saam na God se wil te soek. Die Bybel bevat veelvoudige voorbeelde van die kompleksiteit van hierdie soeke tussen medegelowiges, en behoort ons daarteen te laat waak om met oordrewe selfvertroue of met ‘n retoriek van geweldadigheid “op te staan” vir dit waarin ons glo.

Vyfdens, hierdie gespreksdokument het as fokus ‘n ronde-tafel gespreksbenadering tot teologiese besinning. Dít is die taak waarom dit gaan – dit is nie ‘n politieke, of mediese, of juridiese beoordeling van enige aard nie. Dit het ten doel om respekvolle en eerlike gesprekvoering tussen en deur gelowiges binne ‘n bepaalde gereformeerde tradisie te dien, wat hulself bevind in ‘n diverse landskap.

Daarom gaan hierdie dokument moontlik party lesers teleurstel. Die doel is nie om ‘n netjiese, klinkklare “antwoord” of “standpunt” ter tafel te bring nie. Hierdie dokument dien as getuienis van veelvuldige stemme uit verskillende teologiese velde, asook wyer; kundiges, sowel as grondvlak-gesprekke; kerklike diskoerse, sowel as verder. Dit is interdissiplinêr en multidissiplinêr van aard, aangesien die saak van aborsie nie netjies in slegs een teologiese of sosiale konteks geplaas kan word nie. Dit dien as eerste tree tot ‘n gespreksmatige aanslag tot die tema van aborsie, wat tot dusver nog nie by amptelike vergaderings van die NG Kerk gestalte gevind het nie. Dit het ten doel om diegene wat kies om verder in hul sinodes, ringe en gemeentes hieroor te besin, daartoe uit te nooi. Indien daar tot ander insigte gekom word, of ander stemme bygetrek word in die gesprek, is dit in orde so. Inteendeel, dit is juis die bedoeling. ATLAS en die werkgroep verwelkom dialoog en wil dit juis aanmoedig, mits dit met respek en deernis gevoer word.Hierdie is ook nie maar enige dialoog nie – dit is geloofsonderskeidende dialoog, en daarom gerig deur waardes wat die koninkryk van God sigbaar maak en verteenwoordig in ‘n stukkende werklikheid.

Daarom is die hoop dat hierdie dokument ook ‘n eerste tree sal wees in die rigting van pastorale begeleiding van lidmate en leiers ten opsigte van die hantering van die saak van aborsie in verskeie tipes gemeente- en kerklike kontekste – hetsy op individuele vlak, of in groepe. Sulke konkrete hulpmiddels word as oogmerk gestel vir die werksaamhede van ATLAS se volgende termyn, onderweg na die Algemene Sinodesitting van 2027, juis in die lig van terugvoer ontvang rakende die behoefte aan pastorale begeleiding insake aborsie.

3. Gespreksgenote aan die tafel: Verrekening van die groter landskap

Hierdie afdeling bevat ‘n aantal perspektiewe deur gespreksgenote buite die teologiese en kerklike kringe. Dit word aangebied met die oog op die verrekening – of minstens verkenning – van die groter landskap waarbinne teologiese en etiese besinning oor aborsie in die NG Kerk hoort plaas te vind. Dit gaan nie hier om ‘n weeg en beoordeling van die geldigheid al dan nie van hierdie perspektiewe nie. Dit gaan daarom dat kerklike besinning oor aborsie minstens ag hoort te slaan op dit wat nie-kerklike en/of nie-teologiese gespreksgenote na die tafel bring, en kan hoor dat ons deelneem aan ‘n veel wyer gesprek as net ons eie.

As vertrekpunt, word enkele opmerkings deur die grootste internasionale gesondheidsliggaam, naamlik die Wêreldgesondheids Organisasie (World Health Organisation) voorgehou. Dit word gevolg deur meer spesifieke Suid-Afrikaanse perspektiewe op aborsie: ‘n sosio-politiese insetsel; die ervaring van ‘n verpleër; die insette van ‘n navorsingpsigiater; en die verwoording van ‘n maatskaplike werker se ervarings.

3.1 Wêreldgesondheids Organisasie (World Health Organisation)1

Die grootste internasionale gesondheidsliggaam, naamlik die Wêreldgesondheids Organisasie (WGO), is in 1948 as agentskap van die Verenigde Nasies gestig. Hulle het ten doel om deur uitgebreide netwerke die gesondheid van alle mense te bevorder, die wêreld se veiligheid in stand te hou, en om weerloses te dien. Hierdeur word gepoog om die gesondheid van alle mense, oral, tot op die hoogste vlak van gesondheid te bevorder.

Binne hierdie raamwerk, benader die WGO aborsie vanuit die perspektief van sorg in ‘n omvattende sin, en word daar deurgaans in hul kommunikasie (bv. hul webblad, besluite, publikasies, beleide) van “abortion care” (aborsie sorg) gepraat. Dit gaan dus nie in die eerste plek om reproduktiewe regte (soos wat die benadering dikwels in politieke debatte is nie) of uitsluitlik die mediese prosedure van aborsie nie; dit gaan eerder daarom dat ongewenste swangerskappe voorkom kan word, en dat daar toegang tot veilige en omvattende aborsie sorg verseker kan word vir alle vroue en meisies indien dit verlang sou word. Dit sluit in toegang tot deeglike seksualiteitsvoorligting, toegang tot voorbehoedmiddels, en geleentheid vir gesinsbeplanning. Aborsie sorg val dus binne die groter raamwerk van reproduktiewe sorg, en sluit asulks ook nou aan by die Verenigde Nasies se 17 Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (Sustainable Development Goals) – veral Doelwit 3, 5 en 10.2

Na beraming vind daar tans wêreldwyd 25 miljoen onveilige aborsies plaas per jaar, waarvan ongeveer 39 000 gevalle lei tot sterfte, en miljoene gevalle van hospitalisering weens komplikasies na onveilige prosedures. Die meerderheid van sterftes kom voor in laer-inkomste lande, waarvan 60% in Afrika en 30% in Asië – en boonop dan ook binne die kontekste van die mees weerloses en armstes. Navorsing toon dat beperking tot veilige aborsie-opsies nie ‘n afname in aborsies toon nie; inteendeel, beperkinge dryf eerder vroue en meisies daartoe om onveilige prosedures te ondergaan.

Buiten toegang tot veilige aborsie in mediese terme, is die WGO ook van mening dat die behoeftes en keuses van vroue en meisies met betrekking tot aborsie gerespekteer moet word. Stigma, veroordeling, polisie-aanmelding en inhegtenisname weens aborsie is onaanvaarbaar, en dra nie by tot ‘n meer gesonde en versorgde samelewing nie.

Die WGO het op 9 Maart 2022 ‘n opgedateerde en omvattende riglyndokument vir aborsie sorg bekendgestel. Die digitale weergawe is beskikbaar by https://srhr.org/abortioncare. Vir meer inligting oor die globale konteks rakende aborsie wetgewing, beleide, gesondheidstandaarde en riglyne, besoek https://abortion-policies.srhr.org.

3.2 Suid-Afrikaanse konteks

  • ‘n Sosio-politiese perspektief

“Aborsie is kontroversieel en enige gesprek daaroor kan baie vinnig verander in konflik wat gemoedere hoog laat loop… Redes vir die kontroversiële aard van die gesprek kan teruggevoer word na geloofsoortuigings, morele standpunte en perspektiewe op regte. Maar ten einde laaste gaan dit oor die beheer van vroue se seksualiteit en voortplanting.

In 1973 het die Amerikaanse Hooggeregshof in die hofsaak Roe v Wade aborsie in die VSA gewettig op grond van, onder andere, die argument dat die fetus nie die status van ‘n persoon het nie en dus nie deur die Amerikaanse grondwet beskerm word nie. Dit was ‘n deurslaggewende uitspraak vir feministe van die tweede golf, wat bekend geword het as radikale feminisme, en wat geëis het dat vroue beheer oor hul eie liggame moet hê. Hierdie feministiese argumente het bekend geword as ‘pro-keuse’ (nie ‘pro-aborsie’ nie). Dit gaan oor die aanspraak dat elke vrou self moet kan besluit oor haar eie voortplanting.

Dit het egter nie beteken dat aborsie op aanvraag beskikbaar sou wees nie. Omdat die VSA ‘n federale stelsel is kon deelstate hul eie wetgewing maak oor hoe aborsies toegepas moes word. Die meer konserwatiewe state het dit amper onmoontlik gemaak vir vroue om aborsies te bekom, deur te wette te maak wat veroorsaak dat aborsies slegs in die eerste trimester (eerste drie maande) uitgevoer kan word, voordat baie vroue eers besef hulle is swanger. Ander het beperkings op klinieke geplaas, soos die bepaling van die grootte van vloerspasie, wat die kostes vir klinieke baie hoog gemaak het. Nietemin kon vroue reis na plekke waar aborsies beskikbaar was.

Die teenkanting van pro-lewe groepe, wat pro-keuse afmaak as pro-aborsie of pro-moord, gaan van die standpunt uit dat lewe met bevrugting begin en dat die fetus van daardie oomblik af die status van ‘n persoon (“personhood”) en “fetale burgerskap” het. Aborsie in enige trimester word dus gelyk gestel aan moord op die fetus. Die ontwikkeling van tegnologie soos sonarbeelde het die argumente van hierdie groeperinge versterk omdat fetale beelde gelyk gestel word aan ‘n volledige mens. Sonarbeelde word dus ook dikwels gebruik om vroue wat aborsies benodig, af te skrik. Pro-lewe groepe gebruik geloof om die morele argument oor lewe/dood te maak en aborsie word getipeer as ‘n sonde. In baie lande waar die Katolieke Kerk dominant is, is geen aborsies moontlik nie.

Die argumente van pro-lewe ondersteuners kan teruggevoer word na ‘n tipe biologiese determinisme (“biology is destiny”) waar vroue die instrumente van hul biologie is, en hulle funksie bloot is om kinders te baar. Dit is biologiese reduksionisme. Dit plaas vroue terug in die rol van moeders en versorgers waar die biologiese aan sosiale rolle gekoppel word. Pro-lewe groepe stel nie werklik belang in lewe ná geboorte en wie verantwoordelik vir die versorging en grootmaak van kinders is nie. Dit poog om ‘n godsdienstige hegemonie daar te stel, wat alle gedrag wat hierdie hegemonie oortree, sanksioneer. Die groeperinge is ook diep polities en bevorder die polarisasie rondom voortplanting soos ons nou sien in die VSA, nadat die VSA se hooggeregshof die Roe v Wade-uitspraak in 2022 omgekeer het met die Dobbs-uitspraak.

Waar argumente gemaak word op grond van regte word die regte van die swanger vrou opgeweeg teen die regte van ‘n ongebore fetus. Die pro-keuse feministiese argument is dat vroue beheer oor hul seksualiteit en voortplanting moet hê, waarsonder dit nie moontlik is vir vroue om outonome agente te wees nie en waarsonder geslagsgelykheid nie moontlik is nie. Feministiese moraliteit rondom aborsie maak nie argumente oor wanneer lewe begin en of die fetus ‘n persoon is nie, maar vra vir die erkenning van die konteks en die sosiale verhoudings waarbinne vroue ‘n aborsie aanvra. Vroue se besluite oor aborsie gebeur nie in ‘n vakuum nie, maar word geneem met verwysing na die verhoudings waarin vroue hulself bevind—met hul lewensmaats, hul ander kinders, die vermoë om nog ‘n kind te onderhou en hoe hul eie vermoëns om te werk deur die geboorte van ‘n kind geraak word. Hierdie besluit word geneem met inagneming van materiële kondisies en vir meeste vroue is dit nooit ‘n maklike besluit nie.

Die instellings soos die wetgewers waar wette oor voortplanting gemaak word of howe waar daar oor aborsie beslis word, word almal deur mans gedomineer, wat beteken vroue is uitgelewer aan besluite wat deur ‘n meerderheid mans geneem word. Oor eeue heen is vroue se voortplanting deur mans in die politieke konteks beheer; of deur mans in kerke, soos die Katolieke Kerk, waar ou mans in rokke wat nog nooit seks met vroue gehad het nie oor vroue se voortplanting besluit en toegang tot aborsie beperk.

Vroue help mekaar al vir eeue lank met voortplantingsbesluite. Dit is waarom vroedvroue wat sekere vaardighede het, belangrik is. Hulle weet hoe om aborsies uit te voer. Maar dit dryf vroue tot onwettige/kriminele gedrag. In die VSA is feministe reeds besig om te mobiliseer. Danksy die internet is dit makliker vir vroue om mekaar te help. Daar is groepe wat koeëlvaste minibusse laat toerus met sonar en die nodige toerusting om aborsies uit te voer. Hul mobiliteit maak dit moeiliker vir wetstoepassers om hulle op te spoor.

Aangesien pille wat aborsie veroorsaak aanlyn te koop is, word pro-keuse vroue opgelei oor hoe om dit te gebruik en dan vroue wat ‘n aborsie benodig te help. Die aborsiepil moet vir 30 minute aan die kant van die mond gehou word en mag nie gesluk of gekou word nie. Vroue word met M&M’s (die Amerikaanse ekwivalent van Smarties) geleer hoe om dit te doen.

Wanneer toegang tot aborsie beperk word of onmoontlik gemaak word, raak dit gemarginaliseerde groepe soos arm vroue wat nie toegang tot geboortebeperking het nie die ergste, en verminder dit hul reeds beperkte lewensmoontlikhede. Meeste onwettige aborsies vind plaas in plekke waar vroue se gesondheid en oorlewing bedreig word. Studies in die VSA het gewys dat by vroue in dieselfde demografiese groeperinge wat swanger raak, diegene wat aborsies gekry het se lewenskanse verbeter het, terwyl die wat nie aborsies kon kry nie, maar wou gehad het, se lewenskanse verswak het (sien The Atlantic, Mei 2022).

Aborsie in die VSA is ‘n politieke speelbal wat hoogs polariserend is. Die vraag is waarom regse politici dit so belangrik vind om vroue se seksualiteit en voortplanting te beheer in ‘n wêreld wat reeds oorbevolk is. Dit is ‘n terugstoot teen die regte wat vroue verkry het, maar ook ‘n manier om kritiek te lewer op wat gesien word as ‘n bandeloosheid en onkuisheid rondom seksualiteit, wat nou ook die aanvaarding van LGBTIQ+-seksualiteite en die “trans-onding” (soos wat regses dit noem) insluit. Dit is ‘n teruggryp na ‘n verlede van die kerngesin en bekrompe familiewaardes wat nie meer bestaan nie—en vroue betaal die prys hiervoor.

In Suid-Afrika is aborsie deur die ANC gewettig met die Choice of Termination of Pregnancy Act (Act 92 of 1996). Dit is nie omdat almal in die ANC saamgestem het nie, maar omdat die feministe in die ANC daardie tyd voorbrand gemaak het en versoek het dat daar nie volgens gewete gestem mag word nie, maar volgens ‘n party-standpunt dat aborsie gewettig moet word. Die wettiging was dus baie makliker as om te wag vir ‘n uitspraak in ‘n saak voor die Grondwetlike Hof. Ten spyte van die wettiging van aborsie is dit nie maklik beskikbaar nie, omdat dokters en verpleegpersoneel weier om dit te doen. By meeste klinieke word vroue weggewys of, indien die aborsie wel uitgevoer word, word vroue gestraf deur die weerhouding van pynmedikasie en deur beledigings. Toegang tot aborsie word ook beperk deur die agteruitgang van die openbare gesondheidsorg, stigma en normatiewe weerstand.

Die Dobbs-uitspraak (met verwysing na die Dobbs v Jackson saak, 2022, waarin die Roe v Wade besluit omgekeer is) het globale gevolge waar kondisies vir aborsie nou ook hier meer beperkend sal word en waar die voorwaardes vir die VSA se internasionale befondsing reeds meer konserwatief is, soos byvoorbeeld dat inligting oor die beperking van swangerskap geen inligting oor aborsie mag insluit nie. Maar dit het ook ‘n meer distopiese dimensie. In baie state in die VSA sal vroue nou gedwing word om ‘n swangerskap te voltooi ná verkragting of as daar ‘n gebrek aan die fetus is. Daar is reeds sprake dat vroue wat oor grense wil reis, sal moet bewys dat hulle nie swanger is nie. ‘n Mens wonder hoe so ‘n bewys sal lyk. Hoe is dit anders as die distopiese Handmaid’s Tale waar vroue verkrag word en gedwing word om kinders vir onvrugbare vroue te baar?

Die dawerende boodskap van die Dobbs-uitspraak is: ‘Women you are on your own and big brother is watching you!’”

  • ‘n Verpleër aan die woord

“Ek is op dag drie van my vierdagskof en help vandag in dagsaal met die aborsies.

Ons senior nurse kom haal my in die staff room waar ek nog besig is om my tekkies uit te trek en my Green Cross aan te trek. ‘Roer jou gat meirre, hier is ses aborsies vir jou. Prep hulle en maak hulle files klaar, ek gaan gou op rondtes met dokter, ek’s nou hier,’ sê sy en verdwyn in die gang af terwyl ek nog sukkel om my voet ordentlik in my skoen te kry.

Ek sit met my clipboard en pen en begin met die dag se aborsies. Die meisies in die wagkamer lyk almal soos ek, emaciated en exhausted. Pasiënt 1, 18 jaar oud, derde pregnancy, eerste aborsie. Pasiënt 2, 21 jaar oud, eerste pregnancy—haar gesig is geswel en bruised. Pasiënt 3, 26 jaar oud, eerste pregnancy, eerste aborsie—ons bly in dieselfde straat, ons chat oor hoe dit gaan met ons ma’s en of ek gehoor het van Sara wat huis gekoop het in die wit area. Pasiënt 4 is 38 jaar oud, school teacher, tweede pregnancy, tweede aborsie—sy vra of sy maar kan buite wag, want sy wil rook, haar hande bewe en sy lyk asof sy gehuil het. Pasiënt 5 is 33 jaar oud, eerste pregnancy—sy het werksklere aan, en wil weet hoe lank die hele proses gaan vat, want sy moet by die werk wees sodra sy klaar is. Voor ek my mond kan oopmaak, sê pasiënt 6, ‘I was raped, I don’t want this baby, it’s a rape pregnancy.’

Ek sê vir haar in my most calm tone, ‘Is okay, jy hoef nie daai te disclose nie. Ek vat maar net details sodat julle almal gehelp kan word. En ek is baie sorry dat jy so pregnant geraak het. But it’s nobody’s business.’ Sy kyk my aan en sê, ‘Yes, I understand but I don’t want people to think I’m killing this baby because I want to, I can’t have a rapist’s baby. I just can’t.’

Ek explain die procedure aan elkeen van hulle, dan kom my matrone in die gang af en sê, nurse, hulle need help in kraam. Gaan gou, ek sal dat Davids hier verder gaan.’

Ek sug, want Nurse Davids is ‘n religious fanatic wat niks doen sonder die leiding van Liewe Jesus nie. En met al haar eie sondes toegesteek soos ou stretch marks is sy die worst persoon om my te kom relieve. But I just work here, so ek los my clipboard, druk my pen in my sak en maak my way kraamsaal toe.

Die twee security guards by die deur van die kraamsaal sit soos twee gargoyles en grom vir my wat vir once onthou het om te smile. Die smile help met die general mood van die hospitaal, apparently.

My eerste pasiënt is ‘n new mom en sy sukkel met die baba wat nie latch nie.

Sy lyk flustered en sad, die newborn in haar arms lyk vreemd teen haar klein frame. Sy sê, ‘Ek gaan melk koop, die kind wil nie drink aan my nie.’ Ek sê, ‘Is okay gee kans, babies het hulle eie tyd.’

Die res van my dag hardloop ek tussen klokkies antwoord en beddens oopmaak. My Green Cross maak my voet seer en wanneer ek finally gaan uitklok, kom sê matrone vir my, ‘nursie, jy is af môre. Lekker laat slaap, my skapie.’ Ek vat my sak uit die locker en is te moeg om skoene te change en ek stap netso taxi rank toe. By die taxi rank staan pasiënt 3 en pasiënt 4. Pasiënt 3 sê, ‘Ek het gewonne of jy al hystoe is.’ Ek sê, ‘Ek het gedink julle is al lankal weg.’ Pasiënt 4 sê, nee kind afmaak isse lang storie.’ Sy sê dit hard genoeg vir almal om te hoor en niemand om om te gee nie.

Ons klim in die taxi en ek sit my earphones in, want die taxi maak ‘n weird loud sound asof iets stukkend is. En ek het nie nou krag vir goed wat breek nie.”

  • ‘n Navorsingpsigiater se gedagtes

“Ek is “pro-choice”, maar beslis anti-aborsie. Dit is ‘n baie komplekse saak, met baie grys areas – alhoewel party areas minder grys as ander.

‘n Vertrekpunt is waarskynlik: wanneer begin lewe? Persoonlik glo ek met konsepsie, die wonderwerk van ‘n eier en spermsel wat saamsmelt en begin verdeel. Maar is dit so eenvoudig soos om ‘n lewensvatbare fetus en ‘n blastocyst van ‘n paar dae oud gelyk te stel? Ginekoloë rapporteer dat dit baie makliker is om ‘n aborsie te doen op 8/9 weke (“suction”) vs 20 weke (tange en liggaamsdele afskeur). Die maklikste is egter die vernietiging van embrios tydens fertiliteitsbehandeling…

Hoe nader daar beweeg word aan lewensvatbaarheid, dws oorlewing buite die uterus, hoe moeiliker is dit. Lewensvatbaarheid – die fetus se vermoë om buite die uterus te oorleef – word tipies op 24 weke vasgestel. Daar is egter sommige eerstewêreldlande waar dit reeds vanaf 22 weke geag word.

Suid-Afrika se aborsie-wetgewing is relatief liberaal. ‘n Vrou kan tot op 20 weke vir ekonomiese of sosiale redes wettiglik ‘n aborsie kry:

Any woman of any age can get an abortion by simply requesting with no reasons given if she is less than 13 weeks pregnant.

If she is between 13 and 20 weeks pregnant, she can get the abortion if (a) her own physical or mental health is at stake, (b) the baby will have severe mental or physical abnormalities, (c) she is pregnant because of incest, (d) she is pregnant because of rape, or (e) she is of the personal opinion that her economic or social situation is sufficient reason for the termination of pregnancy.

If she is more than 20 weeks pregnant, she can get the abortion only if her or the fetus’ life is in danger or there are likely to be serious birth defects.

A woman under the age of 18 will be advised to consult her parents, but she can decide not to inform or consult them if she so chooses. A woman who is married or in a life-partner relationship will be advised to consult her partner, but again she can decide not to inform or consult him/her. An exception is that if the woman is severely mentally ill or has been unconscious for a long time, where consent of a life-partner, parent or legal guardian is required.

Baie vroue sukkel egter om bekostigbare, tydige aborsies te kry in Suid-Afrika. ‘n Ondersoek deur Bhekisisa3 wys dat slegs die helfte van wettige klinieke wat dienste hiervoor adverteer, dit werklik aanbied. Dit, in teenstelling met die oorvloed van gevaarlike kwakke wat op lamppale en agter toiletdeure adverteer…

Wat sê die navorsing:

  1. Geen voorbehoedmiddels is 100% effektief nie, die beste is 99% effektief. – Wêreldwyd is 50% van swangerskappe onbeplan, en die helfte daarvan eindig in aborsies.
  2. Om aborsie onwettig te maak laat nie die insidensie afneem nie, dit laat net die insidensie van onveilige aborsies toeneem.
  3. Volgens die Reproductive Justice Conference (Julie 2018, SA) is 52% tot 58% van die beraamde 260 000 aborsies per jaar in Suid-Afrika onwettig. 8% van moedersterftes (“maternal deaths”) wêreldwyd is weens onveilige aborsies, waarvan die meeste in Afrika voorkom.
  4. Geloof of streng kerklike afkeur in aborsie, stop dit nie. 22% van die VSA-bevolking identifiseer as Katoliek, en steeds verteenwoordig hulle 27% van vrouens wat aborsies kry.
  5. “Abstinence only sex education” is nie suksesvol in die bekamping van tienerswangerskappe nie – inteendeel.
  6. Guttmacher Institute se navorsing van 2017 dui aan dat aborsie afneem wanneer dit wettig is. Waar dit egter streng beperk word deur wetgewing, is die aantal aborsies hoër.4
  7. Universiteit aan die Stanford Universiteit dui aan dat wanneer oorsese befondsing afneem vir aborsie, is die kanse 2.5 keer groter dat ‘n vrou ‘n aborsie sal kry, en is daar dikwels ook ‘n afname in die gebruik van voorbehoeding.
  8. Bemagiting van vroue en opvoeding help vrouens om mishandeling te ontsnap en ingeligte besluite oor voorbehoeding te neem.

Ideaal gesproke moet geen aborsies plaasvind nie (in teenstelling met geraamde 56 miljoen per jaar op aarde). Maar ons lewe nie in ‘n ideale wêreld nie.

Na my oordeel kan aborsie afneem en bekamp word deur:

  • Vermyding van “slegs onthouding” seks-opvoeding
  • Maklik bekombare, effektiewe, bekostigbare voorbehoeding
  • Vroulike opvoeding en bemagtiging
  • Wettiging van aborsie, wat maklik bekombaar is deur goeie befondsing, maar altyd gepaard gaan met berading en voorbehoeding en/of gesinsbeplanning om dit te verhoed in die toekoms
  • Die kerk moet sê dis absoluut die laaste uitweg, maar vrouens werklik ondersteun. Niemand wil ‘n aborsie hê nie. Ongeag die omstandighede, is dit ‘n traumatiese ervaring. Die kerk moet benadruk dat mans gelyke aandeel in die saak het – hoe word seuns en mans geleer en gevorm ten opsigte van seksualiteit en verantwoordelikheid?
  • Die werklikheid van ervarings as maatskaplike werker

“Ek sit aan ‘n tafel, ‘n baie wit Afrikaanse tafel, en net soos dit op sosiale media gons oor die Amerikaanse howe se besluit om die grondwetlike reg op aborsie te verwyder, kom hierdie tema ook in die geselskap op. Hier gaan ons! Tannies, is julle reg?

Ek is ‘n maatskaplike werker in ‘n klein dorpie in die Wes-Kaap. Dié dat ek al heelwat met die aborsie-onderwerp kennis gemaak het. Ek is ‘n Christen en was vir ‘n groot deel van my vormingsjare ‘n lid van die NG-Kerk. Christenskap en die waardes wat daaraan gekoppel word, speel ‘n belangrike rol in my lewe. Dit wat reg is en dit wat verkeerd is, word duidelik vir ons uiteengesit. So maklik soos dit.

Maatskaplike werk is ‘n beroep wat konstant aan haar onderdaniges skaaf en skuur. Sy het my al laat twyfel, sy het my al laat dink en sy het my al laat verstaan. Ons leef in ‘n land waarin armoede en werkloosheid die sweep slaan en waar die houe letsels agterlaat (in ‘n land sonder behoorlike gesondheidsorg). ‘My God, my God waarom het U my verlaat?’.

Ek word eties verplig om aan kliënte die opsies voor te hou wanneer ‘n ongewensde swangerkap die opwagting maak. Sy maak haar keuse en ek ondersteun hierdie keuse. Sy maak haar keuse en ek respekteer hierdie keuse. Dadelik kom die gedagte by my op—ek is ‘n Christen en aborsie is nie iets wat ‘ons’ goedkeur nie. Is ek ‘n sondaar? Is ons almal nie sondaars nie?

‘As jy nie vir ‘n kind kan sorg nie, dan moet jy jou nie besig hou met die verkeerde dinge nie’, sê een van die Afrikaanse vroue aan die tafel. Hierdie stelling word gemaak, en dadelik dink ek aan die vroue en tienermeisies wat ek al teëgekom het in my beroep. Nie een van hierdie vroue se agtergrond is dieselfde nie. Enkele van hierdie vroue het nie die geleentheid gehad om hul skoolloopbaan te voltooi nie en moes teen ‘n minimumloon begin werk. Die omstandighede waarin hierdie vroue gebore is, het reeds gepaard gegaan met ‘n reeks uitdagings soos ongskoolde ouers, armoede, alkoholmisbruik en so kan ek voortgaan. Here, kom die oordeel dan toe vir hierdie tafel met ons tersiêre opvoeding?

‘Daar is beurse. As sy hard werk, en die regte keuses maak, kan sy gaan studeer.’ Ten spyte van die sosio-ekonomiese kwessies wat hierdie vroue daagliks in die gesig staar, nie omdat hulle dit gekies het nie, maar hulle daarin gebore is, moet hulle só veerkragtig wees dat hulle elke uitdaging oorkom en blerrie goed ook, want onthou, die beurs. Hiermee wil ek geen erkenning ontneem van die persoon wat wel die beurs gekry het en ten spyte van hul omstandighede vir die lewe die teendeel bewys het nie. Wanneer sy dan met trane in haar oë kom hulp soek by die welsynwerker, respekteer ek haar keuse, verstaan ek haar keuse en luister ek met empatie na haar storie. Die liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles (1 Kor 13:7).

Soveel keer het ek al oor aborsie gereflekteer. Wat aborsie vir my beteken in ‘n professionele, sowel as persoonlike hoedanigheid. Aborsie word in die Christelike geloof beskou as ‘n sonde, maar alle sonde is gelykstaande—of dis hoe ek dit verstaan. Die besluite wat ek neem, reg of verkeerd, bly steeds my eie en dit is hoekom die Here vir my die vermoë gegee het om te kan kies.

Ek dink dis menslik van my om te wonder of die Here my veroordeel. Wanneer jy dit waarmee jy sedert geboorte gekondisioneer is tot ‘n mate verwerp, is dit seker die gevolg. Vrek, ek weet die vroue om die tafel het my veroordeel toe ek deel dat ek definitief ‘pro-choice’ is. Dis jou lyf, dis jou storie en dis jou keuse. So, vir die al die tannies aan die tafel en ook vir myself wil ek aan die volgende herinner: Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie (Matteus 7:1). Tannie Michelle, kry gerus vir jou nog ‘n koeksister.”

4. Gespreksgenote aan die tafel: Teologiese stemme

4.1 Ou en Nuwe Testament

Wanneer daar vanuit die perspektiewe van die Ou en Nuwe Testament besin word oor aborsie, is dit vanuit die staanspoor nodig om te erken dat daar geen eksplisiete verbod op aborsie in die Bybel voorkom nie. Daar is ook geen eksplisiete goedkeuring van aborsie in die Bybel nie. Dit beteken nie dat die Bybel irrelevant is vir ons gesprekke oor aborsie nie – allermins. Dit is egter nie ‘n tema wat met ‘n bewys-teks of twee tot swilswye gedwing kan word, of na een of die ander kant gedruk kan word nie.5

Wat wel verreken moet word, is dat die hedendaagse verstaan van “die reg tot lewe” – veral met betrekking tot kinders en des nog te meer fetusse en ongebore babas – vreemd is aan die antieke wêreld. In dieselfde asem is die hedendaagse verstaan van “die reg tot keuse” – veral met betrekking tot meisies en vroue se reproduktiewe vryheid en/of opsies – ook vreemd aan die antieke wêreld. Dit was wel ‘n wêreld waarbinne daar bepaalde verstaansraamwerke was oor fertiliteit, prokreasie, reproduktiewe gesondheid, en die gevare en komplikasies van swangerskap en die geboorteproses. Dit was ingebed binne ‘n groter raamwerk van hierargie, status, patriargie, beperkte hulpbronne, en oorlewing.

Alhoewel daar betreklik min eksplisiete inligting in die Bybel is wat ons help om die antieke raamwerk van reproduktiwiteit volledig te begryp en ons daarom tot ‘n groot mate moet staatmaak op buite-Bybelse bronne en artefakte, is daar wel ‘n interessante voorbeeld te vind in Eksodus 21:22-25, wat daarop dui dat daar wel wette was wat bepaalde situasies met betrekking tot reproduktiwiteit gereguleer het:

22Wanneer mans baklei en hulle beseer ‘n swanger vrou, sodat haar kind te vroeg gebore word, maar daar nie ‘n ernstige besering is nie, moet die een wat haar beseer het, beslis die boete betaal wat die vrou se eggenoot hom oplê. Hy moet dit vasstel met die hulp van beregters. 23Maar as daar ‘n ernstige besering is, moet jy bepaal: ‘n lewe vir ‘n lewe, 24 ‘n oog vir ‘n oog, ‘n tand vir ‘n tand, ‘n hand vir ‘n hand, ‘n voet vir ‘n voet, 25‘n brandwond vir ‘n brandwond, ‘n wond vir ‘n wond, ‘n kneusplek vir ‘n kneusplek (2020-vertaling).

Dit wil voorkom of hier verwys word na ‘n miskraam of premature geboorte weens besering van die vrou, maar dat daar is verskillende reels geld vir die straf, afhangende daarvan of die vrou ernstig beseer is of nie. Die fokus is hier op die vrou (eerder as die kind), met vergelding na oordeel van die vrou se eggenoot wat geld indien sy ernstig beseer is. Hierdie onderskeide, sowel as die rol van die eggenoot in die bepaling van die straf, verklap elk bepaalde kontoere van die konteks van die antieke Mediterreense omgewing.

Wat wel duidelik is vanuit buite-Bybelse tekste asook argeologiese bevindinge, is dat daar reeds in die antieke wêreld bestaande aborsie-praktyke was; dit is nie ‘n hedendaagse of moderne uitvindsel nie. By gebrek aan toegang tot veilige opsies, het baie meisies en vroue toe reeds tydens hierdie prosedures gesterf, en diegene wat wel kinders gebaar het, het eweneens ‘n baie groter risiko as vandag geloop om tydens ‘n bevalling om te kom. Kindermoord en blootstelling van kinders aan die natuurlike elemente (byvoorbeeld in die geval van gebreke) was ook ‘n realiteit, en die voorkeur op seuns eerder as meisies het ook bepaalde implikasies gehad vir die versorging van jong babas as deel van die familie.

Die volgende bydrae deur ‘n Suid-Afrikaanse Nuwe-Testamentikus, verhelder hierdie antieke konteks met spesifieke verwysing na die eerste eeuse Mediterreense wêreld waarbinne Jesus en die Sy volgelinge geleef het.

4.1.1 ‘n Terugblik op die wêreld van Jesus

Malina (1993:xi) sê in die voorwoord van Windows on the World of Jesus dat “… all language … derives its meanings from the societal system and cultural context in which the language communication originally takes place”. Pleinweg in Afrikaans vertaal – betekenis het veel meer om die lyf as wat ons dink. Om die betekenis van ‘n sin/stelling te kan verstaan gaan oor baie meer as net die betekenis van al die afsonderlike woorde in ‘n sin te ken. ‘n Mens moet ook kennis dra van die omstandighede en kulturele gebruike van die taalgebruikers om agter te kom wat hulle presies bedoel. Hoewel ons dit instinktief weet, steur ons nie onsself altyd hieraan nie, veral nie as dit by die lees van die Bybel kom nie. Dan lees ons dit dikwels asof dit uitsluitlik net vir ons in moderne Afrikaans geskryf is. Ons vergeet so maklik dat ons die Bybel eintlik oor die skouers van die eerste lesers/hoorders lees (i.e. die mense aan wie dit oorspronklik geskryf is). En hierdie eerste lesers/hoorders het nie net ‘n ander taal as ons gepraat nie, maar ook heeltemal ander gebruike en gewoontes as ons gehad. As ons dit vergeet, ontstaan daar baie probleme met die verklaring van die Bybel.

Dit is juis met knelpunte – soos wat die kerk se standpunt oor aborsie moet wees – dat ons die bogenoemde konstant voor oë moet hou. Wanneer ons na antwoorde op so ʼn vraag soek, is dit uiters noodsaaklik dat ons op hoogte moet wees met die kulturele raamwerk waarbinne die Bybelskrywers daardie bepaalde stellings wat ons in ons argument wil gebruik gemaak het, anders kan ons dit maklik verkeerd verstaan. Ons moet dus so veel as moontlik kennis hê van die waardes, gewoontes, gebruike en instellings van mense in die Bybelse tyd. Dan eers kan ons begryp hoe die Bybelskrywers uitdrukking gegee het aan God se openbaring binne hulle eie lewenswêrelde, en vandaar af kan ons die boodskap van die Bybel korrek na ons moderne wêreld toe kan oordra. Malina noem dit ‘n “inkarnatiewe benadering” tot die Nuwe Testament. Daarmee word gepoog om die leser in staat te stel om hom of haar met fundamentele waardes en perspektiewe uit die antieke Mediterreense wêreld te vereenselwig, aangesien hierdie waardes en perspektiewe ten grondslag van die hele Nuwe Testament lê. Maar hierdie Mediterreense waardes en perspektiewe sal ook telkens verduidelik en in verband gebring word met die Nuwe-Testamentiese teks.

In hierdie bydrae val die soeklig veral op die Nuwe Testament met die doel om die kulturele raamwerk waarbinne die verskillende Nuwe-Testamentiese uitlatings oor huwelike, vroue, reproduksie, gesinne en kinders ontstaan het, te ontsluit. Behalwe vir een of twee uitsonderings is al die dokumente van die Nuwe Testament gedurende die eerste eeu na Christus binne die oostelike gedeelte van die Mediterreense wêreld geskryf. Breedweg omvat dit die gebied rondom die Middellandse See, vanaf Palestina tot by Rome. Aangesien dit ‘n baie groot gebied is, gaan ons poog om ‘n geheel indruk of ‘n scenario van die Mediterreense wêreld daar te stel. Gevolglik sal ons redelik veralgemenend te werk gaan en aan tipiese waardes, kenmerke en gebruike van die wêreld van die eerste eeu aandag gee. Ons gaan ook dan telkens kyk hoe die Nuwe Testament hierby aansluit. Dit sal ons nie alleen help om die Nuwe Testament mooi in verband te plaas nie, maar ook om die Bybelboeke met groot omsigtigheid te hanteer wanneer ons vra wat hulle boodskap vir ons eie samelewing is.

ʼn Eerste belangrike kopskuif om te maak waar dit die verskil tussen ons en die mense van die eerste eeu aangaan is dat, waar ons absoluut gefokus is op die individu, die wêreld van die eerste eeu glad nie plek gehad het vir individualisme nie. Die verskillende groepe (soos die familie, die plaaslike gemeenskap, dorp, stad, stam of volk) waartoe persone behoort het, het mense se identiteit bepaal. Aangesien rolle binne hierdie groepe baie stereotiep van aard was, was aangeleenthede wat vandag vir ons geweldig belangrik is – soos persoonlike regte, eie keuses en die reg tot vrye assosiasie – glad nie (hoog) op die agenda nie. Individue het dus nie veel seggenskap gehad oor sake waaroor die meeste moderne mense op hul eie kan besluit, soos met wie hulle wou trou, watter beroepe hulle sou volg, met wie hulle vriende wou wees, watter godsdiens hulle wou aanhang, en dies meer, nie. Die groter groepe, en met name die familie as die belangrikste instelling gedurende die eerste eeu, het meestal die finale sê oor hierdie aangeleenthede gehad. Aangesien die groep, individue se waardes en gedrag in ‘n groot mate bepaal het, was dit noodsaaklik vir laasgenoemdes om hulle groepe se waardes en reëls en hulle onderskeie rolle daarbinne so goed as moontlik te ken. Persone was immers absolute lojaliteit aan hulle groepe verskuldig.

Die Patriargale familie as die hartklop van die eerste eeuse wêreld

Al kom daar heelwat positiewe opmerkings oor vroue in die Ou Testament voor, was Jode rondom die eerste eeu van mening dat die vrou ‘n ondergeskikte posisie teenoor die man beklee en dat mans van nature vroue se meerdere was. ‘n Populêre opvatting gedurende hierdie tyd was dat die sondeval by vroue begin het; daarom is hulle ook as meer ydel, materialisties en listig as mans beskou. So het vele Jode byvoorbeeld geglo dat daar drie dinge aan vrouens is wat altyd toe moes wees – hulle monde, bene en hare. Met hulle monde praat hulle allerlei onsinnighede wat hulle mans in die verleentheid kan bring, met hulle bene kan hulle ander mans verlei, en deur met los hare in die openbaar te verskyn, daag hulle hul eie mans se gesag oor hulle uit. Volgens die Misjna, ‘n versameling Joodse mondelinge tradisies en wette wat rondom die derde eeu nC op skrif gestel is, is vroue ook verbied om die wet van God saam met mans te bestudeer. Een rabbi het selfs so ver gegaan om te sê dat ‘n vrou soos ‘n stuk vleis is waarmee ‘n man kan maak net wat hy wil. Dit was natuurlik nie net in die Joodse wêreld waar die vrou ‘n ondergeskikte rol teenoor die man beklee het nie. Ook in die Grieks-Romeinse wêreld, waar vroue oor die algemeen meer geëmansipeerd as in die Joodse wêreld was, was die man steeds die onbetwiste hoof. Daarom kon die groot Romeinse filosoof Seneka by geleentheid skryf dat die man gemaak is om te heers en die vrou om te gehoorsaam en te swyg.

Uit die enkele voorbeelde wat hierbo opgenoem is, blyk dit dat mans vroue nie as hul gelykes beskou het nie. Veral binne die Joodse wêreld was mans deeglik bewus van die feit dat hulle die belangrikste van al God se skepsels is. Aan hulle, en nie aan vroue nie, is die opdrag tot voortplanting immers gegee. Hulle moes egter nie alleen net die menslike geslag in stand hou nie, maar moes ook namens hulle families alle godsdienstige funksies verrig, soos om in die tempel te offer en die sinagoge te besoek.

Afgebakende rolle vir elke lid van die gesin

Soos met alle ander sosiale strukture in die Mediterreense wêreld, is alles en almal binne die familie in terme van geslagsrolle beoordeel. Selfs artikels wat in en om die huis gebruik is, is hieraan gekoppel. Kombuis-apparaat is byvoorbeeld as vroulik beskou, terwyl landbou-apparate weer manlik was. Op hulle beurt is bokke weer veral binne die vroulike terrein rondom die huis en in die binneplaas aangetref, terwyl skape op manlike terrein in die veld voorgekom het. Vroulike ruimtes het die kombuis, die binneplaas en die binnekant van die huis ingesluit, terwyl die manlike ruimte veral buitekant die huis was. Mans en vroue se pligte en plekke is ook ooreenkomstig hierdie ruimtes toebedeel.

Die paterfamilias

Die vader was uiteraard die belangrikste figuur binne die eerste-eeuse familie. Veral binne die Romeinse wêreld het die vader lewenslange mag oor sy gesin gehad, selfs al het sy kinders later getrou en ‘n eie huishouding begin. Kinders kon byvoorbeeld geen grond van hul eie koop of besit, of ‘n testament opstel sonder hulle vader se toestemming nie. Die beheer van die Romeinse vader oor sy gesin (bekend as patria potestas) het verder behels dat hy die reg gehad het om eers na die geboorte van sy kinders te kon besluit of hy hulle wel as sy kinders wou aanvaar of nie. Sou hy byvoorbeeld besluit om ‘n kind nie as sy eie te aanvaar nie, is so ‘n baba gewoonlik op een van die ashope buite die dorp of stad weggegooi. Terselfdertyd het ‘n vader ook die reg gehad om sy kinders as slawe te laat verkoop of selfs om hulle te laat doodmaak indien hulle nie aan hom gehoorsaam was nie. Hierdie mag van lewe en dood van ‘n vader oor sy kinders is trouens eers in die jaar 374 nC deur keiser Valentinianus herroep. Alhoewel ons nie dieselfde tipe wette rakende die vader se gesag oor sy gesin in die Joodse wêreld aantref nie, was die vader ook hier die onbetwiste hoof aan wie sy kinders absolute gehoorsaamheid verskuldig was. Dit was die Mediterreense vader se taak om in sy familie se behoeftes aan kos en klere te voorsien. Terselfdertyd het hy ook die plig gehad om sy gesin in die openbaar (dit wil sê, by die vergaderplekke van mans, soos die stads- of dorpsplein) en by die kultus te verteenwoordig en om hulle goeie naam te beskerm. Hy moes ook sy kinders help opvoed. So is daar byvoorbeeld van Joodse vaders verwag om hulle seuns te onderrig in die gebooie van die Here en om hulle, na hulle twaalfde jaar, saam te neem na die openbare godsdienstige byeenkomste.

Die vrou

Vroue se plek was binne in die huis, soos wat ons reeds hierbo geïllustreer is. Dit is van enige betaamlike vrou verwag om so min as moontlik in die openbaar te verskyn. Net wanneer sy na die tempel toe gegaan het om te bid, of om kos en ander lewensmiddele op die mark te gaan koop, is sy gewoonlik toegelaat om (gesluierd!) buite haar huis rond te beweeg. Die bekende eerste eeuse Joodse filosoof, Filo van Aleksandrië, het in hierdie verband gesê dat vrouens egter nie op die besigste tyd van die dag na die tempel moes gaan nie. Dit kon dalk die verkeerde indruk wek, aangesien vroue van losse sedes dikwels (ongesluierd) in die openbaar rondbeweeg het. Die vrou se plig binne die huis was om kos te maak, die kinders te versorg en die algemene huishouding te behartig. Wanneer haar seuns tot trou gekom het, was dit ook haar taak om haar nuwe skoondogter, wat in die Joodse wêreld gewoonlik by haar skoonfamilie ingetrek het, touwys te maak in die verskillende reëls en gebruike van die familie.

Die huwelik

Huwelike is gedurende die eerste eeu oor die algemeen op ‘n baie vroeë ouderdom aangegaan. In die Joodse wêreld het meisies gewoonlik rondom hulle twaalfde tot dertiende jaar verloof geraak en ‘n jaar daarna tot trou gekom. Mans se trou-ouderdom het tussen sestien en agttien jaar gewissel. In die Romeinse wêreld was die trou-ouderdom van mans en vroue nie veel hoër as dit nie. Trouens, keiser Augustus moes by geleentheid selfs ‘n wet maak wat meisies verbied het om onder twaalfjarige ouderdom te trou.

Ouers het gewoonlik lank voor die tyd besluit met wie hulle kinders sou trou. Kinders se eie gevoelens en persoonlike voorkeure was nie van belang wanneer hul huwelike ter sprake gekom het nie. Veel eerder moes kinders hul vader se gesag en goeie oordeel eerbiedig deur te trou met die huweliksmaat van sy keuse. Huwelike is rondom die eerste eeu hoofsaaklik ter wille van prokreasie aangegaan, en nie ter wille van liefde nie. Liefde was iets wat ná die huwelik moes bykom. Kinderloosheid, wat altyd voor die deur van die vrou gelê is, is as ‘n baie groot probleem beskou. Binne die Joodse wêreld is mans daarom toegelaat om van hul vrouens te skei indien hulle vir ‘n tydperk van tien jaar nie kinders kon voortbring nie. Egskeiding is ook toegelaat indien vrouens hulle aan skandelike gedrag skuldig gemaak het. Uiteraard was daar groot verskil van mening onder die rabbi’s oor wat as skandelike gedrag beskou moes word. Meestal is owerspel as sodanig getipeer, maar party rabbi’s het selfs so ver gegaan om te sê dat wanneer vroue met los hare in die openbaar verskyn, of hulle mans se kos gereeld verbrand, mans van hulle kon skei.

Teenoor die klem op prokreasie as die hoofdoel van die huwelik in die Mediterreense wêreld, val die fokus binne die Nuwe Testament primêr op die harmonieuse verhouding tussen die huweliksgenote. Die skeppingstradisie in Genesis, waarvolgens man en vrou een binne die huwelik word, word telkens in die Nuwe Testament aangehaal wanneer die wese van die huwelik as ‘n Goddelike instelling ter sprake kom (sien ook Mark 10:6; Ef 5:31). Lewenslange affiniteit, en nie die soeke na allerlei wettige skuiwergate om te mag skei nie, vorm nou die basis van die huwelik (kyk Matt 5:31-32; Mark 10:1-10).

Aan die een kant onderskryf die Nuwe Testament die eerste eeuse opvattinge oor die rol van man en vrou binne die huwelik. So word daar byvoorbeeld van vroue verwag om onderdanig aan hul mans as die hoof van die huishouding te wees (Ef 5:22-24). In 1 Petrus 3:6 word vroue selfs aangemoedig om hulle gedrag op dié van Sara te skoei wat haar man Abraham as my heer aangespreek het. Hierteenoor moet mans aan hul vroue as die swakker geslag eer bewys (1 Pet 3:7).

Aan die ander kant word die rolle van man en vrou egter ook aangepas. Volgens die Sinoptiese Evangelies deurbreek Jesus byvoorbeeld die stereotipiese eerste-eeuse opvattinge oor vroue deur met hulle in die openbaar te praat, hulle godsdienstig te onderrig, en hulle in die groep op te neem wat in die openbaar saam met Hom deur Galilea rondbeweeg het (sien ook Luk 8:1-3; 10:3-42). Hierdie radikale verhoging van die vrou se sosiale status deur Jesus vind ook neerslag in Paulus se opmerkings oor die rol van man en vrou binne die huwelik in Efesiërs 5. Alhoewel hy hier aansluit by heersende eerste-eeuse opvattinge, soos hierbo vermeld, pas Paulus dit egter aan deur byvoorbeeld ook vir die mans op te roep om aan hul vrouens onderdanig te wees (vers 21) en hulle lief te hê (vers 25). Hy begrond ook man en vrou se optrede jeens mekaar in Christus se sterwe. Hulle moet met ander woorde nou, na voorbeeld van Christus se opofferende gedrag, hulle rolle binne die huwelik herdefinieer en op ‘n nuwe manier teenoor mekaar optree.

Seuns en dogters

Soos te verwagte, is seuns binne die Mediterreense wêreld rondom die eerste eeu, belangriker as dogters geag. Die grootste deug van enige meisie was haar seksuele reinheid. Slegs meisies wat hulle maagdelikheid behou het, kon naamlik verwag om ‘n goeie man as huweliksmaat te verkry. Daarom moes moeders hulle dogters so ver as moontlik uit die openbare oog hou sodat hulle nie in onnodige versoekings kon beland voor hul troue nie. Aangesien seksuele verhoudings voor of buite die huwelik meestal met afkeuring bejeën is, het ‘n situasie waar ‘n dogter voor haar troue saam met ‘n man weggeloop het ‘n groot skande oor die gesinshoof en sy familie gebring. Indien ‘n vader nie baie streng teen so ‘n skandemaker opgetree het nie, het sy eervolle posisie in die openbaar in die gedrang gekom aangesien hy dan beskou is as iemand wat nie sy huishouding kan beheer nie. Gewoonlik was dit dan die oudste seun se plig om namens sy vader hulle familie se naam in ere te herstel. Een van die mees effektiewe (en eerbare) maniere waarop dit gedoen kon word, was om die oortreder dood te maak (sien ook Deut 21:18-21). Terwyl dogters se plek binne-in die huis saam met hulle moeders was, kon seuns, soos wat hulle opgegroei het, egter al hoe meer saam met hul vaders in die openbaar rondbeweeg. Na hul huwelik het seuns gewoonlik in hul ouerhuise saam met hul nuwe vrouens aangebly. Dit was uiteindelik ook hulle taak om hul ouers op hulle oudag te versorg.

Gehoorsaamheid van kinders aan hul ouers word sterk in die Nuwe Testament beklemtoon (kyk Ef 6:1-3; Kol 3:20). Ouers kon hulle kinders dissiplineer (Ef. 6:4), maar hulle het nie die reg gehad om hulle dood te maak indien hulle ongehoorsaam was nie. Die verhouding tussen ouers en kinders is eerder as ‘n wederkerige verhouding beskou wat ook bepaalde verpligtinge op veral die vaders se skouers geplaas het, soos om hulle kinders met wysheid op te voed en nie foutvinderig te wees nie (Kol 3:20). Dat die vroeë Christene hulle kinders inderdaad met groot deernis grootgemaak het, blyk onder andere uit ‘n opmerking in een van die vroeë Romeinse bronne dat hulle nie, soos vele mense binne die Romeinse Ryk, hulle babas op die ashope weggegooi het nie. Volgens die beskikbare inligting is kinders ook as ‘n wesenlike deel van die kerk beskou. Daarom het hulle ook deel gehad aan gemeentelike aktiwiteite soos die doop, onderrig, gemeenskapsmaaltye en eredienste (sien ook Hand 16:33-34; 1 Kor 1:16).

Teenoor die skerp onderskeid tussen seuns en dogters in die antieke wêreld, verwys die Nuwe Testament hoofsaaklik op ‘n neutrale wyse na kinders wanneer daar in groepsverband van hulle sprake is. Terselfdertyd verkry kinders hier besondere prominensie. Jesus genees byvoorbeeld ‘n hele aantal kinders, soos die dogter van die Kanaänitiese vrou (Matt 15:21-28), en ‘n versteurde seun (Matt 17:14-18). Die bekendste episode rakende kinders in die Nuwe Testament is sekerlik die episode waar vroue hulle kinders in die openbaar na Jesus toe gebring het om geseën te word (Mark 10:13-16). Die dissipels tree egter korrek op deur met die vroue te raas oor hul voorbarige gedrag om Jesus in die openbaar lastig te val. Tog wys Jesus sy dissipels tereg en seën wel die kinders. Wanneer Jesus se dissipels by geleentheid bespiegel wie die belangrikste binne die koninkryk van God kon wees, gebruik Jesus ‘n kindjie as voorbeeld van vernaamheid (Matt 18:1-5). Kinders word dus tekenend van die feit dat rolle binne die koninkryk van God heeltemal omgeruil het. Hierbinne word ware grootheid nie langer aan geslagsrolle, sosiale status of ouderdom gekoppel nie, maar wel aan dienslewering en nederigheid.

Samevattend

Vanuit die bogenoemde behoort dit duidelik te word dat, wanneer ons die Nuwe Testament lees op soek na klinkklare antwoorde oor aborsie, ons in gedagte moet hou dat:

  • Kinders nie in alle omstandighede die reg om te lewe gehad het nie – die hoof van die huishouding kon tot na geboorte steeds die kind verwerp, of in slawerny in verkoop.
  • Die huwelik gefokus was op prokreasie, maar dan nie uit ʼn liefde vir kinders nie, eerder om sodoende te verseker dat die familienaam en eer voortleef, en dat daar iemand is om na die ouerwordendes om te sien.
  • Vroue beskou is as gevaarlik, en kon slegs as die eiendom van ‘n man beheer word. Die idee van vroueregte het geensins bestaan nie.
  • Die eerste-eeuse wêreld se kennis van die biologiese aspekte van seks en voortplanting baie anders was as wat vandag se mediese wetenskap toelaat. Vroue is byvoorbeeld beskou as bloot die saailand waarin die man se saad gesaai is en gegroei het. Die vrou se rol in bevrugting en ontwikkeling van die ongebore baba was dus minimaal en passief – lewe het van die man se saad gekom, sy het bloot die voorreg gehad om daardie lewe te laat ontwikkel. Wat sou die effek daarvan wees op hoe die eerste-eeuse mens oor swangerskap en aborsie gedink het?
  • Waar seksuele skandes plaasgevind het – soos verkragting – was die straf blitsvinnig en altyd op die vrou toegepas (sy is immers as die groot verleier beskou). Daardie straf was gewoonlik die dood. Hedendaagse situasies soos die hantering van swangerskappe weens verkragting en hoe om moreel-eties daarmee om te gaan, was gewoon nie ter sprake nie.
  • Vroue en fetusse/babas is baie meer gereeld in die verskillende fases van swangerskap en geboorte oorlede, juis omdat higiëne nie werklik bestaan het nie, en daar nie dieselfde tipe mediese intervensie beskikbaar was as vandag nie.

4.2 Dogmatiek en ekklesiologie

Wanneer die vroeë Christelike tekste van die eerste eeue nC bestudeer word, wil dit voorkom of daar redelike ooreenstemming was dat aborsie nie ‘n aanvaarbare praktyk was nie. Enersyds, ter motivering vir die hoë morele posisie van Christene – met die oog op guns by hul politieke regeerders; anersyds, weens die klem op prokreasie binne die kontoere van die Joodse wortels van die Christelike beweging, sowel as die verwagtinge binne die Romeinse Ryk.

Of aborsie wel sondermeer as moord beskou was (soos wat dikwels vandag aangevoer word deur teen-aborsie ondersteuners), is nie duidelik nie; dit wil voorkom of daar verskil van mening hieroor was.

Dit is noodsaaklik om die vroeë Christendom se beskouinge oor aborsie binne die raamwerk van hul beskouinge oor die huwelik, seksualiteit, en prokreasie te verstaan. Hierdie is ‘n komplekse en ryke geskiedenis, waarbinne daar ook verskillende tradisies en denkskole ontstaan het.6 Vir die doeleindes van hierdie gespreksdokument en weens beperkte spasie, word daar vir eers by bogenoemde opmerkings volstaan.

Die historiese ontwikkeling van die Christelike tradisie se beskouinge van aborsie is ‘n nuttige tema om te oorweeg – beide vanuit ‘n kerk-historiese en hedendaagse ekklesiologiese perspektief. Waar kom ons vandaan, en hoe sien die landskap van hedendaagse Christelike beskouinge oor aborsie daarna uit? Hierdie temas sou beslis aandag kon geniet met die ontwikkeling van verdere materiaal vir hierdie gespreksproses oor aborsie.

4.3 Etiek

Met die oog op etiese besinning oor aborsie vanuit ‘n Christelik-teologiese perspektief, word ‘n insetsel deur ‘n Suid-Afrikaanse etikus aangebied:

4.3.1 “Hoeveel onse is in jou pond”? Die problematisering van etiese besluitneming ten opsigte van aborsie:

Daar is vier kontoere wat die raamwerk vorm van hierdie kort inset oor etiese besluitneming ten opsigte van aborsie:

  • Die problematiek van ʼn binêre verwysingsraamwerk
  • Die problematisering van “keuses”
  • Die teorie/ model oor “reproduktiewe geregtigheid”
  • Die teorie van “interseksionaliteit”

Die uitstaande kenmerk van die aborsie-debat is dat dit ʼn opponerende of binêre karakter het. “Binêr” is ʼn verwysingsraamwerk (of ʼn stelsel van taal en denke) waarin twee konsepte teenoor mekaar gestel word as die enigste moontlikhede om die werklikheid te verstaan en te beskryf terwyl die kontinuum of glyskaal van moontlikhede wat tussen die twee uiterstes bestaan, nie erken word nie. Dit is ʼn nadelige nalatenskap van ʼn Westerse filosofiese denkraamwerk waarin afgegrensde rasionaliteit die enigste manier is om sin te maak van wat om jou aangaan. In die proses sukkel mense meestal met enige iets wat nie binne die afmetings van die twee uiterstes pas nie. Die gevolg is ʼn onvermoë om kompleksiteit te kan benader of te waardeer, wat veroorsaak dat mense gemakliker is om hulleself en ander in een van die teenoorstande “kampe” te plaas.

In ʼn binêre aborsie-debat word kampe gevestig gegrond op die oortuiging dat die een standpunt noodwendig die ander een teengaan of uitsluit. Byvoorbeeld, vroue se reg om keuses uit te oefen ten opsigte van hulle biologiese vermoë om kinders te baar sluit per implikasie die moontlikheid uit om lewe te beskerm. Of, van die ander kant af beskou, sal ʼn keuse om die swangerskap enduit deur te sien, outomaties daarop neerkom dat daardie vrou nie die keuse uit vrye wil geneem het nie. Dit is ʼn valse teenstelling, want om ten gunste daarvan te wees om keuses te kan maak, beteken nie dat jy gekant is teen lewe nie, of nie vir iemand lewe gun nie. Om lewe te waardeer, kan omgekeerd ook nie beteken om gekant te wees teen iemand se reg en vermoë om vir hulleself te kies en besluite te neem nie. In aborsie-debatte word daar op hierdie manier ʼn wedersydse uitsluitende raamwerk gevestig waarin ʼn sogenaamde pro-life oortuiging outomaties die vyandige teenoorgestelde is van ʼn sogenaamde pro-choice oortuiging. Dit is ʼn oorvereenvoudiging van die kompleksiteit en misterie van menswees, terwyl dit ook getuig van ʼn bepaalde naïwiteit of doelbewuste verontagsaming van die reeks kwessies wat verweef is met kinders verwek en kinders baar en kinders aan die lewe hou en kinders grootmaak.

Vanuit ʼn binêre verwysingsraamwerk waarin lewe ongekwalifiseerd en in alle omstandighede “goed” is, en dood “sleg” is, kan lewe die vyand word van lewe self. Om lewe te skenk, is een ding. Maar kan daardie lewe wat geskenk word, in stand gehou word? Wie se verantwoordelikheid is dit? Is lewe in alle gevalle ʼn geskenk? Is die gebeure wat lei tot die ontstaan van die nuwe lewe, in alle gevalle “mooi”? En is die omstandighede waarin lewe verwek word, vir almal dieselfde?

Aldus die opskrif van hierdie inset: hoeveel onse is in jou pond? As “ons” (die Kerk?) argumenteer oor die etiek van aborsie, watter “ons” het ons in ons visier? Watter “ons” bepaal ons verwysingsraamwerk? Is dit ʼn wit, middelklas, Afrikaanssprekende, Christelike gesin, wat bestaan uit ʼn pa en ʼn ma? Wat toegang het tot gesondheidsorg? En wat die bevoorregting geniet dat hulle (wit mense) se fisiologie as verwysingsraamwerk gebruik word vir mediese wetenskap en navorsing? Die vraag is of ʼn algemeen geldende reël oor die definisie van reproduktiewe gesondheid oor kulture heen vasgestel kan word? Het almal dieselfde “toegang” tot dieselfde omvang van keuses? Dis een ding om te argumenteer dat aborsie oor keuse handel – maar watter tipe keuses is beskikbaar vir diegene wat dit moet maak?

“… when we rely on choice as our main framework for understanding women’s reproductive and sexual experiences, reproductive health matters become configured from a commodity perspective…consequently, the processes and circumstances that inform how individuals and communities perceive and negotiate their sexual and reproductive freedoms, are obscured – the social, political and economic factors that surround how choices are made, become hidden… against a global backdrop of legacies of colonialism, exploitation, and economic and social and political disenfranchisement that carry on through generations, we need more than choices7

Reproduktiewe geregtigheid is dus ʼn meer behulpsame konsep vir ʼn verwysingsraamwerk of vertrekpunt oor etiese besluitneming as “keuse” en “binêre opposisies”. Reproduktiewe geregtigheid neem die kruising (interseksie) van verskillende identiteitsmerkers in gedagte en hou dus verband met die teorie van interseksionaliteit. Dit beteken dat verskillende aspekte van menslike identiteit op verskillende maniere saamvloei om “geleefde ervarings” anders te maak. Dit beteken dat verskillende lae van bevoorregting doelbewus onder die vergrootglas geneem moet word oor hoe dit sogenaamde “vrye keuses” beïnvloed.

Reproduktiewe geregtigheid is ʼn holistiese model wat drie beginsels insluit:

  1. Die reg om nie kinders te hê nie;
  2. Die reg om kinders te hê;
  3. Die reg om ouer te wees van kinders wat jy reeds het. Laasgenoemde hou ook verband met:
  • Die problematiese fenomeen van gedwonge sterilisering of dwang-aanneming wat voorkom onder gemarginaliseerde vroue wat deel is van inheemse gemeenskappe (vir kultuur-ideologiese en polities-sosiale redes);
  • Die assessering oor watter ouers wat die reg het om ouers te wees, wel die vermoë en kapasiteit het om ouers te wees.

Ten slotte

Die Christelike tradisie het die onbenydenswaardige geskiedenis dat daar dikwels op onkritiese en oneerlike wyse binne ʼn bepaalde Christelik-etiese raamwerk met die kwessies van verhoudings, seksualiteit, seks en gender (geslagsrolle) omgegaan word. Onkrities en oneerlik omdat die wyse waarop vroue se liggaamlikheid deur eeue van die Christelike kerk se geskiedenis op ʼn negatiewe wyse anders as die liggaamlikheid van mans benader is, nie genoegsaam erken is nie. Onkrities en oneerlik omdat die teoloë wat ʼn wesenlike invloed gehad het op die Christelike kerk se benaderings tot menslike verhoudingsvorme en menslike seksualiteit, doelbewus vroue se liggaamlikheid verdag gemaak het en as die wortel van alle kwaad voorgestel het. Dit het die direkte gevolg gehad dat seks slegs ter wille van voortplanting (prokreasie) bevorder en beklemtoon is en dat enige iets wat die “natuurlike doel” van geslagsgemeenskap (en per implikasie die Godgegewe rol van moederskap) in gevaar stel, noodwendig onnatuurlik, oneties en immoreel is. Op hierdie wyse het aborsie die vyand van hierdie vorm van Christelike etiek en moraliteit geword.

4.4 Pastoraat

Soos later in die dokument duidelik sal blyk, is daar binne die kerk veral behoefte aan riglyne vir pastorale begeleiding van individue, paartjies en groepe rakende aborsie.

Twee kenners in die gebied van pastoraat lewer vervolgens waardevolle bydraes in hierdie verband:

4.4.1 Aborsie: ʼn Paar opmerkinge vanuit die pastoraat

Aborsie is ʼn realiteit in alle gemeenskappe, klasse, onderdomme en geloofsgroepe. Hoewel aborsie al ʼn geruime tyd wettig is in ons land, wel binne bepaalde voorskrifte, is dit steeds onstellend dat daar voortdurende agterstraat aborsies plaasvind wat lei tot permanente emosionele, fisiese en geestelike skade vir baie vroue wat daarvoor kies. Meer ontstellend is die impak wat dit het op die relasies waarbinne die persone betrokke hulleself bevind op verskillende vlakke van hulle familie-sisteem.

Die stelling kan met reg gemaak word dat pastoraat is etiek en etiek is pastoraat. Hoewel die stelling die velde van die pastoraat en die etiek nou koppel aan mekaar, is dit tog krities om te bevestig dat pastoraat nie moralisme of ‘n moralistiese verstaan van etiek kan ondersteun nie. Die pastoraat kan moeilik oordele uitspreek of kant kies omdat die pastoraat werk met alle persone betrokke wanneer daar van aborsie sprake is. Om die rede kan die pastoraat nie ‘n morele standpunt inneem of aborsie reg of verkeerd is nie. Daar is mense wat meen dat besluite in die hede, bepaal die kwaliteit van die volgende generasie. Dit kan dus die rede wees waarom ‘n keuse vir aborsie beskou kan word as ‘n keuse vir die mens, om hulle nageslag te kan bepaal of nie. Aan die ander kant is ‘n absolute nee vir aborsie onder alle omstandighede ook moeilik om te onderhou wanneer ‘n mens ‘n etiek in ag neem wat gefokus is op die lewensgehalte en die implikasies van keuses in die hede, met die oog op die toekoms.

Wanneer die pastoraat via die pastorale versorger betrokke raak by ʼn persoon wat oorweeg om te aborteer of wat reeds geaborteer het, gaan dit ten alle tye oor die relasioneel-etiese. Van die begin af is daar ‘n beweging van etiek tussen die verhoudings waarbinne ‘n persoon ingeweef is as dit kom by die keuse vir of teen aborsie. Daar vind ‘n wedersydse gee en ontvang plaas tussen ouers en kinders, grootouers en kinders, beduidende ander en kinders en ook individue met mekaar. Die mate waartoe hierdie balanse betroubaar is, beïnvloed die manier waarop ‘n persoon op ‘n min of meer konstruktiewe of vernietigende manier aan ander kan gee.

In die ontmoeting van die pastorale versorger met persone betrokke by ʼn aborsie en die relasies waarbinne so ʼn persoon ingeweef is, maak die pastoraat gebruik van die Dialoog Intergenerasionele Pastorale Proses (DIPP). Hierdie benadering fokus veral om met almal betrokke deur middel van ware dialoog (nie net gesprek nie) en egte ontmoeting met almal betrokke (individue en as familie) ʼn pad te stap na heling. Dit fokus veral op die intergenerasionele dimensie, omdat die keuse vir of teen aborsie nie net ʼn inpak het op die vorige generasies nie, maar ook op die generasies wat kom.

Aborsie het, soos ons deeglik daarvan bewus is, die vermoë om konflik te skep tussen mense. Die konflik moet hanteer en gefasiliteer word om groter begrip tussen mense en kulture in die algemeen te bring, sodat vertroue herstel kan word en heling kan volg. Die doel van DIPP-benadering is om te poog om vertroue in menslike verhoudings te herstel, wat skade gely het deur lyding, trauma en skeiding wat deur konflik veroorsaak word. Binne hierdie konteks word heling en hoop van die belangrike sleutelwoorde.

Binne die pastoraat is dit beduidend dat pastorale versorgers ʼn verantwoordelike hermeneutiek toepas. So ʼn hermeneutiek beskou alle verhoudings as eties. Verhoudings is eksistensieel anders as net gesprekke met mekaar. Dit word gebaseer op ontmoeting. Wanneer die pastorale versorger iemand ontmoet binne die realiteit van aborsie word die persoon nie geobjektiveer nie, want dit verbreek die verhouding en vertroue. Ontmoeting beteken om ʼn keuse te maak vir subjektiwiteit en intersubjektiwiteit te skep deur vertroue en geregtigheid in etiese oomblikke van betroubaarheid. ʼn Pastorale hermeneutiek is gerig op ‘n etiese teologie van hoop en ‘n pastorale houding wat breër is as net ‘n fokus op die individu.

As kern uitgangspunt en houding van die DIPP, moet die pastorale versorger juis agter die stoel kan gaan staan van diegene wat pro-aborsie is en ook die wat teen aborsie is – selfs ook agter die stoel van die een wat geaborteer is. Dit word altyd van die pastoraat verwag om alle eers agter die stoel te staan van die mees kwesbare. Hoe dit ook al sy, die keuse vir aborsie of teen aborsie kan nie net beperk word tot ʼn individu nie omdat die individu gekoppel is aan verhoudings met ander binne die huidige generasie, die vorige generasies en die generasie wat volg.

Die pastoraat het dus ten diepste ten doel om ʼn persoon binne die netwerk van verhoudings (konteks) waarin hulle is en veral tussen verskillende generasies te verstaan. Niemand kan alleen deur hom-/haarself bestaan nie. Ons is altyd verbind aan ‘n beduidende ‘ander’ en selfs met beduidende andere. Die DIPP help ons om seker te maak dat die persoon met wie ons betrokke is, gesien word as onafskeidbaar van sy/haar netwerk (konteks). Elke persoon het ‘n pa en ma, maak nie saak of hulle in staat is om vir hul kinders te sorg of nie. Die individu is primêr verbind aan hulle familie (ook die verlede generasies en die wat nog kom). So is die ma wat swanger is ook verbind in relasies met vriende, tydgenote en ook die pa van die ongebore baba en sy familie.

Soos reeds aangedui, kan ʼn keuse vir of teen aborsie konflik veroorsaak in ʼn persoon se lewe, en word ander in die familie of vriendskappe daardeur geraak. Baie van die keuses wat mense maak vir of teen aborsie het te make met destruktiewe familie lojaliteite of ander lojaliteite. Hierdie onafskeidbare vertikale lojaliteit tussen familielede van verskillende geslagte is ʼn gegewe, daarom gebeur dit dat hierdie lojaliteit die keuses wat ons maak en die prioriteite wat ons stel, vooraf bepaal. Dit kan ook wees dat die horisontale lojaliteit binne die verhouding met die ‘pa’ van die baba ook die keuse vir of teen aborsie kan beïnvloed. In baie gevalle beleef die ma dat sy vasgevang is tussen die botsende konflik wat bestaan deur die sienings van die verskillende rolspelers in haar lewe. Sy beleef dus lojaliteite konflik. Daarom, om pastoraal met mense wat geraak is deur aborsie te reis na heling, is dit noodsaaklik dat almal betrokke moet deelneem aan die proses. Wat duidelik is, is dat familiale lojaliteit nie net die vorige generasie beïnvloed nie, maar ook die bestaande kinders sowel as die volgende generasie.

Soos reeds aangedui gaan dit in die pastoraat binne die DIPP om vertroue te herstel sodat heling en heelheid kan plaasvind. Vertroue in die pastorale proses is krities binne verhoudings. Waar daar nie vertroue is nie is die neiging om trauma, konflik, keuses, skuld, skaamte, ens. te onderdruk. Wanneer trauma onderdruk word kan dit enige oomblik weer geaktiveer word en sal dit ʼn destruktiewe impak hê op die persoon en die betrokke verhoudings. Die pastoraat moet dus deur middel van die pastorale versorger alles doen om te verseker daar ruimtes geskep word waar daar vertroue is, sodat die persone betrokke in alle eerlikheid kan reflekteer op hulle pad na heling en heelheid.

In terme van aborsie kan ʼn persoon wat sy of haar skaamte onderdruk, beleef dat skaamte ‘n emosie van selfassessering is. Benewens skaamte, neem skuld oor ʼn keuse of ʼn trauma die plek in as ‘n emosie van negatiewe selfassessering. Aan die positiewe kant weerspieël trots en selfbeeld gunstige assesserings van die self. Van die twee emosies van negatiewe assessering is skaamte die moeiliker een om te erken en te eien. Dikwels gebruik ons minder pynlike terme vir die oomblikke wanneer skaamte ons oorweldig: “ongemaklik”, “skaam” of “dom.” Hierdie versagtende beskrywings van sulke oomblikke gee ons belangrike leidrade oor die aard van skaamte. Skaamte is die bewustheid van die self soos geopenbaar aan ander, of aan die self, as gebrekkig, ontbrekend of onvoldoende. Skaamte behels ‘n pynlike selfbewussyn waarin ons blootgestel voel aan ander en aan onsself; as gebrekkig, swak of hulpeloos – en in die ergste geval, veragtelik.

Met skaamte is die negatiewe selfevaluering egter meer holisties. Dit is die self wat ek is wat ek nou as gebrekkig of onwaardig moet beskou. Geestelik hou skaamte verband met die diepste plekke van waarheid in ons bestaan. Skaamte sny tot diep in ons hart. Skaamte, as ‘n emosie, hou ook verband met die sensitiewe gevoelens wat aangeraak word in liefde en in diep gemeenskap met ander. Skaamte beskerm die intimiteit van ons naaste verhoudings met vriende, liefhebbers, gades of kinders. Dit omring ons verhouding met die Heilige of die domein van wat vir ons heilig is. Skaamte ontbloot dus jou identiteit. Skaamte oor keuses of wat trauma veroorsaak, soos aborsie, is ook nie iets wat jy net voel en in die lug los nie dit moet hanteer word om seker te maak dit word nie destruktief nie. Indien skaamte oor ʼn keuse vir of teen aborsie hanteer word, dui dit op ‘n proses van herstel.

Ten slotte

Dit is van kardinale belang om te besef dat die keuse vir of teen aborsie deel is van die realiteit waarin mense hulleself bevind. Die keuse sal altyd ʼn inpak hê op intergenerasionele verhoudinge en op die persoon self. Dit is daarom bepalend dat die pastoraat via die pastorale versorger daarop ingestel moet wees om ruimtes te skep waar daar ware dialoog en ontmoeting plaasvind met diegene wat betrokke is by aborsie, om saam met hulle die pad te stap na heling en heelheid.

4.4.2 Pastoraat en aborsie

Die Nederlandse etikus, Douma, se kort, eenvoudige uitspraak verwoord dat daar dikwels juis nie kort, eenvoudige antwoorde is op etiese vrae nie:

‘n Etiese keuse is nie altyd ‘n keuse tussen goed en kwaad nie.

Dit is soms ‘n keuse tussen kwaad en erger.

Die keuse vir aborsie is sekerlik so ‘n keuse tussen kwaad en erger. Watter kant toe ookal, daar is nie ‘n “goeie keuse” moontlik nie. Anders sou die betrokke persone sekerlik daardie “goeie keuse” uitgeoefen het.

Die “kwaad” en “erger” lê in die moeilike of onmoontlike omstandighede waarin mense hulself bevind, die moeilike of onmoontlike toekoms vir moeder en/of kind. Aborsie word nie juis oorweeg, gekies en uitgevoer waar daar voldoende geborgenheid vir die weerloses is nie.

Dit is vroue wie se liggame in die brandpunt is. Dit is vroue wie se lewe en/of toekoms op die spel is. Dit is kinders wat in ‘n genadelose wêreld ingedwing word, ongeag of daar voldoende sorg, veiligheid, lewensgehalte en ‘n toekoms vir hulle sou wees. Lewe bo alles. Die staat en wetgewing sê so. Die Bybel en kerk sê so. Dit is dikwels die simplistiese, kort antwoord op ‘n allesbehalwe eenvoudige saak.

Pastoraat gaan oor die sorg vir en ondersteuning van weerlose mense, die wat hulle in moeilike of onmoontlike lewensomstandighede bevind. Pastorale betrokkenheid gaan oor saam reis na genesing en, as enigsins moontlik, lewe in oorvloed. Pastoraat berus op ‘n paar ononderhandelbare grondslae – daarsonder niks.

Die reisgenote is gelykes – gelyk in hul gebroke menswees, gelykwaardig voor God na wie se beeld hulle geskape is. Met die twee soorte kundigheid – die pastoraat- en teologiese kundigheid van die een, en die kundigheid oor die eie lewe van die ander – vorm hulle ‘n span wat as gelykes saamwerk om die goeie einddoel te bereik.

Die pastorale grondhouding is empatie – om ‘n myl te loop in die ander se skoene.

Die pastorale grondhouding is nie-oordelend.

Pastoraat staan knie-diep binne-in die werklikheid van mense. Dit kyk nie van buite af of sien van bo af neer op mense nie. Sonder radikale respek vir die ander is heil, heling en gesondheid nie moontlik nie.

Om te kom tot genesing en uiteindelik ook tot lewensgehalte of “lewe in volheid”, is dit nodig om in die pastorale interaksie te onderskei tussen gesonde en verwronge idees oor die werklikheid, mense se aanname oor “hoe dinge maar is”. Wat is vir mense goed en wat is skadelik, is die vraag. Wat dra by tot outentieke menswees en lewe in volheid, en wat doen afbreuk daaraan of ry dit in die wiele?

In Princeton begin Christie Neuger die kursus oor pastoraat met vroue met die woorde: “Do no more harm.” Die implikasie is dat vroue reeds ‘n beduidende hoeveelheid skade opgedoen het teen die tyd dat hulle by ‘n pastorale berader uitkom. Dit is die skade van hul sosialisering as minderwaardige en tweedeklas persone in die samelewing en in die kerk.

Vanweë hul voorgehoue minderwaardigheid bestaan vroue alleenlik ter wille van ander – om te dien en te bedien. Daarom vervul hulle ondersteunende rolle, nie leidinggewende rolle nie. Daarom kan hul liggame soos seks-objekte of slaansakke behandel word. In die aborsiegesprek: vroue kan verkrag, gebruik, misbruik en in die steek gelaat word. Die swangerskap en die kind word hulle probleem. Vroue kán nie net kinders alleen grootmaak nie, hulle móét, ongeag of hulle die middele het, ongeag of hulle die ondersteuning het. Wanneer mans alleen met kinders agtergelaat word, aanvaar die samelewing dat hulle nie in staat is om alleen te sorg nie. Iemand moet kom help en by hulle kom woon “om vir die kinders te sorg” – ‘n ouma, ‘n suster, ‘n skoonsuster.

In die pastoraat word vroue se waarde, identiteit, lewensgeskiedenis en ervarings, asook hul posisie ten opsigte van die magsisteme in die kultuur ondersoek. Die taak van die pastoraat is nie net om individue te begelei op die weg van genesing nie, maar ook waar onreg gepleeg word teenoor die weerloses in die samelewing, vir hulle voorspraak te doen.

Magsisteme soos die regstelsel en godsdienstige instellings behoort die weerloses te beskerm, te ondersteun en regverdig te behandel. Hulle behoort nie verdere skade aan mense aan te rig in die naam van die “beskerming van lewe” nie. Wie se lewe en watter lewe beskerm hulle eintlik?

Soos vroue gesosialiseer is om hulle mindere rolle en die misbruik van hul liggame as “normaal” te aanvaar, so is die kerk en samelewing geïnstitusionaliseer om ‘n manlik-gedomineerde wêreld as “normaal” te aanvaar. Die Nederlandse pastoraatkenner, Riet Bons-Storm, verduidelik dat dit mans se teologiese idees is wat kerklike dogmas, vergaderings se besluite, en die kerklike praktyk bepaal.

In die aborsiegesprek: dit is mans wat praat en besluite neem oor vroue se liggaame en vroue en kinders se lewens. Die teenwoordigheid en stemme van vroue in besluitnemende magsinstansies is feitlik weglaatbaar. Christie Neuger spel die implikasies uit: sulke ekonomiese, politieke, kerklike en familiestrukture verhinder outentieke menswees vir vroue. As hierdie waardes domineer en die stemme van vroue in wie se liggame kinders gedra word, en wat dikwels alleen verantwoordelik vir kinders gelaat (gemaak) word, nie gehoor word nie, het pastoraat met die weerloses in die konteks van die aborsiegesprek geen sin nie.

5. Gespreksgenote aan die tafel: Onderweg na Algemene Sinode 2023

5.1 ASM

In samehang met die gespreksgenote aan die tafel wat tot op hierdie punt aan die woord gekom het, is deel van hierdie gespreksdokument se bedoeling ook om ‘n blik te bied op terugvoer wat by die mees onlangse ASM-vergadering van Maart 2023 ontvang is. ATLAS het die kontoere van die gespreksdokument aan die vergadering voorgehou, en vir ASM-lede gevra om aan die tafels te deel wat hulle raaksien, waarvoor hulle hoop, en wat hulle meen nog aandag sou kon geniet.

Die terugvoer wat ontvang was, kan as volg opgesom word:

  • Klaar uit wat die uiteindelike doel van die gespreksdokument moet wees.
  • Begin with the end in mind.
  • Maak seker wat moet die uitkoms wees.
  • As die doel is om ‘n pastorale hulp vir leraars en beraders te gee, gaan voort, maar indien dit is om ‘n besluit te maak of om ‘n pamflet te hê oor wat aborsie is, ens, mors ons mekaar se tyd.
  • Die doel van die navorsing moet wees om predikante, ouers, medegelowiges toe te rus vir pastoraat in komplekse situasies.
  • ‘n Sterk pastorale benadering is nodig.
  • Indien die doel toerusting vir pastoraat is, moet die taakspan die dokument op ‘n manier verpak wat hierdie doel dien.
  • Ontwikkel rituele om vroue/paartjies deur die pyn/skuldgevoel en rou te begelei.
  • Baie mense beleef die trauma van aborsie jare na die fisiese gebeure en die kerk is nie toegerus om dit te hanteer nie. Deel van die navorsing moet wees om mense toe te rus om die trauma pastoraal te hanteer.
  • Die trauma wat aborsie vir die pa veroorsaak moet ook ondersoek word.
  • Is hierdie ook een van die mees miskende vorme van verlies?
  • Telefoonberading
  • Baby Saver Walls
  • Anonieme platforms om mense te help om in ‘n veilige ruimte te praat.
  • Groot sensitiwiteit en respek nodig vir individuele verhale
  • Groot sensitiwiteit wanneer ons hieroor praat
  • Kies ‘n pastorale model waar die gespreksgenote in die pastorale ontmoeting saam kan soek na helderheid en wysheid.
  • Ons hou van die benadering van etiese bakens eerder as finale uitsprake.
  • Gee inligting vir ‘n goeie pad na onderskeiding.
  • Verduidelik wat geloofsonderskeiding is: Luister na die Gees, na die inligting, na mense wat geraak is.
  • Voeg ‘n dialogiese gespreksraamwerk by.
  • Wat sê die belydenisskrifte oor die heiligheid van lewe?
  • Ons is opgewonde oor die hoeveelheid en diversiteit van kenners en gespreksgenote wat gaan deelneem.
  • Maak seker alle – ook opponerende – perspektiewe word ewewigtig aangebied.
  • Het aborsie raakpunte met genadedood?
  • Wat sal die verskil wees tussen aborsie in verkragting, mediese noodsaak, blote keuse?

Waar moontlik, is bogenoemde terugvoer deelgemaak van die gespreksdokument met die oog op terugvoer vanaf die streeksinodes en die beoogde Zoom-gesprek (sien onderaan). Daar is egter ook voorstelle en/of vrae wat nie in hierdie eerste rondte gespreksdokument aangespreek (kan) word nie.

Wat wel duidelik na vore kom met hierdie ASM-vergadering terugvoer, is:

  • Die behoefte aan pastorale hulpmiddels vir begeleiding van lidmate (asook vriende, familie, moontlik ook self?) wat op een of ander wyse deur die ervaring en moontlike trauma van aborsie geraak is;
  • Die noodsaaklikheid om die gesprek te bly voer, en dit ook te koppel aan ander soortgelyke temas;
  • Om die kompleksiteit en sensitiwiteit van aborsie en die “real-life” ervarings van mense daarmee in die oog te hou, ook wanneer bepaalde etiese merkers of hermeneutiese sleutels toegelig word.

5.2 Streeksinodes – taakspanne of verteenwoordigers vir leer en aktuele sake

Geskrewe terugvoer op hierdie eerste konsep van die gespreksdokument word gevra van streeksinodes.

Terugvoer moet Pieter van der Walt (Skriba van ATLAS) teen 23 Mei 2023 bereik.

‘n Zoom-gesprek word beplan vir einde Mei / begin Junie 2023. Verteenwoordigers van die streeksinodes word hierheen uitgenooi. Terugvoer sal opgeneem word in die vorderingsverslag aan die Algemene Sinode.

5.3 AS 2023

Die finale weergawe van die gespreksdokument sal as vorderingsverslag dien by die Algemene Sinodesitting in Oktober 2023, as deel van die ATLAS-verslag. Daar word reeds voorsien dat verdere navorsing en ontwikkeling van hulpmiddels met betrekking tot aborsie, asook ander reproduktiewe gesondheidskwessies (bv. infertiliteit, ervarings van miskraam, reproduktiewe tegnologie, ens.) ook aandag sal moet kry om tred te hou met die werklikheid van lidmate se ervarings.

6. Ten slotte

(Sal voltooi word na afhandeling van 5.2)

7. Sleutelbronne geraadpleeg en voorgestelde leesstof vir verdere verkenning

Bakhru, Saroj, Tanya. 2019. Reproductive justice and sexual rights. Transnational perspectives. New York, NY: Routledge, Taylor & Francis.

Barton, S.C., 1997, ‘Social-scientific criticism’, in Porter, S.E. (ed.), Handbook to exegesis of the New Testament, pp. 277–290, Leiden: Brill.

Bons-Storm, R. 1996. The incredible woman: Listening to women’s silences in pastoral care and counseling. Nashville, TN: Abingdon Press.

Carter, W., 2006, The Roman Empire and the New Testament: An essential guide, Nashville: Abingdon.

Crook, Z.A. (ed.), 2020, The ancient Mediterranean social world: A sourcebook, Grand Rapids: William B. Eerdmans Publishing Company.

Douma, J. 1999. Grondslagen (Christelijke ethiek 1). Kampen: Kok.

DeSilva, D.A., 2000, Honor, patronage, kinship & purity: Unlocking New Testament culture, Illinois: InterVarsity Press.

Esler, P.F., 1994, The first Christians in their social worlds: Social-scientific approaches to New Testament interpretation, London: Routledge.

Francis, L, (ed.). 2019. The Oxford Handbook of Reproductive Ethics. Oxford: Oxford University Press.

Heitink, G. & Veenhof, J. (reds.). 1990. Heil, heling en gezondheid. Gravenhage: Meinema.

Kotzé, M., Marais, N. & Müller van Velden, N. (eds.). Reconceiving Reproductive Health. Theological and Christian Ethical Reflections. Reformed Theology in Africa Series Volume 1. Durbanville: AOSIS.

Malina, B.J., 1996, The social world of Jesus and the Gospels, London: Routledge.

Malina, B. J., 2001a, The social gospel of Jesus: The kingdom of God in Mediterranean perspective, Minneapolis: Fortress.

Malina, B.J., 2001b, The New Testament world: Insights from cultural anthropology, 3rd Edition. Louisville: Westminster John Knox Press.

Malina, B.J., 2007, ‘Who are we? Who are they? Who am I? Who are you (Sing.)? Explaining identity, social and individual’, Annali di Storia Dell’esegesi 24(1): 103-109.

Malina, B.J. & Pilch, J.J. (eds.), 1993, Biblical social values and their meaning: A handbook, Peabody: Hendrickson Publishers.

Müller, J.C. 2000. Reisgeselskap. Kaapstad: Lux Verbi.

Neufeld, D. & DeMaris, R.E., 2010, Understanding the social world of the New Testament, London: Routledge.

Neuger, C. 2001. Counseling women: A narrative pastoral approach. Minneapolis, MN: Augsburg Press.

Pilch, J.J. (ed.), 2001, Social scientific models for interpreting the Bible, Atlanta: Society of Biblical Literature.

Rohrbaugh, R.L., 2007, The New Testament in cross-cultural perspective, Eugene: Wipf & Stock Publishers.

Stegemann, E.W. & Stegemann, W., 1999, The Jesus movement: A social history of its first century, Edinburgh: T & T Clark.

Turksvy. “Vier perspektiewe op aborsie”, 31 Julie 2022. Sien digitale weergawe by https://turksvy.substack.com/p/vier-perspektiewe-op-aborsie.

Van Wyk, Tanya. “Revisiting the Church’s Moral Authority on Sexual Ethics – Reform or Retreat”, in Kotzé, M., Marais, N. & Müller van Velden (eds.). Sexual Reformation? Theological and Ethical Reflections on Human Sexuality. Eugene, OR: Pickwick Publications. 171-186.

Van Wyk, Tanya. Die Beeld, By: “Wanneer pro-keuse nie anti-lewe is nie”, 7 November 2020. Sien digitale weergawe by https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/wanneer-pro-keuse-nie-anti-lewe-is-20201106

1 Vir meer inligting, besoek die WGO se webblad by https://www.who.int.

2 Vir meer inligting oor die VN se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte, besoek hul webblad by https://sdgs.un.org/goals.

3 Bhekisisa Centre for Health Journalism (Mail and Guardian affiliate). Sien https://bhekisisa.org vir meer inligting.

4 Vir uitvoerige en deeglik nagevorsde statistieke rakende aborsie – globaal, sowel as plaaslik – sien www.guttmacher.org

5 Bybeltekste wat gereeld deel uitmaak van teologiese besinning oor aborsie, veral ter ondersteuning van teen-aborsie standpunte, is byvoorbeeld die skeppingsverhale in Genesis 1 en 2; Eksodus 20:13; Psalm 119:73; Psalm 139:13-16; Jesaja 44:24; Jesaja 45:9-11; Jesaja 49:1, 5; Jesaja 64:8; Jeremia 1:5; Galasiërs 1:15; Efesiërs 1:3-4. Vir baie duidelike teen-aborsie teologiese nadenke, besoek Focus on the Family se webblad by https://www.focusonthefamily.com/?s=abortion.

6 Sien byvoorbeeld Hunter, David G (ed.). 2018. Marriage and Sexuality in Early Christianity. Minneapolis: Fortress Press.

7 Bakhru, Saroj, Tanya, 2019, Reproductive justice and sexual rights. Transnational perspectives, Routledge, Taylor & Francis, New York, NY, p. 7.

3 thoughts on “ATLAS dokument vir gesprekvoering reproduktiewe gesondheid: Aborsie”

  1. “Gespreksdokument” of te nie, klink my die besluit is klaar geneem, dit moet nog net “ge-rubberstamp” word. Sonder om on-simpatiek of on-empaties voor te kom, weet ek ook nie hoekom die Bybel oorweeg word waar gevoelens en verwarde indentiteite besluite bepaal en nie Waarheid nie.

  2. ” ATLAS verwelkom dialoog, en is bewus daarvan dat sommige lesers teleurgesteld sal wees wees”, skryf hulle. As toegewyde NG lidmaat IS ek diep ontsteld oor die aanbieding, inhoud en werkswyse van die dokument. Daar word bepaalde “kontoere” (kontoere veronderstel begrensing, ‘n spesifieke vorm) gestel waarbinne daar “gesprek gevoer” word. Verder is dit verwarrend want op drie plekke word sogenaamde “kontoere” gestel wat nie noodwendig met mekaar verband hou nie.

    Met die Algemende Sinode van 2019 is besluit dat ATLAS oor drie dinge saamstem: (1) Ons is ernstig oor die gesag van die Skrif; (2) Ons aanvaar dat God die gewer van alle lewe is en dat God dit baie kosbaar ag; (3) Ons erken dat ‘n verskeidenheid van stemme gehoor moet word in die gesprek (stemme vanuit die Skrif en tradisie, die ekumene, die mediese wetenskap, die regswese en van mense wat direk geraak word). Volgens my is min sigbaar van werklike indiepte in agneming van punte een en twee. In hoofsaak gaan die dokument oor die tradisie, die ekumene, die mediese wetenskap en die regswese en hier en daar oor die Bybel en tradisie.

    Die hoek waaruit gekyk word, word aangedui onder die sambreel van “kyk na die groter landskap”. Bepaalde organisasies, gebeure en persone word aangehaal met uitgebreide kommentaar daaroor (wat dan van dialoog en gesprek?).

    So word verwys na die Verenigde Nasies se 17 Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte en word skakels gegee om te lees oor die globale konteks rakende aborsie wetgewing, beleide, gesondheidstandaarde en riglyne.

    Daar word ook verwys na die 1973 Roe vs Wade hofsaak in die VSA waar daar geëis was dat vroue beheer oor hul eie liggame moet hê – dat elke vrou self moet kan besluit oor haar eie voortplanting. Daarna skryf ATLAS in negatiewe terme daaroor dat die uitspraak in 2022 omgekeer is met die Dobbs-uitspraak.

    Relatief baie aandag word gegee aan gesprekke met ‘n verpleër, ‘n navorsingpsigiater en ‘n maatskaplike werker teenoor dit wat in die Bybel staan.

    Ook sekere emotiewe frases word tussenin gegooi soos “ou mans in rokke wat nog nooit seks met vroue gehad het nie oor vroue se voortplanting besluit en toegang tot aborsie beperk” en die “antieke raamwerk” van Bybelse uitsprake wat “ingebed (was) binne ‘n groter raamwerk van hierargie, status, patriargie, beperkte hulpbronne, en oorlewing”.

    Plek-plek tussen die lyne lees ek radikale feminisme se “my body my choice”. Nêrens ‘n pleitdooi, ‘n stem vir die stemlose oor wie hierdie “gesprek” in die eerste plek gaan: die mees weerlose van weerloses, ‘n ongebore kindjie geskape na die beeld van die lewende God. Ek spreek my ten sterkste uit teen hierdie dokument.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui