‘Baie om oor te huil, maar dít laat my goed slaap’ | Netwerk24
Rudi Swanepoel
7 Julie 2017
Die lys wat ons laat huil en ons briesend kwaad maak is lank. Móér lank, hier in Suid-Afrika, skryf Rudi Swanepoel.
Ek was nog nie by een so ’n ete waar ek nie moed gekry het nie.
Dis nou die Echo-etes wat ons een keer ’n maand hier by ons kerk hou.
Die storie loop eintlik so: ’n Paar van ons – lidmate van die Andrew Murray-gemeente in Johannesburg – het sowat sewe jaar gelede koppe bymekaargesit oor jongmense wat sonder gemeenskap in die wêreld leef, soos byvoorbeeld jong volwassenes wat op 18- of 19-jarige ouderdom uit die kindersorgstelsel kom.
Ons gemeente het heelparty sulke jong lidmate: kinders wat hier grootword en dan in Johannesburg se strate verdwyn.
Een van die mense om die tafel was Jaco Strydom, NG predikant en stigter van die Echo Youth Development. Op sy onkonvensionele manier het hy ons uitgedaag en delikaat begelei om te waag: Gebruik jul geboue om mense te huisves. Laat hulle daar bly, daar leef. Probeer dit net, dit hoef nie ingewikkeld te wees nie. Doen dit. Waag.
Dit het toe wel ’n bietjie oortuiging gekos om ’n gemeente en kerkraad sover te kry om dit te doen. Maar uiteindelik het ons.
Tans bly hier 11 mense. Hulle is ’n lekker klomp. Gemeng, in elke moontlike opsig.
En ons het gisteraand weer saamgeëet.
Ek het weggestap met ’n lied in my hart. Ek het ’n lied nodig gehad, want my kop (en hart) pyn ook maar driekwart van die tyd oor monopoliekapitaal (ek hoor ons gaan nou nie meer “wit” sê nie), oor joernalisvriende en kennisse wat blatant geteister word en soms doodgaan omdat hulle neuse vir inligting en geregtigheid het, oor daai Indiese mense wat so kom steel, die Guptas en Bell Pottinger wat verdeling en onmin saai, oor hengse groot pensioene en kleintjies hier anderkant in Alex wat nét by die kerk kos kry – net vyf keer ’n week.
Die lys wat ons laat huil en ons briesend kwaad maak is lank. Móér lank, hier in Suid-Afrika.
Maar die ding wat my laat smile en my hart laat sing is hier, hierdie, hierdie mense, hierdie gedeelde maaltyd en hierdie gedeelde stories.
Dis die nuus dat een outjie werk gekry het.
Dis die terugvoering van die sielkundige dat die ander een nou vir homself opstaan.
Dis die grappies, die goedige gespot, die blydskap oor ’n baas wat mooier praat en sagter werk.
Daarom, vir ’n oomblik of wat, het ek vergeet van die kwaad.
Ek het gisteraand lekker gaan slaap.
* Swanepoel is ’n leraar in die NG kerk se Andrew Murray-gemeente.