Bal steeds kantlyn toe geskop oor koop en verkoop van seks

As die Bybel nie meer gebruik word om morele waardes te bepaal nie, word alles grys.

*******

Bal steeds kantlyn toe geskop oor koop en verkoop van seks | Netwerk24

Erika de Beer

26 September 2022

Die ANC het op sy 2017-konferensie besluit die koop en verkoop van seks moet gedekriminaliseer word, maar blykbaar is dit so ’n verdelende kwessie dat dié bal voortdurend kantlyn toe geskop word, berig Erika de Beer.

Prostituut, geprostitueerde of sekswerker? “John” of kliënt? Pimp of agent?

In debatte oor of dit wettig moet wees om seks te koop en te verkoop is dit moeilik om onpartydig te wees.

Dit was met ’n skrale meerderheid van ses teenoor vyf regters wat die konstitusionele hof in 2002 bevind het wetgewing wat die verkoop van seks ’n misdaad maak, is nie ongrondwetlik nie.

Die regters in die meerderheid- én minderheidsuitsprake het dit wel duidelik gemaak dis die parlement wat moet besluit hoe om dit te hanteer.

Al 11 regters het saamgestem om bordele wetlik te verbied, druis nie teen die Grondwet in nie.

In 2017 het die Suid-Afrikaanse Regshervormingskommissie (SALRC) sy aanbevelings oor die kwessie in ’n dokument oor “volwasse prostitusie” gepubliseer.

“Die kommissie het tot die slotsom gekom dat om die wetlike raamwerk te verander, kan ’n uiters gevaarlike kulturele verskuiwing teweeg bring in jukstaposisie tot die hoë getal seksuele misdade wat reeds teen vroue gepleeg word.

“Vroue sal as selfs meer verbruikbaar as nou beskou word.”

Dit kan ’n toename in kinderprostitusie tot gevolg hê, asook ’n toename in wettige en onwettige immigrasie en selfs mensehandel vir seksdoeleindes, lui die dokument.

Tans word die verkoop van seks verbied deur die Wet op Seksuele Misdrywe en die koop daarvan deur die Wysigingswet op Strafreg (Seksuele Misdrywe en Verwante Kwessies).

Al is die kommissie ten gunste van algehele kriminalisering, bevat die dokument twee voorgestelde wysigingswetsontwerpe:

* Vir algehele kriminalisering, wat vir die verkoper die opsie van ’n afwentelingsprogram bied – dit beteken onder meer dit word nie deel van haar misdaadrekord nie; en

* Vir gedeeltelike dekriminalisering, waarin die verkoper nie strafregtelik vervolg word nie.

Einde 2017 het die ANC op sy nasionale konferensie besluit sekswerk moet gedekriminaliseer word.

Die resolusie lui: “Die oproepe om sekswerk te dekriminaliseer moet onderwerp word aan ’n hoëvlak-bespreking en interaksie met relevante veelvuldige belanghebbendes, en daar moet voortgesette interaksie met die gemeenskap hieroor wees om te bepaal wat die samelewingsnorm is. Sekswerkers moet beskerm word.”

In Februarie vanjaar het die departement van justisie en konstitusionele ontwikkeling in ’n verklaring gesê die kabinet het besluit om nie destyds al ’n beleidsbesluit te neem nie en dat daar verdere debat oor die kwessie van die moontlike dekriminalisering van sekswerk moes wees.

Die verklaring is uitgereik om aan te kondig die adjunkminister van justisie, John Jeffery, sou met raadplegende vergaderings met belanghebbendes daaroor begin.

Wat die howe sê

Al die regters in die konstitusionele hof het gemeen die wetgewing skend nie die reg op menswaardigheid en op ekonomiese bedrywighede nie, en as dit die reg op privaatheid beperk, is dit geregverdig.

In die meerderheidsuitspraak is bevind dit kom nie op onbillike geslagsdiskriminasie neer nie omdat iemand van enige geslag seks kan verkoop.

Volgens die minderheidsuitspraak diskrimineer die Wet op Seksuele Misdrywe op grond van geslag deurdat dit die verkoper die hoofoortreder maak en die koper hoogstens ’n medepligtige.

“Die afleiding is dat die primêre oorsaak van die probleem nie die man is wat die vraag skep nie, maar die vrou wat daarop reageer: Sy is gevalle; hy is in die beste geval viriel, in die slegste geval swak.”

Die arbeidsappèlhof het in 2010 in die saak van ’n vrou wat deur ’n masseersalon afgedank is, bevind ’n sekswerker kan ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge as ’n werknemer beskou word en is geregtig op dieselfde beskerming as enige ander werknemer.

‘Sekswerk is werk; wettig dit’

Die Legal Resources Centre (LRC) en Women’s Legal Centre (WLCT) sê die SALRC-verslag het ’n patriargale posisie ingeneem deurdat die staat besluit wat die beste vir vroue is.

Die blote gebruik van die terme prostitusie en prostituut is neerhalend en onmenslik en kom op ’n morele waarde-oordeel neer, sê hulle.

Groepe ten gunste van dekriminalisering sê die onwettigheid daarvan skrik mense nie daarvan af om seks te verkoop om ’n bestaan te maak nie.

Die meeste sekswerkers in Suid-Afrika is arm, swart en vroulik en hulle verkoop seks primêr om hul kinders en ander afhanklikes te ondersteun. Armoede, ’n lae onderwyspeil en ernstig beperkte ekonomiese geleenthede maak sekswerk vir hulle een van die enigste lewensvatbare opsies, lui ’n verslag van Human Rights Watch en Sweat (Sex Workers Education and Advocacy Taskforce).

Om dit ’n misdaad te maak, maak dit onveiliger: Dit ondermyn hul toegang tot geregtigheid vir misdade wat teen hulle gepleeg word en stel hulle bloot aan mishandeling en uitbuiting deur wetstoepassers. Dis ook ’n struikelblok om toegang tot gesondheidsorg te kry.

“Sekswerkers het beskryf hoe die polisie vir hulle lag wanneer hulle probeer om verkragting aan te meld, of dat daar vir hulle vertel is as sekswerkers kan hulle nie verkrag word nie.”

Die Kommissie vir Geslagsgelykheid (KGG) sê sekswerk en prostitusie is streng gesproke nie dieselfde konsep nie.

“Prostitusie word beskou as gedwonge sekswerk waar vroue geen keuse daaroor het nie, dis noodwendig vernederend en vroue is slagoffers.

“Sekswerk, aan die ander kant, dui op ’n mate van mag en gee vroue dus besluitnemingsmag in kapitalistiese stelsels.”

Die KGG meen wetgewing moet van die beginsel uitgaan dat seks werk is, en die bedryf moet onderwerp word aan bestaande arbeids- en sakewette wat gemik is op die voorkoming van onveilige, uitbuitende en onregverdige sakepraktyke.

Dekriminalisering sal aan sekswerkers verskeie regte gee, waaronder die vrye reg om ’n beroep te kies, om vakbonde te stig en onregverdige werksomstandighede te beveg, vry van diskriminasie te wees en toegang tot die bes moontlike gesondheidsorg te kry. Dit sal hulle persoonlike vryheid gee soos om nie lukraak in hegtenis geneem en aangehou te word nie en nie aan geweld onderwerp te word nie. Voorts sal dit hul reg op menswaardigheid beskerm, sê die KGG.

 

 

‘Wettig beteken nie waardig nie’

Liesl Pretorius, programkoördineerder by die Centre Against Sexual Exploitation (Case), sê egter: “Prostitusie, uit die blote aard daarvan, is seksuele uitbuiting en ’n skending van menseregte, veral die reg op menswaardigheid.”

As dit gedekriminaliseer word, beteken dit nie die onderliggende oorsake daarvan word getakel nie, het sy op ’n beraad van die Coalition to End Sexual Exploitation gesê.

Word dit wettig, sal pornografie en mensehandel vir seksuele doeleindes ook toeneem, want pornografie word gebruik om seksuele dienste te adverteer, en baie mense wat in die bedryf werk, het deur mensehandel daarin beland, sê Pretorius.

In 2015 was daar na raming tussen 130 000 en 180 000 mense in dié bedryf in Suid-Afrika.

As dit dan wettig word, wil Mickey Meji, ’n aktivis vir vroueregte, weet: “Gaan ons 180 000 ekstra polisielede hê om hulle te beskerm? Ons het nie polisielede in elke liewe huis waar vrouemoord plaasvind nie.”

Meji, wat haarself as ’n oorlewende van prostitusie beskryf, sê sy is wel deur die polisie geteister, maar sy weet van geen vrou in dié bedryf wat aan die hand van die polisie dood is nie. “Ek weet van baie wat vermoor is deur pimps, bordeeleienaars en sekskopers.”

Emma van der Walt, uitvoerende hoof van die organisasie Brave to Love, wat na mense in die seksbedryf uitreik en hulle daaruit probeer help, sê die bordeelbedryf is bendewêreld. Iemand wat vir seks betaal, finansier bendebedrywighede en ander misdaad, selfs terrorisme.

Sy hoor baie verhale van gruwelike vergrype deur kliënte en sy glo nie om die bedryf wettig te maak sal dit keer nie.

“Elke vrou het ’n krokodil, daardie een man wat by haar kamer inloop en haar verkrag, ’n geweer teen haar kop druk.”

Meji sê baie mense praat daarvan asof dit een van ’n lys beroepe is waaruit ’n mens kan kies, soos om ’n dokter te word.

“Dit was nie vir my ’n keuse nie. Ek het nege jaar lank in Voortrekkerweg gestaan. Is daar enige vrou wat 02:00 in die oggend wil staan en wag om lukraak in mans se motors te klim?

“Daar is niks waardigs aan prostitusie nie. Of jy my nou ’n prostituut of ’n sekswerker noem, dis steeds vernederend.”

Hildah Tlou, wat ook vroeër in dié bedryf was, sê: “Niemand van ons het grootgeword met die droom om seksslawe te word nie. Niemand wil daar wees nie. Ons sien dit nie as werk nie, maar as ’n opsie om te oorleef as daar geen ander opsie is nie.”

Sy en ander sprekers meen die vraag moet gestuit word. “Laat die pimp, die bordeeleienaar en die sekskoper gestraf word, maar sorg vir programme waarmee die geprostitueerde persoon uit die bedryf kan kom.”

As ’n mens na die beroepsrisiko’s en -gevare kyk, is daar geen logika om dit te wettig nie, sê Stefanie Kotze, regsadviseur van Case.

“Die mishandeling gaan nie ophou nie. As iemand beskou word as ’n objek wat gekoop of verkoop word, gaan hulle as sulks gehanteer word.”

Opsies en keuses

Die regering het dié opsies:

* Volledige kriminalisering (met of sonder afwenteling);

* Gedeeltelike dekriminalisering, waar net die kliënte en bordeeleienaars van ’n misdaad aangekla word;

* Wetgewing en/of regulasies waarmee die staat die bedryf reguleer; en

* Dekriminalisering, waar niemand aangekla word nie.

Die departement van justisie en konstitusionele ontwikkeling het onderneem om te reageer op Netwerk24 se navraag oor waar die proses trek, maar dit het nie voor die spertyd gebeur nie.

In sy 2019-verkiesingsmanifes het die EFF verklaar as hy aan bewind kom, sal hy sekswerk wettig.

Die DA het in sy manifes onderneem hy sal “moontlike wetlike modelle rondom sekswerk verken en ’n alternatiewe wetsraamwerk aanvaar wat uitbuiting, mishandeling en verkragting van jong vroue en mans verminder”.

Dat daar selfs binne partye nie ooreenstemming hieroor is nie, blyk uit die Parlementêre Moniteringsgroep se opsomming van ’n vergadering van die parlement se veelparty-vrouekoukus in Maart 2018: “Die veelparty-vrouekoukus het besluit om die dekriminalisering van sekswerk voor te staan, al was dit nie maklik nie omdat lede hul eie sienings het.”

In November daardie jaar het pres. Cyril Ramaphosa gesê: “Daar moet gepraat word oor die wettiging van sekswerk, want Suid-Afrikaners het verskillende sienings hieroor. Ons taak is om diegene wat argaïese sienings het, te oortuig van die rigting waarheen ons op pad is.”

Dieselfde resolusie wat die ANC in 2017 aanvaar het, was weer in die besprekingsdokument vir sy beleidskonferensie in Julie.

Dr. Gwen Ramokgopa, koördineerder in die kantoor van die ANC se sekretaris-generaal, het toe gesê die dekriminalisasie van sekswerk is ’n te sensitiewe onderwerp om sonder die behoorlike omsigtigheid uit te voer, berig EWN.

“As jy die leier is, wil jy hê teen die tyd dat jy jou besluit neem, moet jy baie stemme in die gemeenskap hê wat sê ‘ja, dis ons besluit’, en nie net ’n van-bo-af-benadering nie, want dit sal nie werk nie. Dit kan die situasie inderwaarheid selfs slegter maak.”

* De Beer is ’n redaksielid van Netwerk24.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui