Bartlett: Om weer die Goeie Herder se stem te hoor

Kyk ook:

André Bartlett is onlangs tot die nuwe moderator van Sinode Hoëveld verkies.

Na aanleiding daarvan het die volgende as ’n dubbelblad artikel in die koerant verskyn.

Dit is baie interessant dat daar soveel publisiteit gegee word aan André Bartlett.

**************

Bartlett: Om weer die Goeie Herder se stem te hoor

Deur Jo Prins | 31 Oktober 2018

Vir ds. André Bartlett, nuwe moderator van die NG Kerk se Hoëveld-sinode, is dit deel van sy uitdaging om die kerk só te herposisioneer dat mense weer die stem van die Goeie Herder kan hoor. Jo Prins het met hom gesels.

Wanneer ons aan huis oor die kerk, of dan meer spesifiek die NG Kerk, praat, is die verstekposisie een van oë rol.

Want benewens vir die feit dat verandering en vernuwing in die kerk teen ’n gletserspoed blyk te beweeg, bly die kwessies jaar na jaar, om en om presies dieselfde.

’n Mens kan heeltemal buite die debat en weg van die nuussiklus wees vir ’n jaar of meer, en dan op ’n goeie dag in ’n gesprek om ’n vuur instemmend knik, want die kerk se kwessies is al weer op die tafel.

Die rol van die vrou in die kerk, kerkeenheid, die gaydebat … om werklik maar net ’n paar dinge te noem.

“Hoe,” vra ’n vriend, toevallig ’n gay ene wat van sy kortbroek en two tones hou, “hoe op aarde gaan die kerk homself weer relevant maak? Vra dít vir daardie dominee.”

Ook: “Die grootste verligting van my lewe was toe ek besluit het daai f*****s sien my nooit weer nie … ”

Enter dr. André Bartlett, hoegenaamd nie ’n nuwe 60-jarige speler op die veld nie, maar die nuwe moderator van die NG Kerk se Hoëveld-sinode.

Hoe om die rol van die kerk te herdefinieer

Ek en fotograaf Felix Dlangamandla ontmoet André vroegdag by sy huis in Parkview, Johannesburg.

Agter die huis in die Bartletts se lieflike tuin sit ons onder ’n witstinkhout- en Chinese esdoringboom aan vir koffie.

Die gras is groen-groen soos grasperke die tyd van die jaar in Johannesburg lyk en blombeddings gedy met onder meer wit rose en laventel.

Dis duidelik: daar is ‘ n ferm hand in die tuin. André en tuinier Armindo Massique se handewerk.

André se spierwitkop kantel, hy sit vorentoe in sy stoel. Ek vra hom wat hy vir ’n kollega gesê het pas na die nuus van sy aanstelling.

Hoe gaan ’n mens te werk om die rol van die kerk in sy eie tyd te herdefinieer?

“Die kerk en ander kerke sit in ’n oorgangstyd. Die NG Kerk spesifiek het vir baie lank ’n baie dominante rol gespeel … dit was ’n groot kerk, dit was ’n connected kerk, ’n invloedryke kerk.

“Die laaste klomp jare het dit verander, die politieke omgewing het verander en die kerk het sy spesifieke toegang tot magstrukture verloor.

“Soos ander hoofstroomkerke is die NG Kerk in terme van getalle so ’n bietjie besig om agteruit te boer – as ’n mens dit so kan stel – wat alles beteken dat die kerk in ’n nuwe omgewing en in nuwe omstandighede vir homself moet vra: Wát is die rol van ’n kerk soos die NG Kerk en watter rol kan ’n kleiner kerk speel?”

Deel van dié hele gesprek of probleem, sê André, is natuurlik ook die kerk se geloofwaardigheidskrisis wat ’n nadraai is van die apartheidsgeskiedenis.

“Daardie besef dat ons op ’n crucial tyd in die geskiedenis die pad byster geraak het, het in ’n sekere sin ’n baie sterk effek op die psige van die kerk. Dit skep op ’n manier onsekerheid oor hoe jy jou uitspreek oor die samelewing.

“Terselfdertyd, omdat dit ’n tyd van onsekerheid is, is dit amper of die verdelings in die kerk skerper word – asof mense meer gespanne is.”

Dít als, meen André, maak dat die debatte die laaste paar jaar ’n skerp kant begin kry het, maar dit verander niks aan die feit dat die kerk ernstig moet herbesin oor sy rol nie.

Verskillende stemme moet gehoor word

Hoe doen ’n mens dit? Die herbesining?

“Ek dink deur binnekerklike gesprek op ’n gesonde vlak te kry – iets wat die laaste klomp jare sleg was, die binnekerklike gesprek het venynige, kwetsende kante gekry.

“Ek sien my rol nogal om te kyk of ’n mens die vlak van gesprek meer nugter, meer rustig, en meer ernstig kan kry om verskillende stemme hoorbaar te maak.”

Maar, sê André, die gesprek kan natuurlik nie net na binne wees nie.

“Ek dink dit is belangrik dat die kerk sy plek binne die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke beter sal benut en dat die kerk se verhouding met die familie van die NG Kerke … dat dié gesprek ’n belangriker plek inneem.”

Die Bartletts se sesjarige, wit labrador, Charlie, kom stertswaaiend oor die grasperk aangeloop en kom stel ondersoek in of ek en Felix ons darem gedra. Dan steek hy sy neus in my hand.

André gooi vir ons nog koffie in terwyl die oggendverkeer langs die tuin af in Wicklowlaan al luider en luider word.

Ek por hom oor die herhalende aard van die kerk se issues, kerkeenheid, die gaydebat. Dán is ons amper by ’n deurbraak oor ’n saak, dan weer back to square one

“Ek dink dit het baie te doen met die onsekerheid, dis amper asof ’n mens voel daar is meer op die spel as wat daar op die oppervlak sigbaar is.

“Deel van die ding is – en dis op’ n manier ironies – is dat die kerk onder meer ’n plek is wat mense help om konflik te hanteer, maar die kerk is self nie baie goed met die hantering van sy eie konflik nie.

“Wat ek ervaar het, is wanneer ons konflik kry is daar half ’n manier van ‘kom ons hou op’ en dan stol die gesprek half. En jy kry lidmate wat sê hulle hou nie van al die uitsprake in die media nie want dit verwar hulle.”

Dan lag hy en sê dis asof die gesprek dan eerder in ’n rigting gestuur word oor dinge waaroor mense wel saamstem “wat eintlik beteken die issues word nie na ’n punt toe gevat nie”.

“Partykeer is die punt om doodgewoon te sê ons kom ooreen om met mekaar te verskil – dis wat ek gedink het ons in 2015 oor die gaydebat besluit het.

“Dit het vir my gevoel daar was ’n punt waar ons gesê het weet jy hier is ’n raamwerk waarbinne die verskillende groepe hulself kan vind.”

Om weer die stem van die Goeie Herder te hoor

Maar hoe staan sake nou?

“Kyk, 2016 het nie ’n finale besluit gebring nie, dis nie asof daar nou vrede en rus in die kerk is nie. ’n Mens sal maar moet sien hoe dit by die volgende algemene sinode uitspeel. Ek is nie seker hoe dit gaan loop nie.

“Min mense weet dit, maar 2016 se besluit (teen die beginselstandpunt om erkenning te gee aan gay-verbintenisse) was met’ n papierdun meerderheid geneem.”

Waar laat dit gelowiges, gay gelowiges, Christene wat voel hulle het nie meer ’n tuiste in die kerk nie?

“Dis natuurlik deel van die uitdaging, die kerk het oor jare heen van sy best minds verloor en dit het baie keer te doen met die vlak van gesprek.

“Dit was nog altyd vir my ’n uitdaging, ook as gemeente-predikant, om te vra hoe maak jy die kerk ’n plek nie net vir tradisionaliste nie, maar ook vir oper denkers, of mense wat onkonvensioneel dink.”

Jare gelede, vertel André, in die 1950′ s, het die teoloog Karl Barth van pous Pius XII, “wat ’n verskriklike soort verstarde pous was”, gesê as hy die pous hoor, sukkel hy om die stem van die Goeie Herder te hoor.

“Toe word Johannes XXIII pous, die ou wat die Vatikaanse-konsilie byeengeroep het en wat groot vernuwing in die Katolieke Kerk meegebring het. Toe’t Barth gesê: ‘Ek hoor nou weer die stem van die Goeie Herder’.”

Vir André, vir dominee Bartlett, die nuwe moderator van die NG Kerk se Hoëveld-sinode, is hierdie presies deel van sy uitdaging: Om die kerk te herposisioneer sodat mense – binne en buite die kerk-weer die stem van die Goeie Herder kan hoor.

“Die Goeie Herder se: ‘Kom na my toe, almal wat vermoeid en belas is en ek sal vir jou rus gee. ‘Maar die Goeie Herder sê ook: ‘Soos die Vader my gestuur het, so stuur ek julle. Gaan die wêreld in en gaan maak ‘ n verskil.’

“Miskien ontdek ek nou die metafoor vir my termyn wat voorlê.”

Wat sou oom Bey gesê het?

Is die feit dat die Hoëveld hom gekies het ’n aanduiding van die sinode se posisie wat betref verruiming binne die kerk en sake soos die gaydebat?

“Ek dink nie dit beteken noodwendig dit nie … wat ek aflei uit die feit dat hulle my gekies het ten spyte van my duidelike oortuigings oor die saak, sê vir my twee goed.

Eerstens dat die debat rustiger geword het, en tweedens dat ouens sê ons weet jy’t sterk oortuigings, maar ons vertrou jou dat jy dit nie op enigiemand afdwing nie.

“Die mense wat my ken weet dat ek nie aggressief oor my geloof of oor my oortuigings is nie. En ek het sterk oortuigings,” se André op die rustigste manier denkbaar.

“Dít sal my rol wees: Nie om te sê ek verteenwoordig een van twee debatte nie, maar om doodgewoon te sê kom ons skep ’n groter ruimte vir ’n sinvolle, betekenisvolle gesprek.”

Hoe dink hy sal sy jarelange mentor, NG-dominee en stryder teen apartheid, Beyers Naudé, gevoel het oor waar die kerk hom vandag bevind?

“Kyk, hy was ’n kritiese gees … hy sou gesê het dit kan beter wees. Wat my van hom beïndruk het destyds is dat hy die kombinasie gehad het van kritiese gees, maar terselfdertyd ook ’n soort van pastorale besorgdheid.

“Toe hy hier rondom 2000 teruggekom het NG Kerk toe het hy gesê die kerk het verander soos wat hy gedink het die kerk moet verander. Maar dis ’n voortgaande proses.

“In ’n sekere sin sou hywaarskynlik – as ’n mens na die issues kyk – gesê het ons moet leer om beter oor die goed te praat. Uit die aard van die saak moet daar ’n soort profetiese stem wees, maar dit moet ook ’n profetiese stem wees wat mense saam op pad neem.

“Hy sou teleurgesteld gewees het dat die kerk-herenigingsproses nog steeds nie gevorder het soos dit moes gevorder het nie – soos hy dit gevisualiseer het nie.”

Hy meen ook oom Bey sou besorgd gewees het oor hoe die kerk na binne gekeer het.

Dan groet ons, want André moet in die pad val Pretoria toe. Ons maak ’n afspraak om ’n volgende keer oor ’n bottel wyn te praat.

Charlie kom sien ons af op ’n paadjie wat André-hulle pas gelê het, die gras het nog nie behoorlik om die teels begin groei nie.

“Ja,” sê André, “hy (Charlie) het die paadjie uitgeloop en toe besluit ons ons kan netsowel die paadjie hierlangs laat loop.”

In die motor op pad huis toe dink ek: As genoeg mense – binne en buite die kerk – ’n behoorlike paadjie uittrap, gaan die kerk nie anders kan as om die teëls te begin lê nie.

* Jo Prins is Netwerk24 se boekeredakteur.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui