Belhar – hier is die teologiese besware

Die volgende artikel het in Kerkbode van 22 Januarie 2015 verskyn.

***********

Belhar – hier is die teologiese besware | Kerkbode

Posted on January 22, 2015

altDie proses om die Belydenis van Belhar in die NG Kerk se belydenisgrondslag in te skryf, berus op die veronderstelling by die Algemene Sinode en die Sinode van Wes-en-Suid-Kaapland wat die versoek gerig het, dat dié belydenis ’n tydige en relevante verwoording van evangeliese waarheid vir vandag is. Daar is egter ook ’n oortuiging by sommige in die NG Kerk dat Belhar nie teologies in orde is nie. Kerkbode het vir ds Theo Danzfuss, aktuarius van die Hoëveldsinode, genooi om sy teologiese besware teen die inhoud van Belhar te verduidelik. Hier is sy bydrae.

Ons lidmate word daagliks gesus met die leuen dat diegene wat weier om Belhar as belydenis te aanvaar nie teologiese besware het nie, maar slegs politieke en emosionele besware. Dit laat mens fluit van verbasing. Kan kerkleiers regtig so uit voeling wees met die waarheid of is dit voorbedagte disinformasie?

Die teendeel is nader aan die waarheid. Meeste voorstanders van Belhar is eerder emosioneel of polities gemotiveer as teologies. Dit is skokkend dat selfs die Algemene Sinode nog geen teologiese studie van Belhar gedoen het nie. Nie een enkele van die besluite wat tot dusver oor Belhar geneem is, is geneem op grond van ’n objektiewe teologiese evaluering voor die Sinode nie.

In 2011 het die Sinode danksy die welsprekendheid van sekere afgevaardigdes besluit om ’n kerkordelike proses te begin om Belhar moontlik deel te maak van ons belydenisgrondslag. Ons het die sinode daarop gewys dat geen belydenis slegs “opsigself genome” beoordeel kan word nie. Daar is toe besluit om as deel van die proses ’n studie te doen oor die teologiese en historiese evaluering van Belhar. Hierdie studie moes in 2013 voor die Sinode dien, maar dit is nooit gedoen nie. Tot dusver is die sinode se besluite oor Belhar dus nie gebaseer op ’n teologiese evaluering nie, maar bloot emosioneel oor Belhar “opsigself genome”.

Grondliggend van teologiese besware teen Belhar, is die onmiskenbare invloed van die bevrydingsteologie.

Na die ontstaan van die belydenis in 1982/86, het die Breë Moderatuur van die NG Kerk dit verwerp as ’n dokument met ’n “onaanvaarbare horisontalistiese eksegese eie aan die teologie van bevryding”. Selfs verskeie liberale teoloë  erken hierdie invloed. Dr Willem Nicol sê: “Therefore I would say that the Belhar Confession which combines Reformed Theology with ­elements from Liberation Theology, is a legitimate ­Reformed development”.

Die “Statement of the Institute for Contextual Theo­logy” dank God vir die profetiese stem “through documents like the Kairos Document, The Belhar Confession, The Road to Damascus, …” Selfs prof Willie Jonker moes erken “al moet erken word dat verbindingslyne met die teologie van bevryding hier wel moontlik sou kon wees.”

Dr Boesak, die bekendste lid van die vyfmankommissie wat Belhar opgestel het, se doktorale proefskrif is ’n loflied op die swart bevrydingsteologie.

Hierdie mengsel van yster en klei het ernstige implikasies vir die hermeneutiese sleutel waarmee Belhar beoordeel moet word. Bybelse begrippe soos eenheid, geregtigheid en versoening kry in Belhar ’n nuwe hori­sontale betekenis wat vreemd is in die gereformeerde teologie.

Boesak sê openlik: “Black theology believes that liberation is not only ‘part of the gospel … it is the content and framework of the gospel … The Gospel is the Gospel of the Poor.” Dit is uiters naïef om te dink dat hy nou in Belhar skielik sy Marxistiese verstaan van die begrippe met Bybelse inhoud sou vul.

In die lig hiervan is dit nie vreemd dat Belhar met ’n valse Godsbegrip werk nie. Belhar aanvaar woordeliks die swart bevrydingsteologie se valse Godsbegrip dat God “op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte is en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin na te volg.”

Ten spyte van baie teologiese besware die afgelope 30 jaar, volstaan die opstellers steeds hardkoppig met hierdie Marxistiese bewoording. Anders as Belhar leer die Bybel ons: “Voor die Here is ryk en arm gelyk; Hy het hulle almal gemaak” (Spr 22:2).

’n Belydenis wat nie akkuraat geformuleer is nie bevorder dwaling en verdeeldheid. Vir Belhar se outeurs was akkurate formulerings glad nie belangrik nie. Tydens die ontstaan van Belhar het 73 afgevaardigdes teen bogenoemde misleidende formulering gestem. Beide professore Bam en Smit het erken dat sekere formulerings dubbelsinnig is maar tog geweier om dit te verander. Volgens Smit word slegs die saak in die belydenis “van harte onderskrywe en nie spesifieke woorde of uitdrukkings nie.”

As ons gereformeerde vaders so min gedink het van akkurate teologiese formulerings was die reformasie asook die stryd teen die Arminiane futiel.

Die gereformeerde belydenisse verwerp dwalinge na links en na regs. Selfs Kerk en Samelewing verwerp nie net rassisme nie, maar ook “marxisme, kommunisme, totalitarisme, integrasionisme en alle ander onchristelike ideologieë” (par 255). Belhar druip hierdie toets deur sektaries eensydig slegs dwalinge na regs af te wys. Reële dwalinge na links, soos die marxisme en bevrydingsteologie word geïgnoreer en selfs bevorder deur gevaarlike formulerings.

Een van Belhar se grootste teologiese probleme lê natuurlik by sy kerkbegrip. Belhar dwaal in sy siening van eenheid en pluriformiteit, die kerk se primêre taak op aarde, die verhouding tussen plaaslike gemeente en die een Christelike Kerk. Belhar se standpunt dat een kerkformasie ’n Bybelse eis is, en dat alle aparte kerkformasies sondig is, is in stryd met Skrif en belydenis.

Ruimte ontbreek om ander teologiese dwalinge in Belhar se kerkbegrip, Skrifgebruik, horisontalistiese eksegese en siening van strukturele eenheid asook die taak van die kerk aan te dui.

  • Ds Theo Danzfuss is predikant van die NG Gemeente Witfield en aktuarius van die Hoëveldsinode.

************

Die volgende brief het in Rapport verskyn.

Belhar stok om kerk te slaan

Saterdag 07 Maart 2015 22:30

In Kerkbode van 5 Februarie antwoord dr. Braam Hanekom, moderator van die Wes-Kaapse Sinode, op ds. Theo Danzfuss se kritiek op Belhar.

Daarop kan die volgende gesê word: Daar kan verklaar word dat Belhar raak-raak aan die bevrydingsteologie en nie gereformeerde teologie is nie, ondanks Hanekom se stelling dat twee “soliede gereformeerde teoloë, Dirkie Smit en Jaap Durand, reuse-bydraes tot die formulering van Belhar gelewer het”.

Prof. Ben Engelbrecht sê die bevrydingsteologie is een wat “politieke en maatskaplike verandering nie slegs sien as ’n implikasie van die Christelike evangelie en geloof nie, maar as die eintlike en wesenlike inhoud daarvan”. Geld dit nie vir Belhar nie?

Hanekom sê Boesak se rol is ’n “dun konneksie” en dat dit “ ’n valse persepsie skep”.

Dis van alle waarheid ontbloot. Kyk net na wyle prof. Russel Botman se toespraak aan sinode­gangers van die Reformed Church of America op 10 Junie 2007. Daarin word Boesak se rol volledig uitgespel.

Belhar is in sy wese ’n stok om die NG Kerk mee te slaan vanweë sy “pseudo-religieuse teologie” van apartheid, soos dr. Boesak dit genoem het.

Pieter Hurter

Hermanus

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui