Belhar – hoekom nee?

Die volgende is opgestel deur Daniel Louw ter voorbereiding vir die NGK Secunda Moedergemeente (Rondekerk) se kerkraadsstemming op 9 Februarie 2015 oor die verandering van artikel 1 wat voorstel dat Belhar as ’n opsionele belydenisskrif aanvaar moet word. Meeste van hierdie argumente is genoem tydens gesprekke voor die stemming.

********

Lys van afkortings:

  • APK: Afrikaanse Protestantse Kerk (hulle het weggebreek van die NGK oor politieke redes)
  • NGK: Nederduits gereformeerde kerk (blanke kerk)
  • NGKA: NGK in Afrika (die swart kerk, deel van die NGK familie)
  • GKSA: Gereformeerde kerk
  • RC: Reformed church (die Indiër kerk, deel van die NGK familie)
  • URCSA: United Reformed church of South Africa (VGK se voorgestelde nuwe naam van nuwe kerk na die NGK en die VGK saamgesmelt het)
  • VGK: Verenigende gereformeerde kerk (die kleurlingkerk, deel van die NGK familie)

Inhoudsopgawe

  1. Inleiding
  2. Teologiese kwessies met Belhar
  3. Gerespekteerde mense teen Belhar
  4. Belhar strategies, nie prinsipeel
  5. Huidige voorstel help nie vir eenheid nie
  6. Belhar as opsionele belydenisskrif
  7. Die argument: mense moet ruimte maak vir mekaar
  8. Hoekom is strukturele kerkeenheid so belangrik?
  9. Versigtig vir eenheid
  10. Belhar en bevrydingsteologie
  11. Implikasies van kerkeenheid
  12. Arrogansie en kwaadwilligheid van die VGK
  13. Verhouding met ander
  14. Ander belangriker kwessies
  15. Huidige stemresultate
  16. Ten slotte

1. Inleiding

Tans moet die NGK stem om Belhar as vierde belydenisskrif te aanvaar (kyk Waaroor gaan die Belhar stemmery?). Die einddoel is kerkeenheid – sodat die NGK en VGK (en die ander twee kerke in die NGK familie, die RC en NGKA) kan saamsmelt om een kerk te word. (Kyk wat sê Nelus Niemandt in 10 vrae aan Nelus Niemandt.) Daar is baie verdeeldheid oor hierdie kwessie en sommige glo dat dit selfs ’n skeuring in die NGK kan veroorsaak.

Hierdie artikel kyk na die verskillende kwessies rondom die Belydenis van Belhar.

2. Teologiese kwessies met Belhar

Sommiges beweer dat daar teologiese kwessies met Belhar is. Die kontroversiële gedeelte in Belhar is artikel 4:

4. Ons glo dat God Homself geopenbaar het as die Een wat geregtigheid en ware vrede onder mense wil bring; dat Hy in ’n wêreld vol onreg en vyandskap op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte is en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin na te volg; dat Hy aan verdruktes reg laat geskied en brood aan die hongeriges gee; dat Hy die gevangenes bevry en blindes laat sien; dat Hy dié wat bedruk is, ondersteun, die vreemdelinge beskerm en weeskinders en weduwees help en die pad vir die goddelose versper; dat dit vir Hóm reine en onbesmette godsdiens is om die wese en die weduwees in hulle verdrukking te besoek; dat Hy sy volk wil leer om goed te doen en die reg te soek;

(Vir die hele belydenis, met volledige skrifverwysings, kyk Die Belydenis van Belhar.)

Indien jy artikel 4 lees, lyk dit op die oog af nie baie verkeerd nie (alhoewel ’n mens dadelik ’n konneksie kan maak met die bevrydingsteologie). Die meeste verwysings is ook redelik van toepassing en ondersteun in ’n mate artikel 4 (kyk bv Jesaja 1:16-17).

Die Nuwe Testament is egter baie duidelik dat Jesus nie gekom het om aardse welvaart en gemak aan mense te bewerkstellig nie, maar redding vir die lewe hierna. Daar is baie voorbeelde:

  • Jesus en sy dissipels het nie eers ’n huis gehad nie en was swerwers (Matteus 8:20).
  • Paulus het baie lyding verduur (Kolossense 1:24).
  • In die boek Filemon het Paulus by Filemon gepleit om Onesimus terug te neem as ’n slaaf – hy het nie gepleit dat Filemon vir Onesimus vrylaat as ’n slaaf nie. (Filemon)

Interessant ook wat Levitikus 19:15 sê: “Wees regverdig wanneer jy besluite moet maak. Moenie kant kies vir iemand omdat hy arm is of omdat hy belangrik is nie. Jy moet jou medemens regverdig behandel.” (Die Boodskap)

Die volgende is sommige van die verwysings wat gebruik word saam met artikel 4 in die Belydenis van Belhar:

  • Johannes 14: “(27)Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.” – Hierdie kan geinterpreteer word dat God jou nie van jou fisiese swaarkry gaan verlos nie, maar dat Sy genade vir jou genoeg is IN jou swaarkry. Kyk ook 2 Kor 12:9.
  • Jakobus 5:1-6 : Dit is baie ironies dat hierdie gedeelte in die Belydenis van Belhar is. Dit laat mens baie aan Allan Boesak self dink, een van die vyf opstellers van Belhar – kyk Boesak sê tronk tóé moeite werd; nou’s hy net vies.

Ds Theo Danzfuss skryf in Belhar – hier is die teologiese besware die volgende:

“Een van Belhar se grootste teologiese probleme lê natuurlik by sy kerkbegrip. Belhar dwaal in sy siening van eenheid en pluriformiteit, die kerk se primêre taak op aarde, die verhouding tussen plaaslike gemeente en die een Christelike Kerk. Belhar se standpunt dat een kerkformasie ’n Bybelse eis is, en dat alle aparte kerkformasies sondig is, is in stryd met Skrif en belydenis.”

Dit is ’n goeie punt. (Kyk ook Teologiese Kritiek op Belhar.)

Die NGK se huidige belydenisskrifte is baie besonderse, ryk belydenisskrifte wat oor ’n lang periode opgestel is. Die Belydenis van Belhar, aan die ander kant, is blykbaar oornag opgestel en ’n paar dae daarna onderteken.

Die Belydenis van Belhar bring ook nie veel tafel toe nie behalwe ’n fokus op kerkeenheid, die versorging van armes en die feit dat reg aan die verdruktes moet geskied. Die vraag is of hierdie temas werklik so ’n belangrike kwessie is dat dit ’n spesiale belydenisskrif regverdig? Moet ons nou ook ander belydenisskrifte opstel wat fokus op ander belangrike dinge soos die Christelike optrede (vrug van die gees – Gal 5:22-23)?

Verder doen die NGK reeds baie om die armes op te hef. Die NGK is ’n beduidende welsynsorganisasie in die land.

‘n Groter probleem egter van Belhar is al sy bagasie: Dit is en was nog altyd ’n politieke dokument wat op onbybelse maniere aangewend is. Hierdie bagasie word bietjie later bespreek.

3. Gerespekteerde mense is teen Belhar

Die feit dat ’n hele aantal gerespekteerde mense teen Belhar is en al baie moeite gedoen het om hulle standpunte te lig, moenie misgekyk word nie. Die volgende boeke is bv al geskryf:

4. Belhar strategies, nie prinsipeel

Daar is mense wat beweer dat Belhar ’n geskenk is aan die NGK, dat dit iets is wat lewens verander en daarom is dit die rede hoekom die NGK dit as ’n belydenisskrif moet aanvaar.

Dit is moeilik om te glo dat die doel van Belhar slegs is om ons huidige belydenisse aan te vul terwyl dit dreig om skeuring in die NGK te veroorsaak. Dít in ’n tyd waar die NGK reeds baie lidmate verloor het (kyk Krimpende kerk nie net sleg).

Kyk ook wat sê die volgende mense oor Belhar:

Frits Gaum:

“Om eens en vir altyd van die kettings van apartheid ontslae te raak moet die NG Kerk die Belhar-belydenis onomwonde aanvaar.” (Uit NGK moet apartheid afskud deur Belhar te aanvaar – Gaum)

Piet Strauss:

“Die voorstel spruit daaruit dat die Belydenis van Belhar op aandrang van die Verenigende Gereformeerde Kerk nou langer as 20 jaar op die tafel van die NG Kerk lê. Die stemming gaan nie oor die inhoud van Belhar nie” (Uit Belhar: Waaroor presies moet NG Kerk stem?)

Ben du Toit:

“Dit gaan uitsluitlik daaroor om aan die VGK se eise te voldoen om kerkeenheid te bewerkstellig. Hierdie saak is strategies, nie prinsipieel nie.

Dit is egter juis deel van die probleem – dat ons hierdie saak strategies wil hanteer in plaas van prinsipieel. Met die 1998 en 2002 Algemene Sinodes was dit nog nie die geval nie. Toe is prinsipieel of teologies daaroor geredeneer. Met gunstige gevolge. Maar, sedert die Hartenbos-sinode van 2004 het ons met die “ruim huis-konsep” en “opsionele hantering van Belhar” eerder strategies as belydend hieroor gedink. Was daarmee die dood in die pot vir die NG Kerk as ’n belydeniskerk?

Ek dink nie die nuwe formulering van Artikel 1 gaan in die NG Kerk die paal haal nie. Wat nie noodwendig ’n stem teen Belhar gaan beteken nie. Dit gaan geen duidelike aanduiding wees van hoe daar regtig in die NG Kerk oor hierdie belydenis gedink word nie. Ook nie oor wat ons (nou eintlik) bely nie.” (Uit Ben du Toit oor Belhar en die Kerk se reaksie)

Nelus Niemandt:

“Belhar het volgens Niemandt ’n karakter gekry en handel oor meer as net die inhoud daarvan. Hy het gesê op ’n simboliese vlak is dit ’n verklaring deur mense dat hulle in Suid-Afrika wil bly en ’n positiewe bydrae wil maak en nooit weer die pad van apartheid wil stap nie.” (Uit NGK besin weer ná sterk nee vir Belhar.)

*********

Dit is dus baie duidelik dat dit nie oor die inhoud van Belhar gaan nie. Die voorstel is dus nie prinsipeel nie, maar strategies, soos Ben du Toit tereg opgemerk het. Dit gaan daaroor om aan die VGK se vereistes te voldoen. Hierdie hele ding is niks anders as ’n politieke skuif nie.

5. Huidige voorstel help nie vir eenheid nie

Die uiteindelike doel van die aanvaarding van Belhar is om kerkeenheid tussen die NGK en VGK te bewerkstellig. Die huidige voorstel vra egter dat die NG Kerk die Belharbelydenis as ’n opsionele belydenisskrif aanvaar (kyk Waaroor gaan die Belhar stemmery?). Hieroor het dr Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel (huidige moderator van die VGK) die volgende gesê:

“’n Belydenis is ’n deurslaggewende aksie en nie ’n toevallige reaksie nie. Die VGK het onvermoeid oor die afgelope 28 jaar oor en oor gesê die belydenis van Belhar kan nie opsioneel wees in ’n toekomstige verenigde kerk nie.” (Uit Moderator (VGK) sê oor Belhar, 16 Oktober 2014)

Die VGK het dus reeds baie duidelik gesê dat hulle nie in eenheid belangstel as die NGK Belhar bloot as ’n opsionele belydenisskrif aanvaar nie. Wat help die huidige voorstel dan? Dit beteken dat die proses op ’n stadium weer herhaal gaan word. Of hoop die NG Kerk leierskap dat die VGK van plan sal verander? Tans word reeds baie tyd en geld bestee aan hierdie inisiatief (waarskynlik nie net duisende rande nie). Kan die NGK dit bekostig om hierdie risiko te neem?

6. Belhar as opsionele belydenisskrif

Die Bybel en die belydenisskrifte word beskou as die grondwet van die kerk en word as sulks in die hof gerespekteer. Dit kan vergelyk word met die grondwet van ’n organisasie. ’n Maatskappy kan in die hof aangekla word as hy in stryd met sy grondwet optree. Die implikasies van die besluit waarvoor ons nou gestel word is dus onvoorsienbaar en bring meer vrae na vore as wat dit oplossings bied.

7. Die argument: mense moet ruimte maak vir mekaar

Een van die groot pro-Belhar argumente is dat mense vir mekaar ruimte moet maak. Lidmate moet Belhar aanvaar, nie noodwendig omdat jyself dit aanvaar nie, maar ter wille van ander wat dit wel wil aanvaar.

Daar is ’n groot probleem met hierdie beginsel! Dit is net so goed daar word van NGK lidmate gevra om homoseksualiteit as ’n nie-sondige leefwyse goed te keur ter wille van die mense wat dit glo. Jy hoef nie self daarmee saam te stem nie, maar as jy nie vir hierdie mense ruimte maak nie, dan is jy onverdraagsaam. Of om (soos reeds gedoen is) vir lidmate te vra om ruimte te maak vir mense wat nie aan die duiwel glo nie (kyk NG Kerk laat ruimte vir botsende sienings oor duiwel).

Dit is eenvoudig: As Belhar afwyk van die Bybel, dan kan Belhar onder geen omstandighede aanvaar word nie. As Belhar Bybels is, is daar niemand wat predikante/lidmate keer om die beginsels daarvan te verkondig of uit te leef nie. Dit hoef nie amptelik as ’n vierde belydenisskrif aanvaar te word nie.

Vandag word die belydenisskrifte feitlik nooit in kerkdienste of selfs ander geleenthede bely nie. Selfs die 12 Artikels word nie meer in baie gemeentes tydens dienste bely nie. Kinders word hoogstens geleer van die belydenisse se bestaan, maar dit word nie in detail behandel nie. Dus is dit totaal onverstaanbaar dat daar so ’n ophef gemaak word om Belhar amptelik as ’n belydenisskrif te aanvaar – tensy die agenda polities is (soos reeds gesê).

8. Hoekom is strukturele kerkeenheid so belangrik?

Mense wat Belhar aanhang gebruik onder andere Johannes 17:21 om hulle argument te staaf vir kerkeenheid:

Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.

Hierdie gaan egter nie oor kerklike strukturele eenheid nie, maar oor eenheid van geloof. Hierdie is een van die “dwalinge” van Belhar. Strukturele eenheid gaan niks doen aan eenheid in Christus nie. Daar is mense in ons eie kerk wat bv Jesus se opstanding en maagdelike geboorte bevraagteken, niks fout sien met homoseksualiteit en saamwoon nie en glo dat die duiwel nie bestaan nie. Met hierdie mense in ons eie kerk het ek geen christelike eenheidsgevoel nie terwyl ek baie mense buite ons kerk as mede broers in Christus sien.

Ek sien bv nie hoekom dit belangrik is dat daar strukturele eenheid tussen die NG Kerk en die ander drie suster kerke (Gereformeerde Kerk en Hervormde Kerk) moet wees nie. Gaan die NGK leierskap ook poog om die drie susterkerke te verenig? En wat van ander dominasies soos die AGS en Katolieke Kerk. Moet alle kerke verenig sodat daar een groot kerk in SA is? Of dalk ’n wêreldkerk…?

Strukturele eenheid sal ook bitter min op grondvlak verander. Strukturele eenheid gaan nie veroorsaak dat mense van verskillende rasse meer gaan saamwerk nie. Tans is daar selfs bitter min kontak tussen lidmate van verskillende NG kerke. Niks keer lidmate egter van die NGK en VGK en ander kerke om meer gesamentlike projekte en inisiatiewe te dryf nie. Dit sal baie groter waarde hê as strukturele eenheid.

Verder moet ’n mens ook vra hoekom die NGK leierskap begin om eenheid te soek met die VGK? Hoekom nie begin by kerke waar Belhar nie ’n vereiste is nie?

Die ironie is dat Belhar in werklikheid die grootste enkele struikelblok vir eenheid in die NG Kerk familie geword het.

9. Versigtig vir eenheid

Eenheid in die Bybel moet ook baie sterk binne die konteks gelees word. Jesus sê self in Matteus 10 dat hy nie gekom het om vrede te bring nie:

(34)”Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard. (35)Ek het gekom om tweedrag te bring ‘tussen ’n man en sy vader en tussen ’n dogter en haar moeder, tussen ’n skoondogter en haar skoonmoeder;

Kyk ook 1 Korintiërs 5:9-12, 2 Johannes v10, Kerkeenheid en Die Bybel oor dwaling.

10. Belhar en bevrydingsteologie

Die Belydenis van Belhar het baie sterk bevrydingsteologiewortels.

Die kern van die bevrydingsteologie is dat Christus ’n politieke bevryder is (wat natuurlik, soos reeds gesê, glad nie waar is nie). Die Bybel word ingespan om politieke veranderinge en sosiale sisteme omver te werp op ’n georganiseerde basis, selfs deur die gebruik van geweld indien nodig.

Die hermeneutiek wat gebruik word is dat God die Israeliete met mag uit Egipte bevry het en daarom moet die armes ook met mag bevry word van “onderdrukkers”.

Die term “bevrydingsteologie” is die eerste keer in 1973 gebruik deur Gustavo Gutiérrez, ’n invloedryke priester van Peru. Hy het gesê dat die evangelie van Christus vereis dat die kerk, mense op ’n aktiewe manier uit hul armoede en verdrukking moet bevry, selfs met geweld.

Dit is om die minste te sê onbybels.

NGK-teoloog, Prof Willie Jonker, skryf die volgende oor hierdie nuwe teologie:

“Aanhangers van die nuwe teologie gaan uit van die oortuiging dat daar nooit meer abstrak oor die waarheid gepraat kan word nie, omdat die waarheid self ’n historiese karakter dra.”

Dus is die hele bevrydingsteologie verdag.

Allan Boesak was een van die vyf opstellers van die Belydenis van Belhar. ’n Mens het Boesak deur die media leer ken as arrogant en iemand wat nog altyd sy mes ingehad het vir die NG Kerk. Hy was ook vir twee jaar (Mei 2000 tot Julie 2002) in die tronk vir bedrog en het onwettiglik selfoonoproepe uit die tronk gemaak van ’n gesteelde selfoon.

Voor Belhar opgestel is, het Boesak sy doktorsgraad gedoen in swart teologie (wat ’n vorm van bevrydingsteologie is). Die titel van sy skripsie was: “Farewell to Innocence – Social Ethical Study on Black Theology and Black Power”. Boesak haal bevrydingsteoloog, James Cone aan:

“Black Theology is a theology of liberation because it arises from complete identification with the oppressed in their struggle, proclaiming that struggle of the oppressed is God’s struggle… because the love of God is a divine activity, to love thy neighbour means to join God in his activity to liberate the oppressed.”

In April 2005 skryf Scarborough die volgende oor Boesak:

“Dr Boesak has claimed that the Reformed tradition is seen as being responsible for political oppression, economic exploitation, unbridled capitalism, social discrimination, and a total disregard for human dignity. White Christians have tried to spiritualise the dynamic power of the gospel, almost totally succeeding in making it the opiate of the people.”

Hoewel die Belydenis van Belhar eers in 1986 formeel deur die Sinode van die NG Sendingkerk aanvaar is, is dit reeds sedert 1982 as politieke werktuig ingespan om verset teen die regering aan te blaas. Saam met die Kairos-dokument en ’n dokument met die titel ” The Road to Damascus” (1989) wat onder meer deur proff. Durand, D.J. Smit, Russel Botman asook dr. Beyers Naude, dr. Allan Boesak saam met 429 kerklikes onderteken is, het dit ’n gedugte trilogie gevorm om die geweld en terreur asook kerkleiers se betrokkenheid daarby te regverdig. “The Road to Damascus” het ’n sterk Marxistiese grondslag.

Dat al drie hierdie dokumente geformuleer en ingespan is in die geestelikes se stryd teen die vorige regering, blyk baie duidelik uit die verklaring van die Instituut vir Kontekstuele Teologie wat gedurende die Rustenburgberaad in 1992 uitgereik is. Daarin verklaar hulle:

“We thank God that the prophetic voice, though vilified, condemned and discredited by other Christians, stayed alive through the dark period of division of Christian witnesses, and manifested through individual sacrifices; through documents like The Kairos Document, The Belhar Confession, The Road to Damascus, Evangelical Witness, and Relevant Pentecostal Witness.”

Belhar word dus met ope arms deur voorstanders van die bevrydingsteologie aanvaar en word in dieselfde asem gesê as die Kairos dokument en Road to Damascus.

Dit is teen hierdie agtergrond wat Belhar opgestel is.

Generaal Johan van der Merwe, medeskrywer van Belhar geweeg het prof. Dirkie Smit en dr. Allan Boesak, mede-opstellers van die Belharbeslydenis gevra of hulle ’n leuenverklikkertoets sou ondergaan om die volgende vrae te beantwoord om eens en vir altyd duidelikheid oor die vraag te kry of Belhar uit die staanspoor in politieke oorwegings verstrengel was:

  • Is die belydenis, volgens u kennis, op so ’n wyse opgestel, of op enige tydstip in kerklike kringe gebruik om verset teen die vorige regering aan te wakker en die regering te diskrediteer?
  • Het u op enige tydstip in die openbaar die terreurvoorvalle van die jare tagtig veroordeel en Christene aangemoedig om dit op geen wyse te steun nie?
  • Het u ooit deur u optrede of uitlatings op enige wyse, hetsy regstreeks of deur beïnvloeding of deur geld beskikbaar te stel, die revolusionêre aanslag gesteun?
  • Is die belydenis volgens u kennis gedurende die jare tagtig op enige wyse hoegenaamd gebruik om die terreur en geweld wat deur die ANC/SAKP-alliansie bedryf is, te regverdig?

Hy het onderneem om, indien hulle slaag, al die koste te dra en sy Belharbesware terug te trek. Albei het egter geweier. (Uit Volksblad briewe oor Belhar. Kyk ook Gen Johan van der Merwe se verklaring oor Belhar.)

Daar is nie kwessies daaroor dat Belhar as ’n anti-apartheidsbelydenis opgestel is nie EN selfs gebruik is om politieke onstabiliteit aan te blaas.

Dit mag wees dat die verbintenis tussen Belhar en bevrydingsteologie intussen vervaag het, maar net so het die NGK se betrokkenheid by apartheid nie net vervaag nie, maar heeltemal verdwyn. Van so vroeg as 1984 af het die NGK die morele en teologiese regverdiging van apartheid ongekwalifiseerd verwerp. Belhar het dus uitgedien geraak. ’n Anti-apartheidsbelydenis dien vandag geen doel meer nie.

Verder, as die NGK skuldig is daaraan dat hulle politiek en geloof gemeng het, dan is die VGK net so skuldig daaraan – Belhar is ’n politiesgedrewe belydenis!

Kom ons beskou ’n hipotetiese geval: Veronderstel die NGK stel ’n belydenis op wat homself uitspreek teenoor die ongeregtighede van regstellende aksie (wat natuurlik hoofsaaklik gemik is op blankes) en verwag dat die VGK dit as ’n belydenis moet aanvaar voor die NGK Belhar as ’n belydenis aanvaar. ’n Mens wonder of die VGK bereid sou wees om dit te doen.

11. Implikasies van kerkeenheid

Wat is die implikasies van kerkeenheid vir die NG Kerk? Veronderstel die NGK stem die voorstel wel in, wat is die tipe risikos wat voorlê:

  • Finansieel: Wat kos hierdie oefening alreeds? Na bewering het een van die spesiale sinodes vir Belhar in 2014 ongeveer R1.2 miljoen rand gekos. Daar gaan toekomstig nog baie verdere kostes wees. Groot kostes is reeds en gaan nog aangegaan word om vergaderings en besprekings oor hierdie kwessie te voer (vervoerkostes, verblyf en etes). (Kyk wat sê Anton van Niekerk hier.) Verder gaan daar hoogs waarskynlik lidmate wees wat die kerk gaan verlaat, wat beteken dat die inkomste van die kerk gaan krimp.
  • Naamsverandering: Die VGK het reeds besluit dat die naam van die nuwe kerk gaan wees – die URCSA (United Reformed church of South Africa). Baie NGK lidmate gaan nie hiermee tevrede wees nie.
  • Taal: Die kerk se amptelike taal sal ook Engels word omdat die VGK se amptelike taal reeds Engels is.
  • Skeuring: Gemeentes wat nee gestem het, het 2 opsies: aanvaar die uitslag of skeur. Watter implikasies het dit? Geboue behoort aan gemeentes, nie aan die NG Kerk nie. Die NGK het reeds baie lidmate verloor oor Belhar, byvoorbeeld die APK.

12. Arrogansie en kwaadwilligheid van die VGK

In die verlede het die VGK die NGKA probeer opsweep teen die NGK en hulle probeer oortuig om Belhar te aanvaar. In sommige NGKA gemeentes het ’n hele aantal lidmate dit wel aanvaar en die eiendom van die NGKA gekaap. Dit was ongrondwetlik. Na vele hofsake het die hof bevind dat die nuwe VGK lidmate die eiendom van die NGKA op onwettige wyse in beset geneem het. In baie gevalle is hierdie verkeerdhede nog nie reggestel nie, dus beset die VGK tans steeds eiendom van NGKA op onwettige wyse. Die leierskap van die VGK het na my wete nog niks gedoen om hierdie reg te stel nie.

In die verlede was die leraars van die VGK, NGKA en RC gelys in die NGK se jaarboek (die boek wat jaarliks opgedateer word wat al die kontakbesonderhede van gemeentes, ringe en leraars bevat). Die VGK het egter gevra dat hulle inligting uit die NGK se jaarboek verwyder moes word uit protes omdat die NGK nie Belhar wou aanvaar nie. Die NGKA en RC se inligting verskyn egter nogsteeds in die NGK se jaarboek.

Die feit dat die VGK daarop aandring dat kerke Belhar moet aanvaar skep die idee dat daar ’n onvergewingsgesindheid is by die VGK oor apartheid (onthou, die NGK verwerp apartheid alreeds van 1984 (meer as 30 jaar) én Belhar het eers in 1986 verskyn nadat die NGK reeds apartheid verwerp het). Hierdie eise wat die VGK aan die NGK stel is onchristelik en onverdraagsaam. Veronderstel die AGS nader die NGK om een te word of selfs om nader saam te werk en die NGK sê uit die staanspoor dat die NGK nie in eenheid belangstel nie voor die AGS afsien van die groot doop nie?

13. Verhouding met ander

Hoe gaan die aanvaarding van Belhar die verhouding tussen die NGK en ander kerke beïnvloed?

Hervormde kerk:

In die boek Belhar geweeg skryf dr Daan van Wyk dat die Hervormde Kerk self op die oomblik verdeeld staan oor apartheid: sommige voel dat die Hervormde kerk jammer moet sê oor apartheid en ander sê dat dit nie nodig is nie. Indien die NGK Belhar aanvaar, kan dit die verhouding tussen die NGK en Hervormde kerk nadelig beïnvloed.

GKSA (Gereformeerde kerk):

Tans het die NGK dieselfde belydenisgrondslag as die GKSA. Wat gebeur na die aanvaarding van Belhar?

NGKA:

Tans lyk dit vir my of hulle die kat versigtig uit die boom kyk.

RCA:

Die RCA het reeds aangedui dat hulle nie belangstel om Belhar as belydenisskrif te aanvaar nie.

APK:

Dit is voor die hand liggend dat die verhouding tussen die APK en die NGK versuur sal word indien die NGK Belhar aanvaar.

14. Ander belangriker kwessies

Dit is vir my verstommend dat die NGK leierskap bereid is om soveel tyd, energie en geld aan kerkeenheid te spandeer. Hierdie is seker die grootste en duurste inisiatief wat die NGK in baie jare aangepak het. Dit terwyl daar ander brandende kwessies is wat baie belangriker is, soos:

  • Die duiwel
  • Homoseksualiteit
  • Saamwoon
  • Jesus se maagdelike geboorte

Ek sal ’n nuwe belydenisskrif ondersteun, mits dit homself baie duidelik uitspreek oor die kwessies hierbo genoem wat tans baie aktueel is.

15. Huidige stemresultate

Daar is al baie gemeentes in die land wat gestem het: hoe lyk die resultate?

Gemeentes teen Gemeentes vir Sinode
Vrystaat 141 16 ?
Namibië 22 14 ?
Oostelike sinode 46 32 73% ja
Oos Kaapland 70% ja
Wes Kaapland 10 22

Volgens Kerkbode, 6 Februarie 2015.[1]

16. Ten slotte

Die volgende punte word ten slotte gemaak:

  • Alhoewel daar nie baie duidelike teologiese probleme met Belhar is nie, is dit baie duidelik waar dit vandaan kom – dit is ’n anti-apartheidsbelydenis met sterk bevrydingsteologiewortels. Daar is baie sterk aanduidings dat Belhar gebruik is om politieke onstabiliteit te bevorder. Ironies genoeg, is dit opgestel in 1986 nádat die NGK apartheid verwerp het in 1984.
  • Die rede hoekom die NGK leiding Belhar so sterk dryf is nie oor die inhoud van Belhar nie, maar dit is strategies – die NGK moet kwansuis “eens en vir altyd van die kettings van apartheid ontslae te raak”. Strukturele kerkeenheid is die einddoel. Alhoewel die Bybel van eenheid praat, bedoel dit nie noodwendig strukturele kerkeenheid nie, maar eenheid in Christus.
  • Indien die NGK Belhar aanvaar, kan dit die NGK se verhoudinge met ander kerke skade laat ly.
  • Sommige van die implikasies van kerkeenheid is:
    • Die hele proses tot strukturele kerkeenheid gaan groot finansiële uitgawes beteken.
    • Die NGK se naam gaan verander.
    • Die amptelike taal gaan verander.
    • Daar mag selfs skeuring plaasvind.
  • Die huidige voorstel help nie vir kerkeenheid nie omdat die VGK reeds baie duidelik gesê het dat Belhar nie opsioneel aanvaar kan word nie, maar dat dit as ’n volwaardige belydenisskrif aanvaar moet word.
  • Daar is baie ander belangriker kwessies in die NGK. Dit is onverstaanbaar dat die NGK leierskap bereid is om soveel hulpbronne aan hierdie kwessie af te staan.

Voetnotas

[1] Nuwer inligting is beskikbaar by NGK besin weer ná sterk nee vir Belhar.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui