Belydenisskrifte onder die rooi pen?

*******

Belydenisskrifte onder die rooi pen? | Kerkbode

Jacques Strydom

29 September 2022

’n Groepie mense sit in ’n donker saal voor ’n skerm waarop die Apostoliese Geloofsbelydenis geprojekteer word. Een-vir-een staan van hulle op, gaan na die rekenaar en redigeer die eeue-oue belydenis. Party haal frases uit, ander verander woorde, ander voeg by. Aan die einde van die aand sit dié gemeenskap met ’n nuwe belydenisdokument, vol redigerings en aanpassings. Dit is ’n eksperiment wat by ’n geleentheid deur die Ikon-gemeenskap onder leiding van Peter Rollins uitgevoer is.

In ’n onlangse peiling onder 110 predikante deur die NG Kerk se Taakspan Navorsing, het 72% van respondente gesê dat ons Drie Formuliere van Eenheid van tyd tot tyd hersien en herformuleer moet word en slegs 10% het dit as finale denksisteme beskou. Beteken dit daarom dat ons as kerk ook deur só ’n redigeringsproses van ons belydenisse moet gaan? Jacques Strydom het gaan ondersoek instel oor hoe predikante wel oor belydenisskrifte dink.

In watter mate stem jy saam/nie saam nie? Die Drie Formuliere van Eenheid (NGB, Heidelbergse Kategismus, Dordtse Leerreëls) …

Beslis Ja Neutraal Nee Beslis nie
… speel ’n belangrike rol in my bediening 16 44 18 16 6
… is belangrik vir die opleiding van predikante 32 48 12 4 4
… is belangrik vir die identiteit van die kerk vandag 21 46 22 10 1
… kan as finale denksisteme beskou word 4 6 22 44 24
… benodig van tyd tot tyd hersiening en nuwe formulering 29 44 12 11 4

Die belydenisskrifte is al die laaste paar jaar onder die vergrootglas. Daar is party wat voel dat die NG Kerk al meer daarvan afwyk en dat hierdie afwyking ’n gevaar vir die kerk se identiteit inhou. Ander sien dit as ’n dooie dokument wat gebruik word as ’n stok om mee te slaan wanneer ons nie saamstem oor kwessies nie. Vir ander is dit bloot iets wat ons by ’n begrafnisdiens afstof of in besonderse gevalle as votum sal gebruik.

Die feit dat soveel predikante klaarblyklik saamstem dat dit hersien behoort te word, mag dit laat lyk asof die belydenisskrifte wel hulle rol in die kerk verloor. Uit die bogenoemde peiling is dit wel duidelik dat diegene wat oortuig is dat die belydenisskrifte hersien moet word, juis dié is wat voel dat die belydenisse belangrik is vir hulle bediening, teologiese opleiding en die identiteit van die kerk.

Die herformulering en herontdekking van die belydenisskrifte is ook nie ’n nuwe gedagte nie. ’n Slagspreuk uit die Reformasie is immers ecclesia reformata, semper reformanda, die idee dat die kerk wat altyd (moet) reformeer, wat voorstel dat ons kom uit ’n tradisie van verandering en vernuwing, soos tyd en konteks dit van ons vra. Reeds in 2009 is daar ’n span deur die Algemene Sinode aangewys om te werk aan ’n eietydse interpretasie van die Apostoliese Geloofsbelydenis. Dit het gelei tot ’n verslag, naamlik Die Apostoliese Geloofsbelydenis: ’n eietydse uitleg, waarin dié belydenis binne die historiese konteks interpreteer en verduidelik is. Ook in 2021 het die dagbestuur van die Algemene Sinodale Moderamen ’n reeks van 13 video’s vervaardig waarin hulle gesels het oor wat ons in die NG Kerk glo, leer en getuig, met ’n fokus op die belydenisskrifte en hulle rol binne die kerkverband.

Die predikante met wie ek gesels het was dit egter eens dat die fokus nie soseer moet wees op die herformulering van die belydenisskrifte nie, maar eerder op die verstaan daarvan. Ds Niel Steyn meen dat die jongmense met wie hy werk waarskynlik baie min weet van die belydenisse. Hy sê dat dit daarom nie regtig vir hulle ’n verskil gaan maak of dit verander word of nie. Tog meen hy dat dit belangrik is dat ons wel ons geloof op ’n manier moet formuleer. Hy stel daarom voor dat ons moet dink aan hoe ons die belydenisskrifte in hulle huidige vorm aan jongmense kan oordra en hulle help om dit te verstaan.

Ds Riaan de Villiers meen dat ons die historiese konteks van die belydenisskrifte in ag moet neem wanneer ons vandag daaroor praat. Hy sê dat ’n gedekolonialiseerde belydenisskrif soos Belhar ons kan help om ook die ouer belydenisse te lees binne vandag se konteks.

Ds Johan Botes sluit aan by hierdie idee van hierdie koherente saamlees van die belydenisskrifte. Hy sê byvoorbeeld dat die Heidelbergse Kategismus hom gehelp het om van die artikels in die Apostoliese Geloofsbelydenis beter te verstaan. Tog is daar min materiaal of hulpbronne wat ons van die ander belydenisskrifte, soos die Dordtse Leerreëls en Heidelbergse Kategismus, help herontdek en verstaan – veral nie hulpbronne wat vir ’n wyer gehoor toeganklik is nie. Hy verduidelik verder dat die belydenisskrifte min waarde het as ons dit nie lééf nie – “anders word dit dooie dokumente wat nooit gelees word nie”. Sy voorstel is dat ons fokus in kerke en teologiese opleiding moet wees op die effek wat die belydenisse het op hoe ons kerk is – dat ons moet kyk na die impak daarvan op hoe ons dit uitleef en hoekom ons sekere goed op grond daarvan doen. “Ons moet nuwe maniere kry om weer oor die artikels te praat” anders gaan herformulering niks doen nie. “Ons hoef dit nie te hersien nie, ons kort net die verbeelding om dit te beliggaam. Ons moet kyk na die bestaansgeskiedenis daarvan, en wat dit beteken.”

Dit blyk daarom dat die 110 predikante wat deelgeneem het aan die paneel van die Taakspan Navorsing se soeke na ’n hersiening of herformulering van die belydenisse eerder te doen het met ’n herontdekking daarvan as ’n totale herskrywing. Die taak van predikante, sinodes en teologiese opleiding is om die belydenisse op ’n relevante wyse bekend te maak aan lidmate sodat ons die inhoud daarvan op ’n praktiese wyse kan ontdek en uitleef.

Ds Jacques Strydom is ’n predikant by Ysterplaat Gemeente en werk vir ’n organisasie wat teologiese opleiding in verskeie lande in Afrika doen. Hy doen tans navorsing oor die beliggaming van Missio Dei in middestadsgemeentes. Hy was een van die deelnemers aan die 2022 Slypskool vir Skrywers op Wellington, aangebied deur die Taakspan vir Teologiese Navorsing in samewerking met Kerkbode.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui