Ben du Toit het die volgende brief aan Kerkbode geskryf. Chris van Wyk, voorsitter vir die taakspan vir Belydenis van Belhar het toe daarop gereageer.
Hierdie wys dat die hele Belharkwessie ’n gemors is en baie verwarring skep.
*************
Ben du Toit se brief
Brief van Ben du Toit aan Kerkbode van 3 Oktober 2014
Belhar en Artikel 1
Ben du Toit van Kuilsrivier skryf:
’n Stem teen Artikel 1 is dalk nie ’n stem téén Belhar nie.
Inteendeel. En die omgekeerde is ook waar: ’n Stem vir die voorgestelde nuwe bewoording van Artikel 1 van die Kerkorde van die NG Kerk kan ook geïnterpreteer word as ’n stem téén die Belydenis van Belhar. Immers is dit dan nie verpligtend vir lidmate om Belhar as belydenisskrif te aanvaar nie.
Vir ’n aantal van ons is die voorgestelde Artikel 1 ’n minderwaardige hantering van die Belydenis van Belhar. Terwyl Belhar die identiteit van die VGKSA definieer, is dit nou vir die NG Kerk ’n saak van mindere waarde – vergeleke met die Drie Formuliere van Eenheid.
Hoe moet ons nou stem? Ons wat Belhar (selfs sedert sy ontstaan in die stryd teen apartheid) ten volle as belydenis aanvaar het; ons wat ons beywer vir die hereniging van die NG Kerkfamilie – wat nog altyd aan onsself gedink het as behorende tot die NG Kerkfamilie. Hoe kan ons vir ’n minderwaardige plek van Belhar in ons Kerkorde stem? Prinsipieel is dit onhoudbaar. Vir ons.
Voor die Algemene Sinode van 2013 het ek ’n versoek gerig aan die taakspan wat met voorstelle oor ’n nuwe formulering vir Artikel 1 na die sinode moes kom:
“Artikel 1 behoort eenvoudig net te lui: Die Kerk aanvaar dat die onderskrywing van belydenisse sonder dwang geskied. Dit geld dan inderdaad ook van Belhar, maar ook van al die ander. Die VGKSA het nog konsekwent gesê dat Belhar presies net soos die ander behandel behoort te word, en dit beteken inderdaad sonder belydenisdwang.”
Dit is klaarblyklik nooit as opsie oorweeg nie.
Nou sal sommige dalk vra: Wat gaan met jou aan? Besef jy nie dat hierdie ons laaste kans is op Belhar en kerkhereniging nie?
Dit is egter juis deel van die probleem – dat ons hierdie saak strategies wil hanteer in plaas van prinsipieel. Met die 1998 en 2002 Algemene Sinodes was dit nog nie die geval nie. Toe is prinsipieel of teologies daaroor geredeneer. Met gunstige gevolge. Maar, sedert die Hartenbos-sinode van 2004 het ons met die “ruim huis-konsep” en “opsionele hantering van Belhar” eerder strategies as belydend hieroor gedink. Was daarmee die dood in die pot vir die NG Kerk as ’n belydeniskerk?
Ek dink nie die nuwe formulering van Artikel 1 gaan in die NG Kerk die paal haal nie. Wat nie noodwendig ’n stem teen Belhar gaan beteken nie. Dit gaan geen duidelike aanduiding wees van hoe daar regtig in die NG Kerk oor hierdie belydenis gedink word nie. Ook nie oor wat ons (nou eintlik) bely nie.
Chris van Wyk se reaksie daarop
Artikel 1 wil polarisering vermy Dr Chris van Wyk, voorsitter: taakspan vir Belydenis van Belhar, skryf: Ek het met groeiende verbasing dr Ben du Toit se brief “Belhar en Artikel 1” in die Kerkbode 3 Oktober gelees.
Sy uitgebreide bydrae rondom die Belydenis van Belhar is deur die taakspan vir die Belydenis van Bel- har ter vergadering hanteer, op die webtuiste geplaas, sowel as aan die Algemene Sinode 2013 voorgelê. Selfs sy korter formulering oor Artikel 1 as voorstel aan die taakspan is opgeneem in ons uiteindelike aanbeveling – saam met verteenwoordigers van die ander kerke – aan die Algemene Sinode. Enigiemand kan dit op die webtuiste nagaan. Jy skuld ons ’n verskoning.
Die Algemene Sinode het die voorstel uitgebrei, soos dit hulle goeie reg is, om ’n Artikel 1 te formuleer wat polarisering vermy tussen dié wat die Bely de nis van Belhar as in ooreenstemming met die Bybel bely – waar dr Ben du Toit hom bevind – en dié wat dit nie só bely nie.
Deur dié formulering te tipeer as strategies en minderwaardig dwing jy juis jou eie standpunt op an- der af en polariseer die kerk in twee kampe, of hulle nou wil of nie. Jou standpunt gaan dus lynreg teen ’n ruimhuis benadering in, soos jyself erken, en be- vorder die uitsluiting van diegene wat anders as jy dink. Daarteen het die Algemene Sinode 2013 duide- lik en amper eenparig standpunt ingeneem.
Artikel 1 is helder daaroor dat die Belydenis van Belhar deel raak van die belydenisgrondslag van die NG Kerk. Dit word bely as in ooreenstemming met die Bybel, soos met die ander belydenisskrifte. Om mense van verskillende oortuigings te akkommodeer, formuleer ons dit só: “Die Belydenis van Belhar is deel van die belydenisgrondslag van die Kerk, op so ’n wyse dat daar ruimte is vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit as in ooreenstemming met die Woord van God bely, sowel as vir lidmate, ampsdraers en vergaderings wat dit nie as ’n belydenisskrif onderskryf nie.”
Ons is vol vertroue dat ons daarmee ons hele kerk kan saamneem op hierdie wonderlike pad wat ons met die Belydenis van Belhar stap. Ek kan nou as lid van die NG Kerk amptelik die belydenis aanvaar, soosek ook reeds lankal persoonlik doen. Ek gee egter ook eksplisiet ruimte dat ander mense dit nie op dieselfde wyse as ek aanvaar nie. Ek hoop en bid dat jy dit ook sal regkry.