Beoordeling van ASM se “Gids” oor selfdegeslagverhoudings

Die volgende beoordering is geskryf na aanleiding van die sogenaamde “Gids” wat deur die ASM (Algemene Sinodale Moderamen) uitgereik is. Die doel van die Gids is om leiding te gee oor die kwessie van homoseksualiteit nadat die Algemene Sinode ruimte daarvoor gemaak het in Oktober 2019.

Kyk ook Reaksie op ASM se voorlopige Gids oor homoseksualiteit deur Jan Louw in Maart 2020.

****************

Beoordeling van die “gids” wat die Algemene Sinode se moderamen (ASM) aan die kerk beskikbaar gestel het

Deur Jan Louw (namens Kairos Netwerk)

21 November 2020

(21)Ek het nie hierdie profete gestuur nie, tog het hulle met ’n boodskap rondgehardloop; Ek het nie met hulle gepraat nie, tog het hulle as profete opgetree. (22)As hulle in my raadskamer gestaan het, sou hulle my woorde aan my volk meegedeel het en my volk van hulle verkeerde koers af laat wegdraai het, van hulle sondige dade af.

Jeremia 23:21-22

Agtergrond

Die ASM het op 9 Oktober 2020 ’n dokument beskikbaar gestel vir bespreking in die kerk oor die 2019-besluite van die Algemene Sinode (AS) oor selfdegeslagverbintenisse. Dit word ’n “Gids” genoem. Die Algemene Sinodale Moderatuur (ASM) het ook ’n Taakspan vir Gesprek aangestel om in die kerk op te tree en te verduidelik hoe die AS tot by die 2019-besluit gekom het. (In Maart 2020 is ’n voorlopige Gids gepubliseer. Kyk Selfdegeslagbesluit: Nuwe gids wil sinodes en lidmate help en ook kommentaar daarop deur myself en Henrietta Klaasing.)

Sedert die AS die kontroversiële besluite geneem het, het ’n groeiende groep gemeentes en lidmate hulle begin distansieer van die besluite en die voortspruitende optrede van die AS. Daar is ook ’n groeiende groep gemeentes wat aangekondig het dat hulle doleer. Dit beteken dat die betrokke gemeentes hulle steun aan hulle Sinodes onderbreek, totdat die Algemene Sinode terugkeer na die Bybelse waarhede.

In Februarie 2020 is daar ’n beraad by die Moreleta Gemeente in Pretoria oor die situasie gehou. Daar het ook ’n netwerk ontstaan wat genoem word die Kairos Netwerk (MKN).

Die betrokke Gids is byeengevoeg deur ’n Taakspan vir Gesprek, wat gesprekke wil reël in oorleg met streeksinodes. Die Taakspan is as volg saamgestel:

  • Heerden van Niekerk (sameroeper)
  • Maartje van der Westhuizen
  • Dewyk Ungerer
  • Bertus Celliers
  • Anton Fick (s)
  • Pieter van der Walt (skriba)

Die volgende temas word in die Gids van 48 bladsye behandel:

  1. Die volledige 2019-besluit
  2. Skrifhantering
  3. Eenheid en diversiteit
  4. “Bly in My soos Ek in julle”
  5. Hoe praat ons met mekaar?
  6. Die storielyn vanaf 1986 oor selfdegeslagverhoudinge

Die MKN het die Gids beoordeel en is besorg oor die aard van die inligting wat die ASM op dié wyse in die kerk wil versprei. Die MKN wil met hierdie dokument die regte perspektief oor die saak aan lidmate beskikbaar stel.

BEOORDELING VAN DIE GIDS IN KORT

Die inhoud van die Gids blyk glad nie ’n gerusstelling te wees vir die besorgde lidmate van die NG Kerk oor die ’n afvallige leerstellings in die die kerk nie. Die Gids dien inteendeel as ’n bevestiging vir dolerende gemeentes, dat hulle rede het om hulle te distansieer van die teologie wat nou in die sinodale stukture voorgestaan word.

In die beoordeling van die Gids, neem ons die volgende verklaring van die ASM as invalshoek:

Die Algemene Sinode het ’n amptelike, gedeelde Skrifbeskouing. Daar is egter nie eenstemmigheid wanneer dit kom by Skrifhantering nie.

Ons bely almal in die woorde van Artikel 7 van die Nederlandse Geloofsbelydenis dat die Skrif die wil van God volkome bevat, dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word, en dat ons niks met die Goddelike Woord mag gelykstel nie, want dié waarheid is bo alles.

Tog is daar verskille oor betekenis en toepassing.”

Die inhoud van die Gids gaan grotendeels oor die “tog”, die “egter”, die” nogtans”, wat die ASM wil hê dat die kerk moet oordink en waarmee ons moet vrede maak.

Die MKN maak beswaar teen die gedagte dat ons in die Kerk ’n gemeenskaplike belydenis het, maar tog ….

1. Maar tog … het die Sinode besluite geneem wat in stryd is met ons geloof in die Bybel

Die bewoording van die besluite gaan nie hier volledig bespreek word nie. Die besluite word as ’n bylae aan die einde aangeheg.

Oorkoepelend verklaar die MKN egter dat die besluite vir ons in omtrent elke opsig onaanvaarbaar en selfs verwerplik is. Die bewoording van die besluite is ooglopend afgestem om by die kruks van die saak uit te kom, soos wat die Kerkbode dit as volg saamgevat het:

Kerkrade word aangemoedig om in die verkiesing van mense tot die ampte lidmate se doop, roeping, spiritualiteit en getuienis oor leer en lewe in ag te neem, maar nie ras, geslag of klas of seksuele oriëntasie of identiteit nie.

Prakties beteken die besluite ’n volledige insluiting van LGBTQI+, in al die ampte en strukture van die Kerk. Die akroniem LGBTQI+, staan vir Lesbies, Gay, Biseksueel, Transseksueel, Queer, Interseks, ens.

Ons ken die woorde (L)esbies en (G)ay in die akroniem. Paulus het dit al geken toe hy gesê het: “Vroue verander die natuurlike omgang in ’n teen-natuurlike omgang. Net so laat vaar die mans ook die natuurlike omgang met die vrou en brand van begeerte vir mekaar” (Rom 1:26-27).

Die woord (B)iseksueel in die akroniem het in 1988 nog nie in die Afrikaanse woordeboeke verskyn nie. Biseksualiteit word egter op die internet beskryf as ’n seksuele oriëntering, waar ’n persoon ’n aangetrokkenheid het tot mense van die teenoorgestelde -, sowel as die teenoor dieselfde geslag. Biseksueles het ook ’n eie vlag waarmee hulle hulleself trots uitbeeld.

Die akroniem waaroor dit hier gaan het met die tyd al langer geword, soos wat meer en meer oriëntasies aanspraak maak op erkenning. Inligting daaroor is op die internet bekombaar. Dit is nie nodig om hier verder uit te brei op die betekenis van Transseksueel, Queer, Interseks, en die res nie.

Die seksuele gedrag waarvan ons hier praat is nie nuut nie. Paulus skryf sterk afwysend daaroor in sy briewe. Hy sê daar is dinge wat in die geheim gedoen word, dinge wat te skandelik is om selfs genoem te word (Ef 5:13).

In 2019 het die NG Kerk LGBTQI+, in werklikheid “ontsondig”. Die kerk het besluit dat mense wat in hierdie verhoudinge lewe kan trou en het selfs besluit om ’n formulier daarvoor op te stel. Die kerk het ook goedgekeur dat mense wat in LGBTIQI+ verhoudinge lewe, nie geweier kan word by die aanstelling van leraars en ander ampte in die Kerk nie.

2. Maar tog … word daar gefilosofeer oor die waarheid

Die Taakspan wy etlike bladsye in die Gids om op postmodernistiese wyse te filosofeer oor waarheid in die kerk (bl. 19-24).

Die Gids vertel van die beklemtonings van Ferdinand Deist, Herman Bavinck, Andrew Murray, Nicolaas Hofmeyer, Abraham Kuyper en ander teoloë. Die kerk het hiervolgens ’n geskiedenis van fundamentalisme, liberalisme, die Reveil-rigting, die ortodoks-Gereformeerde rigting, die Du Plessis-stryd ens.

Die godsdiensfilosoof Vincent Brummer word aangehaal dat hy onderskei het tussen regsinnigheid van hart en regsinnigheid van leer. Hy onderskei tussen die mistici en die konfessionaliste. Daar is ook mense wat die Bybel met objektiewe waarheid wil ontsluit en ander wil hê dat ons voorveronderstellings in die verstaansproses in ag moet neem.

So word daar in die Gids gefilosofeer oor begrippe soos “relatiwiteit van jou eie perspektief”, “soek na die bes moontlike oplossing, en nie om die argument te wen nie”, “onderskei wat ’n beter en ’n swakker interpretasiemoontlikheid is”. “Geldigheid” is belangrik. Geldigheid het te doen met “aanneemlikheid”, “effektiwiteit” en “egtheid”. Elkeen van hierdie onderwerpe het ook weer subonderwerpe.

Die Gids geredeneer oor die kerk se soeke om by die waarheid uit te kom. Die boodskap wat die ASM vir ons wil gee is dat die “vasgelooptheid” in die gay-debat teen bogenoemde agtergrond gesien moet word. Selfs die belydenisskrifte word deur verskillende mense vanuit verskillende teologiese hoeke geïnterpreteer.

Bogenoemde filosofering is ’n goeie voorbeeld van die postmodernistiese denke oor die waarheid. Volgens hierdie denkwyses kan niemand aanspraak maak op die waarheid nie. Dit pas die voorstanders van die gay-standpunt perfek, maar is ver verwyderd van die hoë agting wat die apostels vir die waarheid gehad het:

Van Paulus, ’n dienaar van God en ’n apostel van Jesus Christus. Ek het die opdrag ontvang om die uitverkorenes van God te lei tot die geloof en tot kennis van die waarheid, dié waarheid wat lei tot die diens van God (Tit 1:10).

Die Griekse woord aletheia (waarheid) kom 110 keer in die Nuwe Testament voor. Die kerk is bv. die “draer en beskermer van die waarheid” (1 Tim 3:15).

Die MKN het dus ernstige beswaar daarteen dat die ASM in sy Gids argumenteer dat ons ’n ruimhartige houding moet inneem in hierdie dispuut oor wat reg en wat verkeerd is voor die Here, asof ons nie weet wat die waarheid is nie.

3. Maar tog … het ons ’n vasgeloopheid in skrifbeskouing

Die Sinode het verklaar dat ons ’n “vasgelooptheid” bereik het oor Skrifhantering en Skrifuitleg. Dit dien as vertrekpunt vir die besluite wat volg en daarmee ag die Sinode dit blykbaar nie nodig dat die Woord van die Here verder geraadpleeg word nie. Ons het immers oor die Skrif ’n vasgelooptheid bereik.

In die Gids word enkele verwysings gemaak van hoe vorige Sinodes oor die Skrif gepraat het.

Die NG Kerk het inderwaarheid die afgelope jare baie energie ingesit om uitsprake te maak oor Skrifbeskouing. Daar het verslae oor Skrifbeskouing by die sinodes van 1986, 1990, 2002 en 2004 gedien. Die Gids haal ’n paar bemoedigende uitsprake oor die gesag van die Bybel aan, maar as jy verder grawe in die sinodale verslae kom mens gou agter wat werklik in die gemoedere van die kerklike akademici leef. Dit geld veral die 2002 verslag en die 2002 besluit oor skrifgesag.

Stellings soos die volgende kom met eentonige reëlmaat in die verslae voor en dit is so goedgekeur:

  • Menslike foute in die Bybel.
  • Voldoen nie aan wetenskaplike eksaktheid nie.
  • Maak geen aanspraak op historiese eksaktheid nie.
  • Wat in een konteks die waarheid is, is in ’n ander ’n leuen.
  • Skrifbeskouing bly voorlopig en word van tyd tot tyd aangepas met die lig wat beskikbaar is.
  • Dat ’n Skrifbeskouing altyd maar net ’n beskouing is, altyd menslik, altyd feilbaar, altyd voorlopig, altyd veranderbaar, aanpasbaar.
  • Nie ’n boek wat aan ons foutlose informasie verskaf, wat ons dan moet sluk of stik nie.
  • Sonder interpretasie van die historiese gebeure, is die “feite” op sigself stom.
  • Daarom vertel die Bybel nie maar net feite sondermeer nie, maar wel (on)heilsfeite, dit wil sê feit plus interpretasie.
  • Selfs “fiksie” en “foute” staan in diens van die Waarheid.
  • Na mate die historiese afstand tussen die feit en die tyd van vertolking groter word, neem die feitelikheid dikwels af, terwyl die vertolking toeneem. Soms word dit bykans onmoontlik om tussen feit en interpretasie te onderskei.
  • Die waarheid van die Woord is wel ewig, maar nie tydloos nie. Juis omdat dit ewig is, is dit vir elke tydsgewrig aktueel. Wat in een konteks die waarheid is, is in ’n ander ’n leuen.
  • Ens, ens.

Dit wil voorkom asof die Bybel vir hierdie Skrifgeleerdes van die kerk, ’n duister boek geword het, boek waarvoor eintlik verskoning gevra moet word.

Wat is die probleem waaroor die teoloë van die kerk sulke lang filosofiese dissertasies skryf en waaroor voortdurend nuwe besluite geneem moet word van die een sinode na die ander? Hierdie mense dissekteer die Bybel soos mediese studente, wat met ’n kadawer werk.

Wat het geword van die hartlike oortuiging van byvoorbeeld Guido de Bres (opsteller van die Nederlandse Geloofsbeleidenis), as hy oor die Bybel skryf? De Bres het in Artikel 5 van die Nederlandse Geloofsbelydenis as volg oor die Bybel geskryf:

Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie, maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is.

Die lidmate by die MKN besef deeglik dat die Bybel nie uit die lug geval het nie, maar ons ervaar nie die problematiek oor die Bybel wat blykbaar soos ’n albatros om die nekke hang van die teoloë wat die sinodale verslae opgestel het nie.

Ons ervaar die mense wat die Bybel geskryf en saamgestel het, as “ons” mense.

  • Ons glo soos hulle glo.
  • Hulle God is ons God.
  • Hulle volk is ook ons volk.
  • Hulle Verlosser is ook ons Verlosser.
  • Die geskiedenis waarvan hulle skryf is ook ons geskiedenis.
  • Die toekoms waarvan hulle profeteer is ook ons toekoms.
  • Die kerk waarvan die apostels skryf en leer is ook ons kerk.
  • Die Gees wat in hulle gewerk het is ook dieselfde Gees wat in ons werk.
  • Hulle is vir ons die skare van geloofsgetuies waarvan ons lees in Heb 12:1.

Die mense oor wie hierdie teoloë van die kerk so meerderwaardig en meewarig praat, is ons in baie, en veral die belangrike opsigte, ver voor. Opregte gelowiges in die kerk word nooit moeg daarvoor om dit wat die Bybelskrywers vir ons nagelaat het, te lees en te oordink nie. God het van die begin af gesorg dat sy groot dade deur hierdie dienaars van Hom op skrif gestel word, sodat ons Hom ook kan ken, soos hulle Hom geken het.

Saam met die kerk van die Here oor al die eeue, bely ons by die MKN met volle oortuiging dat die Bybel die Woord van God is. Ons lees in die Bybel wat in geen ander boek van die wêreld beskikbaar is nie. Ons kan nie genoeg daarvan kry nie. Die Bybel is die lig op ons pad en die lamp vir ons voet. Ons neem aanstoot oor die wyse waarop daar in die sinodale kringe oor die “heilige Skrif” (2 Tim 3:15) gepraat word.

3.1 Historiese kritiek in ons midde

Die MKN vermoed dat die rede waarom ons mekaar nie meer in die kerk kan vind as ons oor die Bybel praat nie, toegeskryf moet word aan die invloed van wat genoem word die “historiese kritiek”. Historiese kritiek het ’n nuwe uitkyk op die Bybel in teologiese en akademiese nadenke oor die Skrif meegebring.

Voorstanders van die historiese kritiek aanvaar nie die Bybel se eie getuienis oor sy ontstaan en inhoud nie. Dosente by die teologiese fakulteite noem hulleself Bybelwetenskaplikes. Die Bybelwetenskaplike wil die hulp van die wetenskap inroep om die verhale van die Bybel te verklaar en aanvaarbaar voor te stel vir die mense van die sogenaamde wetenskaplike era waarin ons woon. Hulle meen die wonderwerke en wonderverhale waarvan ons in die Bybel lees is vergesog en daarom is hulle voortdurend besig met vindingryke konstruksies, waarmee hulle die “werklike” geskiedens van die Bybel wil aanbied.

Uit opmerkings van die dosente by die teologiese inrigtings moet ons aflei dat die historiese kritiek ’n ononderhandelbare uitgangspunt is in die teologie wat hulle doseer.

  • Volgens hierdie metodes was Moses ’n legendariese figuur wat in die geheue van die die stamme van Israel geleef het. In die ballingskaptyd het die priesters vir Israel ’n godsdiens vanuit mondelinge oorleweringe opgebou en op skrif gestel. So het die boeke van Moses dan ontstaan.
  • Die profete was predikers van die volk wat hulle daarop beroep het dat hulle openbaringe van God sou ontvang het.
  • Jesus was ’n heldefiguur van die vroeë kerk wat allerande vergesogde optredes aan Hom toegedig het, soos dat hy uit ’n maagd gebore was en selfs uit die dood uit opgestaan het.
  • Paulus en die apostels word gesien as blote leiersfigure van die Jesusbeweging (mense van die Weg – Hand 24:14). Hulle het gestalte gegee het aan ’n nuwe godsdiens wat uit die Jodendom afgesplits het. In hierdie kringe word voortdurend gespekuleer oor die ware oorsprong van die briewe en die egtheid van die apostels.

Dit is duidelik dat die teoloë wat op dié manier met die Bybel omgaan besig is met ’n ernstige dwaalrigting. Dit is ook duidelik dat hulle wat so met ons geloofswaarhede omgaan met enige dwaling vorendag kan kom soos wat ons dan ook inderdaad nou in die kerk belewe.

’n Dekaan van een van ons teologiese fakulteite was in 2017 in die nuus omdat hy selfdegeslag (seksuele) verhoudinge Bybels wou regverdig. Hy het hom beroep op die “histories lees” van die Bybel (historiese kritiek) en gesê op die manier is daar plek vir selfdegeslagverbintenisse in die Bybel.

Met die historiese kritiek as uitgangspunt is daar ook by die Algemene Sinode in 2011 en 2013 ruimte gemaak vir mense wat nie glo in die bestaan van die duiwel as ’n persoonlike wese nie. Verskeie dosente by ons teologiese fakulteite het die opstanding van Jesus bevraagteken en so ook die maagdelike geboorte van Jesus. Die argument is dat dit nie belangrik is om vas te hou aan die historiese werklikhede nie, solank ons net die boodskap daarvan kan insien en verkondig.

Die MKN verwerp die beginsel van historiese kritiek as model om die Bybel te lees en te verstaan.

3.2 Eksegese en hermeneutiek

Die ASM en sy Taakgroep wil voorgee dat ons nie eenstemmigheid het oor Skrifhantering nie (bl. 15).

By die leraars van die MKN geld die gewone reëls van eksegese en hermeneutiek steeds as die vertrekpunt by die lees en verstaan van die Bybel (Skrifhantering).

By die eksegese van ’n teks, is die basiese vrae wat ons, onsself afvra steeds die volgende:

  • Wie is die skrywer?
  • Aan wie is die woorde gerig?
  • Wat is die genre wat die skrywer besig? Is dit ’n gedig? Is dit geskiedenis? Is dit ’n profesie? Is dit ’n brief?
  • Hoe het die wêreld gelyk toe die skrywer sy boodskap geskryf het?
  • Wat is die grammatikale aspekte van die taal wat ons help om die bedoeling van die skrywer te bepaal.

Die Gids beskryf die eksegetiese taak van die kerk korrek op bl 23: “Wanneer ons ’n beroep doen op die gesagvolle Skrif, plaas ons eintlik die lewe van ons geloofsgemeenskap verbeeldingryk binne die wêreld wat ons in die tekste vind.”

Wie histories-krities met die Bybel omgaan behou hulle egter die reg voor om vrye teuels te gee aan hulle verbeelding oor die verlede. In postmoderne terme het elkeen die reg om sy eie verhaal oor die Bybel te skryf. Oneerlike omgang met die Skrif bestaan nie in daardie kringe nie (Sien by 3.1 hierbo).

Liberale teoloë glo eenvoudig nie wat daar geskrywe staan nie. Hulle skilder “die mense van daardie tyd” as primitief en onkundig. Ons moet hulle motiewe beoordeel, want, hulle was “premodern” en “voorwetenskaplik”. Dit is die terminologie wat voortdurend aan ons opgedring word.

Wat die hermeneutiek van die teks betref, is die vraag hoe pas ons die gedagtes wat vir ons in die Bybel beskryf word toe in ons situasie vandag. In hierdie opsig moet ons, ons grotendeels laat lei deur die leer van die apostels in die briewe. Hulle het ons geleer hoe om die Ou Testament met sy geskiedenis, wette, profesië, wyshede en liedere te gebruik in die bedeling waar die koninkryk van Christus aangebreek het.

Die aanhangers van die historiese kritiek het alle gesprek oor die Bybel onmoontlik gemaak. Elkeen werk vanuit sy eie hoek.

Die ideaal van “Een Liggaam en Een Gees, soos dit op die embleem van die AS uitgebeeld word, word hierdeur vernietig.

4. Maar tog … wil die Sinode met die lidmate in gesprek tree oor die Woord van die Here

Die ASM wil nou met die lidmate oor die ingrypende nuwe bedeling wat die NG Kerk leerstellig betree, in gesprek tree. Die MKN verklaar hieroor dat ons ernstige besware het oor sulke gesprekke en dat ons in werklikheid niks daarmee te doene wil hê nie.

  • Eerstens verwerp ons die optrede van die AS wat éérs besluite neem en dit daarná aan die lidmate wil “verkoop”. Die Sinode het ál die pogings van die lidmate en kerkrade om beswaar aan die teken teen die beoogde besluite eenvoudig geïgnoreer. Dit werk nie so nie!

Die Taakgroep moes vóór die besluite geneem is die Gids na die streeksinodes en ringe geneem het en nie ná die tyd nie. So werk ons mos “geloofsonderskeidend” om na die wil van die Here te soek. Die Sinode het immers ’n staande besluit dat kontroversiële besluite eers na streeksinodes verwys moet word, sodat daar op ’n breër vlak eenstemmigheid gekry kan word. Waarom is daar nie daarvolgens gehandel nie? Nou wil die sinodale amptenare die besluite wat lidmate teen die bors stuit goedpraat met soetklinkende oorredings in die Gids.

  • Tweedens is die onderwerp waarvoor die ASM die “gesprek” vra van so ’n ingrypende aard, dat dit ons herinner aan die gebeure in die Tuin van Eden. Dit was die slang wat ook ’n gesprek met die mens aangeknoop het. Die slang se agenda was om die mens te verlei tot ongehoorsaamheid aan God. Sy vraag aan Eva was:

Het God werklik gesê julle mag… nie?

Die MKN ervaar ’n treffende ooreenkoms van die Tuingebeure en dit waarmee die die sinodale amptenare van die kerk nou besig is. Bestaan daar enige onduidelikheid in die Woord van die Here oor die dinge wat vir Hom afskuwelik is? Waaroor is daar nog te praat?

  • Derdens verwerp ons die insinuasie in die Gids, dat niemand verplig is om by die besluite in te val nie. Die Sinode wil sogenaamd net “aanmoedig”. Ons kan nie deel wees van ’n kerk waar lidmate aangemoedig word om dinge wat vir die Here ’n gruwel is, as mooi en goed voor te hou nie. Uiteindelik word die “aanmoediging” ’n aanvaarbare lewenswyse wat nie met die evangelie in ooreenstemming is nie.

5. Maar tog … ontwyk die Sinode dít wat duidelik in die Woord geskrywe staan

Nêrens tussen al die baie woorde in die Gids, kom enige van die tekste, waarin die Here homoseksualiteit verbied ter sprake nie. Dit was trouens ook nie op die agenda toe die Sinode in 2019 hierdie ingrypende besluite geneem het nie.

Dit is dus nodig dat die MKN die Sinode en sy amptenary moet herinner aan wat in die Skrif geskrywe staan. Jesus het die versoekings van die duiwel immers telkens beantwoord met:

Daar staan geskrywe …” (Mat 4:4).

Wat staan daar geskrywe?

Ons kyk net na een gedeelte uit die OT en een uit die NT en gebruik die Nuwe Direkte vertaling hiervoor. Die Direkte Vertaling word as ’n betroubare weergawe van die oorspronklike teks beskou, en is juis by die Sinode van 2019 goedgekeur as nog ’n amptelike vertaling van die Bybel in die NG Kerk.

’n Voorbeeld uit die OT:

Levitikus 18: (22)“By ’n man mag jy nie slaap soos jy by ’n vrou slaap nie. Dit is iets afstootliks.”

Hierdie woorde word aangebied as direkte woorde van die Here, want die hoofstuk begin met:

“Die Here het vir Moses gesê …”

’n Voorbeeld uit die NT:

1 Korintiërs 6: (9)Laat julle nie mislei nie: geen onsedelikes of afgodedienaars of egbrekers of manlike prostitute of mans wat met mans intiem verkeer, (10)of diewe, geldgieriges, dronkaards, kwaadpraters of rowers, sal die koninkryk van God as erfdeel ontvang nie.

Hierdie woorde kom uit ’n brief van die apostel Paulus. Paulus sê die kerk is gebou op die fondament van die apostels en Christus is die hoeksteen (Ef 2:20). Die waarheid van God is aan die apostels geopenbaar (1 Tim 3:9). Ons moet ons dus onderwerp aan die leer van die apostels (Hand 2:42).

Met die twee tekste wil die MKN in hierdie dokument volstaan. Ons ag dit nie nodig om verder te redeneer oor die verduidelikings wat die Taakspan in die Gids aan die Kerk wil voorhou nie.

Saul wou ook sy verkeerde optrede aan Samuel “verduidelik” (1 Sam 15:22). Samuel het wou nie verder daarna luister nie en het hard en duidelik vir Saul gesê:

Gehoorsaamheid is beter as offerande,
om te luister is beter as die vet van ramme.
Weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery;
eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery.

6. Maar tog … word die Skrif gebruik – op bedrieglike wyse

Die Gids gebruik twee Skrifgedeeltes (3.1.1 en  3.1.2) waarmee die saak van die Sinode verdedig word. Die MKN wys uit dat die Taakspan met hierdie Skrifverwysings op bedrieglike wyse met die Skrif omgaan.

Handelinge 15

Die Gids gee voor dat die apostelvergadering in Handelinge 15 ’n “baie duidelike voorbeeld van twee groepe (is) wat saamstem om te verskil.” Daarmee wil die ASM “die kerk gerusstel dat ons 2019 besluit ’n Bybelse manier van besluit is”.

Frits Gaum het reeds voor AS 2015, die argument van die apostelvergadering in Hand 15 gebruik om voorbrand te maak vir die gay standpunt. Gaum het in Rapport verklaar dat “verdraagsaamheid” die sleutelwoord was by die vergadering van die kerk. Hy het hieruit die afleiding probeer maak dat ons in die kerk verdraagsaam moet wees teenoor ander wat nie soos ons dink en die Bybel presies soos ons verstaan nie.

Dit is gewoon ’n valse voorstelling om die apostelvergadering in Handelinge 15 voor te hou as ’n skikking van standpunte!

Die waarheid is dat die vroeë kerk uitsluitsel moes kry oor ’n baie gewigtige teologiese saak, naamlik of die Christene uit die heidendom ook soos die Jode besny moet word. Daar was Christene uit die Jodendom wat die besnydenis wou handhaaf, ook vir die ander nasies wat in Christus geglo het. Dit was dus ’n ernstige Ja of ’n Nee, waaroor uitsluitsel verkry moes word.

Die apostels het toe ’n vergadering in Jerusalem gereël waar die saak intensief bespreek is. Die profesieë in die Ou Testament is nader getrek. Daar is bevind dat God van lankal af beplan het dat die nasies deel van sy volk sou word.

Toe het die vergadering ’n besluit geneem. LW. die vergadering het hulle gedistansieer van die mense wat die Christene “verwar en ontstel het deur dinge te sê waarvoor hulle geen opdrag ontvang het nie”. Daar was hoegenaamd geen sprake van ’n skikking of verdraagsaamheid van standpunte nie.

Na die vergadering het die apostels ’n brief uitgestuur om die besluit van hulle vergadering bekend te maak. Hulle het in die brief verklaar:

“Die Heilige Gees en ons het besluit om geen verdere las op julle te lê as net hierdie noodsaaklike dinge nie: dat julle nie vleis moet eet wat aan ’n afgod geoffer is nie, ook nie bloed nie en ook geen dier wat verwurg is nie, en dat julle onsedelikheid (porneia) moet vermy. As julle julle van hierdie dinge weerhou, doen julle reg. Hartlike groete.” (Hand 15:28-29)

Hierdie besluit het ’n waterskeiding in die kerk meegebring. Onder leiding van die Heilige Gees het die kerk finaal afskeid geneem van die besnydenis en ander Joodse gebruike. Maar gehou by die afwys van enige seksuele gedrag buite die huwelik tussen ’n man en ’n vrou deur die verbod op porneia te handhaaf (Lev 18-20) sowel as drie dinge wat met afgodsdiens verband hou (verbod op afgodsvleis, verbod op die eet van bloed [Noag], en die verbod op die eet van ’n verwurgte dier).

Nie almal was tevrede met die besluit van die vergadering in Jerusalem nie. Daar was steeds Joodsgesindes wat hulle gebruike aan die Christene wou opdring. Die hele brief van Paulus aan die Galasiërs gaan daaroor. Paulus noem dit ’n “ander evangelie” en bevestig dat dit verkeerd is om jou vertroue op die wet te plaas. Hy voel so strek daaroor dat hy sê: Ek wens die mense wat dié verwarring onder julle stig, wou hulleself dan maar heeltemal ontman! (Gal 5:12)

Dit is hieruit duidelik dat die Sinode in Jerusalem nie bloot ’n vergadering was om mekaar se opinies aan te hoor en ’n kompromie te vind oor verskillende standpunte van die gelowiges nie.

Die NG Kerk se teoloë wil die kerk dus met hierdie bedrieglike argument in die Gids probeer oortuig om ’n gesindheid van verdraagsaamheid te openbaar oor selfdegeslagverbintenisse in die kerk. Die Gids verklaar op bl. 15:

Die voorbeeld van Handelinge 15 kan ons as kerk gerusstel dat ons 2019- besluit ’n Bybelse manier van besluit is. Daar is die gedeelde geloof in Jesus Christus wat ons saambind, en daar is voldoende seker gemaak dat beide voorstanders en teenstanders van selfdegeslagverhoudings veilig kan voel op die gesamentlike pad vorentoe”.

Dit is ’n valse stelling aangaande die betekenis van die apostelvergadering. Die MKN vind dit bedenklik dat die ASM op hierdie manier ’n boodskap wil laat uitgaan, om die besluite van AS 2019 te regverdig.

Romeine 14

Die tema van Rom 14/15 word korrek in die Gids saamgevat met die teks:

Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God. (Rom 15:7)

André Bartlett het by AS 2019 die vergadering met hierdie teksgedeelte probeer oortuig om die selfdegeslagbesluite goedgekeur te kry. Die standpunt is dat ons moet mekaar aanvaar, al het ons nie dieselfde opinie oor sake nie. Die Taakspan van die ASM het nou ook hierdie argument opgeneem.

Dit is weereens ’n misleidende argument waarvoor die Skrif ingespan word om die kontroversiële besluite van die Sinode goed te praat.

Waaroor gaan dit in Romeine 14? Ons het duidelik hier te doen met ’n randsaak in die koninkryk van God. Jood en Griek is in die kerk saamgevoeg in ’n nuwe ongekende koinonia (gemeenskap). Hulle het kultureel en godsdienstig uit verskillende wêrelde gekom. Christene van Joodse afkoms het volgens streng reinheidsvoorskrifte gelewe. Daar was sekere soorte kos waaraan die Jode nie hulle monde sou aansit nie. Dit is vandag nog so by die ortodokse Jode en vir ons as Christene kom dit vreemd voor.

Op dieselfde wyse was dit vir die lidmate uit die heidendom vreemd om skouer te skuur met die Joodse Christene met die kos wat hulle geëet het en die feesdae wat hulle gevier het. Moes hulle soos die Jode begin leef om Christus te behaag?

Die apostel waarsku dat meningsverskille oor kulturele sake soos kos en Joodse feesdae nie verdeeldheid in die gemeentes moet veroorsaak nie.

Dit is in daardie konteks dat hy sê: “Aanvaar mekaar”, al het julle verskillende gebruike.

Die kernteks in die gedeelte is Romeine 14:17:

Die koninkryk van God is nie ’n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee.

Direk teenoor Romeine 14 skryf Paulus in 1 Korintiërs 6:9-10:

(9)Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen (10)of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.

Daar is dus randsake in die Christelike gemeenskap, wat nie bepalend is vir die leefstyl van die mense in die koninkryk van God nie. Aan die ander kant is onsedelikheid (porneia) een van die sterkste diskwalifikasies van ’n koninkrykslewe.

Die waarskuwing teen onsedelikheid (porneia) loop soos ’n goue draad deur die hele Bybel en pertinent ook in die briewe van die apostels. God haat onsedelikheid. Porneia (die oorkoepelende term) is ’n kernsaak wat vanaf Hand 15:29 ’n neerslag vind in amper al die briewe van Paulus (aangevul met ’n reeks ander woorde en beskrywings van die tipe porneia wat ter sprake is): 1 Tess 4:7; Gal 5:19; Rom 1:29; 1 Kor 5-7; 2 Kor 12:21; Kol 3:5; Ef 5:2; en 1 Tim 1:10. Dieselfde geld van Johannes in Open 2:14; 9:21; 14:8; 17:2,4; 18:3,9; 19:2.

Wil die sinodale amptenare van die Taakspan wat met die Gids van die ASM in die kerk wil rondgaan werklik voorgee dat hulle hierdie dinge nie weet nie? Hulle staan saam veroordeeld met die oordeel van die Skrif oor die mense wat met hierdie porneia omgaan en goedpraat (Rom 1:32).

7. Maar tog … wil die Sinode voortgaan met die vreemde “energeia” van die afgelope jare

Die Gids sluit af met ’n “storielyn”. Dit vertel hoe die pad wat die Algemene Sinode vanaf 1986 met studie en standpuntstellings oor homoseksualiteit geloop het. In 1986 is dit ’n “afwykende vorm van seksualiteit” genoem. In 2002 is gevra vir “voortgaande besinning”. So het die saak telkens een van die belangrike en selfs belangrikste agendapunte van die AS geword by die vergaderings van 2004, 2007, 2013, 2015, 2016 en uiteindelik in 2019.

Dit het tyd geword dat ons, onsself moet afvra hoe dit gebeur het? Aan die eenkant word dit in die Gids afgemaak as ’n randsaak (bl 30), maar hoe het dit gebeur dat ’n sg. randsaak soveel tyd en energie van die kerk van die Here gevra het. Wie of wat sit daaragter?

Die apostel Paulus gebruik die Griekse woord “energeia” agt keer in sy briewe. In ses gevalle gebruik hy dit om die kragtige werking (energeia) van God in die kerk en die wêreld te verduidelik. Byvoorbeeld:

Fil 3:21: Hy wat ons liggaam van nederigheid sal verander om soortgelyk in vorm aan sy liggaam van heerlikheid te wees, kragtens sy mag (energeia) waarvolgens Hy alles aan Homself kan onderwerp. (DV)

Daarteenoor gebruik Paulus die woord energeia ook twee keer om die kragtige werking van afvalligheid in die wêreld te beskryf:

2 Tess 2: (9)Die een (die wettelose) wie se koms volgens die werking (energeia) van die Satan is, met alle krag en tekens en wonders van valsheid (10)en deur elke misleiding van ongeregtigheid vir dié wat verlore gaan, omdat hulle nie die liefde vir die waarheid aanvaar het sodat hulle gered kan word nie. (11)En daarom stuur God vir hulle die werking (energeia) van die dwaling, sodat hulle die leuen sal glo. (DV)

Die storie in die Gids vertel ’n verhaal van ’n vreemde energeia. Ons sien nie die energeia van Christus in die selfdegeslag verhaal van die NG Kerk nie.

Die verhaal wat hom die afgelope drie dekades in die Kerk afgespeel het, is ’n verhaal van verwydering en bittere stryd. Die verhaal wat in ons leeftyd afgespeel het, is ’n verhaal van manipulasie by sinodes, kerkordelike gekonkel, herhaalde petisies om stemming te werf vir ’n saak, maar ook om medegelowiges wat van julle verskil het verdag te maak. ’n Hofsaak teen die 2016 Sinode-besluit en ’n klag van haatspraak by die Menseregtekommissie is alles deel van hierdie verhaal.

Die verhaal herinner aan die energeia waarmee Kajafas die verhoor van Jesus georganiseer het. Dit was in die nag toe die mense geslaap het. Daar was nie ’n kworum nie. Raadslede soos Nikodemus en Josef van Arimathea was waarskynlik nie teenwoordig nie. Die volgende dag toe die volk die Paasfees gevier het, het hulle eers ontdek dat Jesus aan die kruis hang. So het Kajafas sy bedenklike saak deurgevoer.

Die MKN hou dit voor aan die samestellers van die Gids en die ASM dat die hele proses wat in die Gids beskryf word deur ’n vreemde energeia gedryf is. Ons het niks gesien van die Christelike ideaal wat Paulus in Efesiërs 4 beskryf nie:

(15)Ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, (16)en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ’n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie (energeia), en so bou die liggaam homself op in liefde.

8. Maar tog … vra die Sinode dat ons sal funksioneer as ’n hartlike broederskap

Die Gids sê die kerk is ’n “familiebesigheid”, waar ons mekaar aanspreek as “broers en susters”. Ons benodig weer in ons tyd die “sakrament” van die soen (bl 29).

Ons moet egter weer die vraag vra: Wie is deel van hierdie broederskap?

Die Evangeliste vertel van ’n geleentheid toe Jesus se moeder en sy broers en susters met Hom wou praat terwyl Hy besig was om die mense te leer. Hy het vir die skare gesê: “Wie is my moeder en my broers en my susters?” Toe gee Hy self die antwoord: “My moeder en my broers is dié wat na die woord van God luister en daarvolgens handel” (Luk 8:21).

Waar mense in die kerk dus onwillig is om te handel volgens die woord van God bring dit die broederskap in gedrang. Ongehoorsaamheid aan die Woord van die Here bring eerstens die verhouding met Christus in gedrang, maar ook die onderlinge broederskap. Die Sinode van 2019 ontken dit per implikasie met die besluit dat “die eenheid van die kerk gefundeer is in ’n eenheid met Christus en die belydenisskrifte. Hierdie eenheid verbrokkel nie as daar verskille oor die hantering en uitleg van die Bybel is nie”.

Die MKN praat namens baie lidmate as ons sê dat ons in hierdie tyd te doen het met ’n ontnugterende ervaring. Dit is vir ons moeilik en selfs onmoontlik om almal in die kerk as broers en susters te belewe. Dit gaan nie oor persoonlikheidsverskille nie, maar oor hartsverskille. Ons verstaan mekaar glad nie meer nie. Ons kyk nie meer op dieselfde manier na die Bybel, na God en ons verlossing nie. Ons probeer hard om mekaar soos in die verlede te omhels as broers en Christus, maar ons belewe onegtheid. Ons voel skuldig daaroor, maar ons weet nie hoe om dit te oorbrug nie. Ons was eens kollegas en vriende, maar die afstand tussen ons word al groter. Ons ken mekaar nie meer nie. Ons glo die ervaring is wedersyds.

Daar is die verhaal van Joab en Amasa in 2 Sam 20:9. Hulle was twee generaals van Dawid. Joab het op Amasa afgestap en vir hom gevra: “Gaan dit goed met jou, my broer?” Met die een hand het hy Amasa aan die baard gegryp asof hy hom wou soen, maar in sy ander hand was daar ’n swaard, waarmee hy Amasa in die maag gesteek het.

Dit is soos dit nou gaan in die kerk. Ons is veronderstel om saam in diens van die Evangelie te staan, maar ons kan mekaar nie meer vertrou nie.

Die Gids pleit tevergeefs dat ons in liefde en respek met mekaar sal verskil (bl 34). Die ASM vra vir ’n menswaardige hantering van mekaar en pleit vir ’n styl van Respek, Luister, Omarm en Liefhê. Daar is selfs ’n klompie spelreëls in die Gids wat ons hardop aan mekaar moet voorlees. Ons word gevra dat ons moet bid dat die Gees ons sal lei tot helderheid en wysheid.

By die aanhoor van al die mooi woorde kom daar egter ’n bitter smaak in die mond. Waarom? Ons ervaar ’n toestand van skok. Daar het so baie dinge tussen ons gebeur, dat ons mekaar nie meer kan vertrou nie. Ons vertrou mekaar nie meer met die Evangelie nie en daarom kan ons mekaar met niks meer vertrou nie.

Die MKN kyk terug na dosente wat die opstanding van Christus geloën het en daarmee weggekom het. Ons kyk terug na die kerk wat by verskeie sinodes besluit het dat lidmate nie in die duiwel hoef te glo nie. Ons kyk terug na ’n geskiedenis van leraars wat openlik belangrike leerstellings, soos die maagdelike geboorte en die ewige oordeel bevraagteken het. Die lys is lank en pynlik. Dis moderators en ander leiers in die kerk wat hierby betrokke is.

Die moderator van die AS het pas die koerant (24 Oktober 2020) verklaar, daar is nie sprake van liberale teologie in die leierskorps van die NG Kerk nie en dat hulle ernstig is oor die gereformeerde tradisie. Sulke uitsprake dien as bevestiging vir die MKN dat ons teologies in totaal verskillende wêrelde leef. Ons sal mekaar bluf deur voor te gee dat dit nie bestaan nie.

Derhalwe moet ons vanuit die MKN bely dat die woorde van die apostel Johannes in sy Tweede Brief in ons gemoedere leef:

(9)Elkeen wat nie by die leer oor Christus bly nie, maar daaraan verander, erken God nie. … (10)As daar iemand na julle toe kom wat ’n ander leer bring, moet julle hom nie in julle huise ontvang nie en hom selfs nie groet nie, (11)want wie hom groet, is saam skuldig aan die kwaad wat hy doen.

Naskrif

As ’n voetnota wil ons dit net duidelik stel dat hierdie Reaksie nie gesien moet word as ’n aksie teen die LGBTQI+ gemeenskap as sulks nie. Ons reageer oor besluite van die Kerk wat implikasies het vir ons kerklike lewe in terme van die Skrif.

&&&&&&&&&&&

Bylaag

DIE 2019-BESLUIT OOR SELFDEGESLAGVERBINTENISSE

1. Die Algemene Sinode neem kennis dat verskille in die kerk ten opsigte van Skrifhantering en Skrifuitleg tot vasgelooptheid gelei het, en dat voortgaande besinning oor verantwoordelike Skrifuitleg steeds nodig is.

2. Die Algemene Sinode bely egter dat die eenheid van die kerk gefundeer is in ’n eenheid met Christus en die belydenisgrondslag, en dat hierdie eenheid nie verbrokkel wanneer daar oor Skrifhantering en Skrifuitleg ten opsigte van hierdie saak verskil word nie, maar verryk en verdiep word.

3. Die Algemene Sinode is verbind tot ’n voortgaande en nederige diepe luister na mekaar, met respek vir mekaar se uiteenlopende benaderings, Skrifhantering en hermeneutiek.

4. Die Algemene Sinode moedig gemeentes aan om voort te gaan met die skep van gesprekruimtes vir gesonde geloofsonderskeidende gesprekke oor hierdie (en ander) teologies-etiese kwessies, en toe te sien dat:

4.1 hierdie ruimtes inklusief en divers bly;

4.2 nie oor ánder te praat nie, maar eerlik en broos vanuit die eie posisie,

4.3 en daar werklik erns gemaak word met die Woord van God.

5. Die Algemene Sinode respekteer kerkrade se reg om geloofsonderskeidende gesprekke in hulle eie kontekste te voer en moedig kerkrade aan om deurdagte en verantwoordelike besluite te neem.

6. Die Algemene Sinode moedig kerkrade aan, om by die aanwysing van

persone in die ampte, lidmate se:

6.1 doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe,

6.2 toegang tot die sakramente,

6.3 integriteit van verhoudings, en

6.4 geskiktheid vir die spesifieke rol in ag te neem

6.5 ongeag ras, geslag, klas of seksuele oriëntasie en -identiteit.

7. By die legitimasie van teologiese studente, moet die studente se:

7.1 doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe,

7.2 toegang tot die sakramente,

7.3 integriteit van verhoudings, en

7.4 teologiese- en bedieningsvorming in ag geneem word, ongeag ras, geslag, klas, of seksuele oriëntasie en -identiteit.

8. Die Algemene Sinode erken dat daar:

8.1 kerkrade en predikante is wat nie hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig nie,

8.2 ook kerkrade en predikante is wat wel hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig.

9. Die Algemene Sinode wil graag die ruimte wat vir almal geskep word, om volgens hulle oortuiging op te tree, bevestig. Die Algemene Sinode besluit ook dat daar ’n span saamgestel word wat elke streeksinode sal besoek om die saak duidelik en deeglik deur te werk. Dit kan ons help om ’n ingeligte besluit neem.

10. Die Algemene Sinode dra dit aan ATLAS op om ’n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag.

11. Die Algemene Sinode

11.1 betreur dat die verloop van die debat en die besluite in die kerk die afgelope jare lidmate verwar en seergemaak het;

11.2 vra gay-lidmate en hulle families wie se menswaardigheid wetend en onwetend misken is, uitdruklik om verskoning vir die pyn wat hulle in die kerk beleef het;

11.3 verbind hom daartoe om in die gees van hierdie besluit ruimtes te skep vir gesprek waarin almal se menswaardigheid gerespekteer word.

11.4 Die Algemene Sinode bedank gay-lidmate wat volgehou het met waagmoedige en konstruktiewe gesprekke in die kerk.

12. Die Algemene Sinode dra dit aan ATLAS op om voort te gaan met studie oor die huwelik en menslike seksualiteit met die oog op terugvoer aan die volgende sinode.

Kerkbode het soos volg oor die 2019-besluit berig:

Die 2019-besluit bied ruimte vir verskillende standpunte oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag. Kerkrade, ringe en sinodes het die reg om self te besluit watter standpunt hulle hieroor wil inneem.

Die besluit bely dat die eenheid van die kerk gefundeer is in ’n eenheid met Christus en die belydenisskrifte. Hierdie eenheid verbrokkel nie as daar verskille oor die hantering en uitleg van die Bybel is nie.

Die Algemene Sinode het hom verbind tot voortgesette gesprekke en gemeentes aangemoedig om ook ruimte vir gesprek te skep.

Kerkrade word aangemoedig om in die verkiesing van mense tot die ampte lidmate se doop, roeping, spiritualiteit en getuienis oor leer en lewe in ag te neem, maar nie ras, geslag of klas of seksuele oriëntasie of identiteit nie.

Die sleutelwoord van hierdie besluit is “moedig aan”. Dit bind kerkrade nie. By die legitimasie van teologiestudente moet aspekte van hulle geestelike lewe ook in ag geneem word, maar nie ras, geslag, klas of seksuele oriëntasie nie.

Die besluit gee erkenning aan verskillende standpunte oor die bevestiging van gay paartjies in burgerlike verbintenisse en bevestig die ruimte vir almal om volgens eie oortuiging op te tree.

3 thoughts on “Beoordeling van ASM se “Gids” oor selfdegeslagverhoudings”

  1. Hierdie skrywe moes alreeds in 2019 aan ons voorgehou word. Ek ondersteun dit 100% Ek hoop en vertrou almal wat so voel en glo hierop sal reageer.

    1. JL, hoekom sê jy dat hierdie skrywe reeds voor 2019 aan mense voorgehou moes word het? Dink jy dit sou gehelp het dat die Algemene Sinode nie ruimte gemaak het vir homoseksualiteit nie? Indien dit is wat jy bedoel, hoekom sou hierdie skrywe soveel impak gehad het as al die ander pogings niks gehelp het nie? Kyk Lys van pleitskrifte aan NG Kerk leierskap.

  2. Ai, tot julle skram weg vir wat Paulus in Rom 1:18 en verder oor sodomie sê. Lyk my julle is ook bang om die woord sodomie te gebruik. Dis ’n gruwel in God se oë.
    Kom uit die NGK, want sy lei jou hel toe.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui