Kyk ook:
- Wie is Francois Tolmie?
- Wie is Jan Louw?
- Ons gesprekke binne die NG Kerk oor mense wat gay is: Die faktor wat ons miskyk (Francois Tolmie, 14 Maart 2016)
Beoordeling van prof Francois Tolmie se voordrag oor selfdegeslagverhoudings
Deur Jan Louw
7 September 2021
Inhoudsopgawe
Francois Tolmie is professor in Nuwe Testament by Bloemfontein. Hy het op 14 Maart 2016 ‘n voordrag gelewer oor selfdegeslag verhoudinge (sgv). Hy meen daar is ‘n faktor wat ons miskyk. Die faktor waarvan hy praat lyk vir my na “faktore” en wel buite-Bybelse faktore.
Die Kerk het in die verlede altyd opgekyk na ons professore om leiding te gee oor Bybelse vraagstukke. Die selfdegeslag kwessie (sgv) is vir die Kerk ‘n Bybelse vraagstuk. Ons wil weet: Wat sê die Bybel? Ons wil nie weet, wat die mense, of die wetenskap sê nie. Ons wil weet: Wat sê die Here? Daarmee moes Prof. Tolmie ons help, maar hy het nie.
Ons kan die situasie vergelyk met die gebeure in 2 Kronieke 18. Koning Josafat wou by die Here uitsluitsel kry of dit reg sou wees om hom saam met koning Agab in ‘n oorlog te begewe.
Daar was 400 (valse) profete wat almal gesê het “Gaan gerus. God gee die stad aan die koning oor.”
Josafat het egter nie die vrede vertrou nie. Hy het ‘n “profeet van die Here” gesoek. So is die profeet Miga toe laat kom. Die profeet se getrouheid aan die Here is op ‘n interessante wyse getoets. Die boodskapper wat Miga gaan roep het, het vir hom gesê:
“Kyk, die uitspraak van die profete was eenstemmig gunstig vir die koning. Laat joune nou tog dieselfde wees. Sê iets goeds!” (2 Kr 18:12).
Miga het egter geantwoord:
2Kr 18:13 “So seker as die Here leef, wat my God vir my sê, dit sal ek sê!”
Dit is ongelukkig duidelik dat die “profeet” Tolmie besluit het om nie soos Miga net te sê wat die Here vir hom in sy Woord gesê het nie. Hy sal moet erken hy was ongehoorsaam aan die Woord van die Here, toe hy sy voordrag aan die predikante in Bloemfontein gelewer het.
My waarneming in kort is: Prof. Tolmie het gekies om te luister na die “Woord van die wetenskap”. Hy het nie die Woord van die Here oor sgv gebring en die kerk daarvolgens geadviseer het.
Tolmie het in sy dokument uitweë gesoek om “iets goeds” vir die mense te sê. Iets wat die mense graag wil hoor.
Dit is wat ek hier wil uitwys.
1 Eerste uitweg
Tolmie vra vir ‘n nuwe verstaan van hermeneutiek. Hermeneutiek weet ons begin by die eksegese van ‘n teks. (Hy het terloops glad nie by ‘n teks oor sgv uitgekom nie). As jy vasgestel het wat in die teks staan en in watter konteks dit geskryf is kyk jy na die toepassing (hermeneutiek) vir vandag.
Tolmie haal ‘n vreemde haas uit die hoed uit, wat neerkom daarop dat jy ‘n teks eksegetiseer vanuit jóú staanplek. Hy noem dit ‘n “sosiale leesplek”.
“Sosiale leesplek is baie kompleks en sluit onder andere aspekte in soos die kerklike leestradisie en belydenis waarbinne ons staan, vorige lees- en hoor-ervarings van ’n teks, ons selfverstaan, die waardes wat vir ons belangrik is, epistemologiese keuses en nog baie meer”.
Sosiale leesplek (social location) word vir Tolmie die basis van ‘n nuwe hermeneutiek, wat in werklikheid die deur oopgooi vir enige interpretasie van die teks vir ons tyd.
Tolmie onderskei tussen ‘n preskriptiewe en ‘n deskriptiewe hermeneutiek. Hy is vaag oor wat hy daarmee bedoel.
Hy begin met ‘n strooipop wat hy preskriptiewe hemeneutiek noem. Hy skiet hierdie preskriptiewe hermeneutiek af omdat dit die ouens is wat ‘n “gesagsargument” gebruik om ‘n vooropgestelde standpunt te regverdig. Hierdie mense openbaar ‘n meerderwaardige houding in kerklike debatte. (Ek is reg en jy is verkeerd).
Tolmie kom nie agter dat hy hierin self besig is om ander te veroordeel wat sou verskil van sy opinie oor die toepassing van ‘n teks nie.
Tolmie is ‘n voorstander van deskriptiewe hermeneutiek. Dit is waar sy onderrok begin uithang.
Hy sê: Daarmee bedoel ek dat ons moet probeer om die konflik wat daar tans in die geledere van die NG Kerk is oor mense wat gay is, te probeer verstaan in plaas daarvan om ’n klomp argumente aan te voer hoekom ’n bepaalde standpunt korrek is en ’n ander standpunt verkeerd is.
Die implikasie van hierdie deskriptiewe hermeneutiek is dat ons, ons nie gebonde ag aan die eksegese van die teks nie maar begin by die konflik van die dag. Dit is nogal veelseggend van ‘n Nuwe Testamentikus van die kerk!
Tolmie gaan voort: Met “sosiale leesplek” word die konteks bedoel van waaruit die interpreterende “ek” ’n bepaalde teks probeer verstaan.
Die interpreterende “ek” kry nuwe aansien, selfs outonomie om die Woord te verklaar. Die afleiding is dat elke “ek” in die laaste instansie kan besluit hoe hy die Skrif wil interpreteer.
2 Tweede uitweg
Die filosowe moet ons help met die hermeneutiek van die Bybel. Tolmie verduidelik wie ons as mentore moet gebruik. Hulle is filosowe. Hy noem “Heidegger, Gadamer, die ‘drie meesters van suspisie’, Ricoeur, en van feministiese en postkoloniale hermeneute”. Hierdie mense moet ons blykbaar help om die Bybel reg te kan lees en te hoor wat die Here vir ons in sy Woord wil sê!
Paulus het waarskynlik onder meer die filosowe van sy tyd in gedagte gehad toe hy geskryf het in 2 Kor 4:4: Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie. Nogtans beroep Tolmie hom op die insigte van hierdie mense.
3 Derde uitweg
Mense vra: Wat sê die Bybel? Tolmie redeneer dat dit ‘n problematiese saak is. Hy sê die Bybel is ‘n komplekse boek met meer as 800 000 woorde. Die Bybel is meerduidig oor die onderwerpe waaroor ons vrae het soos die huwelik as monogame verbintenis tussen een man en een vrou, slawerny, die vrou in die amp, ens.
So wil Tolmie sy ongehoorsaamheid aan die Woord van die Here verskoon, net soos Saul (1 Sam 15:22).
4 Nog uitweë
Die sosiale leesplek van gelowiges is gedurig aan die skuif. Argumente oor wat gesaghebbend in die Bybel is, verander saam met ons leesplek.
4.1 Wêreldbeeld het verander
Tolmie maak ‘n groot saak van die Bybelse wêreldbeeld. Hy het selfs ‘n skematiese voorstelling van die sogenaamde Bybelse wêreldbeeld, met ‘n firmament daar bo, dan die son en die maan en dan die aarde en onder die aarde is die onderwêreld. Die tekste wat hy aanbied is ‘n onderwerp op sy eie.In kort kan net genoem word dat die saak omstrede is, omdat die meeste tekste in die skema in digterlike konteks is en net so van toepassing is vir digters wat vandag die wonders van die skepping digterlik beskryf. Dit is onaanvaarbaar om uit daardie tekste ‘n sogenaamde Bybelse wêreldbeeld saam te stel.
Tolmie hou nie rekening met beskrywings in Job waar ons lees dat God die aarde aan ‘n niks ophang nie (Job 26:7). Ons kan ook baie aflei van die mense uit Job se tyd van hulle “wetenskaplike” kennis in gedeeltes soos Job 36:27-33.
Uit buite-Bybelse bronne kan ons ook baie aflei aangaande die merkwaardige kennis van die mense van die groot beskawings van 2000 vC. Daar is sterk aanduidings dat hulle kennis gehad het dat die aarde rond is en deel is van ‘n groter sonnestelsel. Hulle het in daardie tye reeds berekeninge gemaak van die tyd waarop dag-en-nag- eweninge plaas gevind het. Dit is ook ‘n onderwerp op sy eie.
Wat Tolmie beskryf is doodgewoon die Middeleeuse stryd rondom ‘n geosentriese aarde, waar die aarde in die middelpunt van die menslike denke is en die verstaan van ‘n heliosentriese aarde waar verstaan word dat die aarde om die son beweeg.
Kerk en wêreld was betrokke by ‘n paradigmaskuif aangaande hoe die heelal inmekaar sit. Tolmie gee self toe dat die geosentriese model nie bloot deur die kerk gepropageer is nie, maar dat die beste wetenskaplikes van die tyd dié siening inderdaad as wetenskaplik korrek aanvaar het.
Tolmie se konklusie dat die wetenskaplike kennis die Bybelse wêreldbeeld oorwin het is ongegrond. Luther, Calvyn en die Pous was almal deel van die wêreld wat destyds ‘n paradigmaskuif aangaande die samestelling van die kosmos beleef het. Van die Hervormers was waarskynlik betrokke by die debat en het heel moontlik aan die verkeerde kant van die waarheid gestaan en dit selfs Bybels probeer verdedig.
Tolmie kom tot die konklusie dat die kerk uiteindelik aanvaar het dat heliosentrisme korrek is, selfs al bots dit ooglopend met die Bybel. Dit is doodgewoon nie waar dat die Bybel geosentrisme teenoor heliosentrisme leer nie.
Na al die jare praat ons steeds in ons omgangstaal van die son wat opkom en ondergaan. Die tye wanneer die son opkom of ondergaan word selfs so in die koerante aangekondig. Niemand maak daarteen beswaar nie, want dit is deel van ons belewing van die aarde. Op skool leer die kinders in die wetenskapklas hoe die aarde om die son draai, maar by die huis praat hulle steeds van die son wat opkom of onder gaan.
LW dat Tolmie hierdie soort argumente gebruik, want hy wil uiteindelik uitkom by die stelling dat die wetenskap ook sal triomfeer in ons besluit oor sgv.
Dit is nodig om ook ‘n opmerking te maak oor Tolmie (en ander) se gebruik van die woord Bybelse wêreldbeeld. Wêreldbeeld soos Tolmie dit hier gebruik gaan vir hom oor die geosentriese of heliosentriese siening van die aarde. Vir ons geloof in God het dit weinig waarde. Die Engelse worldview het meer die betekenis van wêreldbeskouing. Dit is waar die paaie in werklikheid uitmekaar gaan.
Wêreldbeskouing gaan oor mense se uitkyk op die lewe. Dit raak ‘n mens se uitkyk op God, mens en wêreld. Ateïste het ‘n bepaalde uitkyk op die lewe. So ook die animiste, die afgodsdienaars van die heidene en die New Age verskynsel van vandag. Jesus se samevatting van die wet veronderstel ‘n wêreldbeskouing as Hy sê, jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart siel en verstand en dan ook jou naaste soos jouself.
Ons het meer insig in die wyse waarop die heelal inmekaarsit as die mense van 3000 jaar gelede, maar dit is nie werklik belangrik nie. Ons het steeds dieselfde wêreldbeskouing as ons in dieselfde God glo en op dieselfde manier na ons medemense kyk of hulle manlik of vroulik is. In hierdie opsig vind ons oor duisende jare volledig aanklank met mekaar.
4.2 Siening oor slawerny het verander
Tolmie sê: “Vir omtrent 1 700 jaar was daar konsensus in kerklike kringe dat die Bybel nie prinsipieel teen slawerny is nie”. Hy gee voor dit is weereens die filosowe soos, John Locke en Jean Jacques Rousseau wat die gelykheid van mense gepropageer het en wat daartoe gelei het dat slawerny afgeskaf is.
Wat Tolmie nie sê nie is dat die beweging wat tot die afskaffing van slawerny gelei het oorweldigend deur Christene gedryf was.
William Wilberforce ‘n evangeliese Christen en Britse politikus was uiteindelik die persoon wat die wet in die Britse parlement deurgevoer het, om slawerny afgeskaf te kry. Al hierdie Christene wat verantwoordelik was dat slawehandel gestaak is, het sekerlik hulle Bybels gelees. Die slawerny waarvan hulle in die Bybel glees het was klaarblyklik nie vir hulle voorskriftelik om slawerny in stand te hou nie. Hulle Christelike sin vir barmhartigheid het hulle oë oopgemaak vir die gewetenloosheid, waarmee die slawehandelaars in hulle tyd uit mense geld gemaak het.
Slawerny is ‘n gevolg van die sondeval. Dit het ‘n samelewingverskynsel geword. Die Here het dit nie in die wet verbied nie, maar Hy het voorskrifte gegee dat mense wat in slawerny verval het menslik behandel moet word. Dit was wette wat nêrens elders in die wêreld gegeld het nie.
Tolmie se verklaring dat die afskaffing van slawerny plaasgevind het omdat Christene die Bybel vanuit ’n ander sosiale leesplek geïnterpreteer het, is onoortuigend.
4.3 Siening oor mense wat gay is het verander
Tolmie se argumentlyn is as volg: Vir omtrent 1 700 – 1 800 jaar was daar konsensus in kerklike kringe dat mans nie seks met mans mag hê nie en dat vroue nie seks met vroue mag hê nie. Dié siening is gebaseer op die Bybelse siening van die huwelik (’n monogame verbintenis tussen een man en een vrou) en sekere tekste in die Ou en Nuwe Testament wat seks tussen mense van dieselfde geslag afwys.
Hy meen die konflik wat nou in die kerk ontstaan het is net maar ‘n herhaling van ‘n patroon wat hom ook afgespeel het met die kerk se verandering van “leesplek” rondom wêreldbeeld en slawerny. Die konflik het ontstaan omdat, soos hy meen, nuwe wetenskaplike kennis aan die lig gekom het wat meebring dat mense wat gay is, nie gekies het om gay te wees nie en gewoonlik ook nie van seksuele oriëntering kan verander of “genees” kan word nie.
Hy maak ook op vernuftige manier gebruik van sy geleentheid om mense wat verskil van hierdie insigte by te kom. Hulle is die mense wat ander etiketteer en swartsmeer as liberaal, mense wat Skrifgesag verwerp, slagoffers is van New Age-denke, postmodernisme en relativisme.
Tolmie meen dat die tekste wat ter sprake is, nie handel oor mense wat gay is nie, maar dat ‘n mens eerder moet fokus op die dieper teologiese lyne as op enkele tekste. Hy meen ook dat soos in die geval van die Bybelse wêreldbeeld of slawerny, ons beskik oor nuwe wetenskaplike inligting, wat Paulus byvoorbeeld nie gehad het nie. Ons sal dus ons standpunte op ‘n ander keuse as die Bybel moet begrond.
Wat die toekoms betref sê Tolmie dit is nie detail eksegetiese argumente wat uiteindelik die deurslag gaan gee nie, maar die meerderheid van die mense wat tot die geledere van die besluitnemers toegevoeg word – mense wie se sosiale leesplek geskuif het.
Hy meen oor 50 of 100 jaar van nou af sal ons nageslag waarskynlik met dieselfde meewarigheid kyk na ons meningsverskille oor wat die Bybel sê oor mense wat gay is, as waarmee ons kyk na die meningsverskille in Galilei se tyd of in die tyd toe baie in die kerk nog opreg geglo het ’n mens kan slawerny prinsipieel uit die Bybel regverdig. Hulle sal waarskynlik ook dink dat die feit dat die NG Kerk uiteindelik besluit het dat gay wees nie teen God se wil is nie en dat gay-huwelike binne die NG Kerk voltrek mag word, ’n besluit is wat van die leiding van die Heilige Gees getuig.
Ten slotte terug na die profeet Miga. Toe die profeet by die koning kom het die koning gevra:
“Miga, moet ons teen Ramot in Gilead gaan veg? Of moet ek dit laat staan?”
“Gaan gerus,” antwoord Miga, “en mag dit goed gaan, mag die stad aan u oorgegee word.”
Dit is mos wat die koning wou hoor, maar die koning het geweet dit is nie die woord van die Here nie. Hy het gesê:
“Hoeveel keer moet ek nog by jou daarop aandring dat jy vir my niks anders as die waarheid in die Naam van die Here moet sê nie!”
Diégene vir wie die Woord van die Here belangrik is, soos koning Josafat, kan dadelik aanvoel dat Prof. Tolmie nie eerlik is in die manier waarop hy met die Skrif omgaan nie. Sy uitweë, om aan die waarheid van die Woord te ontkom, oortuig nie.
1 Timoteus 6: (20)Timoteus, bewaar wat aan jou toevertrou is. Vermy die onheilige en sinlose praatjies en die redenasies van die “kennis”, soos dit verkeerdelik genoem word. (21)Daar is mense wat daardie “kennis” aanhang en so van die geloof afgedwaal het.
Mat. 11:25-26
Daardie tyd het Jesus gesê: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling.
Ek ervaar dieselfde Riaan.
Dit is omtrent in alle gevalle die geleerdes van die samelewing wat die Evangelie met hulle redenasies aantas.