{jcomments on}BESLUITE RONDOM DIE DOOP – ALGEMENE SINODE VAN DIE NG KERK – 12 OKTOBER 2011
(Vanaf www.ngkerk.org.za)
DOOP
1. Die Algemene Sinode bevestig ons gereformeerde oortuiging dat die Verbondsdoop uitdrukking gee aan die grondwaarheid van die Evangelie dat God se genade en trou te alle tye ons gelowige aanvaarding daarvan voorafgaan en selfs omsluit.
2. Die Algemene Sinode vra daarom kerkrade en predikante om die gereformeerde verstaan van die verbondsdoop met oortuiging en deernis te verduidelik en te bevestig, ook aan lidmate wat ander oortuigings oor die doop huldig.
3. Die Algemene Sinode gee terselfdertyd erkenning aan die feit dat Christelike kerke nie almal dieselfde Doopbeskouing huldig nie, maar dat ons nogtans saam met mekaar deel uitmaak van die Kerk van Christus.
4. Die Algemene Sinode gee dankbaar erkenning aan lidmate wat ten spyte van hulle ander verstaan van die doop steeds lojaal bly aan die kerkverband en wil hulle verseker dat hulle ’n geestelike tuiste in die NG Kerk het.
5. Die Algemene Sinode vra opreg verskoning vir lidmate wat op een of ander wyse rondom die doop seergekry het, en nooi hulle uit tot onderlinge gesprek waar daar op pastorale wyse saam oor die saak gesels en gebid kan word.
6. Die Algemene Sinode verseker lidmate wat die NG Kerk vanweë hulle doopverstaan verlaat het, dat die NG Kerk ’n geestelik tuiste wil wees vir alle kinders van die Here en nooi hulle hartlik uit om hulle regmatige plek in hulle plaaslike NG gemeente in te neem en saam te werk aan die koms van God se koninkryk.
VERTREKPUNTE VIR GESPREK
1. Die Sinode is van oordeel dat die gesprek en beredenering oor die gereformeerde vertrekpunte van die doop deur die jare in die Nederduitse Gereformeerde Kerk deurdag is en ’n rykdom van teologie ontsluit.
2. Die Sinode bevestig weer dat die verbondsteologie sentraal staan in die beredenering van doopherdenking of -herinnering.
3. Die Algemene Sinode bevestig dat in gehoorsaamheid aan die verbondsbelofte van ouers, ouers en die kerk verantwoordelikheid moet aanvaar vir die verbondsonderrig (kategese) van hul gedoopte kinders sodat hulle gelei word tot ’n toe-eiening van die heil (belydenisaflegging) wat nie aan ’n bepaalde ouderdom gekoppel kan word nie (soos tans in die kerkorde vasgestel word), en versoek daarom die Taakspan Kategese om die plek, aard en ouderdom vir belydenisaflegging te ondersoek.
4. Die Sinode besluit om niks by te voeg tot die gesprek oor die doop, kindernagmaal en kategese nie maar wel net te fokus op die opdrag oor doopviering.
TERMINOLOGIE
1. Die Sinode beveel aan dat die kerk eerder die woorde doopherdenking of doopherinnering sal gebruik.
RIGLYNE VIR DIE HERDENKING/HERINNERING
1. Die Sinode bevestig dat die heil altyd en in alle omstandighede gevier moet word.
2. Die Algemene Sinode wys lidmate daarop dat die gereelde viering van die nagmaal die primêre plek van viering is.
3. Die Algemene Sinode bevestig dat die doopherinnering/viering nie as ’n her/weerdoop interpreteer mag word nie maar direk met die verbonds/christelike doop saamhang.
4. Die Sinode besluit dat gemeentes aangemoedig word om geleenthede te skep waar doopherinnering of herdenking deel word van lidmate en gemeentes se verhaal.
5. Die Sinode beveel aan dat sakramentsviering ’n groter rol binne liturgie, kategese en die erediens sal speel.
6. Dit staan Kerkrade ook vry om toepaslike rituele te vestig wat die behoefte van sulke lidmate opvang om simbolies uitdrukking te gee aan hulle sterwe en opstanding saam met Christus.
7. Hierdie rituele is nie Sakramente nie en vervang nie die Verbondsdoop nie.
OPDRAGTE RONDOM DIE DOOP
1. Die Algemene Sinode gee aan ADGO opdrag om ’n taakspan te benoem wat ondersoek doen na wyses waarop daar aan doopherinnering / doopherdenking gestalte gegee kan word.
2. AKLAS word versoek om die Sinode te bedien met ’n dokument wat die noodsaak van die verhouding tussen die doop as eenmalige toesegging in die heil en nagmaal as herhalende viering van die heil binne die verbondsteologie belig.