Besware van NG George oor AS se duiwelbesluit

Dr Deon Thom het onderstaande brief aan sy kerkraad gestuur. Hulle ondersteun sy besware ten volle en het hulle bereid verklaar om die saak verder te voer tot by die Algemene Sinode (AS).

 

1 Februarie 2012
Die Voorsitter van die Kerkraad
NG Gemeente George

Geagte broer Pieter

Baie dankie vir die besluite van die Algemene Sinode wat ek ’n tyd terug ontvang het. Terwyl daar sekeres is waarmee ek my kan vereenselwig, is daar veral een waarmee ek geen vrede kan maak nie. Ek verwys na punt 7 van die besluite rakende die “Bediening van Bevryding”, wat so lui:

“Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasie en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.”

Twee aspekte van hierdie besluit is uiters verontrustend:

(a) Die “ruimte” wat aan lidmate gegee word om die “Bybelse spreke oor die bose anders te interpreteer” word glad nie omskryf, beperk of gedefinieer nie. Teoreties kan lidmate en leraars dus enigiets, hoe vreemd en on-Bybels ookal, oor die duiwel glo en van die kansels verkondig.

(b) Daar is geen daadwerklike poging aangewend om hierdie revolusionêre besluit op die Bybel te baseer nie.

Toe ek die oorspronklike verslag wat voor die Sinode gedien het, nagegaan het, het die onrus in my hart nog groter geword. Ek noem net enkele vreemde aspekte van die verslag in die lig van die uiteindelike omstrede besluit (punt 7).

1. Afdeling 5 van die verslag behandel die Nuwe Testamentiese leer oor die duiwel en demone. In hierdie gedeelte word geen rede gegee waarom “die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone” bevraagteken of “anders geinterpreteer” sou kon word nie. Paragraaf 5.3 is ’n uitsondering. Dit sê kortliks dat die briewe van Paulus soms verwys na “bonatuurlike, onpersoonlike magte”, maar dit word hoegenaamd nie in diepte bespreek nie. In elk geval is dit glad nie ’n uitgemaakte saak dat Paulus na “onpersoonlike” magte verwys het nie.

2. In afdelings 7 en 8 verwys die verslag na ’n verskeidenheid sienings van verskillende teoloë, maar geen Skriftuurlike gronde word vir afwykende standpunte gegee nie – die argumente is oor die algemeen filosofies van aard.

3. Afdelings 9 en 10 word gewy aan die vraag of die duiwel ’n “persoon” is. Die meerderheid van teoloë wat aangehaal word, sê baie duidelik dat die duiwel ’n “intelligente persoonlike mag” is. Ten spyte daarvan kom die kommissie tot die verstommende gevolgtrekking DAT DIT VERWARREND IS OM TE PRAAT VAN DIE DUIWEL AS PERSOON: “Christene glo wel dat die Bose ’n werklikheid is, maar dit is verwarrend om daarop te staan dat die duiwel ’n persoon is – want dan klink dit asof ons sê dit is ’n wesenlike geloofsartikel van die Christelike geloof dat die Bose hom as ’n menslike figuur manifesteer – wat nie die geval is nie.” (10.3).

Met alle respek, maar, soos ek die verslag verstaan, lê die verwarring nie by die lidmate nie maar by die opsteller(s) van die verslag:

3.1 Die begrip “persoon” word nie gedefinieer nie, maar Michael Green se definisie word aangehaal: “What most people mean by [saying that Satan is a personal devil] is to claim that Satan is an organising intellect, a single focus and fount of evil inspiration. That seems to me to be a very proper inference to draw from the teaching of the Bible. But it is doubtful if we can call him ‘personal’ in any other sense” (9.5).

Green is een van enkele teoloë (in die verslag) wat die duiwel nie as ’n persoon wil beskryf nie. Tog gee hy toe dat die Bybel duidelik leer dat die duiwel “an organizing intellect, a single focus and a font of evil inspiration” verteenwoordig, en dat ons in hierdie sin wel van die duiwel as a persoon kan praat. Dit was ook die posisie in die NGKerk tot en met die laaste Sinodesitting. Ten spyte hiervan word die definisie van Green glad nie by die uiteindelike besluit van die Sinode in ag geneem nie.

Maar hoe verstaan die kommissie dan die begrip “persoon”?

3.2 In paragraaf 10:3 maak die kommissie skynbaar ’n belangrike ontdekking: “Dit is belangrik om te onthou dat Christene … nie bely dat die duiwel mens geword het nie … daar is nie ’n geloofsartikel oor die Bose se vleeswording nie”. Nadat dieselfde gedagte ’n paar keer in effens ander woorde herhaal is, kom die verslag tot die gevolgtrekking dat dit “verwarrend [is] om daarop te staan dat die duiwel ’n persoon is – want dan klink dit asof ons sê dit is ’n wesenlike geloofsartikel van die Christelike geloof dat die Bose hom as ’n menslike figuur manifesteer – wat nie die geval is nie.”

Dit lyk dus of die kommissie die term “persoon” of ’n “persoonlike wese” verstaan as gelyk aan ’n mens. Met ander woorde, sonder enige bewys, getuienis of voorbeeld verkondig die kommissie dit dat, wanneer ’n lidmaat van die NGK glo die duiwel is ’n persoon, hy of sy eintlik daarmee wil sê dat die duiwel homself “manifesteer as ’n menslike figuur”.

Hierdie aanname lyk totaal ongegrond. Deur Gods genade is ek die afgelope 62 jaar ’n lidmaat van die NGKerk. Nog nooit het ek ’n lidmaat teegekom wat glo dat die duiwel ’n mens is nie. Blykbaar het die kommissie besef dat hulle argument swak is, want hulle sê “dit klink asof dit vir ons ’n wesenlike geloofsartikel is …. die geloof dat die Bose hom as ’n menslike figuur manifesteer” (9.5).

3.3 In paragraaf 9.6 gee die kommissie verder die volgende rede waarom dit dan verwarrend sou wees om te praat van die duiwel as persoon: “Die probleem met die begrip ‘die duiwel as persoon’ is dat dit ’n mens byna onwillekeurig daartoe bring om te dink aan ’n rooi wese met ’n mens se lyf, ’n bok se pote, ’n vampier se vlerke en ’n pylstert wat sy slagoffers in ’n poel van vuur gooi” (9.6).

Dit is verstommend dat ’n kommissie van die Algemene Sinode op so ’n “kindertuin” vlak kon redeneer. Moet ons werklik glo dat, wanneer lidmate van die NGK van die duiwel as “persoon” praat, hulle “byna onwillekeurig dink aan ’n rooi wese met ’n mens se lyf, ’n bok se pote, ’n vampier se vlerke en ’n pylstert?” Dit is uiters vreemd dat die Algemene Sinode hierdie aanvegbare stellings skynbaar sonder meer aanvaar het.

3.4 In paragraaf 10.4 kom die verslag, na heelwat herhaling, tot die slotsom dat dit beter sal wees “om nie aan te dring” op die term ’n ‘persoonlike duiwel’ nie, maar eerder te beklemtoon “dat ons hier praat van ’n selfstandige wese wat werklik bestaan”.

Uiteindelik het ons dus tog ’n definisie van ’n “persoon” – ’n “selfstandige wese wat werklik bestaan”!

Maar waarom word die term “persoon” dan so knaend bestry? ’n “Persoon” is mos ’n selfstandige wese wat werklik bestaan? En dan die verdere vraag: Waarom is hierdie definisie (in par 10.4) nie aangehaal in punt 7 van die besluite van die Sinode nie? En waarom staan daar in die besluit “dat daar ruimte [is] vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo” en dat daar ook ruimte is “vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer?” Met ander woorde, daar is ruimte vir hulle wat nie aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo nie. Dit is nie in lyn met wat die verslag in par 10.4 sê nie (naamlik dat die duiwel ’n “selfstandige wese is wat werklik bestaan”).

3.5 Na afloop van die Sinode het die moderator, professor Nelus Niemandt, verklaar dat hy dit betwyfel of “die bose ’n persoonlike karakter kan aanneem”. Hy gaan dus ook verder as wat die verslag voorgestel het, in lyn met die betrokke besluit van die Sinode. Hy verduidelik dat hy “baie huiwerig [is] om aan die duiwel ’n identiteit te gee wat op ’n soort goddelike mag neerkom” (Die Kerbode, 4/11/2011). [Kyk ook Nelus Niemandt oor die bose en seks voor die huwelik]

Dit is ’n baie eienaardige afleiding. Mense en engele is ook almal “persone”, en tog gee dit ons nie “’n soort goddelike mag” nie. Aan die ander kant, noem Jesus die duiwel ”die owerste van hierdie wêreld” (Joh 12:31; 16:11). Met ander woorde, die duiwel het wel baie mag in hierdie wêreld, soos die verslag ook self aandui (vgl 10.1), maar sy mag is aan die kruis oorwin en word nog steeds oorwin deur Jesus se Woord en Gees. Maar waarom sou professor Niemandt dan huiwer om ’n term vir die duiwel te gebruik wat in lyn is met Jesus se beskrywing van die duiwel as “die owerste van hierdie wêreld?” ’n “Owerste” is tog ’n soort persoon.

Dit is baie duidelik dat die Sinodale besluit die verwarring rondom die begrip “die duiwel as persoon” allermins opgeklaar het. Die verslag het na my mening ook nog etlike ander leemtes, maar ek volstaan met ’n laaste punt.

4. Die belangrikste en mees onverskoonbare leemte in die verslag is dat daar geen aandag gegee is aan dit wat Jesus self oor die Bose geglo en geleer het nie. In paragraaf 9.7 word daar wel verwys na Jesus se versoeking in die woestyn (Lk 4:5-9). Die verslag redeneer dat die versoeking moontlik in ’n droom of visioen tot Jesus gekom het. Dit bewys dan dat die duiwel nie ’n mens is nie! Die oppervlakkige wyse waarop hierdie sleutelgebeurtenis in Jesus se lewe en bediening hiermee afgemaak word, is om van te sidder. Dat daar verder in die verslag geen bespreking van Jesus se leer oor die Bose is nie, is totaal onaanvaarbaar.

Gesien vanuit laasgenoemde perspektief, verteenwoordig hierdie Sinodale besluit waarskynlik ’n ongekende historiese laagtepunt in die geskiedenis van die NG Kerk. ’n Revolusionêre siening oor die duiwel word hiermee in die Kerk ingedra, sonder om hierdie nuwe leer op die Skrif te baseer. Dit is, inteendeel, duidelik in stryd met die leer van die Bybel en met die geloof van die gemeente.

Daarom wil ek die Kerkraad dringend versoek om, langs die gebruiklike kerklike weg, ten sterkste beswaar aan te teken teen hierdie besluit (punt 7 van die verslag insake die “Bediening van Bevryding”) van die Algemene Sinode van 2012.

U broer in Christus

Gideon Thom

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui