“Bid, maar drink jul f****n pille”

Kyk ook:

‘n Koerant het my gebel omdat ek die webmeester van glodiebybel.co.za is en my kommentaar gevra op ds Wollie Grobler. Ek het die onderstaande artikel oor hom gekry en kommentaar geskryf aan die koerant (onderaan die Volksbladartikel), maar my mening is toe nooit gepubliseer nie.

********

“Bid, maar drink jul f****n pille”

Volksblad

Deur: Karen Ebersohn 2011-03-22 09:08

’n KENMERKENDE stralekranshaarstyl, uithanghemp, uitgesproke menings, soms ook van die preekstoel, en die f-woord hier en daar.

En is hy of is hy nie die “middelvinger-dominee” van Bloemfontein oor wie se identiteit skrywers in Volksblad se briewekolom onlangs kliphard gegis het nie.

Net dít is al genoeg vir Bloemfonteiners om te weet jy praat van die Klipkerk se “dominee Wollie”.

Hy wat saam met twee geliefde medeleraars dié gemeente (NG kerk Bloemfontein-Noord) met verskeie dienste per Sondag volpak. Veral Sondagaande stroom jong mense hierheen, insluitende baie Cheetah-rugbyspelers en Knights-krieketspelers.

Volksblad het by dr. Wollie Grobler oor dié gemeente se aanslag gaan gesels. Ook om uit te vind of die “Wollie-faktor” enigiets daarmee te doen het.

Gou het dit geblyk ’n konvensionele onderhoud met die kleurryke Grobler (54) gaan nie werk nie. Uitgewerkte vrae word dus weggepak.

Dr. Wollie praat, jy luister en met wat geskryf word, het hy vrede.

Hy leef nie ’n bepaalde identiteit nie, sê hy. Ook nie om in te pas by ander se verwagtinge nie. Van voorgee, ken hy nie. En vir vloek gee hy f****l om.

Hy erken hy is gereeld in die spervuur op en van die preekstoel af, maar hy lewe in vrede met homself.

“Ja, mense dink hulle is so perfek, want hulle vloek nie,” sê hy.

Maar vloekwoorde is maar net nog ’n stukkie van die woordeskat.

“Ek hou net nie daarvan as mense mekaar vloek nie.”

Wollie sê die probleem vandag is dat ons in ’n gebroke wêreld leef.

Dis hoekom hy ná verskeie misdaadvoorvalle besluit het om sy vuis teen misdaad te bal. Hy het ’n paar jaar gelede ’n skokstok met 500 000 volt krag gekoop om homself te verdedig en huiwer nie om dit te gebruik nie. Dit het mense aan die praat gehad.

“Kyk, ek is nie ’n sterk ou nie. Ek is een keer beroof toe geld gesteel is en ek het myself belowe nie weer nie.”

Maar hy is nie stupid wanneer dit oor veiligheid gaan nie.

“Die lewe is baie belangriker.”

Middelvinger

’n Volksblad-leser het verlede jaar in die brieweblad sy misnoeë te kenne gegee omdat ’n bekende dominee van die stad middelvinger gewys het vir ’n vrou wat voor hom ingery het. Baie het vermoed dit was dr. Wollie.

“Ek het regtig nie ’n clue of dit ek was nie. Maar as iemand voor my inry, dan sal ek dit wys.”

Hy lewe volgens beginsel, sê hy. “Ek kies soms eerder ’n mindere kwaad om ’n meerdere kwaad te voorkom.”

Ook moet ’n mens soms iets doen om oor die skok van die oomblik te kom. “En daai vrou sal dalk volgende keer twee keer dink voordat sy weer voor iemand inry.”

Met ’n minibus-taxi is dit ’n ander storie.

“Hulle bestuur Afrika-styl – ek gee die taxi eerder ’n kans. Dit help nie om kwaad te word nie. My verhouding met taxi-bestuurders is só dat hulle al vir my plek gee.”

En die middelvinger-ding doen hy omdat hy reaksie kry.

Skynheilige Bfn

“Hier is meer skynheiliges in Bloemfontein as in ander plekke in die land.”

Maar die meeste mense hier is wonderlik, sê hy terselfdertyd.

“Hier woon ’n radikale klomp konserwatiewes in die Vrystaat. Dis hulle wat jou veroordeel omdat jy die Sabbat ontheilig.”

En daar is nie eens iets soos die Sabbat nie.

“’n Sondag is ’n ‘vry dag’. Dis wel nice as jy kerk toe gaan, maar die konsep van Sabbat is ’n sameswering tussen die destydse NG Kerk en die regering. Dit is net soos apartheid. Toe het die NG Kerk die riglyne aangepas sodat dit by die NP-regering pas.”

Maar die hedendaagse NG Kerk het wel goeie veranderinge ondergaan, gee hy toe.

“Veral in die Bloemfonteinse NG kerke is daar baie vernuwing.”

Mense moet die NG Kerk net ’n kans gee, al is daar nog ’n mate van ’n “mafia” in die kerk.

“Dis hulle wat kla dat ek nie my hemp insteek nie. Terloops, ek kan nie my hemp insteek nie, want ek sukkel met my gewig oor die medikasie wat ek gebruik.”

Maar vernuwing gaan nie oor kleredrag nie, sê hy.

“Dit gaan daaroor om ’n nuwe kerktaal te skep. Kinders verstaan nie meer woorde soos ‘erbarming’ nie.”

Dr. Wollie sê goeie dinge gebeur wel in die NG Kerk. Mense soos prof. Piet Strauss, NGK-moderator, stel ’n opregte voorbeeld.

“Die kerkleiers worstel opreg en dit is wonderlik.”

Maar asseblief, mense! Hou op om agteraf te wees, pleit hy.

Aan agteraf mense het hy ’n afsku.

“My voorbeeld is Jesus wat nooit een goeie woord vir die Fariseërs gehad het nie.”

Die Klipkerk

“Ek hou nie van die term suksesvol wanneer dit by kerksake kom nie. Maar dit gaan goed met die kerk,” sê hy oor dié gemeente.

Die Klipkerk se drie predikante rig elk sy preek volgens sy persoonlikheid in.

“Dit gaan oor mense se persoonlike styl. Ek het ’n dramatiese manier van preek. Ek hou van gebare, musiek, kreatiwiteit, van die visuele en die skoktegniek. Daardie elemente is vir my belangrik.”

Hy onthou sy intreepreek in 1992 baie goed.

“Die teksvers het uit Johannes 1 gekom. En toe het ek ’n skildery saam met my op die kansel geneem. Jong, ek is vreeslik uitgek*k ná die tyd. Maar dit was die beginjare en toe was die verwerping nog erg.”

Hy sê nagenoeg 90% van die mense wat hom dáái tyd wou kruisig, is nou reeds uit die gemeente.

“Vandag sê ons vir die mense om self hul diens en predikant te kies.

“Ons probeer glad nie om mense teen mekaar af te speel nie. Mense moet na hul smaak kies. Maar die Woord van die Here bly baie groter as enige predikant.”

Hy sê elke Klipkerk-predikant het ’n unieke taak in die gemeente.

Ds. Johann Els is ’n sterk emosionele prediker.

“Hy ken mense se swaarkry en tree baie as pastorale werker op.”

Ds. Stephan van Heerden preek korter en is briljant met versorging en omgee. “Hy het die sorg-en-om-geegroep tot oor die 40 kommissielede uitgebrei. En al twee daardie predikante is gaande oor sang.”

Maar, sê hy, die gemiddelde lidmaat gee nie werklik om wie die predikant is nie.

“Ek sien die erediens as ’n opvoering. Dis my lofoffer aan die Here.”

Hy sê as mense daar uitstap en sê hulle het die diens geniet en daar was geestelike vervulling, is hy tevrede.

“As kinders vir hul ouers sê hulle hou van kerk toe gaan, dan maak dit my gelukkig.”

Wollie-faktor

“Ja, ek is baie keer in die spervuur, maar ek lewe in totale vrede met myself.”

En die depressie en pille waarvan hy gereeld van die preekstoel af praat?

“Ek is so ’n soort ou, as ek rugby kyk en die ouens sak vir ’n skrum dan dink ek hulle skinder van my.”

Grappie! Maar ja, daar is ’n stryd met mediese kwessies.

“Mense praat daaroor. Nege jaar gelede het dit sleg gegaan en daar was mense wat my wou weg hê. Daar was mense wat gesê het ek is ’n tsoenami wat wag om te gebeur.”

Nege jaar later het dit steeds nie gebeur nie.

“Nee, wat. My toestand is nie vir my ’n issue nie. Dis nie baie tense nie. Almal het maar hul foute en swakhede.”

Vier jaar gelede was hy wel amper dood weens hartprobleme.

“Ek het ’n tweede kans gekry en gaan nie toelaat dat die skynheiliges my onderkry nie. Maar ek pas myself baie mooi op. Ek klim trappe en stap in winkelsentrums.”

Vir Bloemfontein, skynheilig of te nie, is hy baie lief.

“Ek het in 1992 hierheen gekom. Ek is mal oor die mense hier, dit is my lekkerste bediening. Almal weet ek hou van die koffiewinkels. Dis waar ek werk. Ek probeer by al die winkels uitkom.”

Koffiewinkels “kondisioneer” hom. Ja, hy het ’n gunsteling-koffieplek, maar sal dit nie in die koerant verklap nie.

Dr. Wollie het op Cradock grootgeword en het daarná admissie aan die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer. Sy weermagjare was by die Tygervallei-hospitaal in Kaapstad.

“My eerste bediening was in Port-Elizabeth en toe Durban.”

Maar hy is gaande oor die platteland en oor die Rosestad se landelikheid.

Sy vrou, Dina, het hy in sy studentejare op Stellenbosch ontmoet.

“Dit was ’n vinnige liefde, maar ’n goeie liefde. In Januarie was ons reeds 30 jaar getroud en ons het drie wonderlike seuns.”

Sy stokperdjies is koffiewinkels, rolprente, musiek-ontleding, stap (“as die honde nie te veel blaf nie – dis nou weer ’n ander storie”) en om klassieke kitaar te speel.

Dan het hy ook al ’n marathon in ’n blitsige 2uur 36 minute afgelê. Regtig.

“Maar my grootste liefde is om te preek. Dis my lewe.”

Hy laat hom nie stuit deur mense wat met hul inmengerige of konserwatiewe neigings sy tweede asem vir die lewe probeer opneuk nie.

“Smaak verskil en elkeen moet doen wat hy wil volgens sy persoonlikheid. Live and let live.”

Eendag gaan sy afskeidswoorde in sy laaste preek wees: “Mense bid oor alles tot die Here, maar drink jul f****n pille.”

As hy klaar afgetree het, sal hy steeds wil preek.

Kommentaar

Daniel Louw

‘n Koerant het my gebel omdat ek die webmeester van glodiebybel.co.za is en my kommentaar gevra op ds Wollie Grobler. Ek het die volgende op 30 Maart 2011 geskryf, maar dit is nooit geplaas nie:

Die enigste inligting wat ek omtrent ds Willie Grobler van Bloemfontein het, is hierdie een artikel oor hom. Ek het nog nooit met hom persoonlik gepraat of een van sy kerkdienste bygewoon nie. As die berig egter akkuraat is, kan ’n mens tog iets van hom weet. Daar is baie positiewe dinge van hom:

Dit lyk of hy ’n baie opregte mens is wat nie doekies omdraai nie. ’n Mens sal weet waar ’n mens met hom in die lewe staan. Gewoonlik kom ek glad nie sleg met sulke mense oor die weg nie.

Ek hou baie van sy siening dat ons moet bid maar ook ons pille drink. Dus aanvaar ek dat hy in die krag van gebed glo, maar dat hy ook nugter genoeg is om te besef dat ’n mens nie sommer net alles maklik kan wegbid nie. Hy is 100% reg dat ons in ’n gebroke wêreld leef – dit kom van die sondeval toe Adam en Eva gesondig het.

Hy het respek vir prof Piet Strauss en daarvan hou ek. Ek sien die afgelope tyd heelwat predikante wat nie van prof Piet hou nie oor sy behoudende standpunte.

Hy het werklik ’n baie gesonde selfvertroue, goeie selfbeeld en is ’n baie passievolle mens. En dit is baie goed, want ek dink die Here wil hê ’n mens moet dit hê. Angus Buchan is nog iemand wat so passievol is – ek het al na Angus gekyk en gedink: hy geniet sy gate uit om voor mense te staan en die Woord van God te bring. En dit lyk of ds Willie ook so iemand is.

Maar Angus vloek nie… Ek is ongemaklik met ds Willie se openlike gevloekery en middelvingerwysery. My toets is altyd of Jesus dit sou doen of sou dink dat dit snaaks is. Ek dink nie so nie. En hy doen dit heel moontlik omdat hy reaksie kry. Dit is soos mense wat dink Casper de Vries is snaaks omdat hy vloek. En ek moet bieg dat ek al self vir Casper gelag het omdat hy gevloek het. Dit is maar ’n swakheid wat ons as mens het – sommige grappe is net nie dieselfde sonder die vloekwoord nie, maar ek is bevrees dat dit nie God se styl is nie.

Sy ongelooflike passie (wat God hom gegee het) maak hom suksesvol en hy sal, soos enige ander mens, moontlik in die versoeking kom om die roem vir homself toe te eien. Ek sê nie hy doen dit nie, maar dat hy wel doelbewus ’n punt daarvan sal moet maak (soos almal van ons) om met nederigheid aan God die eer te gee. Ek hoop hy doen dit alreeds…

Anna Louw het die volgende brief aan Volksblad (VB) gestuur op 17 April 2011, maar hulle wou dit nie plaas nie omdat hulle die debat wou stop:

Geagte Redakteur

Die berigte (VB 2011/03/19) & (VB 2011/03/24) oor Ds Wollie se kru uitlatings het betrekking.

Hierdie saak gaan ten diepste daaroor dat die eer van God gruwelik aangetas (gelaster?) word deur Sy eie kerk voor die oë van die wêreld.

Dis baie jammer, maar die uitlatings in die media komende van ’n NGK leier is ’n verleentheid vir die Christendom in Suid-Afrika.

Die Here se Naam word hierdeur tot bespotting gemaak. God laat Hom nie bespot nie.

In hierdie tyd van humanisme moet ons waak teen misleiding om ons eie “god” te skep teenoor die God van die Bybel – Hy is Heilig en verwag van ons om ’n sensitiewe gewete te hê.

Mens het gewag dat daar ’n openbare standpunt hierteenoor geneem sou word, maar die stilswye laat mens dink dat kru taal goedgekeur en aanvaarbaar ( toelaatbaar ? )is in die NGK of hoe?

Dis baie hartseer dat die vloekwoord opskrif boonop regbo die foto van die Kruis van Jesus geplaas is!

Laat ons in die Paastyd opnuut besef watter duur prys het Jesus met Sy verbryselde Liggaam en gestorte Bloed vir my en jou betaal en die spot en hoon wat Hy moes verduur sodat ek en jy verlos kon word..

In die lig hiervan, kan ek nie anders as om my as verloste sondaar en lidmaat openlik hiervan te distansieer nie. Mag ons betyds tot besinning kom en God Ds Wollie genadig wees.

Die God van die Bybel sê uitdruklik in:

  • Efesiers 4:29: Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ’n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor.
  • Efesiers 4:30: En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.

Vriendelike Groete

Anna Louw

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui