Kyk ook: |
Hierdie artikel vertel meer oor die teologie onder die huidige teoloë in die land.
************
2011-02-28 22:20
Neels Jackson
Gebed in die vorm van versoeke rig aan God werk nie, meen ds. Albert Cruywagen van die NG gemeente Riebeeckpark in Kemptonpark.
Daarom sê hy die kerk moet nuut oor gebed dink, soos oor ander geloofsbegrippe.
As voorbeeld noem Cruywagen die gebed dat God ’n mens in jou motor op die pad moet bewaar.
Dit werk nie so nie, sê hy.
Hy ken drie gesinne wat gebid het dat God hul kinders moet bewaar en elkeen van dié gesinne het twee kinders in padongelukke verloor.
Net so maak het nie vir hom sin om vir reën te bid nie.
Hy glo nie dat God in die weerstelsels ingryp nie. Daar is groot natuurkragte wat dit beheer.
Dit beteken nie dat hy gebed wil afskaf nie. Cruywagen vul dit egter met ander inhoud.
As jy op die pad gaan, verduidelik hy, is dit jy wat moet wakker wees.
Daarom moet jy bid dat die Here jou versigtig sal maak.
“Eintlik praat ek dus met myself,” sê Cruywagen. Ten diepste is gebed vir hom ’n gesprek met homself met God as aanhoorder daarvan.
Só gesien is gebed vir hom baie sinvol. In aansluiting by die ou Oosterse kerklike tradisie van meditasie meen hy mense behoort meer tyd aan stilte saam met God te bestee.
Gebed is vir hom een van verskeie godsdienstige begrippe wat nuut vertolk moet word “op ’n manier wat werk”.
Ten diepste gaan dit oor die manier wat ’n mens God verstaan. Hy het afgesien van die tradisionele teïstiese siening van God wat baie kerkmense nog huldig en noem sy benadering ’n nieu-teïstiese siening.
Cruywagen dink egter nie dat hy daarmee die kerk ondermyn nie, inteendeel. Waar ander mense sy soort sienings as die Trojaanse perd binne die NG Kerk sien, dink hy daaraan as die ridder op die wit perd wat tot die kerk se redding kom.
Hy ken byvoorbeeld jong mense wat niks meer van die kerk wil weet nie, maar op ’n manier nog aan God wil vashou. Hulle vind aanklank by sy manier van dink.
Self sê hy ook hy staan by die Bybel as die Woord van God en die belydenisskrifte.
Ja, hy kry soms baie lelike teenkanting van Christene, maar sy gemeente verstaan hom. Hulle voel rustig oor sy manier van dink en preek.
Kommentaar
gaggenbag:
Ds. Cruywagen sê “ten diepste gaan dit oor die manier wat ’n mens God verstaan”. Maar om Hom te sien as magteloos teenoor weerstelsels omdat dit deur “natuurkragte” beheer word, maak eenvoudig nie sin nie. Dit sou beteken dat Hy magteloos staan teenoor Sy eie skepping. Daar is talle voorbeelde in die Bybel waar God wel téén “groot natuurkragte” ingegryp het.
En ja, “mense behoort meer tyd aan stilte saam met God te bestee”. Ek dink egter dat ons ons begrippe duidelik moet kry. Ek gee toe: In meeste gevalle is mense se gebede eintlik net ’n lysie van “dankie”s en versoeke. Ek glo nie dít is hoe God wil hê dat ons met Hom moet omgaan nie. Natuurlik is dit reg om te bid vir wat ons nodig het (“gee ons vandag ons daaglikse brood”), maar dít behoort vir ons (in aanbidding) as’t ware “by-saak” te wees (by gebrek aan ’n beter woord).
Ds. Cruywagen noem nêrens die term “aanbid” nie. Die Bybel onderskei baie duidelik tussen BID (“pray/supplicate” – waarvoor óók verskillende woorde in die oorsponklike taal gebruik word) en AANBID (“worship”). Lg. is (vir my) om as’t ware in God se arms in te klim soos ’n kind in sy pa se arms inklim, Sy hartklop te voel, Hom te loof en prys en vir Hom (op my beperkte manier) te sê hoe lief ek Hom het, hoe fantasties, wonderlik en groot Hy is. In aanbidding kom Hy eerste – soos Jesus ons ook geleer bid het.
Ds. Gideon Aggenbag
gaggenbag:
’n Pa het gesê hy kan enigiets bekostig wat sy seuntjie vra. Ek vra toe: “En as hy jou sou vra vir ’n paar skeermeslemmetjies om mee te speel?” Natruurlik “nee” gesê.
“hy gaan homself daarmee verongeluk!”.
My antwoord: “Hy weet dit nie en nie verstaan dit ook nie”.
Hy antwoord: “Maar ék weet! En omdat ek hom liefhet, sal ék besluit wat vir hom skadelik of goed is – of hy dit nou verstaan of nie!
Om in God te glo, beteken óók om Sy “nee” te aanvaar en daarin te berus.
Natuurlik móét ons versigtig, “verdedigend” ens. bestuur en God nie versoek nie. Maar om te beweer dat mens in gebed maar net met jouself praat en nie met God nie, is heeltemal on-Bybels en verregaande. Die Bybel ken slegs “tot God bid” en “met God praat”. Ek kan geen rede sien waarom ds. Cruywagen hierdie “nieu-teïstiese siening” van hom sien as “die ridder op die wit perd wat tot die kerk se redding kom”, nie of waarom “sy gemeente” (Riebeeckpark) rustig voel dat hulle nou nie meer in gebed met God praat nie, maar met hulleself. Geen wonder dan ook dat ds. Cruywagen nie die sin daarvan sien om te bid vir dinge wat deur “groot natuurkragte” beheer word, en nie deur God nie. Dit is ook onbegryplik dat ds. Cruywagen met hierdie sienings, wat so duidelik in botsing is met die Bybel, kan beweer dat hy staan by die Bybel as die Woord van God en die belydenisskrifte.
Ds. Gideon Aggenbag.
Kommentaar in Beeld, 3 Maart 2011
Dogter vind haar pad en ’n siek vriend herstel: Is dit net toeval?
Santie van Mountain View skryf:
Ek het eers net my kop geskud toe ek ds. Albert Cruywagen se mening oor die gebed lees. Toe besluit ek om die pen op te neem.
Ek weet nie watter ,God ds. Cruywagen aanbid nie, want my God verhoor beslis gebede.
En moet my asseblief nie vertel dit is per toeval nie!
Daar is verskeie voorbeelde wat ek kannoem.
My dogter was een aand laat op pad van die lughawe af. Sy het ’n verkeerde afrit geneem en heeltemal verdwaal. Sy was bang en het ons gebel.
Nadat ons vir haar gebid het, het sy rustig geword en die regte pad na ons huis gekry. Wat sal jy dit noem, ds. Cruywagen?
Een van ons vriende was ernstig siek met malaria en die dokters het nie veel hoop gehad nie. Ons het dadelik met ’n gebedsketting begin.
Ons siek vriend, wat in daardie stadium nie eintlik in God geglo het nie, sê hy het geweet sy einde is naby.
Toe hy beter raak, het hy geweet dat hy ’n tweede kans gekry het. Die dokters was verstom oor sy berstel.
Weer net toeval?
Ds. Cruywagen se gebed is ’n gesprek met jouself terwyl God ’n aanhoorder is. G’n wonder die dominee se gebede word nie verhoor nie, want eintlik praat hy met homself.
Boonop beskou die dominee sy siening as “die ridder op die wit perd”.
Wat beplan jy as die ridder? Gaan jy dalk die kerk red deur nie te bid nie?
Ek is ook in die NG Kerk en glo my, ons kerk se gebede word beslis verhoor!
Gebed is tog nie ’n kontrak met waarborge
T.J. Smuts van Johannesburg skryf:
Dit is skokkend om die siening van ds. Albert Cruywagen oor gebed op die voorblad van Beeld op 1 Maart te lees!
Ek het as jongeling geleer dat geloof ’n vaste vertroue is in die dinge wat ek nie kan sien nie. Daar is dus, ’n bykomende dilnensie aan gebed wat nie deur mense verklaar kan word nie.
As die geagte dominee nie hierdie grondbeginsel van geloof kan aanvaar nie, het by ’n groot probleem. En sy eie verduideliking behoort vir hom te wys dat hy op ’n dwaalspoor is.
As hy gebid het dat die Here hom versigtig maak, en hy doen sy bes om versigtig te wees, maar hy kom tog in ’n ongeluk? Is sy gebed nie verboor nie?
Nee, ds. Ctuywagen, gebed is nie ’n kontrak met gewaarborgde uitkomste nie! Berus in God se wil ondanks u eie versugtings/versoeke.
God is magtiger as natuurkragte
Dion Roder van Ladysmith skryf:
Die berig “Gebed werk nie, sê dominee” (Beeld, 1 Maart) het betrekking.
Nee wat, ds. Albert Cruywagen, die God waartoe ek bid, is magtiger as die natuurkragte wat Hy
geskep bet.
Daarom het ek die vrymoedigheid om te bid vir reën.
Wat is die sin van gebed dan as versoeke tydmors is? Ek weet van honderde gevalle waar ouers vir
die veiligheid van hul kinders op die pad gebid het en die gebede verhoor is.
Die enkele voorbeelde wat u noem, is sekerlik so deur God beskik.
God verboor nie alle gebede nie. Soms gee Hy iets beters of laat ons wag.
Nee wat, mediteer u maar, my God is almagtig.
Rowers vlug dan weg toe ek tot God bid
Nadine Moelich van Pretoria skryf:
Die berig “Gebed werk nie, sê dominee” (Beeld, 1 Maart) het betrekking.
Ds. Albert Cruywagen, volgens die berig meen u gebed in die vorm van versoeke werk nie en ‘n
mens kan ook nie bid vir reën nie, want groot natuurkragte beheer dit.
U meen ook dat gebed eintlik ’n gesprek met jouself is met God net as aanhoorder daarvan.
U het soveel jare op universiteit deurgebring om juis die Bybel te bestudeer en nou raak u hierdie
onsin kwyt!
Ek kan getuig dat gebed in die vorm van versoeke baie kragtig kan wees. Jy moet glo in die Almag van God en die krag wat daar is in Jesus Christus se naam! As jy dit egter nie glo nie, help dit niks.
Ek was ’n ruk gelede die slagoffer van ’n rooftog waartydens drie gewapende mans my en my baba in die huis oorval het. Ek was uitgelewer en het besef dat ek geen kans het teen hierdie drie nie. Glo my, ek het nie toe in gesprek met myself getree nie!
Ek het net die naam van Jesus aangeroep en gebid en gesmeek en geglo dat Hy my sal help.
Die drie manne het sonder ’n woord omgedraai en by my huis uitgevlug!
Dit is nie iets wat sommer so ná ’n monoloog gebeur nie!
Fil. 4:6: Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles jul begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.
Dis verskil tussen geroepe en beroepsleraar
Wilma van Pretoria skryf:
Ek reageer op die berig “Gebed werk nie, sê dominee” (Beeld, 1 Maart).
Wat maak mens dan in die kerk as die dominee se gebed werk nie? Dan kan jy mos maar by die huis bly.
Dit is net weer ’n bewys dat daar ’n yslike verskil is tussen ’n predikant wat geroepe is en een vir wie dit bloot ’n beroep is. Ek kan maar net wonder of hierdie predikant al ooit werklik ’n ontmoeting met God gehad het.
‘n Geesvervulde predikant sal eenvoudig nie so iets kwytraak nie. Dit is presies waarteen die Bybel ons waarsku!
My liewe dominee, gebed werk! Maar jy moet glo – bid en glo! Ek kan oor en oor getuig van gebede wat beantwoord is in ons lewens. Selfs verlede week nog!
Hoe gaan u eendag u uitlatings regverdig wanneer u voor ’n lewende God moet verskyn? Ek is so bly dat ek in ’n kerk is waar gebed absoluut erken word as kommunikasie met God.
En dit is ’n wonderlike ervaring om te sien hoe God ons gebede beantwoord. Wat ’n groot eer is dit nie vir ons nie.
Een vra reën, een vra droogte
Vrydenker van Erasmuskloof skryf:
Ek stem saam met ds. Albert Cruywagen dat gebed nie werk nie (Beeld, 1 Maart).
Dit wil soms voorkom of God onbetrokke is by die skepping, waar onverbiddelike natuurwette
die verloop en afloop van alles bepaal.
Hoeveel biljoene gebede, waarin daar nie net vir eiebelang gebid word nie, maar ook vir die algemene belang, gaan nie daagliks op nie? Dis eksponensieel meer op Sondae.
Hoeveel gebede smeek om ingryping in die onvolkomenheid in die lewe?
Gebede kán ook nie beantwoord word nie – nie solank die natuurwette bestaan nie, want feitlik elke gebed vra ’n opheffing van die een of ander natuurwet afhangend van die aanroeper se persoonlike beboefte.
Twee boere bly langs mekaar. Een bid vir reën nadat hy geplant het. Die ander bid vir droë weer omdat hy wil oes. Sommige mense boer in ’n woestyn en bid dan vir reën!
Vyf mense doen aansoek om ’n betrekking. Al vyf bid om die pos te kry.
Moet ons nie liewer probeer om die natuurwette beter te verstaan nie?