Bifokale lense bring uitkoms

*******

Bifokale lense bring uitkoms | Kerkbode

Kerkbode, 23 Nov 2007

outeur onbekend

Die afgelope jaar kan beskryf word as die kerklike jaar van debat. Die Belydenis van Belhar, kerkhereniging, die plek van gays in die kerk en die Da Vinci Code is wyd bespreek en gedebatteer. Die debat oor die liggaamlike opstanding van Jesus het veral met die toetrede van die Evangeliese Inisiatief landwyd debat ontlok sodat kerkrade, ringe en sinodes nou formeel standpunt daaroor inneem.

Die binnekerklike gevegte het Jan en Sarie Lidmaat onkant gevang. Die bevraagtekening van gevestigde dogmatiese stellings het hulle verward en benoud gemaak.

Wedersydse beskuldigings van dwaling na beide die liberalistiese en die fundamentalistiese kant is wyd rondgeslinger, maar die saak het onopgelos gebly. Dit is onteenseglik bewys in die verskillende aksies en uitkomste in die aanklaery van dosente en leraars by hulle onderskeie ringe. Nêrens kon bewys word dat die ampsdraers afwyk van Bybelse en gereformeerde standpunte nie, maar die klaers het nie tot rus gekom nie.

Dit het duidelik geword dat die probleem nie in die eerste plek lê by ons verstaan van die gesag van die Skrif nie, maar by ons interpretasie van die Skrif. Dít is waar kerke, gemeentes en lidmate verby mekaar praat. Ons sien die prentjie in die Bybel anders, want ons brille verskil. Kerkbode is oortuig dat die probleem veel minder by die Skrifbeskouing of -gesag lê, as by die interpretasie van die Skrif wat met die bril van ’n bepaalde kultuurteks gelees word.

Kultuurtekste definieer menswees binne ’n konteks en programmeer dan die menslike verbeelding om op ’n bepaalde manier te dink en op te tree. Mense verstaan hulleself vanuit die kultuurteks. So sien jy jouself byvoorbeeld as ’n kapitalis of sosialis, liberalis of fundamentalis. Vandag word ons menswees toenemend deur meer as een kultuurteks bepaal. En die ergste is dat ons dikwels onbewus is van al die tekste wat ons identiteit stempel. So staan baie van die kontemporêre tekste lynreg teenoor die Bybelse teks, soos die verbruikerisme, en tog is ons almal eksponente van die verbruikerkultuurteks.

Die groot vraag op kerklike terrein is: Hoe maak jy die passiewe, self onkritiese of naïewe leser van al die tekste bewus, sodat hy homself beter kan verstaan, maar ook kan verstaan waar sy debatsgenoot vandaan kom.

Om sommer net te sê die bysiende leser is ’n fundamentalis en die versiende ’n liberalis is om nie skerp genoeg ons tekste as Westerlinge, verbruikers, terapieafhanklikes of wat ook al te lees nie. Ons uitdaging is om op elke vlak van die kerk eers krities na ons eie leesbril en die kultuurtekste wat ons definieer, te kyk. En dan die heilige koeie te slag sodat ons deur Christus uit die dwingelandy verlos kan word. Dit is die werk van die sendeling, die evangelis, maar ook van die apologeet wat probeer om die Christelike geloofsteks verstaanbaar te maak binne ’n bepaalde konteks. Die Heilige Gees maak die evangeliese verbeelding wakker sodat die leser deur middel van die Bybelse bril kan sien dat hy ’n gevangene is van bepaalde kultuurtekste. Om mekaar hiermee te help, moet ons ook kultuurgeletterd wees en rolprente, musiek, geboue, koerante, boeke ensovoorts lees om op hoogte te bly van heersende tydsgeeste.

Die roeping van die kerk is die deprogrammering en bevryding van die kultuurgekolonialiseerdes en die uitlei na die beloofde land. Ons moet leer Bybels leef, al staan dit wars op kultuurtekste wat vir ons allerheilig is. Die Christelike apologetiek staan of val by die regte lees van die Skrif, maar ook die verskillende kultuurtekste. So ook die aanvaarding van mekaar se bona fides in die diverse opvattings binne die kring van gelowiges. Bifokale lense kan hier help.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui