Billike diskriminasie

Opsomming

Beloftebos, ’n trouvenue wat deur Christene besit word, is deur twee gays by die MRK aangekla omdat Beloftebos nie wou toelaat dat hulle daar trou nie. In baie opsigte word billike diskriminasie toegelaat:

  • Die Suid-Afrikaanse Raad vir Joodse onderwys, is duidelik dat enige kind by hulle skool welkom is mits hulle bereid is om by die reëls van die skool in te val.
  • Amptenare van die kerk moet ten alle tye onberispelik leef en daar word teen hulle opgetree indien hulle dit nie doen nie.
  • Groot gemeentes wat hulle gebou uitverhuur vir optredes lê streng voorskrifte aan aansoekers voor.

Die Bybel is baie duidelik dat homoseks nie vir God aanvaarbaar is nie en daarom is dit nie onbillik indien die eienaars van Beloftebos nie die bevestiging van homoseksuele huwelike op hulle eiendom wil toelaat nie.

Inhoudsopgawe

Beloftebos is ’n trouvenue met Christeneienaars. ’n Lesbiese paartjie, Megan Watling en Sasha-Lee Heekes, wou daar trou, maar Beloftebos se eienaars wou dit nie toelaat nie weens hulle geloof dat homoseksualiteit sonde is. Watling en Heekes het hulle toe by die MRK (menseregtekommissie) gaan aankla. Kyk ook die artikel Beloftebos: Die een se reg ‘diskriminasie’ teen ander (19 Sep 2020) hieronder van Jana Breytenbach wat hieroor berig.

Is dit billik om homoseksualiteit as sonde te sien?

Die eerste punt wat uitgeklaar moet word is of homoseks volgens die Bybel sonde is. Daar is vandag baie teoloë wat dit nie as sonde sien nie, maar kom ons wees nou baie eerlik: dit maak nie saak wie wat sê nie. Die voor die handliggende interpretasie van die Bybel is dat homoseks sonde is. Die Bybel verwys selfs daarna as “afstootlike”, “afskuwelike”, “skandelikhede” en “perversiteit”. Kyk Homoseksualiteit: vrae en antwoorde.

Dus kom ons aanvaar in hierdie argument dat dit geldig is om as Bybelgelowige Christen, homoseks as sonde te beskou.

Wat sou Jesus doen?

Wat sou Jesus doen as Beloftebos sy besigheid was? Ek weet dat Jesus definitief vir Watling en Heekes sou gesê het om nie meer te sondig nie, maar ek weet eerlikwaar nie wat Jesus sou doen indien hy in die bestuurder van Beloftebos se skoene was nie.

Die volgende vraag is: Het Beloftebos ’n regsaak? Is daar so iets soos billike diskriminasie?

Leer by SARJO

In A perspective on marriages and civil unions in South Africa (Januarie 2016) maak Pieter Coertzen ’n saak daarvoor uit dat die kerk alle homoseksuele mense moet aanvaar, MAAR die kerk het ook die reg om homoseksuele mense se lidmaatskap te beëindig, sou hulle nie die reëls van die kerk nakom nie.

In die artikel noem hy die argument van professor Woolman wat die Suid-Afrikaanse Raad vir Joodse Onderwys (SARJO) (Engels = South African Board of Jewish Education (SABJE)) voor die MRK verteenwoordig het. Woolman se argument was soos volg:

SARJO het ’n geskiedenis dat hulle nie-Joodse kinders in hulle skole toelaat en ook nie-Joodse opvoeders in diens neem by hulle skole. Hulle skole dring egter daarop aan dat alle studente en werknemers wat tot hulle skole toegelaat word, moet voldoen aan die vereistes van ’n Joodse opvoeding: dit is om in Hebreeus onderrig te word, Joodse godsdienstige gebruike na te kom en aan alle godsdienstige geleenthede deel te neem wat deur die skool befonds is. Die skool se aansoekvorm stel dit duidelik dat die doel van die skool is om Joodse gebruike te bevorder. Dus, alhoewel daar nie teen nie-Jode gediskrimineer sal word nie, sal daar van jou vereis word om al die reëls en gebruike van die skool na te kom. Verder, hierdie Joodse skole is almal privaatskole. Kinders wat dit kan bekostig om by hierdie Joodse skole in te skryf kan baie maklik by enige ander skool inskryf. Dus: val in by ons reëls of soek ’n ander skool.

Ek glo dat hierdie beginsel net so van toepassing is op kerke en ook op trouvenues: Soos ’n Joodse skool die reg het om ’n kultuur toe te pas, so het ’n trouvenue die reg om Christelike waardes toe te pas. Soos daar alternatiewe skole bestaan vir kinders wat hulself nie onder Joodse gebruike wil onderwerp nie, so bestaan daar alternatiewe trouvenues waar daar nie teen gays gediskrimineer word nie.

Reg op gelykheid vs reg op godsdiensvryheid

In Breytenbach se artikel hieronder som sy die probleem baie kort en kragtig op: “Die een se reg [is] ‘diskriminasie’ teen [die] ander”

Coertzen sê in sy artikel: “But just as important and equal to the rights of equality and dignity is the right to freedom of association and freedom of religion.”

Dus, beide die volgende twee dinge is ewe belangrik:

  1. Die reg op gelykheid en waardigheid.
  2. Die reg op vryheid van assosiasie en godsdiensvryheid.

Maar hoe versoen ons dié twee pole in hierdie geval?

Kan nie geloof gebruik om te diskrimineer

In die Beloftebossaak is die aanklaers se argument blykbaar dat ’n mens nie jou reg tot geloof kan gebruik om teen mense te diskrimineer nie (kyk artikel hieronder).

As dit egter ’n geldige standpunt is, dan is godsdiensvryheid iets van die verlede. ’n Sekulêre werkgewer kan nie teen ’n werknemer diskrimineer oor dinge soos egbreuk (seks voor die huwelik, egskeiding, pornografie) en dronkenskap nie, solank dit nie sy werk beïnvloed nie. Hierdie dinge is egter direk in stryd met die Bybel. Daarom, as die kerk nie mag optree teen amptenare wat skuldig is aan bogenoemde dinge nie, dan is godsdiensvryheid daarmee heen.

Daarom moet dit moontlik wees om op grond van jou geloof te diskrimineer. Dus is daar ’n saak vir billike diskriminasie.

Moontlike argumente van aanklaers

Die aanklaers in die Beloftebossaak kan moontlik soos volg teen billike diskriminasie redeneer:

* As trouvenues teen gays kan diskrimineer, kan werkgewers dan ook teen gays diskrimineer?

Ek sou sê ja. As ’n werkgewer egter teen gays sou wou diskrimineer, kan ’n mens redeneer dat hy konsekwent moet wees en slegs werknemers aanstel wat hulleself verbind tot Christelike waardes.

* As Beloftebos gays wil verhoed om daar te trou omdat dit sonde is, hoe verhoed Beloftebos dat ander sondes op hulle perseel gebeur?

Om konsekwent te wees sal Beloftebos moet wys dat hulle, waar hulle kan, optree teen enigiemand op hulle eiendom wat hulleself skuldig maak aan dinge soos egbreuk, dronkenskap, kwaadpraat en vloektaal.

* As Beloftebos teen gays kan diskrimineer, wat verhoed dat hulle ook teen mense kan diskrimineer op grond van ras?

Beloftebos sou nie so iets op enige manier kon regverdig nie. Alhoewel die Bybel wel in die verlede gebruik is om apartheid te regverdig, was dit ’n denkfout. Uit ’n voor die handliggende interpretasie van die Bybel in sy geheel beskou, is dit baie duidelik dat die Bybel nie diskriminasie teen swartmense voorstaan nie.

* Veronderstel daar is ’n geloof wat jou verhoed om swartmense op jou eiendom toe te laat, moet die staat dit toelaat op grond van godsdiensvryheid?

Hier kom ons nou by ’n baie belangrike punt. Hierdie is slegs ’n probleem as die staat die Christelike geloof gelyk stel aan enige ander belaglike geloof. As regerings die Christelike geloof as net nog ’n geloof beskou, dan begin dinge baie troebel raak. Vir meer hieroor, kyk Om kerk en staat te skei en Sataniste se aanslag problematies vir regerings wat hulle skaam vir die Evangelie.

Scenarios

Ek skep ’n fiktiewe scenario:

Jannie en Sannie is toegewyde Christene wat ’n trouvenue besit. Hulle dra hierdie besigheid in sy geheel op aan die Here. Hulle sien die besigheid as God s’n en sien hulleself bloot as bestuurders daarvan. Hulle plaas hulle vertroue in die Here, probeer alle besluite te maak deur God se stem te soek en probeer om ten alle koste eerlike besigheid te doen met almal waarmee hulle te doen kry. Almal wat hulle ken (hul werkers ingesluit) getuig daarvan dat hulle wonderlike, eerlike mense is en dat dit altyd lekker is om saam met hulle te werk.

‘n Satanistiese kerk nader hulle om die hele venue te huur vir die naweek vir ’n kamp. Hulle is bereid om selfs meer te betaal as die gewone tariewe. Jy kan self dink wat tydens so ’n kamp sal gebeur: allerhande rituele en offers aan Satan. Alles dinge wat direk indruis teen Jannie en Sannie se geloofsbeginsels.

Mag Jannie en Sannie die versoek van die hand wys?

Is die antwoord nie voor die handliggend nie? Natuurlik kan hulle die versoek van die hand wys. Dit is immers hulle eiendom.

Verhuring van kerkgeboue

Indien gays ’n spesifieke kerkgebou wil huur vir ’n troue, mag die kerkraad dit weier?

Sommige groot gemeentes verhuur hulle geboue uit om konserte te hou. Moreletapark gemeente is so ’n voorbeeld. Hulle het streng voorwaardes waarop hulle hul gebou uitverhuur. Alle vertonings word voor die tyd ge-evalueer om te bepaal of die vertoning in ooreenstemming is met die Christelike, Bybelse waardes van die gemeente. Op grond daarvan is aansoekers in die verlede geweier.

As Beloftebos nie homoseksuele troues mag weier nie, beteken dit dan dat gemeentes soos Moreletapark hulle gebou moet verhuur sonder voorwaardes?

Motiewe van aanklaers

In hierdie tipe sake word daar altyd baie aandag gevestig op wat die Christene te doen staan. Kom ons vra egter die vraag: Wat is die motiewe van die aanklaers? Is hulle menseregte werklik gruwelik aangetas as Beloftebos hulle weier om daar te trou of is hulle bloot kwaadwillig? Daar is tog seer sekerlik ander trouvenues waarna hulle kan gaan.

Veronderstel Beloftebos het een of meer van die volgende reëls gehad:

  • Alle mansgaste moet ten alle tye ’n pak klere aanhê.
  • Alle vrouegaste moet rokke dra en mag nie grimering dra nie.
  • Daar is nie ’n kontantkroeg nie en geen drank word toegelaat nie. Indien iemand met drank gevang word, sal hy summier van die perseel verwyder word.
  • Daar mag nie gedans word op die venue nie.
  • Daar mag slegs musiek gespeel word van die ou klassieke meesters soos Mozart, Bach, Vivaldi, ens.
  • Almal moet teen 23:00 reeds die venue verlaat het.

Daar is verseker ’n hele paar voornemende bruidspare wat nie vir sulke tipe reëls te vinde sal wees nie en wat veel eerder ’n ander trouvenue sal gaan soek. Maar aankla by die MRK? Ek twyfel.

Ten slotte

Diskriminasie het ’n vloekwoord geword wat dit nie noodwendig moet wees nie. Ek is nie ’n voorstaander van diskriminasie in die algemeen nie. Diskriminasie kom altyd teen ’n prys: Wanneer ’n besigheid diskrimineer, verminder hy sy opsies. As ’n besigheid nie iemand wil aanstel op grond van ras, geslag of geloof nie, mis die besigheid dalk ’n geleentheid om ’n baie bekwame persoon aan te stel. En wanneer ’n besigheid teen kliënte diskrimineer, gaan die besigheid kliënte verloor, en daarom ook inkomste. Omdat besighede self iets opoffer, moet besighede vry wees om hierdie besluite te maak.

In ’n familiebesigheid word eerstens gekyk of daar ’n geskikte familielid is om ’n pos te vul. Indien daar nie een is nie, eers dan word daar na buite gekyk. Is dit verkeerd? Nee. Die risiko is egter dat die besigheid nie ander meer bekwame mense in ag neem nie omdat hulle nie familie is nie. Maar dit is die besluit wat die eienaars van die besigheid moet neem.

In ’n demokratiese samelewing moet Beloftebos vry wees om te mag diskrimineer teen homoseksuele troues.

In Amerika wou Jack Phillips, ’n Christen, nie vir ’n gaypaartjie ’n troukoek bak nie en is hof toe gesleep. Ná baie maande het die hooggeregshof in Amerika egter in 2018 besluit dat hy dit kon doen.

Jack Phillips, Baker Who Refused Gay Couple: ‘I Was Thrilled’ At Supreme Court Decision | TODAY

As in ag geneem word dat die huidige hoeveelheid raswette in Suid-Afrika wat blatant teen witmense diskrimineer vergelyk met die hoeveelheid raswette tydens apartheid[1], sal dit eintlik uiters ironies wees as die MRK vroom probeer wees en besluit dat Beloftebos onregverdiglik diskrimineer.

Mag die MRK se uitspraak wees dat die eienaars van Beloftebos vry is om billik te diskrimineer op grond van hulle geloof.

***********

Beloftebos: Die een se reg ‘diskriminasie’ teen ander

Deur Jana Breytenbach

19 September 2020

Mag ’n mens se grondwetlike reg om die geloof van jou keuse uit te oefen gebruik word om teen iemand anders se grondwetlike reg tot seksuele oriëntasie te diskrimineer?

Dit is die kernpunt van ’n saak wat hom in die gelykheidshof in Kaapstad afspeel.

Die partye is die Menseregtekommissie (MRK), die trou-venue Beloftebos by Stanford en sy eienaars, Andries en Coia de Villiers, en ’n gaypaartjie, Megan Watling en Sasha-Lee Heekes, van Kaapstad.

Agtergrond

Die MRK het in Maart vanjaar die saak teen dié venue in die gelykheidshof ingedien en aangevoer hy oortree art. 6 van die Gelykheidswet waar niemand teen ander mag diskrimineer nie. Die MRK wil keer dat Beloftebos weer onbillik diskrimineer en verder dat hy om verskoning moet vra aan die paartjies.

In die aansoek is Watling en Heekes as partye gelys, asook ’n ander paartjie, Alex Thorne en Alex Lu.

Albei pare is nie toegelaat om by Beloftebos te trou nie weens die eienaars se persoonlike geloofsoortuiging dat hulle nie gasheer vir troues van mense van dieselfde geslag kan wees nie.

Thorne en Lu is in 2017 weggewys en Watling en Heekes in Januarie 2020.

Daarna het adv. André Gaum namens die MRK die klag by die hof ingedien, maar het dit duidelik gestel dat Watling en Heekes van plan is om hul eie saak in te dien.

Watling en Heekes kon weens die pandemie en die hof se riglyne wat gelas het dat nie-dringende sake eers later ingedien kan word, nie hul saak indien nie.

Verwikkelinge in Mei

Nadat die MRK sy klag ingedien het, het Beloftebos en sy eienaars ’n teenaansoek teen die MRK gebring.

Dit is bitter ironies dat die MRK vinnig stappe gedoen het nadat ons gesê het ons is van plan om ’n saak te maak.

Volgens hul hofstukke vra hulle die hof om dele van die Gelykheidswet as ongrondwetlik te verklaar – veral die deel wat handel oor of iets onbillike diskriminasie is of nie. Hulle vra ook dat die saak na die konstitusionele hof verwys word waar finale uitsluitsel oor die kwessie verkry moet word. Beloftebos het ook die minister van justisie en grondwetlike ontwikkeling as partye in die aansoek gelys.

Die MRK staan die aansoek teen.

September

Met die verslapping van die koronavirus-regulasies het Watling en Heekes begin September ’n aansoek ingedien om as tussenpartye toegelaat te word.

In hul hofstukke het hulle aangevoer die MRK het sy aansoek “te haastig” ingedien voordat hulle hul saak kon indien. Hulle sê dit blyk net vir die media-aandag te wees.

Ook wou hulle nie gehad het die MRK moet hulle verteenwoordig nie, omdat hulle uitgevind het die eerste paartjie het in 2017 ’n klag by die MRK teen Beloftebos ingedien, maar dié het in drie jaar niks daaraan gedoen nie.

“Dit is bitter ironies dat die MRK vinnig stappe gedoen het nadat ons gesê het ons is van plan om ’n saak te maak,” lui die hofstukke.

Hul geloofsoortuigings is ’n integrale deel van hul menslike integriteit en daarom ook geregtig op respek en die beskerming van die MRK.

Gaum het egter daarop gereageer deur te sê hy wil nie by “ ’n moddergooiery betrokke raak en die fokus van die eintlike kwessies aflei nie”.

Die paartjie verduidelik deur die aansoek wat te vroeg gebring is, en die daaropvolgende teenaansoek van Beloftebos, is dit van uiterste belang dat hulle as tussenkomende party toegelaat word.

As Beloftebos suksesvol is in sy aansoek, sal hul aansoek geen gronde hê om op te staan nie omdat dele van die Gelykheidswet dan ongrondwetlik sal wees.

Hulle voer aan ’n mens kan nie jou reg tot geloof gebruik om teen mense te diskrimineer nie. Beloftebos se optrede is strydig met art. 9 van die Grondwet en strydig met die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie.

Luidens hul hofstukke vra hulle die hof om te bevind die eienaars het teen hulle gediskrimineer gegrond op hul seksuele oriëntasie deur te weier om hul troue daar te hou. Hulle vra ook ’n onvoorwaardelik apologie waarin die eienaars erken dat dit wat hulle gedoen het, ongrondwetlik is en skade veroorsaak het.

Hulle eis skadevergoeding van R2 miljoen. As hulle suksesvol is, sal dié geld aan liefdadigheid geskenk word.

Reaksie:

Beloftebos se regspan het intussen bevestig hulle sal dié aansoek teenstaan.

Michael Swain, hoof van Freedom of Religion SA, wat die eienaars van Beloftebos bystaan, sê die “dreigement van R2 miljoen sal nie die eienaars afskrik van hul geloofsoortuigings nie”.

“Hul geloofsoortuigings is ’n integrale deel van hul menslike integriteit en daarom ook geregtig op respek en die beskerming van die MRK,” het hy gesê.

Gaum het egter die paartjie se aansoek verwelkom en voer aan dit sal die saak net soveel sterker maak.

Voetnotas

[1] Kyk Zille was dalk net halfpad reg (2 Jul 2020), Die rits raswette van die ANC (22 Jul 2020)

Verdere bronne

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui