Blik op die Kerkorde: Word dit moeiliker om beswaar teen besluite van die Algemene Sinode te maak?

Vir die NG Kerk se kerkorde, kyk ngkerk.org.za. of kerkargief.co.za/acta.

*************

Blik op die Kerkorde: Word dit moeiliker om beswaar teen besluite van die Algemene Sinode te maak? | Kerkbode

Deur Johann Ernst

13 September 2024

Daar staan dit in die Herderlike Brief wat ds Jan Lubbe as voorsitter van die Moderamen van die Algemene Sinode aan die begin van die lente aan leraars en lidmate van die NG Kerk gestuur het: “As Moderamen is ons verbind tot konstruktiewe gesprek waarin ons mekaar respekteer, in liefde by die waarheid bly oor wie ons is en wat besluit is, begrip vir mekaar se sieninge nastreef gepas en ordelik optree.” Ons kan nie hiervan van mekaar verskil nie.

Wanneer Calvyn oor die kwessie van die ware en valse kerk handel en reageer op die beskuldiging deur Rome van skeurmakery sê hy die volgende in sy Institusie: “Die eenheid word deur twee bande saamgebind, naamlik eenstemmigheid in die gesonde leer en broederlike liefde. Die broederlike liefde is egter so nou aan die eenstemmigheid in die geloof verbind dat laasgenoemde die begin en end van eersgenoemde is.” Lubbe verbind die liefde en waarheid aan “wie ons is en wat besluit is”. Die redelike gevolgtrekking wat hieruit gemaak kan word, is dat dit liefdeloos is om nie by die waarheid te bly nie wanneer ons as leraars en lidmate met mekaar in konstruktiewe gesprek is en oor besluite met mekaar praat. Ons kan nie hiervan van mekaar verskil nie.

Ongelukkig is dit in die openbare en kerklike gesprek nie die geval nie. Aan die begin van die lente bied RSG aan dr Anton Knoetze die geleentheid om te vertel wat by die onlangse Koinonia Sinode gesê en besluit is. Knoetze vertel die luisteraars van die besinning oor die stil-stil veranderinge aan die Kerkorde om dit al hoe moeiliker te maak vir behoudende lidmate, leraars en kerkrade om deur kerklike kanale beswaar te maak teen die besluite van die Algemene Sinode wat in stryd is met die Woord en die Belydenisskrifte. Die byvoeging van die nuwe Artikel 22.3 tot die Kerkorde word deur Knoetze as voorbeeld genoem van stil-stil verandering van die Kerkorde om lidmate, ampsdraers en kerkrade die swye op te lê, af te dreig of uit die pad uit te neem. Volgens Knoetze is hierdie byvoeging in stryd met die gereformeerde kerkreg en die administratiewe en gemenereg. Ingevolge hierdie nuwe artikel kan ’n meerdere vergadering weens onvermoë of wanbestuur ’n mindere vergadering ontbind en hersaamstel en/of onder sy bestuur plaas. Kerkrade, wat nie saamstem met sekere besluite nie, word reeds deur ringe met die toepassing van hierdie artikel gedreig, aldus Knoetze.

Ds Jan Lubbe word die volgende dag deur RSG die geleentheid gebied om hierop te antwoord. Volgens Lubbe is dit gewoon nie waar nie. Veranderinge aan die Kerkorde moet deur ’n algemene sinode met ’n tweederdemeerderheid goedgekeur word. Dit word vooraf gegaan deur ’n lang proses van konsultasie. Die 2023-agenda is lank voor die tyd gepubliseer. Alles was duidelik daaroor. Niks het stilletjies gebeur nie. Kerkrade word te klein en is nie meer in staat om te doen wat hulle moet nie en vra daarom die hulp van die ring. Waar daar twyfelagtige bestuurspraktyke is of oortredinge van die Kerkorde, kan ’n ring toetree en die orde herstel. Om te sê dat dit stilletjies gedoen is, is verdagmakery.

Nou is die vraag: Wie van Knoetze of Lubbe hou in liefde by die waarheid? Die enigste manier om uit te vind wat die waarheid is, is om in liefde met die ware feite na vore te kom. Is die aanbeveling vir die byvoeging van Artikel 22.3 in die agenda vir die vergadering opgeneem? Die antwoord is: Nee. Dit is in die addendum tot die agenda opgeneem wat slegs ’n maand voor die vergadering elektronies gepubliseer is. Die Reglement van Orde bepaal dat verslae van taakspanne, waaronder die Algemene Taakspan Regte (ATR), minstens drie maande voor die vergadering ingedien moet word. Dringende sake wat binne die drie-maande-tydperk voor die vergadering voorkom en deur taakspanne behandel is, mag by wyse van addendumverslae, met verlof van die taakspan vir die agenda, ter tafel gelê word. Lubbe praat dus nie die waarheid as hy sê dat dit “lank voor die tyd” in die agenda gepubliseer is nie. In die verslag van die ATR word nie gesê of daar ’n opdrag tot die byvoeging van Artikel 22.3 gegee is nie. Daar is geen aanduiding van ’n “lang proses van konsultasie” nie. Veranderinge aan die Kerkorde geskied na deeglike studie. Dit het opsigtelik nie gebeur nie.

Kundige regsadvies sou sekerlik op die vraag geantwoord het of dit regtens moontlik is vir die orgaan van een regspersoon (ring) om die bestuur van ’n ander regspersoon (gemeente) oor te neem. En die antwoord sou “nee” gewees het. Daar is ook geen motivering vir die byvoeging gegee nie. Lubbe gee ’n interpretasie wat by Artikel 22.2 pas. Oortredinge van die Kerkorde, wat vir hom nou onder 22.3 pas, word ingevolge die Kerkorde by wyse van die kerklike tug hanteer, nie deur bestuursoorname nie. Die ATR se aanbeveling oor die byvoeging het onder druk om die agenda af te handel op die laaste sittingsdag gedien. Die ATR het vooraf aanbeveel dat daar nie afsonderlik oor elke wysiging gestem word nie, maar in geheel gestel word en met ’n tweederdemeerderheid goedgekeur word. Dit het dan ook so gebeur. Alles is dus nie so duidelik daaroor, soos Lubbe beweer het nie.

Stil-stil beteken sonder om baie te praat of behoorlike deelname. Só is daar twee ander ingrypende wysigings aan die Reglement vir Hersiening (Revisie), Appèl, Beswaarskrif (Gravamen) en Prosedurele Beswaar by Algemene Sinode 2023 aangebring. Strydig met Artikel 23 van die Kerkorde kan slegs kerkvergaderinge nou ’n prosedurele beswaar by die Algemene Sinode indien. Artikel 23 praat nie eens van kerkvergaderinge se reg op appèl nie. Dit is “lidmate, ampsdraers en predikante” se ooreengekome prerogatief. Hierdie wysiging het ook by wyse van ’n laat-aanbeveling in die addendum tot die agenda geskied. Maar sonder enige vooraf aanbeveling en dus sonder enige kennis van revisie mag slegs ’n kerkvergadering of sy gevolmagtigde voortaan ’n gravamen by die Algemene Sinode indien. Hierdie allermins ooreengekome wysiging het geskied by wyse van ’n blote voorstel vanaf die vloer, nogal deur twee lede van die Algemene Taakspan Regte.

Knoetze praat dus die waarheid as hy sê dat daar stil-stil veranderinge aan die Kerkorde by Algemene Sinode 2023 aangebring is om dit al hoe moeiliker te maak vir behoudende lidmate, leraars en kerkrade om deur kerklike kanale beswaar te maak teen besluite van die Algemene Sinode wat in stryd is met die Woord en die Belydenisskrifte.

Is konstruktiewe gesprek enigsins moontlik as die kerkleiding, wat dit vroom versoek, nie self by die waarheid en orde hou nie? En hoe is dit moontlik wanneer dié wat in gebrokenheid nog huiwerend en beskaamd probeer om in liefde by die waarheid en orde te bly, op liefdelose, oneerlike en vervolgsugtige wyse as skeurmakers uitgemaak word, geminag word, tot stilswye gedwing word en berekend met nuwe kerklike bepalinge uit die weg geruim word?

Dr Johann Ernst is ’n voormalige aktuarius van die NG Kerk.

Veranderinge aan artikel 22 van die Kerkorde

Artikel 22 lui soos volg en dui die byvoeging aan:

22.1 In meerdere vergaderinge word alleen die sake behandel wat daar tuis hoort of daarheen verwys is deur mindere vergaderinge en wat nie in mindere vergaderinge afgehandel kon word nie.

22.2 ’n Meerdere vergadering het die bevoegdheid om ’n saak wat ’n mindere vergadering moes afhandel, onder die volgende omstandighede te hanteer:

22.2.1 waar ’n mindere vergadering nie bestaan nie; en

22.2.2 in die geval van onvermoë of wanbestuur by die mindere vergadering.

Bygevoeg:

22.3 ‘n Meerdere vergadering kan in die geval van wanbestuur of onvermoë ‘n mindere vergadering ontbind en hersaamstel en/of onder die meerdere vergadering se bestuur plaas.

Kommentare op Kerkorde: Word dit moeiliker om beswaar teen besluite van die Algemene Sinode te maak?

HENNIE BLOMERUS

14 September 2024 AT 12:41

Sover my kennis strek , kan ‘n ring nie namens ‘n kerkraad ‘n besluit neem nie, dit moet van ‘n skriftelik skrywe van ‘n gemeente vergesel wees. Indien bogemelde inligting korrek is, moet Ds. Lubbe verskoning aanbied vir die verkeerde inligting wat hy gegee het, dit word van hom as Moderator van die NG Kerk verwag. Hierdie is dieselfde misstap as destyds in ‘n debat tussen Prof Heyns van die NGK en Prof Lubbe van die
APK waar Prof Heyns beweer het hy het nie Geloof en Protes van die APK vroegtydig ontvang om ‘n ingeligte mening te gee nie, terwyl Prof Lubbe hom daarop gewys het dat hy ‘n afskrif twee weke voor die debat ontvang het. So ‘n iets mag nie in die kerk gebeur nie.

JAN BUTER

14 September 2024 AT 13:13

Kan iemand duidelik Bybel gebaseerde uitleg gee van wat selfde geslag verbintenisse aanvaarbaar maak. Hoe dit van sonde tot deug verander is?

Geen verwysings na sosiologiese en sielkundige of owerheids wetgewing nie. Suiwer Bybelse redes asb.
Almal praat, maar nog nooit ‘n preek gehoor wat selfde geslag verbintenisse nou aanvaarbaar sou maak op bybelse gronde nie. ASSEBLIEF IN DETAIL.

HENNIE BLOMERUS

16 September 2024 AT 16:32

Jan, ter aanvulling van jou vraag verklaar die A S dat volgens Rom 14 en Hand 15 die 2019 besluit oor SGV Bybels geregverdig is.. Ek lees dit nie daarin nie, sal waardeer as beide versoeke beantwoord sal word.

J W HOFMEYER

14 September 2024 AT 15:29

Wat is in die NGK aan die gang? Wat het geword van eerbaarheid en eerlikheid? Durf ons die leuen in die kerk langer te dien en te aanvaar? My gebed is dan maar net: mag God ons help en genadig wees in hierdie krisisuur!

LAURA BLOM

14 September 2024 AT 21:45

Ek het met groot belangstelling geluister na beide gesprekke op RSG hierdie afgelope week. Dit maak my hartseer oor die onwilligheid van die AS om in gesprek te tree Konoinia. Dit sal ook goed wees om te weet waar in die Skrif die verbintenis van selfdegeslag-verhoudings goedgekeur word.

BEN VISAGIE

15 September 2024 AT 07:12

Absoluut belaglik. Hoe kan kerke nog by die NG kerk bly? Soek asb n ander sambreel, reël asb dat ons by n ander kerk groep kan aansluit. Hierdie saak gaan nie opgelos word met al die leurns nie. Daar word teen ons leraar ge diskrimineer en hy is besig om sy pos te verloor. En Koinonia kan ook niks doen nie. Sluit aan by n groepering wat nie n sinode het nie. En wat sinvolle bestuur het.

BERTUS OOSTHUIZEN

15 September 2024 AT 09:47

In die meeste organisasies ,insluitende kerk organisasies word die boeke wat die wetlike aspekte uitspel al hoe dikker vir wegkwynende groepe . As mens eers ‘n kerklike organisasie “van bo af” eensydig wetlik probeer dwing deur meer en meer wette en regulasies vir eie voordeel te skep ,is die einde van daardie denominasionele kerkgroep baie naby.

Die geestelike vrede en blydskap asemhalingsruimtes van die ontvangs voorportale en kerklike aanbiddingsruimtes van sulke kerke verskil hemelsbreed van die atmosfeer wat vanuit die kantore van die aktuarisse en van die rings en sinodale amptenare kom. Dit is ‘n vernietigende situasie.

Sonder gemeentes en lidmate se meedoening aan wat reg en goed is ,ook wat die praktiese bestuur van die kerkgroep betref ,gaan die “kapteine” van ‘n verlate skepe binnekort niks wees nie.

Die ware liggaam van Christus ,Sy kerk ,sal altyd triomfeer ,verseker.

Liefde vrede en blydskap in Christus vir almal toegebid.

HENRIETTA KLAASING

16 September 2024 AT 14:29

Deel van my stiltetyd vanoggend: MIGA 6:10-12 AFR83
[10] Goddelose plek, moet Ek die verkeerde maatlyn bly verdra, of die vals inhoudsmaat wat Ek so haat? [11] Moet Ek die eienaar van ‘n onbetroubare weegskaal vryspreek, een met ‘n sak vol vals gewigte? [12] Die stad se ryk mense pleeg geweld, sy inwoners lieg en hulle bedrieg.https://bible.com/bible/6/mic.6.10-12.AFR83

PIETER BUYS

17 September 2024 AT 09:17

Asking for a friend. Hoe kan jy verwag gemeentes moet die AS betaal as daar “ruimte gelaat” moet word vir persone wat twyfel of daar ‘n duiwel is? Verskeie ander onbybelse besluite is deel van hierdie lys. It’s all about the money.

MARIANNA VICTOR

19 September 2024 AT 18:04

Wat is die waarheid?

Die waarheid is die volledige Woord van God.

Vir die wêreld daarbuite, word die teerste puntjie op die voorgrond geplaas, naamlik selfde geslag verhoudings, maar dit is slegs die tippie van die ysberg. Lede van die NGK is oningelig oor die sieninge van die AS.

Sou daar net 70 gemeentes by die Koinonia beweging aangesluit het, as hulle volledig ingelig was oor die NGK sinode se sienings en ook die inhoud van die opleiding van predikante?

Hoe kan daar gesê word Koinonia wil nie gesprek voer nie, terwyl hulle dag en datum van uitnodigings kan verskaf? Hoekom kan daar slegs op die AS se terme gesprek gevoer word? Is dit dan nie juis nou tyd vir mediasie nie? Soos ds. Lubbe sê, moet daar gepraat èn geluister word. Dit geld na albei kante.

Die moderator is gou om te sê: “Jesus het gesê”, as hy verwys na Matt.18, maar wat van die ander boeke van die Bybel? Is dit waar ons “menings mag verskil”?

As ons geloof en aanbidding gegrond was op ons menings, sou elkeen sy eie kerk gehad het.

Die kerk behoort nie te gaan oor elkeen se mening nie. Dìt kry ons op sosiale media. Die kerk moet saam aanbid rondom die Woord van God, ongeredigeer deur mense, want ons is nie volmaak nie.

Die moderator verwys na Koinonia se Facebook blad, waar daar klaarblyklik aan laster gegrens word. Ek kon geen laster op die blad vind nie. Hy sê hierdie dinge “maak seer”, maar hierdie swaard het twee snykante en die NGK bloei.

Terwyl kerkorde gemanupileer word en die AS hulle eie menings probeer afdwing, in plaas daarvan om te doen wat die Woord sê, loop die NGK leeg.

Sy Woord is tog die lamp vir ons voet en die lig vir ons pad.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui