Kyk ook:
- Geloftedag: om te vier of nie (Daniel Louw)
Bron onbekend.
******
BLOEDRIVIER, JHWH SE WONDERWERK!
Dit is Saterdag 15 Desember 1838 en laat in die middag.
Teen die skuins helling van die Ntibane berg wat afloop na die Ncomo-rivier beweeg 64 kakebeenwaens, in rye van vier langs mekaar, getrek deur 10 osse elk, af na die rivier.
Op en langs die waens, te voet en te perd, beweeg 464 Boere, hul voorlaaiers op hul skouers, gelaai en gereed vir gebruik.
Dit is die Boere-strafkommando op pad na Umgungundlovu, die Plek van die Groot Olifant, om die Zoeloe-koning, Dingaan, te gaan straf vir al die wreedhede teenoor die Trekkers sedert hulle intog in Natal in Januarie daardie jaar.
Aan die spits van hierdie optog, fier en regop op sy perd, ry Andries Pretorius, leier en kommandant.
Sy gedagtes gaan terug na die lotgevalle van sy mede-landgenote sedert Januarie 1838… die Trekkers wat rustig oor die Drakensberge in die omgewing van die huidige Oliviershoekpas die “Beloofde Land“ ingetrek het… hoe hul leier, Piet Retief na Dingaan is om oor grond te gaan onderhandel, hoe hy en sy 69 makkers verraderlik wreed op 6 Februarie deur Dingaan in sy hoofstad doodgeslaan en hul verminkte lyke op Dhlomo Amabuto (Moordkoppie) buite die stat gegooi is…
… hoe die Zoeloe-impi’s op 17 Februarie die niksvermoedende Trekkers by Moordspruit, Blaauwkrans en Weenen aangeval en 485 mans vrouens en kinders uitgemoor het… baie van die klein kindertjies aan die voetjies gegryp en hul koppies teen die wawiele vergruis het.
Hy dink aan die strafkommando van kommandant Piet Uys, wat by Italeni in ’n hinderlaag gelok is en waar hy en andere gesterf het, asook sy 12-jarige seun, Dirkie ’n heldedood gesterf het toe laasgenoemde doodsveragtend ingejaag het om sy vader te gaan help toe die reeds geval het!
Hy dink aan ander Zoeloe-aanvalle, die nood, die honger, die siektes en die koue wat sy mede-Trekkers in die daaropvolgende maande moes ly en hy dink met trots aan die standpunt wat die Boervrou ingeneem het toe daar sprake was dat die Trekkers die land moes verlaat…terug oor die berge. Hul het gesê, “Ons bly net hier…die dood van ons kinders moet gewreek word!”
Hy onthou die dringende boodskap wat hom op die verre Oosgrens van die Kolonie bereik het waar hy self besig was om reg te maak om ook te trek: “Jy moet dringend kom help!”
Hy het dadelik reageer en slegs 23 dae daarna was hy by sy mense aan die bo-lope van die Tugela-rivier en binne dae is ’n strafkommando georganiseer en na beste vermoë toegerus. Hulle was verarm, klere verslete, kos en medisyne min, maar daar was ’n brandende gees om onreg te gaan regstel. In die wakis was daar die voorlaaiers, die buskruit en die Bybel…maar geen wit vlag nie!
Hy kyk oor sy manne waar hul afdaal na die plek waar, toe nog aan hom onbekend, ’n veldslag sou plaasvind waarvan die gevolge tot in die verre toekoms nog sou uitkring!
Agt dae gelede by ’n plek, nou bekend as Danskraal, naby Ladysmith, het ’n paar Engelse uit Port Natal (Durban) onder leiding van Alexander Biggar hul opwagting by hom gemaak.
Biggar wou weet, “What are you doing here, Commandant?”
Sy antwoord: “We are going to punish Dingaan for the atrocities committed by him on my people!”
Die Engelsman het so oor die groepie Boere gekyk en met ’n handgebaar oor hulle heen, opgemerk, “With this Commandant? You don’t know what you are doing! Dingaan has got a well-trained army of between 32 000 and 40 000 men… you might be outnumbered by about 50 to 1 in an armed conflict!”
Die man het sin gepraat.
Daardie aand, op 8 Desember het hy, Andries Pretorius en Sarel Cilliers, die geestelike leier van die ekspedisie, sy watentklappe agter hulle twee toegemaak en vir mekaar die vraag gevra: “Wat nou?!”
Gedurende die nag het ’n gedagte wat reeds ’n geruime tyd gelede al by hom opgekom het, gestalte gekry toe hul albei besef hulle taak is byna menslik onmoontlik… alleen sou hulle kommando nie kon slaag nie, en mislukking sou die totale uitwissing van die Trekkers in Natal tot gevolg kon hê.
Daar was net EEN uitweg! Vertikaal na Bo…Na die Allerhoogste!
Daardie nag worstel Sarel Cilliers, bewus van die ernstige implikasies van ’n Gelofte aan die Allerhoogste (gebaseer op die Skrif), oor die inhoud van ’n Gelofte, en die volgende oggend op 9 Desember by Danskraal word dit, na ernstige oorleg, ook met die ander Boere, as Gelofte aan YHWH, aanvaar en so ook staande, met die hoof ontbloot en die hoed op die bors, die eerste keer gelees en met ’n “Amein”, bekragtig.
Die Gelofte
“My broeders en mede-landgenote, hier staan ons voor die Heilige God van Hemel en aarde om ’n gelofte aan Hom te doen, dat, as Hy ons sal beskerm, en ons vyand in ons hand gee, ons die dag en datum elke jaar as ’n verjaardag en dankdag soos ’n Sabbat tot Sy eer sal deurbring; en dat ons ’n HUIS (VOLK) tot Sy eer sal stig, waar dit Hom behaag en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle daarin met ons moet deel, tot nagedagtenis ook vir ons opkomende geslagte, want die eer van Sy naam sal daardeur verheerlik word, deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee. Amen”.
Pretorius dink aan hoe die gelofte die afgelope sewe dae elke oggend met eerbied en oorgawe afgelê is.
Die eerste waens is reeds deur die rivier toe van die verkenners wat elke dag vooruit gestuur is, van oorkant die bulte oos van die rivier op dolle vaart aangejaag kom. Hans de Lange (Hans Dons) rapporteer met die naderkom, net agter die bult, van ’n reuse-Zoeloemag, duisende van hulle!
Pretorius beveel dadelik dat hulle ’n walaer moet trek. Maar waar? Pretorius onthou van die rivier, waardeur hul sopas gekom het na waar ’n reuse-donga van 4 tot 5 meter diep reghoekig by die rivier aansluit, neffens ’n baie diep, kilometer lange seekoeigat, dig met riete begroei.
“Daar is die plek wat God reeds vir ons jare van tevore al begin voorberei het!” sê hy.
En Pretorius beveel: “Terug deur die rivier en trek laer in die hoek wat die donga met die rivier vorm.”
Hyself ry die bult uit in die rigting van die aankomende Zoeloes, en staan dan in vervoering by die aanskoue van die aankomende mag, netjies en ordelik, assegaaie glinsterend in die ondergaande sonlig, die pluime op hul koppe lig wiegend in die aandwindjie, die voete trap ritmies op die grond; Wit-, Swart- en Rooi skilde — elke regiment apart!
Tussen 15 000 en 20 000 in getal, skat hy hulle!
Terug by die waens word die laer haastig, maar geordend getrek…hoe dikwels moes hulle dit nie al in die vorige dae op die trek doen nie? Veghekke word tussen en onder die waens geplaas en met kettings geheg. Doringtakke en ander versperrings word aangebring. Die drie kanonne (twee klein breëbek- kanonne en een skeepskanon) word strategies geplaas, die byna 1 300 stuks grootvee (perde en trekosse) word in die binnekring van die laer met rieme (neusrieme vir die osse) aan pale wat in die grond gedryf is, vasgemaak.
’n Stormloop deur verbouereerde diere sou fataal vir die ligte kakebeenwaens wees!
Oplaas word alles weer nagegaan: Gewere word gelaai…daar is 3 tot 4 gewere per man. Dit is voorlaaiers wat van vooraf in die loop met net die regte hoeveelheid buskruit gelaai moet word, dit kry dan ’n pluis op om die kruit vas te hou en daarna word dit met ’n laaistok vasgestamp. Dan kom die loodkoeël of ’n aantal lopers (ronde loodballetjies) wat ook met ’n pluis vasgestamp word…., ’n uiters omslagtige proses, veral nog as die vyand met groot spoed nader storm, dan word die ontbrandingbakkie by die vuursteen gereed gemaak, die haan word oorgehaal en dan eers kan die skoot afgetrek word! ’n Goeie skut kon weer herlaai vir ‘n volgende skoot…. binne ongeveer 2 minute!…….(Vergelyk dit met vandag se masjiengewere!) … en hoe ver hardloop ’n fikse swart kryger nie in daardie tyd?!
Na ongeveer 6 tot 8 skote was die geweer onhanteerbaar warm en indien nie baie versigtig nie, kon nuwe kruit wanneer dit in die loop gegooi word, ontplof en ernstige wonde of selfs die dood veroorsaak.
’n Voorlaaier skop ook geweldig. Die lopers is reeds gedurende die afgelope dae in die regte hoeveelhede in afgemete stukkies skaapderm, toegeknoop sodat dit maklik gelaai kon word.
Die buskruit (swart kruit) word sorgvuldig uitgemeet en noukeurig toegemaak sodat water nie daarby kan kom nie. Dit is higroskopies en trek derhalwe maklik water, en word dan swart modder en is onbruikbaar.
Sou dit gedurende die aanval reën, kan dit fataal wees vir die Trekkers.
Lang sweepstokke met lanterns bo-aan, gevul met dierevet, word net buite die wa-kring in die grond geplant om lig te verskaf in die geval van ’n nagaanval. Solank dit net nie reën nie!
Die Zoeloemag, duidelik verdeel in drie afdelings, het oorkant die rivier ontplooi en begin inbeweeg. Hulle sou hul berugte Bulkop-strategie weer toepas. Volgens mondelinge oorlewering van Zulu-krygers, het hierdie leër uit die room van Dingane se mag bestaan. Hulle is aangevoer deur Ndlela en Dambuza, ervare generaals uit die legendariese krygsman en Zulukoning Shaka (c.1787-1828) se era. Hulle was gereed vir die stryd.
In sangoma-seremonies wat drie dae lank voor hulle vertrek gehou is, is spesiale krygsmedisyne voorberei wat die soldate sogenaamd onoorwinlik sou maak. Die voorvadergees-aanbidders-krygers het ook volgens tradisie ‘n optog na die grafte van die konings gehou en prysliedere aangehef, waarna nog meer seremonies gevolg het.
Die aanvoerders, Dambuza en Ndlela, laasgenoemde hoof van die Generale staf was nie heeltemal gelukkig nie. Hulle advies aan Dingaan was dat ’n afsonderlike groot Zoeloe-leër gestuur moes word om die wa-laers met die ou manne en vrouens en kinders in, aan die Tugela te gaan uitwis. Hulle het ook gedink aan beleëring van die Strafkommando op ’n terrein waar hulle maklik uitgehonger kon word en waar hulle ammunisie deur skynaanvalle uitgeput kon word.
Hierdie raad is deur Dingaan in die wind geslaan.
Alles was gereed en saam met die aandson, het die stilte oor die laer en ook die Zoeloes neergesak, so ook die miswolke wat skielik vanuit die ooste die laer en omgewing begin oordek het en klewerig aan die watent-seile begin kleef het.
Binne die laer is daar “Boeke Gevat” en aandgodsdiens gehou en vir oulaas is die Gelofte weer afgelê.
Saam met die digte mis wat oor die Ncome sweef, sweef die stemme van ’n mannekoor van 464 manne. Die Zoeloes ken nie daardie Elohim nie maar die jonges het gespot: “Sing maar, want môre se son sal julle nie weer sien ondergaan nie”.
Na huisgodsdiens is elke man, elkeen met sy eie gedagtes, na sy voorafbepaalde plek en het die lang wag op môre begin, want môre was die Dag van Beslissing, of Lewe, of die Dood, niks tussen-in nie — en geen Wit vlag nie!
Die nag van 15 Desember 1838 was ’n koue mistige nag. So dig was die mis dat ’n mens nie jou hand voor die oë kon sien nie.
Soos die nag gevorder het, het dit digter en natter geword…waar die klammigheid eers net die watentklappe nat gemaak het, het dit meer en meer geword totdat dit in klein stroompies begin afloop en poeletjies op die grond begin vorm het.
Vrees het ontstaan dat dit kon begin reën, dat die kruit nat kon word!
Teen dagbreek was die mis nog net so dig.
Toe eensklaps, asof deur ‘n reuse-hand, word die miswolke weswaarts weggeveeg en breek die mooiste Desember-oggend aan!
Dit was asof YHWH vir almal wou wys dat Hy ’n Elohim van Sy Woord is en Sy kant van die Ooreenkoms sou nakom!
Dit laat ’n mens onwillekeurig dink aan Jes.30:18: “En daarom sal die Allerhoogstemet ongeduld daarop wag om julle genadig te wees, en daarom sal Hy Hom verhef om Hom oor julle te ontferm; want YHWH is ’n Elohim van die gerig. Welgeluksalig almal wat op Hom wag!”.
Sou dit verkeerd wees om, met groot respek, te sê dat YHWH Self daardie nag met groot ongeduld gewag het dat die dag moes breek om Sy getrouheid te bewys?!
Die windjie het gaan lê toe die mis op Sondagoggend 16 Desember 1838 lig, het die Trekkers die grootste Zulumag wat ooit in die geskiedenis saamgetrek was, in die gesig gestaar. Voor die trekkers was daar die vreesaanjaende gesig, duisende der duisende swart krygers wat op hul skildvelle sit (die Rooies), slegs 50-meter van die laer af….
Na die westekant, die Swartskilde ook in duisende en oorkant die Ncomo die Witskilde, die gesoute krygers, ook in hul duisende, wagtende op die bevel om aan te val.
Die bekende oskop-half-maan taktiek van die Zoeloe leër sou ook hier geld!
Vanweë die posisie van die laer, aan twee kante begrens deur die donga en die rivier, is die aanvalsterrein van die Zoeloes beperk tot slegs die westekant van die laer. Hulle aanvalle sou soos in ’n nouerwordende tregter moet geskied, met noodwendige opeenhoping van krygers en gebrek aan behoorlike beweeglikheid; terselfdertyd ’n beter teiken vir verwoestende geweer- en kanonvuur!
Pretorius som die situasie vinnig op en besluit om die inisiatief te neem.
“Maar laat ons begin”, beveel hy,” lê aan en vuur!”
Met die eerste sarsie stort die eerste swart golf op die laer aan, maar die akkurate vuur uit die voorlaaiers, eers koeëls en dan lopers, maai die aanvallers af…sommige val feitlik teen die waens, maar niemand breek deur nie.
Die Zoeloes val tydelik terug, hergroepeer en val met hernude ywer aan…….weereens word hulle teruggeskiet, lyke begin ophoop naby die laer.
Die lug word so donker van die kruitrook van die gewere en kanonne dat Pretorius bevel gee om vuur tydelik te staak sodat die sig kan verbeter!
Van Zoeloekant gesien, het sake nie juis in hul guns verloop nie:
In die eerste plek het die digte nat miswolke ’n nagaanval uitgeskakel en moes hul, skraal gekleed, in die nat en koue op hul skildvelle bly sit. Die skerp fluitiesriete weerskante van die rivier, het dit vir hulle onmoontlik gemaak om in die nag te vorder. Hulle was koud en styf na die vorige dae se lang mars en die koue.
Die nat misweer wat die tentwaens aangeklam het, het ook die grond oppervlak nat gemaak en die potklei grond op die gevegsterrein glibberig laat word. In hul stormlope moes hul gaandeweg meer en meer oor die lyke van hul gevalle kamerade se bloed spring en op die gladde grondoppervlakte het dit moeiliker geword.
Maar weer en weer storm hulle in… .net om elke keer deur die haelbuie koeëls, lopers en die skroot van die drie kanonne afgemaai te word…dit word ’n slagting!
Die Ncomo-rivier word Bloedrivier.
Hulle probeer om deur die diep donga te kom, waar hul op mekaar se skouers moet klim om deur te kom, maar tevergeefs. Sarel Cilliers kry die bevel om die donga skoon te skiet, en na die slag verby was, is oor die 400 lyke daar getel.
Die drie kanonne saai verwoesting; en deur oral oor op die aanvallende sowel as die reserwemagte wat wag om aan te val, te skiet, word verwarring gesaai.
Oorkant die Ncomo wag die Witskilde, die Elite-mag van Dingaan, vir die regte oomblik om aan te val, maar die tydstip breek net nie aan nie…die Rooiskilde, nou versterk met die aankoms van die Swartskilde. maak nie genoeg vordering nie, om die waarheid te sê, die aanvallers is tot stilstand gedwing! ……hulle word in hul hordes doodgeskiet.
Regs van die Witskilde, oorkant die rivier, is die Generale Staf van die Zoeloeleër, in ’n klein groepie bymekaar vanwaar boodskappers heen en weer na verskillende plekke op die slagveld hardloop om boodskappe te neem.
“Maar steek hulle daar los” beveel Pretorius sy skeepskanon-operateur.
“Jammer kommandant, maar die kanon kan nie so vêr skiet nie,” is die antwoord.
“Dit MOET vandag so ver skiet!” kom die antwoord. “Skiet!”
Die kanon word herlaai, op die Generale Staf gerig en gevuur!
Die skoot val tussen hulle, en dood ’n aantal Zoeloes, waaronder 2 van Dingaan se seuns!
Op hierdie tydstip besef Pretoriusdat die geveg dié dag beëindig moet word. Indien dit nie die geval is nie, en die Zoeloes val net tot buite bereik van die geweervuur terug, kon daar die komende nag, ’n nagaanval wees, of die laer kon beleër word met noodlottige gevolge.
Pretorius maak ’n gaping in die walaer en 150 berede Boere onder leiding van Bart Pretorius, broer van kommandant Pretorius, bestorm die vyand. Hulle word egter teruggedryf in die laer en die geveg gaan voort.
Die Zoeloes val weer terug en die keer bestorm ongeveer 300 ruiters hulle, dryf ’n wig tussen die vyand in en verdeel hulle in 2 groepe; vertwyfeling pak hulle beet en hulle slaan skielik op ’n wilde vlug!
Die Zoeloe-opperbevel sien wat gebeur en stuur die Wit-skilde in. Hulle moes egter eers deur die driwwe bo- en onderkant die wa-laer gaan en met hul aankoms daar bots hulle met die wildvlugtende, verslane afdelings van die Rooi- en Swartskilde. Pandemonium breek los as hulle teen mekaar vashardloop en die volgende oomblik, onder hewige kanon en geweervuur, slaan almal op die vlug!
Die slag was gelewer. Vir etlike ure nog agtervolg die ruiters die vlugtende massa en word daar nog baie dood geskiet.
Die oorwinnaars keer eers teen die namiddag moeg en gedaan terug na die laer…
Rondom die laer en in die donga lê die lyke van ongeveer 3 000 swart krygers!
Aan Boerekant is daar geen verlies nie, slegs drie man, waaronder ook die kommandant, is lig gewond.
Voorwaar ’n wonderwerk! Die oorwinning wat hy hier behaal het, is sonder weerga in die militêre geskiedenis van Suid-Afrika. In geen ander veldtog in die moderne wêreld het daar aan die een kant so veel en aan die ander so weinig gesneuwel nie……
Die Slag het ook bewys dat ‘n laer met dieselfde effektiwiteit as ‘n fort aangewend kon word. Na die stryd bedaar het, is gevind dat drie Trekkers (insluitende Pretorius) gewond was. Die Zululeër se verliese is deur die kommando op sowat drieduisend-vyfhonderd gereken. Onder die dooies was twee halfbroers van Dingaan. Die Zuluslagoffers se bloed het die Ncomerivier rooi gekleur en ‘n grieselrige oorsprong aan die naam van die Slag gegee.
Later sou Zulu-oorlewendes beweer dat ongeveer tienduisend van hulle krygers gedurende die veldtog gesterf het. Dit is moontlik as gereken word dat talle van hulle ernstig by Bloedrivier verwond is en later kon sterf, en dat nog skermutselinge na Bloedrivier gevolg het.
Vanuit die laer die aand rys daar die lof- en dankgesange van ’n oorstelpte en dankbare volk, ’n volk wat op daardie dag, 16 Desember 1838 Geloftevolk geword het tot vandag toe, voorwaar ’n Eer, maar ook ’n onomstootlike verantwoordelikheid.
Waarom die “WONDER” van die slag van Bloedrivier?
· Die besondere ligging van die laer tussen die donga en die rivier.
· Dat met die lompe ou voorlaaiers die aanvalle gestuit kon word;
· Dat dit nie gereën het nie, die mis in totaal onverklaarbaar op die regte tyd, verdwyn het en die buskruit droog gebly het.
· Die Zoeloemag het beplan om teen middernag van die stikdonker nag aan te val. Dit sou totale uitwissing van die laer beteken omdat die gewere en kanonne in die donker op kort afstand nutteloos sou wees teen spiese en knopkieries. Dat die mis die nag so dig was dat ’n nagaanval onmoontlik was. Dit sou fataal gewees het vir die Voortrekkers! Hul gewere en kannone sou geen kans gestaan het teen die duisende assegaaie nie, nie op so ‘n kort afstand nie.
· Dat die 1 300 stuks groot diere in die laer relatief rustig gebly het. Daar het geen bees gebulk of perd gerinnik nie!! ‘n Digte mis het egter die regimente verwar en sommige van die Zoeloes het die laer nie gesien nie en gedink dit het verdwyn. Vir die kalmte van die diere in die laer, is nog geen verduideliking aangebied nie.
· Die regimente wat wel die laer opgespoor het, was afgeskrik deur die gloed van die lampe op sweepstokke in die digte mis: in hulle bygeloof het hulle gedink dit is voorvadergeeste.
· Dat die nat potklei en skerp fluitjiesriete die aanvallers se berugte Bul-kop-aanvals-bewegings belemmer het. Hulle kon in elk geval mekaar nie vind in hierdie nat mistige omstandighede nie, dus het hulle maar gaan sit en wag dat die dag sou breek.
· Dat die Zoeloe-aanvoerders se planne om die agterlaers te gaan aanval deur Dingaan geveto is.
· Dat die kanonskoot op die Generale staf so ver getrek het. Die kanon se maksimum trefafstand was 1 500 meter. Op Pretorius se bevel is ‘n enkele skoot egter na die generale staf van die Zoeloes afgevuur wat 2 000 meter verder vergader het. Die skoot het tussen hulle geval en pandemonium onder die bevelstruktuur veroorsaak.
· Die “wit ruiters” wat gedurende die nag deur die Zoeloes oor die laer sien sweef het (volgens Zoeloe-oorlewering) Die aanvallers het op ‘n kritieke stadium tydens die geveg verdeeld geraak. Die jong krygers wat ‘n deurbraak deur die gevegshekke beplan het toe die perdekommando weer uitstorm, het skielik verby die laer in die rigting van die berg gekyk. Hulle het later vertel dat hulle ‘n magtige leermag van vegters op wit perde met wapperende vaandels sien aanstorm het. Op die voorpunt was ‘n enkele man op ‘n wit perd met ‘n swaard. Hierop het hulle omgedraai en begin weghardloop. Die gesoute krygers met die wit skilde, wat nie die visioen van ‘n aanstormde ruitermag gesien het nie, het die jong krygers voorgekeer omdat ‘n regiment nie mag weghardloop nie. ‘n Hewige tussengeveg het ontstaan. Hierdie geveg was so intens dat daar na bewering meer impi’s gesneuwel het as deur die laer se vuur.
Die “roofvoëls” wat deur die Zoeloes “gesien” is wat tydens die geveg op hul afgeduik het (Zoeloe-oorlewering) Hulle het vertel dat groot wit voëls uit die lug op hulle afgeduik het. Hulle was slegs sigbaar vir die Zoeloes……….
Vandag kan ons saam met die digter (Dr Louw du Toit) bely:
“Kinders van ’n duur Gelofte
Aan die ELOHIM wat steeds bestier
Hier staan ons geslag ontredderd
Voor ’n groter Bloedrivier.
Kom ons kniel nou soos weleer
In die ou Gelofte neer
Bid dat YHWH Hom nog ontferm
En ons in die stryd beskerm”
Andries Pretorius se roem as veldheer berus in die eerste plek op sy skitterende oorwinning by Bloedrivier. Die oorwinning wat hy hier behaal het, is sonder weerga in die militêre geskiedenis van Suid-Afrika. Hierdie gebeurtenis kan moeilik aan engiets anders as Goddelike ingryping in antwoord op gebed toegeskryf word.
Daarom is 16 Desember 1838 die belangrikste dag in die Suid-Afrikanse kalender, ‘n dag waarvan die nageslag van alle volkere in die land kennis moet dra terwyl die res van die wêreld moet erken – nie dat die pioniers so goed was nie, maar dat YHWH GROOT is.
Ongeveer ’n week later kom die kommando by die afgebrande en verlate Umgungundlovu aan …die Zoeloe-volk het gevlug… Die stad in puin.
Buite die stat in die bosse lê die lyk van Ndlela, Opperbevelhebber van die dapper Zoeloe-leër, met ’n osriem verwurg…die dank van Dingaan aan een van sy Zoeloe- helde!
Op die koppie, Dhlomo Amabuto, om die wit geblykte beendere van Retief, hang nog sy bladsak met die ondertekende en wettige koopbrief van die duur gekoopte grondgebied, Natalia.
(Die dokument word vandag nog veilig bewaar in die Argiewe in Pretoria.)
Laat ons die waarskuwing van George Santayana ter harte neem: “As ons nie die verlede onthou nie, sal ons verplig word om dit te herhaal.”
Johan Engelbreght vra op 27 November 2019, die volgende aan die NG Kerk se Kerkbode: Sy ope vraag:” Waar en wanneer en deur wie is daar besluit dat hierdie dag nie gevier mag word nie?
Waarom word hierdie dag geboikot en verset gemeentes hulle daarteen? Waar kom die misleiding vandaan? Waarom is my kerk nie meer by die Almagtige nie?
Het ons so ver afgedwaal dat ons nie meer aan die volk van God, ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom behoort nie? Kan iemand antwoord?
Maar nou besef ek opnuut die grootsheid van Geloftedag. Dis nie ‘n politieke aangeleentheid nie. Die Suid Afrika en politieke partye van vandag was nog nie eers skimme nie. Dit is ook nie ‘n kerklike aangeleentheid nie. Die kerke soos ons hulle vandag ken het ook nie bestaan nie. Dit was doodeenvoudig ‘n klompie gelowige trekboere wat in radeloosheid die ELOHIM van die hemel en die aarde aangeroep het.”
Koos Greeff: “Niemand van ons het die reg om daaraan te kom timmer of daardie waarheid te kom skeeftrek vir ons eie gewin nie. Ons het geen reg om met die geskiedenis te peuter en dit te wil herskryf nie. As ons afstammelinge en meelopers van daardie trekboere is, het ons net een keuse: om die erns van hul gelofte te herken en om die Elohim van daai genade-dag ook ons Elohim te maak. Dis al. YHWH help ons.”
Vir die BOERVOLK was die uniekheid van die Slag in die aflegging van die Gelofte geleë. By Cilliers en die meeste kommandolede was daar geen twyfel dat die uitkoms direk deur Elohim beskik is nie. Deur die jare is dit dus toenemend as ‘n wonderwerk beskou. Die neerlaag wat die Britte (veertig jaar later) op 22 Januarie 1879 by Isandlwana teen die Zoeloes gely het, ten spyte daarvan dat hulle met slotgewere, kanonne, vuurpylbuise en masjiengewere toegerus was, het tot die siening van Bloedrivieras ‘n bonatuurlike gebeurtenis bygedra.
Daardie dag het daar 1300 Britte geneuwel waarvan 52 offisiere was, 727 troepe, 471 ander manskappe, 343 Swart soldate van die “African Natal Native Contingent” en 133 Europese koloniale troepe aan die hand van die Zulumag!!
Met erkenning:
- Koos Greeff
- Johan Engelbrecht
- V.E. d’Assonville, Bloedrivier, p. 41-42.
Die taak van ‘n historikus is om die geskiedenis so objektief moontlik weer te gee. Daar kan verder aanvaar word dat alle historici nie dieselfde godsdienste aanhang nie en dat hulle geloofsoortuigings nie hulle sukses as geskiedkundiges bepaal nie.
· Dit sou dus onaanvaarbaar wees om in ‘n historiese studie te verklaar hoekom en waar Elohim in die geskiedenis optree, of waar nie. Daarteenoor kan uit die oogpunt van gelowiges aangevoer word dat alle gebeure in die geskiedenis deur YHWH beskik word en vanuit dié perspektief beskou, was Bloedrivier deel van die ondeurgrondelike Elohimplan met die mensheid.
Oor hierdie saak is die laaste woorde waarskynlik nog lank nie geskryf nie en sal historici, teoloë en ander belangstellendes nog veel kan bydra.
- B.J. Liebenberg, Bloedrivier en Gods Hand. Suid-Afrikaanse Historiese Joernaal (12), November 1980.
- B.J. Liebenberg, Mites rondom Bloedrivier en die Gelofte. Suid-Afrikaanse Historiese Joernaal;
- 1988. 81 B.J. Liebenberg, Bloedrivier en Gods Hand, Suid-Afrikaanse Historiese Joernaal, November 1980, pp. 2-5. 82
- D.J. Kotzé, Die wonder van Bloedrivier: Waarin is dit geleë?
- Die Huisgenoot (2541), 1970-12-18, p.
- P.S. de Jongh, Sarel Cilliers. ‘n Biografie oor die Voortrekkerfiguur Sarel Cilliers, p. 169.;
(Geloftevolk Koördineringskomitee)
Dit is waar. Toe ek ‘n kind was, in die Hotel Citrusdal, was ons hoofkelner ‘n Zoeloe met die naam van Paul. Hy was ook my nannie. Hy was ‘n Hoofman se seun in Zoeloeland. Hy het my vertel van Bloedrivier vanaf n Zoeloe se perspektief. Hy het gesê die krygers kon nie naby die laer kom nie, want die vuur was so hewig en daar was groot engele wat om die laer getroon het, en hulle pyle het geen impak gemaak nie. Hulle het uit vrees weggehardloop. Paul het vir my pa in die hotelle gewerk vir 15 jaar. Hy het saam met ons getrek Somerset Wes toe. Hy is terug Zoeloeland toe, toe sy pa oorlede is, om sy plek in te neem as stamhoof.