Bly in liefde by die waarheid

*******

Bly in liefde by die waarheid | Netwerk24

Kobus Visser, Middelburg

Volksblad, 30 September 2024

Ek verwys na die brief van Jan Lubbe (27.09) “Klagtes oor kerk gewoon onsin”.

Hy skryf “die algemene sinode het opnuut in 2023 onomwonde bely dat die Bybel God se Woord is, dat die Skrif nie uit die hemel geval het as ’n versameling los tekste wat op allerlei sake na willekeur toegepas kan word nie, maar uit antieke kontekste en kulture byeengebring is, van sinagoge na klooster aangegee is, deur die Kerk as gesagvol erken en in verskillende tradisies vertolk is”.

Die brief van Judas roep ons op om te stry vir die geloof wat een maal oorgelewer is aan dié wat God vir Hom afgesonder het.

Die Bybel is deur die Heilige Gees geïnspireer, genoegsaam, onfeilbaar en die absolute waarheid wat vir altyd sal bly staan. Die Bybel is wel tydgerig, maar nie tydgebonde nie. Die Bybel is die hoogste gesag en nie die menslike rede nie en kan nie verander word om by die kultuur van die dag aan te pas nie.

Die Bybel word grootliks vandag as ’n menslike boek gesien en daarom moet die Bybel voortdurend herinterpreteer word om aan te pas by die kultuur van die dag. Dit is die verskil tussen die twee groepe (die behoudenis en die liberales) in die Kerk vandag.

Die verskil word duidelik geïllustreer met wat Jan skryf: “Die uiteindelike vraag vir ons elkeen, in elke eeu en ten opsigte van alle kwessies – ook oor die huwelik, homoseksualiteit of hoe ons kerklike meningsverskille hanteer – is: Wat sou Jesus nou teenoor hierdie naaste sê of doen?”

Ons kry die antwoord in die Bybel waar die owerspelige vrou na Jesus gebring is. Hy het haar nie veroordeel nie, maar vermaan om nie verder sonde te doen nie. Hy was liefdevol en genadig, maar het nie haar sonde goedgekeur nie en haar opgeroep tot bekering. Vandag sal Jesus steeds nie sonde goedkeur nie, ook homoseksualiteit, en Hy sal bly by die waarheid dat die huwelik deur God ingestel is tussen een man en een vrou.

Laat ons in liefde by die waarheid bly.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui